Wat is die waarheid agter die Hervorming in Engeland? Verteenwoordig dit ’n terugkeer na die ware geloof wat deur Jesus Christus oorgelewer is? Hierdie reeks artikels bevat verrassende feite wat u in ag behoort te neem!

Miljoene boeke, pamflette en traktaatjies verklaar met vrymoedigheid die Protestante se grondslag: “Die BYBEL, die hele Bybel en niks anders as die Bybel nie, is die godsdiens van die Protestante”.

In die vorige aflewerings van hierdie reeks het ons uit die Bybel en uit die geskiedkundige anale geleer dat ’n merkwaardige verandering plaasgevind het in die nominale “Christendom”, kort na die dood van die oorspronklike Apostels. Heidense filosofieë en tradisies het opsigtelik in die Kerk van God ingesluip. Gedurende die “Donker Eeue” het die godsdienstige hiërargie ’n ware slykput van ongeregtighede, hoerery en gruwels van elke soort, geword.

Ons het gesien hoe Martin Luther teen hierdie korrupte hiërargie gerebelleer het, maar steeds die meeste leerstellings en tradisies daarvan behou het. Trouens, hy het teen alle gesag in opstand gekom en het ewe vermetel ’n woord in die Bybel ingevoeg. In sy skuldbelaaide begeerte om weg te doen met gehoorsaamheid aan God se Wet, het Luther Romeine 1:17 as volg vertaal: “Die regverdige sal deur die geloof alleen lewe.” Hierdie gesindheid van Luther het daartoe gelei om die bigamie van die Landgraaf van Hesse en die slagting van honderde landbouers in die berugte Boere-oorlog, te vergewe.

In die vorige uitgawe van die Wêreld van Môre-tydskrif het ons die hardvogtige leerstellings en optrede van Johannes Calvyn bespreek, gegrond op sy teorie van uitverkiesing. Dink terug aan sy stelling: “Want alle mense word nie op gelyke basis geskape nie, maar vir party is die ewige lewe vooruitbepaal, vir ander ewige verdoemenis ...” (Bettenson, Henry. Documents on the Christian Church, New York: Oxford University Press, 1947. bl. 302).

Die skokkende gevolg van Calvyn se wrede stelsel kan slegs verstaan word deur die beskrywing te lees van hoe hy ’n godsdienstige teenstander, Michael Servetus, op die brandstapel verbrand het.

Nou sal ons die verstommende waarheid oor die Hervorming in Engeland bespreek.

Soos in die vorige fases van hierdie beweging, laat ons onsself afvra: Was dit ’n terugkeer na die geloof en gebruike van Jesus Christus en Sy Apostels? Was dit inderdaad ’n terugkeer na die “BYBEL, die hele Bybel en niks anders as die Bybel” nie?

Die Engelse opstand

Die derde belangrike hervormingsbeweging wat duidelik onderskei kon word, is die een wat in Engeland plaasgevind het. Dit was ’n Hervorming gekenmerk deur geweld, selfs meer as wat dit onder Johannes Calvyn was.

Die sogenaamde “Hervorming” in Engeland kan feitelik geheel en al toegeskryf word aan die handelinge van een man, Henry VIII. Aangesien die Engelse opstand onder sy invloed geen uitstaande godsdienstige leiers en baie min onderskeibare leerstellings opgelewer het, is ’n gedetailleerde ontleding van die vordering daarvan nie nodig om die unieke plek daarvan in die Hervorming as geheel te verstaan nie. Tog is insig in die belangrikste oorspronge en resultate belangrik om ons ’n begrip te gee van sy latere invloed op die Engelssprekende nasies van die wêreld.

Koning Henry VIII

Toe Henry VIII die troon van Engeland in 1509 bestyg het, was dit reeds ’n gevestigde koninklike beleid dat die konings die meeste kerklike aanstellings beheer en dat baie van die belangrikste politieke poste gevul word met hoogsgeleerde kerkmanne. Dit het natuurlik tot baie misbruike gelei en het dikwels gierigheid, oneerlikheid en wêreldse geslepenheid onder die hoër geestelikes aangemoedig.

Hierdie situasie het ook daartoe bygedra om die godsdienstige getrouheid, wat gewoonlik deur die Roomse geestelikes teenoor Rome gevoel is, te ondermyn. Dit is deur middel van politieke ampte en belangstelling vervang met ’n gevoel van nasionale lojaliteit. Dit is verder versterk deur ’n toenemende nasionale antagonisme teenoor alle buitelandse inmenging, pouslik of andersins (Walker, Reginald F. An Outline of the Catholic Church. Dublin: M. H. Gill en Son, Ltd., 1950. bl. 401).

Onder sulke omstandighede was dit glad nie moeilik vir Henry VIII – ’n jong, aantreklike, briljante en verwaande koning – om die Engelse Katolieke geestelikes te beïnvloed en te intimideer volgens sy grille en giere nie.

Henry het ’n ruimskootse erfporsie van sy pa, Henry die Sewende, ontvang en het groot gewildheid by sy onderdane geniet. As gevolg van ’n politieke alliansie met die Spanjaarde, het sy vader hom laat belowe dat hy met Catherine van Aragon, die dogter van Ferdinand en Isabella van Spanje, sou trou. Sy was eintlik vantevore sy ouer broer se vrou, alhoewel daar gesê is dat die huwelik nooit voltrek is voor Arthur se vroeë dood nie.

Catherine was omtrent ses jaar ouer as Henry. Alhoewel dit in die begin min verskil gemaak het, het die passievolle, eiewillige monarg sowat vyftien jaar later homself getroud bevind met ’n oorgewig, voortydig-verouderende vrou van veertig. Dit was bekend dat Henry al jare lank sy drange met ’n reeks minnaresse bevredig het en dit kon vir ’n onbepaalde tyd voortgeduur het, as dit nie was vir twee gebeurtenisse nie.

Eerstens lyk dit asof Henry deur Anne Boleyn bekoor was en dat sy daarop aangedring het om sy vrou te word. Tweedens, het net een van die ses kinders wat Catherine vir hom gebaar het, hulle kleuterjare oorleef – ’n dogter, Mary. ’n Vrou het nog nooit voorheen oor Engeland regeer nie en Henry kon dalk gevrees het dat die afwesigheid van ’n manlike troonopvolger tot ’n burgeroorlog sou lei. Hy wou met ’n ander vrou trou en ’n manlike erfgenaam hê (Hausser, Ludwig. The Period of the Reformation. Londen: J. S. Virtue and Co., Limited, 1885, bll. 170-171).

Die huweliksvraag

Omtrent in 1526 het Henry by Rome aansoek gedoen om sy huwelik met Catherine nietig te laat verklaar. Hy het sy versoek gegrond op die feit dat sy eers sy oorlede broer se vrou was en dat ’n pouslike vergunning toegestaan was om hom toe te laat om met haar te trou, aangesien hierdie soort verwantskap normaalweg ’n beletsel is vir ’n huwelik volgens Katolieke wetgewing.

Henry wou nou hê dat hierdie vergunning en dus sy huwelik, ongeldig verklaar moes word. Hy het probeer om die ondersteuning te verkry van Thomas Wolsey – vir wie hy Hoof-Raadgewer van die koning gemaak het asook van Pous Leo X, wie hy ’n kardinaal gemaak het.

Tot dusver was Wolsey Henry se regterhand. Hy was egter ook die pous se verteenwoordiger en het probeer om homself te beskerm deur ’n goue middeweg te volg in hierdie saak. Die saak was gevolglik vertraag – die pous en Wolsey het gehoop dat Henry dalk van plan sou verander.

Hierdie toedrag van sake het gou die koning se geduld laat opraak en hy is deur Thomas Cranmer en Thomas Cromwell aangeraai om sy saak aan die universiteite van Europa voor te lê. Dit het Henry gedoen, deur middel van omkopery in die buiteland en dreigemente tuis, met die doel om gedeeltelike goedkeuring vir sy egskeiding te verkry van sommige van die Protestantse geleerdes en teoloë. (Fisher, George P. The Reformation, New York: Scribner, Armstrong and Co., 1873. bl. 319).

Intussen het Henry kardinaal Wolsey op grond van vervalste aanklagtes ontslaan en gestroop van sy eer, het die kardinaal siek geword en op pad om verhoor te word vir hoogverraad, gesterf. Dit sou nie die eerste sterfgeval in hierdie saak wees nie. Soos die daaropvolgende gebeure sou aantoon, was Henry bereid om diegene te vermoor wat gekant was teen sy onbeteuelde wellus vir vroue en mag.

Henry het nou druk op die Engelse parlement uitgeoefen om wetsontwerpe uit te vaardig wat verklaar dat hy “die Beskermer en Opperhoof van die Kerk en die geestelikes van Engeland” is en na ’n lang debat is bygevoeg “in soverre dit deur die Wet van Christus toegelaat word”. Hy het dit toe bewerkstellig dat die Parlement wette uitvaardig waarin verbied word dat amptelike pouslike proklamasies in Engeland ingestel en dat die pouslike inkomste vanuit Engeland afgesny word (Fisher, bl. 320).

Terwyl sy saak nog hangende was in Rome, het Henry hom deur ’n vinnige egskeiding gehaas en is in die geheim, alhoewel formeel, met Anne Boleyn getroud op 25 Januarie 1533. Dit is duidelik dat hy reeds met haar ’n onwettige, owerspelige verhouding aangeknoop het, want op 7 September van dieselfde jaar het sy geboorte geskenk aan ’n dogter, Elizabeth, wat later koningin geword het (Walker, bl. 403).

Kort daarna is Henry se nuwe gunsteling, Thomas Cranmer, aangestel as aartsbiskop van Canterbury. Op 23 Mei het hy [Cranmer] ’n kerklike hofsitting gehou en Henry se huwelik met Catherine nietig verklaar.

Die breuk met Rome

Die onvermydelike gevolge van al hierdie optredes het spoedig gevolg. Op 11 Julie 1533 het pous Clement VII ’n amptelike pouslike proklamasie uitgevaardig waarin hy Henry uit die kerk verban het. Henry het in dieselfde trant geantwoord en vinnig wette van die parlement verkry wat alle betalings aan die pous verbied en bepaal het dat alle biskoppe van toe af aangestel moes word volgens die koning se benoeming asook dat weggedoen word met alle ander erkenning van pouslike gesag (Fisher, bl. 320-321).

In November 1534 het die Parlement die beroemde Oppergesagwet goedgekeur. Daarin is Henry en sy opvolgers verklaar as “die enigste opperhoof op die aarde van die Kerk van Engeland”, sonder enige kwalifiserende klousules en met volle gesag om “dwaalleer” en “vergrype” aan te spreek (Bettenson, bl. 322).

Die algehele breuk met Rome was nou afgehandel. Alhoewel dit hoofsaaklik ’n saak van Henry se eiesinnigheid was, sou dit nie uitgevoer kon word sonder die sterk nasionale gevoel en weersin aan pouslike gesag wat reeds besig was om onder die Engelse volk toe te neem nie.

Wat die verbreking met Rome onherstelbaar gemaak het, was die beleid wat Henry nou toegepas het, naamlik die konfiskering van die kloosters en abdygronde en die verdeling van ’n gedeelte van die geplunderde rykdom onder sy howelinge en vriende (Fisher, bl. 321).

Vir sy werk het Henry ’n nuwe tussenganger gevind in Thomas Cromwell (1485?-1540), ’n man van baie nederige oorsprong, by tye ’n soldaat, handelaar en geldskieter, van wie Wolsey baie gebruik gemaak het as besigheids- en parlementêre tussenganger. Teen 1531 was Cromwell deel van die Raad van State; in 1534 regter van die appèlhof; en in 1536, leek wat hy was, adjunkbestuurder van die Koning in kerklike sake. Henry het kerklike eiendom begeer om beide sy spandabelrige onderdane te onderhou en aanhangers te verwerf en beloon – die Hervorming was oral gekenmerk deur hierdie beslagleggings. In 1534 het hy Cromwell opdrag gegee om die kloosters te laat besoek en verslag te lewer oor hulle toestand. Die beweerde feite, waarvan die waarheid of valsheid nog steeds betwis word, is voor die parlement gelê. In Februarie 1536 het hulle beslis dat dit aan die Koning en “sy erfgename toegewys word om vir ewig te gebruik soos wat hy en hulle wil en dat hulle na goeddunke daarmee kan handel”, in soverre dit alle kloosterlike instellings met ’n inkomste van minder as tweehonderd pond per jaar betref. Die getal waarop beslag gelê is, was driehonderd-ses-en-sewentig (Walker, bl. 404).

Dit is betekenisvol om daarop te let dat, soos Walker sê, dit ’n algemene praktyk onder die Protestantse vorste en edeles was om die rykdom van die Katolieke Kerk, waar enigsins moontlik, te konfiskeer. Dit is duidelik dat die meeste van hierdie invloedryke “Protestante” baie meer daaroor besorg was om hulleself te verryk as oor enige teologiese veranderings wat moontlik gemaak sou kon word. Trouens, Henry se breuk met Rome het feitelik geen veranderings in leerstellings tot gevolg gehad nie, behalwe die verwerping van pouslike gesag en die vervanging met die Engelse monarg as “hoof” van die kerk.

Die hele situasie het hoofsaaklik ontwikkel as gevolg van Henry se seksuele drange en strewe na gesagnie as gevolg van ywerige mense wat probeer het om die waarheid van die Skrif her in te stel nie.

Teologiese ontwikkelings

Gedurende hierdie tydperk is ’n aantal godsdienstige leiers beïnvloed deur die werk van die Hervorming op die vasteland. Een van hulle, William Tyndale, het die Nuwe Testament in Engels vertaal. Hy kon dit egter nie in Engeland publiseer nie. In plaas daarvan is dit in 1526 op die vasteland gepubliseer en baie afskrifte het hulle weg na Engeland gevind, hoewel kerklike en burgerlike owerhede dit probeer onderdruk het.

Hierdie plasing van die Bybel in die hande van die mense het die weg vir latere geloofsveranderings volgens Lutherse riglyne voorberei. Voorlopig moes die Rooms-Katolieke leerstellings egter afgedwing word (Walker, bll. 404-405).

Koning Henry se godsdienstige gesindheid, behalwe teenoor die pousdom, was dié van die Katolieke ortodoksie. Soms sou hy beperkte geloofstoegewings maak om die Duitse Protestante te plesier wanneer hy hulle ondersteuning nodig gehad het. In 1539 het Henry, as gevolg van vrees vir Frankryk en Spanje, die Parlement oorreed om die Six Articles Act goed te keur. Dit het streng leerstellings oor transsubstansiasie, geloftes van kuisheid, mondelinge boetedoenings en ander Katolieke praktyke gehandhaaf (Fisher, bl. 324).

Intussen het hy egter in 1539 voortgegaan om die konfiskering van al die kloosters te voltooi en sy posisie as hoof van die kerk en staat te versterk. Die feit dat hy die geplunderde rykdom van die kerklike eiendomme verdeel het, het die welvaart van die Protestantse regerende klas, wie se persoonlike belange nou gelê het in voortgesette skeiding van Rome, opgebou.

Die ware feit is dat hulle Katolieke was in leerstelling, maar Protestants in hulle bevestiging van Henry se reg om die pous as hoof van die kerk te vervang met homself en die buit van die geplunderde kloosters met hulle te deel.

Koning Henry se huweliksmanewales

As “opperhoof” van die Kerk van Engeland was Henry se optrede teenoor sy vyande en, vreemd genoeg, selfs teenoor sy vrouens, so ver verwyder van Christelike beginsels as wat dit moontlik kon wees.

Tydens die somer van 1535 het hy twee van Engeland se mees bekwame geleerdes en teoloë, biskop John Fisher en Sir Thomas More, wreed tereggestel omdat hulle geweier het om sy oppergesag oor die kerk en geestelikes van Engeland te onderskryf. Baie ander vername persone het met hulle lewens betaal omdat hulle nie saamgestem het met Henry se siening nie.

Alzog gee ’n goeie opsomming van Henry se venynige optrede teenoor sy vrouens en edeles:

Henry was net so gruwelik wreed teenoor sy vrouens as wat hy teenoor sy predikante en ander onderdane van laer klasse was. Catharine van Aragon het haar verwerping ’n bietjie minder as drie jaar oorleef. Haar dood op 8 Januarie 1536 was ’n duidelike voorbeeld van wat sou volg. Sy was skaars in haar graf toe Anne Boleyn, wat haar plek in haar man se hart ingeneem het en die oorsaak was van al haar ellende, word aangekla van egbreuk, bloedskande en hoogverraad. Sy is skuldig bevind en op 19 Mei 1536 op die grasperk binne-in die Toring onthoof. Cranmer, wat voorheen “op grond van sy apostoliese gesag” die huwelik tussen Henry en Anne wettig en geldig verklaar het, moes nou sy vorige besluit herroep en “in die naam van Christus en tot verheerliking van God” verklaar dat dieselfde huwelik nou en nog altyd ongeldig was. Op die dag van Anne se teregstelling het Henry, asof hy sy minagting vir haar nagedagtenis te kenne wou gee, hom in ’n wit pak geklee en is die volgende oggend met Jane Seymour getroud, wat dood is (24 Oktober 1537) minder as twee weke na die geboorte van ’n manlike kind, later bekend as Edward VI. Henry is weer later, aan die begin van 1540, getroud met Anne van Cleves. Hierdie huwelik het plaasgevind met ’n politieke motief. Dit is teweeggebring deur bemiddeling van Thomas Cromwell, wat gehoop het om die Protestantse saak in Engeland asook sy eie mag te versterk met behulp van die invloed van die nuwe koningin wat bekend was daarvoor dat sy ’n stoere Lutheraan was. Mislei deur haar skoonheid en persoonlike aantreklikheid, het Henry net met haar getrou omdat hy homself nie kon help nie en nadat hy ses maande lank met haar getroud was, het hy hoofsaaklik op hierdie gronde van haar geskei (13 Julie). Binne ’n maand (8 Augustus) het hy met Catherine Howard getrou, wat kort daarna aangekla is van owerspel, skuldig bevind is en onthoof is op 13 Februarie 1541. Henry se sesde en laaste vrou, Catharine Parr, is op een stadium byna onthoof toe sy gewaag het om oor teologiese vraagstukke met die Hoof van die Kerk van Engeland te verskil; maar sy het haar fout vinnig agtergekom en die koninklike wraak vrygespring deurdat sy sy groot wysheid en teologiese geleerdheid taktvol gevlei het. Sy het haar nederigste onderwerping aan sy oordeel uitgespreek en verklaar dat sy van hom verskil het sodat hy ook betrek kon word by ’n hetige gesprek, want wanneer hy geesdriftig was, het dit gelyk of hy die pyn van die kwaal waaraan hy gely het, vergeet. Deur hierdie slim plan te beraam het Catharine haar kop behou en het die geluk gesmaak om die wrede monster, wat in 1547 gesterf het, te oorleef.

Henry het agt-en-dertig jaar lank regeer en gedurende daardie tydperk het hy twee koninginne, twee kardinale, twee aartsbiskoppe, agtien biskoppe, dertien kloostervoogde, vyfhonderd priesters en monnike, agt-en-dertig dokters in godsgeleerdheid en regte, honderd-vier-en-sestig edelmanne, honderd-vier-en-twintig gewone burgers en een-honderd-en-tien dames tereggestel (Alzog, John. Manuel of Universal Church History. Dublin: MH Gill and Son, 1902. bll. 322-323).

Protestantisme vorder onder Edward VI

Ná die dood van Henry VIII het die meerderheid Engelse die afgestorwe koning ondersteun en geen aansienlike verandering in leer of aanbidding verlang nie (Walker, bl. 408). Ondanks hierdie feit, sou Engeland egter die instelling van baie Lutherse leerstellings tydens die bewind van Edward VI aanskou.

Edward was slegs nege jaar oud toe hy die troon bestyg het. Die Hertog van Somerset was dadelik as Beskermer aangestel en was toe hoof oor die regeringsraad. Hy was ’n man wat simpatiek gestaan het teenoor Protestantisme en ’n vriend van die onteiende laer landbou klasse.

Onder die invloed van Somerset en Aartsbiskop Cranmer, is ’n aantal veranderings in leerstellings en aanbidding ingestel.

Dit was gedurende hierdie tydperk dat die Six Article herroep is en die werklike basiese leerstellings van die Kerk van Engeland opgestel is. Cranmer was ’n heelhartige Protestant en het ’n aantal Lutherse teoloë vir raad en advies ingebring.

Wette wat die selibaatskap van priesters afgedwing het, is nou herroep. Nagmaal met beide die brood en wyn vir die gemeente is, in navolging van Luther, ingestel. Die gebruik van Engels in die kerkdienste is verpligtend gemaak en hulp met die formulering van gebedsboeke en liturgie is deur die kontinentale hervormers verleen (Fisher, George P. History of the Christian Church. New York: Charles Scribner's Sons, 1897, bll. 357 -358).

Die basis van Engelse Protestantisme is bepaald gedurende hierdie tydperk gevestig. Soos ons egter gesien het, was dit die Protestantisme van die Duitse hervormers wat op ’n beperkte skaal ingebring is.

Die bewind van koningin “Bloody” Mary

Die hervormingsplanne het in 1553 tot ’n skielike einde gekom met die vroeë dood van Edward VI in 1553 en die troonbestyging van die Katolieke koningin Mary. As gevolg van die gekonkel van party van die Protestantse edelmanne het Mary selfs die ondersteuning van meeste van haar onderdane gehad toe sy die troon bestyg het (Walker, bl. 405).

Op geslepe advies van haar neef, keiser Charles V was Mary aan die begin versigtig. Kort voor lank het die Parlement sy besluit omgekeer en verklaar dat die huwelik tussen haar moeder en Henry geldig was. Die wispelturige gesindheid van die monarge en politieke leiers van Engeland teenoor die huwelikstaat was skrikwekkend. Hulle aksies was ’n skandelike bespotting van Christus se woorde: “Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie” (Markus 10:9).

Hierdie optrede dui beslis daarop dat die harte van die Britse volk verseker nie vas oortuig was van hulle nuwe Protestantse “geloof” nie. Soos een Engelse geleerde sinies opgemerk het: “Met die Parlement het Mary geen probleme gehad nie. Soos ’n destydse geleerde ironies opgemerk het, hulle sou met dieselfde toewyding en ywer vir die vestiging van die Mohammedaanse godsdiens gestem het op aandrang van die koningin” (Babington, J. A. The Reformation. Londen: John Murray, 1901, bl. 286).

Met weinig teenkanting het Mary die Parlement oorreed om die kerklike wetgewing wat onder Edward se bewind ingestel is, te herroep en openbare aanbidding is heringestel na die vorm wat dit was in die laaste jaar van Henry VIII se bewind. Cranmer was egter nou in die gevangenis en baie van die meer toegewyde Protestante het na die vasteland gevlug.

Op hierdie tydstip het Mary ook in die huwelik getree met Philip, die seun van keiser Charles V en hy sou spoedig Philip II van Spanje word. Vrees vir die Katolieke en Spaanse oorheersing het dit ’n uiters ongewilde huwelik by Mary se onderdane gemaak en sy het baie openbare steun hierdeur verloor (Fisher, History of the Christian Church, bl. 359).

Die Engelse edellui was nou bang om die kerkeiendom waarop hulle beslag gelê het te verloor en ’n reeks oproerige opstande het plaasgevind. Gedurende ’n groot gedeelte van hierdie tyd was dit moeilik om te bepaal of dit hulle Protestantse simpatie of hulle Engelse nasionalisme was wat hierdie voorvalle teweeggebring het (Hausser, bl. 569).

“Bloody” Mary het nou met die uitwissing van haar vyande begin en in Februarie 1554 is vyftig mense opgehang. Die totaal onskuldige Lady Jane Gray en haar man, Lord Guildford Dudley, is albei tereggestel vir beweerde sameswering teen die koningin. Mary het haar suster, Elizabeth, nooit baie liefgehad nie, sy is in die toring van Londen opgesluit. Deur al die jare het Elizabeth egter enigiets versigtig vermy wat Mary se argwaan teen haar kon opwek en so haar lewe behou (Hausser, bll. 570-573).

Selfs aan die begin van hierdie vervolging was die Engelse adel en die Parlement nog steeds gereed om hul Protestantisme prys te gee en om “die Kerk en haar leerstelling te reguleer in ooreenstemming met die Pous se wense, net so lank as wat niemand sou inmeng met die verdeling van die Kerk se eiendom nie ...” (Hausser, bl. 571). Dit behoort beslis duidelik te wees dat hierdie edellui meer bekommerd was oor hulle strewe na rykdom en mag as wat hulle probeer het om ware geloof te vind.

Toe Mary eers die voormalige Protestante toegelaat het om die gekonfiskeerde kerkeiendomme te behou, het die Parlement geredelik daartoe ingestem om aan die Pous gehoorsaam te wees en om die edikte teen ketters te hernu. Diegene wat voortgegaan het om die Roomse godsdiens teen te staan, is met alle geweld vervolg. In die drie jaar voor Mary se dood is ongeveer 270 Protestantse ketters op die brandstapel verbrand, onder wie 55 vroue en vier kinders (Hausser, bl 571).

Baie van hierdie gewone mense was tot die einde toe getrou aan hulle Protestantse oortuigings. Hulle geestelike leier, Thomas Cranmer, wat aartsbiskop van Canterbury onder Henry VIII en Edward VI was, was nie heeltemal so standvastig nie. Hy het sy Protestantse oortuigings onder die bewind van koningin Mary verwerp in die hoop om sy lewe te red. Maar toe die besluit eers geneem is dat hy in elk geval moes sterf, het hy weer moed bymekaar geskraap, sy vroeëre verwerping teruggetrek en verklaar dat hy ’n Protestant is en met waardigheid gesterf. Soos Fisher sê: “Watter koers hy sou inslaan as hy toegelaat was om te lewe, is onmoontlik om te sê ...” (Babington, bl. 328).

Onder Mary se bewind het die regering die Protestante soos misdadigers vervolg. Natuurlik het dit onder die Engelse volk ’n haat vir Rome laat ontwikkel. Nie soseer as gevolg van ware godsdienstige oortuiging nie, maar in ’n politieke sin het die idee nou ontstaan dat “Protestantisme en Engelse nasionaliteit identies was” (Hausser, bl. 573).

Wanneer ons dus lees van die stoere “Protestantse” oortuiging onder die Engelse volkere, moet ons besef hoekom. Dit het ’n gees van Engelse nasionalisme in verset teen Rome geword. Dit is ’n nasionale godsdiens wat in Engeland voortgeduur het, tot vandag toe. Soos baie mense egter besef het, het die verloop daarvan altyd meer afgehang van politiek en mag as van opregte godsdienstige motiewe.

Die Engelse volk het in ’n gedeeltelike staat van opstand gebly totdat hulle Katolieke koningin Mary in November 1558 gesterf het. Die nasie het haar suster, Elizabeth, op die troon verwelkom (Fisher, bl. 362).

Engelse Protestantisme gestig

Elizabeth het haarself gou gevestig as hoof van die Kerk van Engeland, net soos Henry VIII gedoen het. Aangesien dit egter gelyk het asof die titel, “Opperhoof” onaanvaarbaar was vir die Katolieke, was sy nou “Oppergoewerneur” van die nasionale kerk (Walker, bl. 414).

Die Protestantse beginsels wat vroeër onder Edward VI ingestel is, is nou weer stap-vir-stap ingestel. Deur die “Act of Uniformity” van 1559, is die Gebedeboek van Edward VI weer ingestel vir gebruik in al die kerke. Dit is van almal verwag om die nasionale kerk by te woon en hulle was onderhewig aan straf en boete, met uitsondering van “wettige of redelike verskonings” (Moncrief, John W. A Short History of the Christian Church. New York: Fleming H. Revell Company, 1902. bl. 339).

Babington lewer kommentaar op die skynheilige wisselvaligheid van die “godsdienstige” situasie in Engeland gedurende hierdie tyd. “Dus het die Engelse parlement binne ’n paar jaar vir die derde keer sy godsdienstige geloof formeel herroep. Dit dien geen doel om enige aanvaarbare rede vir hierdie verstommende feit te probeer gee nie. Om te dink dat die veranderings wat deur die oorgeërfde wetgewers en verteenwoordigers van die Engelse volk gemaak is, omdat hulle onder die indruk gebring was deur geestelike ywer of godsdienstige oortuiging, sou die toppunt van onsinnigheid wees” (Babington, bl. 299).

Alhoewel koningin Elizabeth in godsdienstige sowel as siviele sake oorheers het, is Matthew Parker nou as aartsbiskop van Canterbury ingeseën. Onder sy leiding is die 42 geloofstellings wat oorspronklik deur Thomas Cranmer geformuleer is, na 39 verminder. In 1571 het die Parlement hulle as die basis van leerstellings van die kerk van Engeland aangeneem. Hulle stel ’n soort “middeweg”-leerstelling tussen Lutheranisme en Calvinisme daar. (Kurtz, J.H. Church History, Londen: Hodder en Stoughton, 1889. bl. 315).

In werklikheid was die godsdienstige grondslag van die Kerk van Engeland ’n vermenging van Lutheranisme, Calvinisme en Katolisisme, maar The Thirty-Nine Articles was hoofsaaklik gebaseer op Lutherse geloofsbelydenisse (Moncrief, bl. 339). En, natuurlik was Luther se teorie van regverdigmaking deur geloof alleen behou. Calvyn se leerstellings oor die “Nagmaal” en uitverkiesing is nietemin in die geheel aanvaar.

Baie Rooms-Katolieke rituele, gebruike en konsepte is egter behou. “The Thirty-Nine Articles bevat baie Protestantse dogmas, maar hulle behou ook baie van die Roomse kultus” (Moncrief, bl. 340).

Alhoewel daar van tyd tot tyd veranderings aangebring is, bly die leerstellings en vorm van godsdiens wat hierdie keer onder koningin Elizabeth aangebring is, tot vandag toe wesenlik dieselfde in die Kerk van Engeland (Wharey, James, Church History. Philadelphia: Presbyterian Board of Publication. bl. 240).

Opsomming

Dit is nie ons doel om in hierdie huidige werk in ’n gedetailleerde geskiedenis van die verskillende verdelings en afdelings van die drie hoof Protestantse “vertakkings” in te gaan nie. Soos ons reeds gesien het, het Luther se leerstellings oor die grootste deel van Noord-Duitsland versprei, van daar af hoofsaaklik na die Skandinawiese lande en toe na die Nuwe Wêreld. Calvyn se teologie het uiteindelik in Switserland, dele van Frankryk en Duitsland, Nederland en Skotland oorheers. Later het dit ook sy weg gevind – met aanpassings – na Amerika en veral na die Nieu-Engeland state.

Anglikanisme het slegs in Engeland self in sy suiwer vorm oorheers. Dwarsdeur die Britse Statebond en in Amerika het dit sedertdien die naam “Episkopaalse Protestantisme” en ander vorme aanvaar, wat feitlik identiese geloofsoortuigings bevat.

As ’n rigtinggewende beginsel is dit belangrik om te besef dat elke groot Protestantse liggaam na regte sy regmatige voorouer moet erken as een van hierdie sleutel hervormingsbewegings. Lutheranisme, Calvinisme en Anglikanisme moet erken dat hulle almal in die eerste plek uit die Kerk van Rome gekom het.

Om weer na Engeland te verwys, kan ons sekerlik sê dat die drie hoofkerke wat uit die “puriteinse” beweging van die sewentiende eeu ontstaan het – die Presbiteriaanse, die Kongregasionalistiese en die Baptiste Kerke – almal die grootste deel van hulle leerstellings, gebruike en konsepte aan Calvyn te danke het.

 

Die latere Metodiste-beweging onder John en Charles Wesley het geen wesenlike verandering in die basiese leerstellings van die Kerk van Engeland behels nie. Dit was slegs bedoel as ’n hervorming binne die Anglikaanse Kerk deurdat hulle die uitverkiesingsleer verwerp het en die klem geplaas het op persoonlike heiligheid en ’n bewustheid van ’n “getuie van die Gees” in die gelowige (Hurlbut, Jesse Lyman. The Story of the Christian Church. Philadelphia: The John C. Winston Co, 1933. bl. 177).

Tot aan die einde van sy lewe het Wesley sy volgelinge aangemoedig om in die Kerk van Engeland te bly en verklaar: “Ek leef en sterf as ’n lidmaat van die Kerk van Engeland; niemand wat my oordeel hoog ag sal ooit daarvan afwyk nie” (Bettenson, bl. 361).

Dit is dus duidelik dat selfs die Kerk van Engeland wat voortspruit uit Rome, die moederkerk is van ander godsdienstige liggame wat dieselfde basiese leerstellings het. Die punt wat ons graag wil beklemtoon is dit: Al die belangrikste vertakkings en verdelings binne die Protestantse “Christendom” stem saam oor die meeste van hulle basiese leerstellings, tradisies en godsdienstige konsepte. Die betekenis hiervan sal later bespreek word.

Om terug te keer na die Engelse opstand, vind ons dat koning Henry VIII se onbeheerde wellus na vroue en mag, tot ’n nuwe godsdienstige liggaam gelei het. Die reine waarheid is dat die “Hervorming” in Engeland uit wellustigheid gebore is en tot sukses gelei was deur politieke druk en wapengeweld!

Een vooraanstaande Protestantse historikus erken: “Die merkwaardige kenmerk van die Engelse opstand is dat dit geen uitstaande godsdienstige leier opgelewer het nie – geen Luther, Zwingli, Calvyn of Knox nie. Daar was ook nie voor die begin van Elizabeth se bewind, ’n noemenswaardige geestelike ontwaking onder die mense waarneembaar nie. Die dryfkrag daaragter was polities en maatskaplik” (Walker, bl. 415).

Soos ons gesien het, is die Engelse opstand gebore uit die wellus en sonde van Henry VIII. Dit was onder die volk aangeblaas deur ’n gees van nasionalisme en antagonisme teenoor Rome. Dit is aangespoor om sukses te behaal deur die gierigheid van die Engelse adel om op die rykdom van die Katolieke kloosters en grond beslag te lê. Dit is op die troon geplaas deur die koninklike bewuswording van die ongehinderde mag wat aan die Engelse monarge toegesê is.

Dit word erken dat hierdie beweging, geen noemenswaardige, godsdienstige leier wat die naam werd was opgelewer het nie. Daar was feitelik geen geestelike ontwaking onder die volk nie. Die motiewe was polities en maatskaplik.

Laat ons eerlik en ruiterlik die vrae aanspreek: Was dit ’n terugkeer na die suiwer Nuwe-Testamentiese Christendom? Was dit ’n Gees-geïnspireerde herinstelling van die “geloof wat eenmaal oorgelewer is”?

In die volgende aflewering sal die werklike betekenis van alles wat ons bespreek het en die antwoorde op hierdie vrae duidelik gemaak word. Dit is nodig dat ons sal weet waar vandag se Protestantse “Christendom” regtig vandaan gekom het en waarheen dit lei! Moenie die volgende uitgawe se aflewering in hierdie belangrike reeks misloop nie!