In ’n verwarde, onseker en ongekende tyd het net een Kundige die ongeëwenaarde kennis wat die oplossing vir die verwarring het.

In die eerste maande van 2020 is ’n groot deel van ons wêreld verswelg deur die COVID-19-pandemie. Elkeen van u wat hierdie artikel lees, het u eie verhaal oor hoe die coronavirus u lewe en die lewens van u geliefdes beïnvloed het.

Nadat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) die coronavirus op 10 Maart 2020 as ’n pandemie verklaar het, het dit nie lank geduur voordat ons in die VK opdrag gekry het om binnenshuis te bly nie en die grootste deel van die ekonomie het tot ’n rukkende stilstand gekom. Skielik was ons in ’n heel ander wêreld met sy eie woordeboek van termes.

Ons woordeskat het net soos ons verwarring uitgebrei, terwyl ons geleer het van coronavirusse, ingewikkelde statistieke en toetse, kontakopsporing, epidemioloë, afplatting van die kurwe, kudde-immuniteit, inperking (lockdown), sosiale afstandhouding, ventilators, virale lading, entstowwe en kontroversiële, onuitspreeklike terapieë soos hidroksied-chlorokwinien (HCQ).

Ons lewenswyse en lewenspatrone is geheel en al ontwrig. Die skrywer van die artikel was een van diegene wat as ’n besondere risiko beskou word. Ek is gevolglik vroeg in Maart opdrag gegee om tot Junie in my huis te bly, later is dit verleng tot Julie. Daar is aan my gesê dat teen die tyd dat u hier lees, hierdie beperkings moontlik weer ingestel sal word.

Vir maande lank is ek elke dag net vir ’n kort tydjie toegelaat om buite te oefen, solank ek weggebly het van almal in my omgewing. Alle voorrade en lewensmiddele moes egter na mý gebring word. Ek het heeltemal afhanklik van ander mense geraak. Dit het gelyk asof politici, mediese owerhede en die media ons voortdurend ’n dieet van vreesinboeseming gevoer het wat by sommige mense ’n gevoel van histerie en vrees vir dreigende infeksie en dood geskep het.

Vreesgevulde formules van mislukkings

Amerikaners wat vertroud is met dr. Anthony Fauci, het miskien nie gehoor van Neil Ferguson nie – ’n epidemioloog van die VK wat ’n rekenaarmodel ontwikkel het wat volgens hom die verloop van die pandemie akkuraat sou voorspel. Hy het dit by verskeie geleenthede van 2001 tot 2002 gebruik vir hand-, bek- en klouseer en malkoeisiekte; voëlgriep in 2005; en vir varkgriep in 2009 – alhoewel geeneen van sy vreeswekkende voorspellings werklik akkuraat was nie (“Who is Neil Ferguson, the Imperial College Londen virus modeller and Government scientific adviser,” The Telegraph, 5 Mei 2020).

In die middel van Maart 2020 het Ferguson beweer dat tot 500,000 Britte kan sterf, tensy daar onmiddellik ’n inperking (lockdown) is, terwyl die ontwikkeling van ’n geskikte entstof aan die gang was. Sy advies het daartoe gelei dat die Britse Eerste Minister, Boris Johnson, die vorige beleid omgekeer het in ’n poging om “die wetenskap te volg” (“The terrifying data behind the government’s sudden coronavirus lockdown,” The Telegraph, 17 Maart 2020). Het Ferguson se rekenaarmodel egter ware wetenskap gelewer?

Baie nasies het die inperkingsbeleid ernstig opgeneem en dit het die beleid in die Verenigde State sterk beïnvloed. Namate die werklike data na vore gekom het, moes Ferguson se syfers nogtans geleidelik en ernstig afgegradeer word. Sy aanvanklike advies het geblyk kontroversieel, onnodig vreeswekkend en onakkuraat te wees en sommige kundiges het sy rekenaarprogram as onbetroubaar beoordeel. Ferguson is uiteindelik gedwing om as regeringsadviseur te bedank nadat hy betrap is dat hy sy eie inperkingsreëls oortree het – nogal teenstrydig met wat in die VS gebeur het, waar burgemeesters, goewerneurs en Kongreslede hulle werk behou het ondanks die oortreding van die reëls wat hulle vir ander mense voorgeskryf het.

Feite, vrese of geloof?

Wanneer ’n mens daarop bedag is, kan daar al hoe meer inligting gevind word om ’n groot geskiedkundige agtergrond vir hierdie pandemie-krisis te voorsien – ’n agtergrond wat dalk moeilik te vinde sal wees te midde van luide aankondigings deur sommige mense wat valslik beweer dat COVID-19 niks anders as ’n klugspel is nie, terwyl ander mense ons weer vertel dat ons op die onvermydelike randjie van ’n ander ramp soortgelyk aan die vorige eeu se 1918-1920 Spaanse griep is. Wat het albei uiterstes in gemeen? Hulle wil vrees opwek.

Enersyds probeer sommige kwaksalwers ryk word deur onbewese en selfs gevaarlike behandelings en “kure” vir COVID-19 te bevorder. Tog het dit geblyk dat ander gevestigde belangegroepe onwillig was om erkenning te gee aan die verskeidenheid goedkoop en effektiewe behandelings wat baie pasiënte gehelp het om uit te hou en te herstel van die siekte. Wat het albei uiterstes in gemeen? Hulle wil vrees aanwakker.

Daar is beslis diegene met verswakte immuunstelsels en ernstige kwale wat kwaai geraak kan word deur COVID-19, maar selfs baie van hulle kan herstel met oordeelkundige behandeling. Vir ’n paar mense – veral bejaardes wat dikwels ander gesondheidsprobleme ondervind – kan COVID-19 ’n baie ernstige, lewensbedreigende siekte wees, wat nie geringgeskat behoort te word nie! ’n Mens kan egter dieselfde van soveel ander lewensgevaarlike kwale sê wat ons vandag as vanselfsprekend aanvaar. Waar is die kundiges wat inperkings vir noodlottige motorongelukke of tabakverwante siektes bepleit? Indien ons ons hele lewe sou benader met dieselfde vrees waarmee sommige mense COVID-19 benader, sou ons verlam gewees het en ons sou glad nie kon funksioneer nie!

Gelukkig, namate ons meer te wete kom oor COVID-19, is dit duidelik dat die totale sterftesyfer vir infeksies baie laer is as wat aanvanklik verwag is. Die oorgrote meerderheid van die mense wat die virus opdoen, sal nie van die virus sterf nie en sal miskien nie weet dat hulle dit gehad het nie (ons noem sulke gevalle a-simptomaties). Trouens, om “positief te toets” vir COVID-19 beteken nie noodwendig dat die virus aktief of aansteeklik is nie of dat die “positiewe” persoon selfs siek voel nie. In so ’n omgewing is dit beslis sinvol dat openbare gesondheidsowerhede maatreëls tref om diegene te beskerm wat die kwesbaarste is vir die ergste gevolge van die virus. Wat van inperkings? Wel, kwarantyn is ’n eeue-oue voorskrif wat selfs in u Bybel gevind word. Is daar vandag selfs net een regeringsleier wat bereid sou wees om die Bybel se kwarantynbenadering en al die voorskrifte vir die gesondheid van gemeenskappe te volg? Vasgevang te midde van doemprofete van alle kante af, hoe kan ons individueel die regte balans vind tussen versigtigheid en optrede?

God: Die Kundige wat u kan vertrou!

Soos ons hoofredakteur, Gerald Weston, deurgaans in sy artikels en video’s opgemerk het, was die COVID-19-pandemie heeltemal voorkombaar. Indien ons in God sou glo en volgens daardie geloof sou handel – deur die lewenswyse te volg wat Hy in die Skrif openbaar, wat dieetwette, voorskrifte vir die hantering van aansteeklike siektes en standaarde vir kwarantyn insluit, sou ons ’n baie hoër vlak van lewenskragtige, goeie gesondheid geniet.

Die Skrif sê vir ons: “Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die Here, en wyk af van die kwaad; dit sal genesing wees vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente” (Spreuke 3:7,8). “Vrees” beteken hier nie om verskrik te wees nie; dit beteken dat ons God behoort te waardeer as die een onfeilbare Kundige – ’n Kundige wat, soos ons moet onthou, die menslike liggaam met ’n ongelooflik doeltreffende immuunverdedigingstelsel ontwerp het. Dit is ’n bate van onskatbare waarde en ons behoort die immuunstelsel toe te laat om die werk te doen waarvoor God dit ontwerp het en dit nie te kortwiek met swak lewenstylkeuses nie (byvoorbeeld die eet van onrein voedsel, om te rook of gevaarlike dwelms vir “ontspanning” te gebruik) wat teenstrydig is met God se duidelike opdragte.

“Kundige” mediese advies mag dalk daagliks verander, terwyl politici farmaseutiese maatskappye en doemproefete hulle eie belange sal bevorder. Indien ons God egter vrees, hoef ons nie in vrees te leef nie. Ons kan positief en hoopvol wees, met die wete dat ons die heel beste leiding volg! Ja, ons moet óns deel ten volle doen, verstandige maatreëls toepas, maar ons moet nooit vergeet dat God ons Geneesheer is nie. Vertroue op God is nie ’n plaasvervanger vir tydige en weldeurdagte optrede nie, maar ons mag nooit Sy krag as ’n wonderwerkende God onderskat nie. Vir meer inligting oor hoe Sy leiding u in die hede en nou kan ondersteun en onmeetbare seëninge in die toekoms kan bring, lees gerus ons boekie Bybelse Beginsels van Gesondheid by wvm.co.za of bestel u eie gratis eksemplaar.