Die lewe kan oorvloedig, voorspoedig en inspirerend wees, volgens die mate wat die mens Bybelse Wette en beginsels navolg. Met twee wêreldoorloë en baie plaaslike oorloë in die afgelope honderd jaar, met voortgesette militêre, politieke en sosiale konflikte wat aan die toeneem is, behoort dit egter vir enige objektiewe waarnemer duidelik te wees dat ons op algehele wêreldwye rampspoed afstuur. Die mensdom het aan homself bewys dat dit bykans onmoontlik is om homself te regeer.

Korrupsie is ’n waarskynlike probleem met menslike regerings. Die waghond-organisasie, Transparency International, het onlangs 175 van die wêreld se regerings en gebiede ontleed ter voorbereiding van sy Corruption Perceptions Index 2015. Die organisasie het korrupsie só omskryf: “Korrupsie is die misbruik van toevertroude mag vir privaat gewin. Dit kan geklassifiseer word as belangrik, nietig en polities, afhangende van die bedrae geld wat verlore gaan asook die sektor waarin dit plaasvind”.

Interessant genoeg, die 20 lande wat as die korrupste beskou word (van meer tot minder korrup), is: Somalië, Noord-Korea, Soedan, Afghanistan, Suid-Soedan, Irak, Toerkmenistan, Oesbekistan, Libië, Eritrea, Jemen, Venezuela, Haiti, Guinee-Bissau, Angola, Sirië, Burundi, Zimbabwe, Mianmar en Kambodja. Let daarop dat hierdie ’n maatstaf van persepsie is, nie noodwendig van werklike korrupsie nie. Hierdie nasies het, om watter rede ook al, op watter manier ook al, ’n reputasie verwerf, as plekke waar korrupsie floreer. Aan die ander kant van die spektrum is die 20 lande wat as die minste korrup waargeneem word: Denemarke, Nieu-Seeland, Finland, Swede, Noorweë, Switserland, Singapoer, Nederland, Luxemburg, Kanada, Australië, Duitsland, Ysland, Verenigde Koninkryk, België, Japan, Barbados, Hongkong, Ierland en die Verenigde State. Tog weet ons dat die menslike natuur, selfs in die mees vooraanstaande nasies van vandag, ’n groot probleem is. Kan die mensdom die probleem van korrupsie in regerings, besighede en interpersoonlike verhoudings, heeltemal oplos? Die Skrif gee ’n uitdruklike antwoord: “Nee!” God openbaar ’n fundamentele kenmerk van die mensdom: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spreuke 14:12; 16:25).

’n Nuwe wêreldregering

Sesduisend jaar van opgetekende geskiedenis het herhaaldelik getoon dat menslike regerings nie die weg na blywende vrede aangeleer het nie. Na die Eerste Wêreldoorlog is die Volkebond in 1920 gestig, met die doel om wêreldvrede te bewerkstellig. Die Volkebond het tragies misluk toe die Tweede Wêreldoorlog die dood van miljoene mense regoor die wêreld veroorsaak het. Die Geallieerde oorwinning in Europa en die twee atoombomme wat in Augustus 1945 op die nasie van Japan laat val is, het daardie oorlog beëindig. Die Verenigde Nasies is in Oktober 1945 gestig om die Volkebond te vervang en om voort te gaan met die sendings om vrede te bewaar en ontwapening te bewerkstellig. Nogtans kon die Verenigde Nasies nie wêreldvrede teweegbring nie, nog minder het dit die volksmoord van twee miljoen Kambodjane (1974-1979), 800,000 Rwandese (1994) en 200,000 mense in Bosnië-Herzegowina (1992-1995) verhoed – ook nie die ontelbare ander gruwels wat deur nasies en hulle bose diktators veroorsaak is nie.

Meer as 60 jaar het verloop sedert generaal Douglas MacArthur van die VSA ’n waarskuwing gerig het aangaande die behoefte vir “een of ander meer regverdige stelsel” om blywende vrede in die wêreld te bereik! Die mensdom het heeltemal gefaal in hierdie opsig! Bybelprofesie openbaar nogtans dat die Almagtige God so ’n stelsel sal instel wanneer Jesus Christus weer kom om vrede in die wêreld te vestig. Lees die aankondiging van ’n nuwe wêreldregering in Openbaring 11:15: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid”!

Die enigste oplossing vir die vraagstuk van die menslike natuur en korrupte menslike regerings is die vestiging van die Koninkryk van God op aarde! Indien u meer wil weet van die wêreld wat gaan kom, bestel ons inspirerende gratis boekie, Die toekomstige wêreld: Hoe sal dit wees?, of laai dit van die Internet af.

’n Uitdaging vir u!

Ek daag dus al ons lesers van die Wêreld van Môre uit, dit maak nie saak waar u land op die ranglys van hierdie “korrupsie” opname of enige ander opname geplaas is nie; maak dit u prioriteit om in elke aspek van u lewe egte waardes te handhaaf – die waardes wat deur Jesus Christus en Sy Apostels sedert die begin van die Nuwe-Testamentiese Kerk onderrig en beoefen is – in elke aspek van u eie lewe. Wat is die rigtinggewende beginsel in u lewe? Jesus het hierdie kragtige en fundamenteel egte waarde vir alle mense regoor die wêreld gegee: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). Indien u nie u Bybel op ’n gereelde basis bestudeer nie, moedig ek u aan om voordeel te trek uit ons gratis Wêreld van Môre Bybelstudiekursus. U kan aanlyn studeer, of u kan die eerste vier lesse per pos ontvang op aanvraag. U behoort God se Woord, die Bybel, te bestudeer om die lewe, die toekoms en die omgewing waarin ons leef te verstaan, indien u Satan se invloed op ons hedendaagse wêreld wil oorwin.

Moenie Satan se invloed onderskat nie. Lees asseblief ons Hoofredakteur, Roderick C. Meredith, se artikel met die titel “Satan se oorlog teen gesinswaardes” elders in hierdie uitgawe. Baie van u ouer lesers kan ’n tyd onthou waar u as waansinnig beskou sou word indien u sou voorstel dat vroue met vroue en mans met mans kan trou. Vandag word mense nie net bespot indien hulle dieselfdegeslag “huwelike” teenstaan nie, maar hulle word selfs as outyds of iets nog erger beskou, indien hulle nie saamstem met die idee dat ’n persoon self sy of haar eie geslag kan kies nie, sonder inagneming van chromosome en feite van geboorte. Waar kom hierdie verwarring vandaan? Wanneer u verstaan dat God Homself reproduseer – dat Sy plan vir die mens is om nuwe werklike lede van die Godgesin te skep – sal u begin verstaan waarom Satan die idee van die “normale” menslike gesin, met die voortplantingsvermoë van nuwe generasies van potensiële seuns en dogters van God, so haat.

Satan wil selfs hê dat u glo dat u lewe die gevolg van toeval is, dat dit uiteindelik sonder doel of betekenis is. Lees asseblief die artikel deur Gerald Weston, “’n Doelgerigte bestaan”, elders in hierdie uitgawe. In teenstelling met die idees van materialistiese evolusioniste, is die waarheid dat die wonderlike kompleksiteit van die menslike liggaam en verstand nie deur toeval tot stand gekom het nie, maar in der waarheid deel is van God se groot plan vir die mensdom.

Deesdae word die meeste mense “opgevoed” om in evolusie te glo eerder as in die goddelike skepping. Daar kom binnekort ’n tyd wanneer die hele wêreld, onder die liefdevolle heerskappy van die terugkerende Verlosser, Jesus Christus, in staat sal wees om gebalanseerde opvoeding te ontvang. Hulle sal egte waardes en ware kennis van hulle doel en die betekenis van hulle lewens geleer word. Lees my artikel, “Is u gereed vir Christus se Wederkoms?” elders in hierdie uitgawe.

Berei voor vir die Koninkryk!

God sal binnekort die korrupte regerings van ons wêreld vervang. Hy is besig met die voorbereiding van ’n nuwe wêreldregering, met Christus as Koning oor die hele aarde (Sagaria 14:9). Hy is ook besig om ons as konings en priesters op te lei om die Koning van die konings by te staan (Openbaring 5:10). Sal ons harte van integriteit hê? Namate ons die einde van hierdie tydperk nader, moet ons almal daarna streef om in die genade en kennis van Christus te groei (2 Petrus 3:18)! Ons moet ons bes doen om, met die hulp van die Heilige Gees, God se lewenswyse in ons eie lewens uit te leef.

Mag God u almal, ons lesers, seën namate u Christus se opdrag om te waak en te bid altyd volg en namate u heelhartig voorberei vir u plek in die komende Koninkryk van God en vas oortuig wees van God se belofte: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Filippense 4:13).