Namate die jaarlikse onderhouding van Paasfees [Easter] en die Pasga nader kom, bly ’n saak wat in die tweede eeu omstrede was steeds relevant vir Christene van vandag.

Paashasies, paaseiers, Paasfees musse en Paasfees kerkdienste met sonop! Terug op gewilde aanvraag – van wie en wat behoort ons daaromtrent te doen?


Lente [in die noordelike halfrond] is die seisoen vir een van die Christendom se mees prominente feeste – Paasfees. Hierdie tradisionele vakansiedag staan bekend as die herdenking van die opstanding van Jesus en word as sodanig toegepas deur die meeste denominasies van die belydende Christendom.

Selfs jong kinders vra wat hase en eiers dan te doen het met Jesus en Sy opstanding. Ouers mag dalk nie weet wat om te antwoord nie, maar die geskiedenis van die Paasfeestradisies is baie bekend. Die viering van ’n lente-opstanding en ’n vrugbaarheidsfees dateer uit lank voor die Christendom en die simbole van die fees in die antieke mitologieë – met inbegrip van eiers en hasies – het bly bestaan in die moderne feesvieringe.

In die oorspronklike Christendom het getroue en toegewyde Christene gebly by die oorspronklike gebruik wat deur Jesus Christus ingestel en deur Sy dissipels onderhou is. Nadat  ander mense probeer het om ’n “Paasfees-viering [Easter]” in te stel om die Christelike Pasga te vervang, is hierdie toegewyde Christene gebrandmerk as “Quartodesimane” en uiteindelik is ’n hele streek wat by die oorspronklike gebruik gehou het, “uit die kerk verban” deur die leiers wat die Paasfees gevier het.

Waarom sou ’n omstredenheid uit die tweede eeu n.C. dan vandag nog vir ons saak maak? Wat het tóé gebeur en waarom behoort ons nóú daaroor bekommerd te wees?

Sedert hulle deur die Apostels, veral Paulus en Johannes geleer is om dit te doen, het die Asiatiese kerke die Christelike Pasga saans in die aand aan die begin van die veertiende dag van die eerste maand van die Hebreeuse kalender (14 Nisan) onderhou. Nadat die Roomse Kerk in die tweede eeu n.C. daarop aangedring het dat almal ’n Sondag-fees, genaamd Paasfees [Easter], in plaas van die Christelike Pasga moet vier, het ’n groot twis ontstaan tussen diegene wat “Quartodesimane” – “Veertienders” (die woord kom van die Latynse “vier en tien”, quartadecima) – genoem is en die mense wat bereid was om te verander na die “Paasfees [Easter]” viering.

Begrip van die groot “Quartodesimaanse dispuut” van die tweede en derde eeue n.C., werp baie lig op die moderne tradisies wat verband hou met Paasfees – ook word ’n diepgaande oortuiging en gebruik van die Kerk van die eerste eeu verduidelik.

Nie-Christelike gebruike

Die skrywer Ted Olsen herinner ons daaraan dat dit die sewende eeu n.C. se Engelse historikus Bede (die agbare) was wat beweer het Easter, [Paasfees] se naam kom van die Anglo-Saksiese godin Eostre, [ook gespel Eastre] wat verband hou met die lente en vrugbaarheid en wat gevier is ten tye van die lente-dag-en-nag-ewening (Why Easter?, christianitytoday.com).

Wat van die paaseiers en hasies wat deel vorm van die Paasfees vieringe? Lente is die tyd wanneer die bome weer lewe kry, die weer warmer word en daar volop kos is vir die voëls om hul kleintjies te voer. Eiers was dus volop in die lente en verteenwoordig wedergeboorte en vrugbaarheid na die winter se onvrugbaarheid. Die antieke Zoroastriërs het meer as 2,500 jaar gelede eiers geverf vir die viering van die lente-dag-en-nag-ewening. Hase en konyne is baie vrugbaar en word in baie antieke kulture jare lank al geassosieer met vrugbaarheid en die terugkeer van die lewe in die lente. Die haas was die heilige dier van die Saksiese vrugbaarheidsgodin Oestre, wat baie nou verwant was aan die Germaanse godin Ostara. Moderne “neoheidene” het die aanbidding van hierdie godinne weer ingestel en die antieke simbole van die eier en die haas by hulle lente-seremonies ingelyf.

Hoe het hierdie gebruike na die Nuwe Wêreld gekom? “Gedurende die agtiende eeu het Duitse setlaars ‘Oschter Haws’ [die Paashaas] na Amerika toe gebring, waar Pennsylvania se Hollandse setlaars vir hom neste in die tuin of skuur gemaak het. Die aand voor Paasfees [Easter] het die haas sy gekleurde eiers in die neste gelê as betaling” (ibid.). Klink dit bekend? Hierdie gebruik is tipies van die moderne paaseier soektog.

Kan ’n mens heidense gebruike “heilig”?

Vroeg in die tweede eeu n.C. is die Jode ernstig vervolg onder die heerskappy van die Romeinse Keiser Hadrian en die onderhouding van “Joodse” gebruike deur Christene, was gedurende daardie tyd bepaald ongewild. Baie van die nie-Joodse gelowiges wou hulleself distansieer van hierdie gebruike en wou Christelike betekenisse toewys aan die meer gewilde datums van hulle plaaslike kulture. Godsdienstige geskiedskrywers weet dat beide die naam en die tyd van Paasfees sy oorsprong in die heidendom het, maar teoloë redeneer al lank daaroor dat dit moontlik is om die heidense gebruike te “heilig”. Volgens hierdie siening kan ’n kultuur sy voor-Christelike gedaante behou, maar die heidense simbole en mites kan ’n Christelike betekenis en doel kry. Die invloedryke Katolieke leier kardinaal Newman skryf: “Ons word op verskillende maniere deur Eusebius [’n vroeëre kerkhistorikus], vertel dat Konstantyn, ten einde die nuwe godsdiens by die heidene aan te beveel, die uiterlike ornamente waaraan hulle gewoond was, daarheen oorgedra het ... die gebruik van tempels en om dit op te dra aan spesifieke heiliges ... vakansiedae en seisoene ... om na die Ooste toe te draai op ’n later stadium die gebruik van afbeeldings ... dit is alles van heidense oorsprong en is geheilig deurdat die Kerk dit aanvaar het” (An Essay on the Development of Christian Doctrine, Hoofstuk 8:6).

Dit is dus welbekend onder sekulêre en godsdienstige historici dat die naam van ’n vakansiedag, baie van sy simbole en die tye waarop dit gevier word, van heidense gebruike afkomstig is. Wat bevraagteken kan word is die teorie van “heiliging van die heidene” wat gebruik is om baie gebruike in die Christendom te regverdig. Terwyl hierdie redenasie vir teoloë en tradisievaste persone aanloklik kan wees, veroordeel die Bybel dit.

God het gesê: “As die Here jou God die nasies waar jy na toe gaan om hulle uit die besitting te verdrywe, voor jou uitroei, en jy hulle verdrywe en in hulle land woon, neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die Here jou God nie; want alles wat vir die Here ’n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen; want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode. Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie” (Deuteronomium 12:29-32). Dit is onwaarskynlik dat God van opinie verander het hieroor. Hy het ook gesê: “Want Ek, die Here, het nie verander nie” (Maleagi 3:6), ook “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8). God verwerp heidense gebruike en beveel ons om dit nie te inkorporeer wanneer ons Hom aanbid nie. Hy sê aan ons watter dae ons moet onderhou, hoe ons dit moet onderhou en waarom ons dit moet onderhou. Daar was geen opdrag deur Christus of deur die Apostels om ’n jaarlikse herdenking van Christus se opstanding te hou nie, maar hulle het ’n ander gebruik gemagtig.

Is “Paasfees [Easter]” in die Bybel?

Word Paasfees in die Bybel genoem? In die King James Version van die Bybel, word die Griekse woord Pascha, in die oorspronklike teks vertaal as “Easter” [Paasfees] (Handelinge 12:4). Dit kom egter van ’n wanvertaling van die woord Pascha, wat Pasga [Engels: Passover] beteken. Hierdie fout is in die New King James Version en in die meeste moderne vertalings reggestel wat die woord korrek vertaal as Passover [Pasga].

Histories gesproke het die oorspronklike Kerk van God in die eerste eeu – net soos vir eeue daarna – die Christelike Pasga op dieselfde dag en op dieselfde wyse onderhou as wat Jesus hulle geleer het die aand voor Sy kruisdood. Die Apostels het ook hierdie gebruik aan mense geleer. Wat baie denominasies vandag “Die Laaste Avondmaal” noem, was eintlik die Pasga – wat deur Jesus en Sy dissipels gehou was. Hou in gedagte dat ’n Bybelse dag teen sononder begin, wat die dissipels noem die aand voor Jesus se kruisiging, toe hulle vir Hom vra: “Waar wil U hê moet ons gaan klaarmaak, dat U die pasga kan eet?” (Markus 14:12). Toe Hy hierop reageer, het Hy aan hulle gesê om na ’n sekere man te gaan wat hulle sou ontmoet en hom te vra: “Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die pasga kan eet?” (vers 14). Dit was dieselfde nag waarin Judas vir Jesus verraai het – Pasga, 14 Nisan. Die Bybel dui aan dat die aand van die volgende dag, die begin van die Heilige Dag, 15 Nisan was (Johannes 19:31; Levitikus 23:4-7), sodat ons kan weet dat Jesus dit op 14 Nisan onderhou het.

Jesus het self gesê dat hulle die pasga daardie aand geëet het. “En toe die uur kom, het Hy aan tafel gegaan en die twaalf apostels saam met Hom. En Hy sê vir hulle: Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly” (Lukas 22:14-15). Daardie nag, voordat Judas Hom verraai het, het Jesus die simbole van die Christelike Pasga, die brood en wyn, simbolies van Sy liggaam en bloed, ingestel. “En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam. Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes” (Mattheüs 26:26-28).

Die apostel Paulus beklemtoon die betekenis van die simbole van die Pasga en die Dae van Ongesuurde Brode. Hy gelas die Kerk in Korinthe: “Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ’n nuwe deeg kan wees – soos julle inderdaad ongesuurd is – want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Korinthiërs 5:7).

Die Lam van God het ons Pasga geword! Net soos antieke Israel deur die bloed van die eerste paaslam oorgeslaan is tydens die uittog uit Egipte (Eksodus 12:1-13), so word die sondes van vandag se bekeerde Christene – geestelike Israel – bedek, “passed over”, deur die gestorte bloed van die Lam van God (Johannes 1:29). Die Pasga is van groot belang vir Christene!

In 1 Korinthiërs 11:23-26 sê die apostel Paulus “wanneer, wat en waarom” die Christelike (Quartodesimaanse) Pasga onderhou moet word. “Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus ... [wanneer ons veronderstel is om dit te doen] in die nag waarin Hy verraai is ...[wat ons veronderstel is om te doen] brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word ... [waarom ons veronderstel is om dit te doen] doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom”. Paulus het in die eerste eeu die Kerk beveel om Christus se dood te herdenk – nie Sy opstanding nie. In die geskiedenis word die gelowiges wat hierdie opdrag getrou uitgevoer het, “Veertienders” genoem – Quartodesimane – omdat hulle dit gedoen het die aand van die begin van 14 Nisan, soos Christus en die Apostels hulle geleer het. As die brood en wyn op enige ander datum geneem word, is dit nie die Pasga nie.

Die Quartodesimaanse dispuut

In die tweede eeu n.C het ’n omstredenheid binne die vroeë Christendom bestaan. Die Roomse .kerk onder Pous Sixtus I het die viering van ’n vroeë vorm van Paasfees [Easter] op ’n Sondag ingestel. Dit was egter lank reeds die gebruik in die Midde-Oosterse (Asiatiese) kerke om die Christelike Pasga te onderhou soos Jesus en die Apostels hulle geleer het, op die 14de dag van Nisan, die eerste maand van die Joodse kalender (Levitikus 23:5). In die jaar 160 n.C. het Pous Anicetus daarop aangedring dat hulle die viering van Paasfees op ’n Sondag hou. Polycarpus, Biskop van Smirna (moderne Turkye) en ’n dissipel van die apostel Johannes, het sterk daarop aangedring dat die tradisie wat aan hulle geleer is deur die Apostels self, van krag behoort te wees. Die Catholic Encyclopedia berig: “Terwyl Anicetus die Pous was, het Sint Polycarpus, toe reeds ’n baie ou man, gekom om met hom oor die Pasga kwessie te praat (160-162), Polycarpus en ander in die Ooste het hierdie fees op die veertiende van die maand Nisan herdenk, ongeag op watter dag van die week dit geval het, terwyl dit in Rome altyd op ’n Sondag” gevier is (artikel: Pope Sint Anicetus). Polycarpus en Anicetus het uiteindelik ooreengekom om te verskil en het vreedsaam uitmekaar gegaan.

Die vrede het egter nie lank geduur nie. Pous Victor I (189-198 n.C.) “het ’n beroep gedoen op die biskoppe van die provinsie Asië om hulle gebruik te laat vaar en die universele gebruik van Rome, om altyd die Paasfees op ’n Sondag te vier, te aanvaar. Indien hulle dit nie sou doen nie, het hy gesê sou hulle uitgesluit word uit die gemeenskap van die kerk” (ibid, artikel: Pope Sint Victor I).

Die vroeëre kerkhistorikus Eusebius het geskryf: “Die biskoppe van Asië het egter, gelei deur Polycrates, besluit om te hou by die ou gebruik wat aan hulle oorgelewer is. Hy het self in ’n brief wat hy aan Victor en die kerk van Rome gerig het, die tradisie soos aan hom oorgelewer is, as volg uiteengesit: ‘Ons onderhou die presiese dag, sonder om by te voeg of weg te laat. In Asië het ook groot leiers aan die slaap geraak ... waaronder Filippus, een van die twaalf Apostels was ... ook Johannes wat ’n getuie en ’n onderwyser was en teen die boesem van die Here geleun het ... Hulle almal het die Pasga onderhou op die veertiende dag, volgens die Evangelie en in geen opsig afgewyk daarvan nie, maar het die voorskrif van die geloof gevolg’ ... Daarop het Victor, wat oor die kerk in Rome regeer het, onmiddellik probeer om al die gemeentes van die hele Asië, tesame met die kerke wat met hulle saamgestem het, af te sny van die gemeenskaplike eenheid en bestempel as heterodox [nie reg dink nie]. Hy het ook briewe geskryf waarin hy al die broeders daar as heeltemal uitgesluit verklaar” (Life of Constantine, hoofstuk XXIV.). Die gebruik het egter bly voortbestaan in die Asiatiese kerke en in die jaar 325 n.C., tydens die Raad van Nicea, is diegene wat getrou was aan die Quartodesimaanse Pasga as anatema [vervloek] verklaar. Die Katolieke Pasch – Paasfees of Easter – is as die ortodokse gebruik in die Rooms-Katolieke Kerk ingestel.

Waar staan hierdie dispuut vandag?

Daar is eintlik minder omstredenheid as wat u mag dink. Die historiese feite is goed gevestig deur geleerdes; die enigste omstredenheid is: Wat behoort daaromtrent gedoen te word. Byvoorbeeld, in The Apostolic Age in Patristic Thought, erken dr. Gerard A.M. Rouwhorst, professor aan die Skool van die Katolieke Teologie aan die Universiteit van Tilburg, die onderhouding van die vroeëre Quartodesimaanse Pasga. Voordat Paasfees ingestel is om dit te vervang, “het dit ’n sentrale rol gespeel in die lewe van die vroeëre Christelike gemeenskappe en het dit hulle godsdienstige oortuigings uiters goed uitgebeeld. Verder is dit, deur dit op die regte manier te onderhou, deur baie vroeëre Christene beskou as noodsaaklik vir hulle identiteit ... Daar word nou heel algemeen aanvaar dat die oudste vorm van die Christelike Pasga, dié is van die Quartodesimane. Hierdie groep sou egter uiteindelik ’n onbeduidende minderheid word. Aan die ander kant is die viering op ’n Vrydag, Saterdag en Sondag, wat tot stand gekom het in die tweede eeu as gevolg van ’n liturgiese vernuwing, uiteindelik deur die meerderheid Christene aanvaar en word dit deur hulle beskou as die norm” (bll. 64-65).

Rouwhorst merk ook op: “Ten slotte, toe die stryd eers gewen is [deur die Roomse kerk] en die Quartodesimane maar ’n klein minderheid uitgemaak het, het hulle teenstanders gebruik gemaak van ’n ander strategie. Hulle het probeer om die argument van apostoliese gesag af te maak as van minder belang en dit ondergeskik te maak aan ’n beginsel wat hulle beskou het as van veel groter belang, naamlik die handhawing van eenheid, dit wil sê, volg die meerderheid. Om terug te keer na die tradisie van die Apostels, sover die viering van Paasfees aanbetref, was dit kenmerkend van sektariese bewegings wat vasgehou het aan outydse tradisies” (ibid., bll. 84-85). Hulle was egter nie outyds nie. Hulle het nie probeer om Joods te wees nie. Hulle was gehoorsaam aan Christus en die Apostels.

Die werklike keuse

Die apostel Judas het aan die eerste eeuse Kerk ’n boodskap gegee wat vandag nog steeds van krag is vir Christene: “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 3). Daardie geloof het van die begin af die Christelike Pasga ingesluit en sluit dit nog steeds in. Dus, sal u die opdrag en voorbeeld volg van Jesus Christus en die Apostels soos dit aangeteken is in die Skrif? Of sal u tevrede wees met die heidense tradisies wat ingestel is en wat dit vervang het? Sal ugehoorsaam wees aan God se woord, die ware Christelike Pasga onderhou en ’n Christelike “Quartodesimaan” wees?