Indien u gebuk gaan onder gevoelens van angs, is u nie die enigste nie. Wat kan u daaraan doen? Behoort u dalk ’n “Sabbat leefstyl” te oorweeg?

Het u ’n blaaskans nodig? Voel u gespanne, uitgeput en oorweldig? Kom ons erken dit maar: Ons leef in ’n wêreld wat gevul is met steeds toenemende eise wat ons tyd en aandag verg. Baie mense werk harder as ooit tevore net om dit steeds moeiliker te vind om aan die eise van die lewe te voldoen – wat soms verslawings, angs en meer konflik tot gevolg het. Verhoudings en gesondheid ly daaronder en werklike oplossings blyk buite bereik te wees.

Indien u aan angstigheid ly omdat u in die moderne wêreld leef, is u nie die enigste persoon nie. Volgens die Anxiety and Depression Association of America ly 40 miljoen volwassenes in die Verenigde State elke jaar aan een of ander soort angsversteuring. Dit is 18,1 persent van die land se bevolking (“Facts and Statistics,” ADAA.org).

Dit is nie nét in Amerika nie. Volgens Our World in Data, “word daar beraam dat 970 miljoen mense wêreldwyd ’n gemoedsversteuring of dwelmverslawing in 2017 gehad het. Die grootste aantal mense het ’n angsversteuring gehad, dit wil sê ’n geskatte 4 persent van die bevolking” (“Mental Health,” OurWorldInData.org, Augustus 2021).

Dit is duidelik dat baie van ons oorweldig is. Dit is nie hoe ons Skepper die lewe ontwerp het om te wees nie, maar wanneer ons angstig en depressief is, hoe kan ons uit daardie ontmoedigende – selfs gevaarlike – siklus kom?

Al hoe meer mense wend hulle tot wat dalk na ’n onwaarskynlike oplossing lyk: Die idee van ’n “Sabbat”. Die skrywer en spreker Jim Burns stel dit so:

“In die pragtige Hebreeuse taal is die woord vir rus, Sabbat. Sabbat is meer van ’n keuse van lewenswyse as om ’n middagslapie te neem of ’n dag af te neem om dinge in die huis gedoen te kry. ’n Sabbatslewe is die voortdurende keuse om binne grense in ons lewens te leef. ’n Grens is die speling tussen ons vrag en ons perke. Beperkende grense is ons verstandelike, emosionele en geestelike krag. Dit is ons reserwes, ons asemhalingsruimte, ons energie en ons lewenskragtigheid. Ongelukkig het min van ons baie speling in ons lewens” (HomeWord.com).

Soos hy sê, is hierdie konsep van “grense” baie belangrik, want ons het wel “veiligheidsgrense” in ons lewens nodig. Kantlyne is die sogenaamde “wit spasies” op die rand van die bladsye van ons tyd – dit beteken dat ons nie elke oomblik besig en aanspreeklik is nie.

Het u ’n “Sabbat” in u lewe nodig om te rus? Is dit nodig dat u ’n “Sabbatsleefstyl” aankweek? Gesonde mense besef dat ons tyd nodig het om die pas te vertraag in plaas daarvan om voortdurend hard te werk en hard te speel.

Een van die dinge wat die skadelikste bydrae lewer tot ons spanningsvolle samelewing, is die immerteenwoordige tegnologiese toestelle. Hierdie toestelle kan nuttig wees, maar dit kan ook ’n bron van baie spanning word. Ter wille van ons verstand, ons verhoudings en ons gesondheid, is dit nodig om van tyd tot tyd af te skakel. Neem dié gesin se getuienis in ag:

“Ek en my gesin het een dag per week heeltemal skermvry begin deurbring vir wat ons ons Tegnologie-Sabbat genoem het. Ons het gelees, dagboeke gehou, kos gemaak, met vriende gekuier, fiets gery, musiek gespeel, een of ander kunsvorm beoefen en soms het ons net niks gedoen nie. ’n Dekade later doen ons dit steeds elke week ... en dit is steeds ons gunsteling dag. Dit het die hele gesin gelukkiger en meer gebalanseerd gemaak” (“Everything You Need to Enjoy One Tech-Free Day a Week,” Wired.com, 10 Oktober 2019).

Indien ons nie beheer oor ons toestelle het nie, soek ons na moeilikheid. Hier beskryf een dame haar stryd teen die tirannie van eindelose take en hoe sy oplossings begin vind het:

“So baie van ons is moeg. Om na die behoeftes van diegene rondom ons om te sien, ons huise te bestuur, te werk of in die nag deur kinders wakker gemaak te word, vind ons onsself geestelik, fisies en emosioneel uitgeput. Hierdie uitputting lei daartoe dat ons fokus weggelei word van die dinge wat die meeste saak maak om te kan oorleef. Indien u u hiermee kan vereenselwig, het God ’n baie praktiese middel voorberei vir u vermoeidheid. Dit word Sabbat genoem ...

Indien ons ten volle die lewe en bestaan ervaar wat God vir ons beplan het, glo ek ons het ’n element van Sabbatsrus in ons week nodig! Ongeag of dit nou moeders, tuisteskeppers of werkende vroue is – Sabbat is geskep om aan ’n diepliggende behoefte in ons te voorsien” (“How to Unleash the Power of Sabbath Rest in Your Life as a Homemaker,” EmbracingASimplerLife.com).

Ons het almal ’n gereelde, weeklikse tyd nodig om tot stilstand te kom – net om ’n gebalanseerde en verstandelike perspektief te behou. U mag dalk sê: “Dit klink alles goed en wel, maar ek is te besig om op te hou. Ek het te veel om te doen. Hierdie Sabbatstorie sal nie vir my werk nie”.

Dink egter daaraan – dit is wanneer u oorweldig word dat u hierdie hulp die nodigste het. Indien u nie nou beheer oor u lewe kry nie, wanneer sal u?

Die oorspronklike Sabbatdag

Die idee van ’n Sabbat het nie net uit die niet verskyn nie. Dit kom van die Hebreeuse woord shabbat, wat beteken om te stop, ’n ruskans te neem, op te hou of om van arbeid en aktiwiteit te rus. Génesis 1 beskryf hoe God al die lewende wesens op aarde geskep het, dit sluit ook die eerste man en vrou in. Génesis 2:1 sê dan: “SO is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag. En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak” (Génesis 2:1-3).

Waar het hierdie idee vandaan gekom om tyd te neem om te rus na ’n tydperk van werk? Direk van die Skepper-God, wat daardie gedrag reg aan die begin van die Bybel geskep het – aan die begin van die beskawing!

Met ander woorde, die idee van ’n Sabbat bestaan al baie lank. Wat van die woord “sabbat”? Daardie woord kom in baie Bybelse gedeeltes voor, met inbegrip van Exodus 20:8: “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig.”

“Sabbat” het oorspronklik “staking” of “einde” beteken. “Gedenk die sabbatdag” beteken dus net “onthou die rusdag”. Dit is iets waarvoor God genoeg omgegee het om dit in die Tien Gebooie op te neem: “Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie – jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die sabbatdag geseën en dit geheilig” (Exodus 20:9-11).

“Sabbat” is nie net ’n vae idee nie. Dit spruit eerder uit ’n spesifieke gebeurtenis in die geskiedenis – God se rus ná Sy skeppingswerk. As sodanig geld dit elke week vir ’n spesifieke dag! God het in werklikheid ’n rusdag aan die begin van die Skepping geskep. Sy bedoeling was dat Sy kinders – die hele menslike geslag – deur ons hele lewe sou baat by ’n weeklikse rus. God wil hê dat ons hard werk en daarna ’n welverdiende ruskans neem.

Te besig vir ’n Sabbatsrus?

Ons het almal nodig om ons krag te herwin en te verfris. Waarom gee ons onsself dan nie toestemming om ’n ruskans te neem nie? Dink ná oor wat in ’n artikel geskryf staan wat hierdie vraag oorweeg:

Om een of ander rede vertolk ons van nature die Bybel se stellings oor Sabbatsrus egter meer as ’n voorstel in plaas van ’n Goddelike opdrag. Ons dink: “Dit is ’n goeie idee, maar ek is te besig”. Dit is waar. Ek is besig. U is besig. Ons kultuur is besig en dit is net besig om te versnel ... Ons brandstoftenks is altyd leeg en wanneer ons stilhou, kan ons amper nooit meer as ’n paar rand se brandstof in die tenk ingooi nie. Ons brandstoftenk is nooit vol nie.

Kan dit dan wees dat ons gebrek aan die onderhouding van die Sabbat tot ons uitputting bydra? Kan ons gebrek aan Sabbatsrus en aanbidding moontlik verklaar waarom ons ’n uitgeputte volk is? Kan dit die wyses wees waarop ons probeer om rus te vind dat ons nooit herstel nie, want ons is geskape om ons rus in God te vind? Watter beter geskenk kan ons moontlik ontvang as hierdie Sabbatsrus in die angsvolle tyd waarin ons leef? (“Ritchie: The gift of Sabbath rest in an anxious age,” Amarillo.com, 2 Junie 2016).

Wanneer ons aan onsself dink as te besig om op te hou, dwing ons onsself in ’n nimmereindigende sirkel van uitputting in en kan ons nie byhou nie. Is u moeg vir daardie siklus? Hoeveel van ons gaan van een dolle taak na ’n ander totdat ons ineenstort? Waarom rus ons nie net op ’n gereelde basis, volgens die skedule wat God vir ons gestel het nie?

Al te dikwels stop ons nie totdat ons moet stop nie. Heel moontlik is dit waarom God vir ons sê dat die Sabbat verpligtend is – Hy moet ons beveel om elke week ’n ruskans te neem, want daar is altyd nóg ’n bondel wasgoed om te doen, nóg ’n plek om skoon te maak, nóg ’n verslag om in te dien.

Dit kom voor dat ons as mense alte dikwels dinge doen wat goed is vir ons net wanneer ons dit skielik moet doen. Dalk oefen ons nie of sorg ons nie vir ons gesondheid nie – totdat ons pyn ervaar. Wanneer ons die gevolge raaksien – die lyding en negatiewe gevolge – van die verwaarlosing van ons gesondheid, dan voel ons verplig om op te tree.

Dit is dalk waarom God duidelik vir ons moes sê dat ’n Sabbatsrus vir ons belangrik is. Omdat Hy wil hê dat elkeen van ons ’n gesonde geestestoestand sal hê, beveel Hy dat ons aan die einde van elke week ’n ruskans neem. Deur Sy genade het Hy daardie tyd vir ons geskep en selfs geskeduleer – wat dit verpligtend maak, want Hy weet dat ons dikwels dinge nie doen nie, selfs dinge wat ons weet goed is vir ons – tensy ons dit absoluut moet doen. Die Sabbat is inderdaad baie goed vir ons!

Daar is egter selfs ’n groter prentjie – een wat ons moet ontdek indien ons ooit werklik wil verstaan waarom God ’n Sabbatsrus beveel het.

Die Sabbat is vir ons eie beswil gemaak

Die apostel Paulus skryf: “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ’n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ’n skaduwee is van die toekomstige dinge” (Kolossense 2:16-17). Daar is baie misverstande oor hierdie vers, maar kom ons fokus net op een frase: Sabbat, “wat ’n skaduwee is van die toekomstige dinge”.

Wat Paulus sê, is dat so goed soos Sabbatte vir ons is om ons ’n weeklikse rus te gee, simboliseer dit ook iets groters wat nog voorlê. Baie kenners van die Bybel erken dat daar ongeveer 6,000 jaar sedert Adam en Eva was en dat die Bybel ’n komende 1,000-jarige heerskappy van Jesus Christus beloof. Indien ons die beginsel van “een dag by die Here soos duisend jaar” toepas wat in 2 Petrus 3:8 gevind word, vind ons dat die weeklikse sewendedag Sabbat simbolies is van die komende Millennium. Met ander woorde, die sewende millennium van die menslike geskiedenis stem ooreen met die sewende dag van die week.

Ons vind Skrifture elders in die Nuwe Testament wat hierdie idee ondersteun, soos Hebreërs 4:1: “LAAT ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie.” As gevolg van hulle ongehoorsaamheid het die Israeliete nie die Beloofde Land binnegegaan nie. Indien ons egter getrou en gehoorsaam is, kan ons God se Koninkryk binnegaan met Christus se Wederkoms.

Wat betref die sewendedag Sabbat wat vasgestel is toe God van Sy skeppingswerk gerus het, lees ons: “Want Hy het êrens van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al sy werke gerus” (Hebreërs 4:4).

“Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie, bepaal Hy weer ’n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie. Want as Josua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van ’n ander dag daarná spreek nie. Daar bly dus ’n sabbatsrus oor vir die volk van God” (Hebreërs 4:6-9).

Wat beteken dit? Bloot dat indien ons die volk van God is, die Sabbatsrus vir ons iets baie belangrik behoort te beteken – ons behoort nou daardie weeklikse rus in ons lewens te onderhou. Die Griekse woord wat hier met “Sabbatsrus” vertaal word, is sabbatismos, wat direk van die Hebreeuse woord shabbat kom, wat na die weeklikse Sabbat verwys.

Dit is duidelik dat Christene die weeklikse Sabbat behoort te onderhou! Dit gaan egter veel verder as selfs dit. Indien die Sabbatte ’n vooruitskouing is van dinge wat kom, is elke sewende dag wat in die kalender voorkom ook ’n profesie van ’n komende duisendjarige Sabbat wanneer God se Koninkryk hierdie aarde sal vul ná Christus se Wederkoms.

Let op wat die boek Hebreërs ons aanspoor om te doen: “... want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie” (Hebreërs 4:10-11). Ons word daaraan herinner om ons lewens so te leef dat ons die rus van God se Koninkryk met Christus se Wederkoms kan binnegaan.

Daar is hoop vir hierdie moeë, vermoeide wêreld – ’n nuwe tydperk wat kom. Daardie nuwe wêreld, in teenstelling met hierdie tydperk, sal vreedsaam en vol vreugde wees – die geweld en spanning van hierdie tyd sal nie meer bestaan nie. Let op hoe die Skrif daardie nuwe tydperk beskryf:

“En die reg woon in die woestyn, en die geregtigheid hou verblyf in die vrugteboord. En die werking van die geregtigheid sal vrede wees, en die voortbrengsel van die geregtigheid rus en veiligheid tot in ewigheid. En my volk sal woon in ’n plek van vrede en in veilige wonings en in plekke van ongestoorde rus” (Jesaja 32:16-18).

Die weeklikse sewendedag Sabbat is simbolies van daardie komende duisendjarige eeu van vrede en voorspoed.

Daar is baie meer om oor die Sabbat te sê en u kan baie artikels en video’s daaroor vind by wvm.org. Ons wêreld het ’n tydperk van rus nodig, maar in werklikheid het ons nie net ’n algemene rustyd nodig van die gejaagde pas van die lewe nie, maar die gereelde en verpligte rus wat deur ons Skepper ontwerp is.

Die ware doel van die Sabbat – gedurende hierdie lewe en daarna

Terwyl Jesus op hierdie aarde was, het Hy Sy dissipels ’n lewenswyse van vrede en rustigheid geleer wat nie van uiterlike omstandighede afhanklik was nie en verenigbaar was met harde werk. Let op Sy belofte:

“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig” (Matthéüs 11:28-30).

Indien u smag na verligting van die laste van die lewe, leer by Jesus Christus. Hy het die antwoorde en Hy sal u vrede gee indien u gehoorsaam is aan Sy wil en op Sy liefde reageer.

Indien u bekommerd is oor u lewe en die wêreld rondom ons, onthou Jesus se vertroostende woorde:

“Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe – wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam – wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?” (Matthéüs 6:25-27).

Christus weet dat ons hard werk om onsself te voed en vir ons gesinne te sorg. Hy beloof om ons te help wanneer ons na Hom opkyk! Let op na wat Hy dan nog sê:

“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad” (Matthéüs 6:33-34).

Ons kan gemoedsrus hê. God ken die angstigheid wat hierdie wêreld veroorsaak, maar Hy bied aan ons ’n weeklikse Sabbatdag – ’n totale rustyd van werk elke week vir ’n 24-uur periode. Klink dit nie wonderlik nie?

Stel u voor dat u elke Vrydag teen sononder ophou werk. U bestee tyd saam met u gesin. U lees die Bybel en dink na oor God se plan vir u. U gaan Sabbatdag kerk toe saam met ander mense wat soos u dink en kuier saam met hulle. U spandeer die oorblywende ure van die Sabbatdag om te gaan stap en na te dink oor wat u geleer het en nie om gras te sny of ander take te doen nie.

Dit is die wyse waarop God die Sabbat ontwerp het – nie die manier waarop die Fariseërs dit ’n las gemaak het nie. Die Fariseërs het in werklikheid die manier afgekeur waarop Jesus en Sy dissipels die Sabbat onderhou het:

“EN terwyl Hy op die sabbat deur die gesaaides loop, het sy dissipels algaande are begin pluk. Toe sê die Fariseërs vir Hom: Kyk, waarom doen hulle op die sabbat wat nie geoorloof is nie?” (Markus 2:23-24).

Die Fariseërs het Jesus en Sy dissipels daarvan beskuldig dat hulle die Sabbat verbreek, maar Jesus het na aanleiding van hulle beskuldiging die regte perspektief aan hulle verduidelik:

“En Hy sê vir hulle: Het julle nooit gelees wat Dawid gedoen het nie – toe hy in die nood was, en hy en die wat by hom was, honger gehad het – hoe hy in die huis van God gegaan het in die tyd van Ábjatar, die hoëpriester, en die toonbrode geëet het wat vir niemand behalwe die priesters geoorloof is om te eet nie; en ook aan die wat saam met hom was, gegee het? En Hy sê vir hulle: Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat” (Markus 2:25-28).

Ja, Jesus Christus – ons Verlosser – is Here van die Sabbat. Hy het die Sabbat geskep en dit as ’n 24-uur periode vasgestel om terug te staan en oor ons lewe na te dink. Elkeen van ons kan hierdie geskenk vir onsself opeis.

Het u dus ’n blaaskans nodig? Het u rus nodig? Die Sabbat is nie net ’n idee om nou en dan ’n bietjie tot stilstand te kom nie; dit is ’n weeklikse geskenk van God om ons te verkwik en vrede te gee. Die Sabbat is ook ’n belofte van ’n beter wêreld wat kom – ’n geskenk wat God aan ’n angsvolle wêreld gee het. Daardie geskenk behoort aan u om te neem.