Vraag: In Openbaring 22:16 beskryf Jesus Christus Homself as “die blink môrester”. In Jesaja 14:12 lees ons van ’n “môrester” (in Latyn is dit “Lucifer”, uit die Hebreeuse helel). Stel die Bybel op die een of ander manier Christus gelyk aan Lucifer? Verduidelik asseblief.

Antwoord: Die Griekse Nuwe Testament gebruik verskeie woorde en frases wat verwys na “die môrester” in verband met Jesus Christus. Bykomend tot Openbaring 22:16, praat 2 Petrus 1:19 van die “môrester” (phōsphoros) in verband met die uiteindelike redding van die heiliges (by implikasie, wanneer Jesus terugkeer om die heiliges op te wek). Phōsphoros is ’n Griekse eienaam vir die “môrester” wat beteken “ligdraer”. In Openbaring 2:28 vind ons die woord “môrester” vertaal uit die Griekse frase ton astera ton prōinon. “En aan hom wat oorwin” (vers 26) – die oorwinnaar in die Christelike stryd – sal hierdie beloning direk van Jesus Christus ontvang, Christus wat die “lig” was wat in die wêreld gekom het (Johannes 1:9, 8:12).

Die ooreenstemming is, net soos die “môrester” die aankondiger van die dagbreek is, so is Jesus Christus, as die Koning van die komende Koninkryk van God op aarde (vergelyk Jesaja 60:1-5), die aankondiger van verlossing. Hy was hier “om kennis van saligheid aan sy volk te gee in die vergifnis van hulle sondes, deur die innige barmhartigheid van onse God waarmee die opgaande Lig uit die hoogte [die sonsopkoms] ons besoek het” (Lukas 1:77-78). Verder, die “Dawidiese Koning” – die Messias of Christus wat geprofeteer is om uit Israel te verrys – word gesimboliseer as ’n “ster” (kokhav) in Numeri 24:17.

Hou dit alles enige verband met Jesaja 14:12, waar ons lees: “Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies!” Laat ons eers die naam “Lucifer” (wat “ligdraer” beteken), ondersoek. Dit is die Latynse eienaam vir die “môrester”. In die King James Bybel, is die naam Lucifer onveranderd oorgeneem uit die Latynse Vulgaat. Dit is ’n vertaling van die Hebreeuse eienaam vir die “môrester”, Helel ben Shahar, wat “Skynende Een, Seun van Dagbreek” beteken. Die Griekse Septuagint gebruik nog ’n ander Griekse eienaam vir die “môrester” om Helel mee te vertaal in Jesaja 14:12: ho Heōsphoros (“die dagbreek-draer”). Al hierdie eiename en die Nuwe-Testamentiese name en frases wat hierbo bespreek is, verwys na een voorwerp wat ons vandag ken as die planeet Venus (die helderste sigbare “ster” wat bekend was aan die mense van ouds) wanneer dit in die oggendlug verskyn.

Die wese bekend as Lucifer [Satan] was eens een van die “môresterre” of hoof-engele (Job 38:7), hy was ook ’n “gérub wat beskut” (Esegiël 28:14, 16) net soos een van die twee engele wat op die verbondsark uitgebeeld was (Eksodus 25:19-20). Moontlik was hierdie wese die “helderste” van drie gerubs wat met hul vlerke God se troon beskut het (die ander twee is Michael en Gabriël, die enigste ander engele wat by name in die Bybel genoem word).

Let ook daarop dat vyf planete (Mercurius, Venus, Mars, Jupiter en Saturnus, met Venus verreweg die helderste) almal as “môresterre” met die blote oog gesien kan word. As ’n “gérub wat beskut” het Lucifer vroeër gewandel tussen die vurige gesteentes by God se troon (Esegiël 28:14) – presies dieselfde gesteentes of kole van vuur wat tussen die vier gérubs was wat ewe-eens so vertoon word in verband met God se troon (Esegiël 10:1-2, 6-8). Lucifer (hy word in Esegiël 28 “die koning van Tirus” genoem) word nie vermeld in Esegiël se visioen van God se troon nie.

In elk geval, aangesien Lucifer moes uitstyg bo die aarde se wolke om ’n aanslag te maak teen God se troon in die hemel (vgl. Jesaja 14:12-14) en aangesien hy uit ’n baie aards-gesentreerde perspektief beskryf word, is dit te verstane dat hy ’n amp op die aarde beklee het voor sy opstand teen God. Verskeie kere regdeur die hele Bybel, word hy wat Satan die duiwel geword het, direk en indirek, beskryf as die verlede en die teenwoordige tyd se heerser van die aarde. Ons kan aflei dat hy, as die belangrikste “môrester”, een maal die aankondiger van God se Koninkryk en regering op aarde was. Jesus, die Christus, is egter nou die “môrester” – omdat Hy binnekort sal kom om God se Koninkryk en regering op die aarde te herstel en om ’n einde te maak aan Satan se opstand en die mensdom (omdat hulle onder sy invloed is) se verwerping van die waarheid (vgl. Handelinge 4:19-21).