Margaret Thatcher, die eerste vrou wat gedien het as Eerste Minister van Brittanje, was ’n merkwaardige persoon, wêreldwyd ’n simbool van nasionale herlewing en herwonne waardes. Net Winston Churchill – Brittanje se leier gedurende die Tweede Wêreldoorlog teen die Nazi-tirannie – kan moontlik met haar vergelyk word. Hulle was albei geliefd en gerespekteerd vir wat hulle bereik het en hulle was patriotte wat gedurende kritieke stadiums na vore getree het. Haar dood in April 2013, op die ouderdom van 87 jaar, het baie mense weer laat nadink oor haar nalatenskap aan Brittanje en die ander Engelssprekende nasies.

“Maggie” is van nederige oorsprong en het in die oostelike binneland van Engeland op die platteland grootgeword. Sy het in 1975 die leier van die Konserwatiewe Party geword en haar regering vir 11½ jaar lank (1979-1990) gelei. Gedurende haar tyd as Eerste Minister het sy ’n uitstaande figuur op die wêreldverhoog geword en sy het bygedra tot die val van kommunisme en die Sowjetunie. Haar beginsels het aanleiding gegee tot wat bekend geword het as “Thatcherisme” – ’n stel oortuigings wat gefokus was op individuele vryheid, “verantwoordelike individualisme”, ligter regulasies en minimale belasting en staatsbesteding.

Alles in ag genome is Barones Thatcher (’n titel wat sy in 1992 verdien het toe sy tot die adelstand verhef is in erkenning vir haar lewenslange diens) geseën met baie goeie eienskappe soos ’n besondere verstand, energie, sterk persoonlikheid en karakter. Hoewel sy omstrede was en selfs verdeeldheid veroorsaak het, sal sy waarskynlik onthou word as een van Brittanje se grootste vredestydse leiers.

Wat was die geheim van haar sukses? Waarom het sy so ’n felle haat aangewakker in die harte van diegene wat teen haar beleid gekant was? Kan ons haar leierskap in verband bring met die boodskap van die Bybel?

Haar stryd

Dit is ’n feit dat “sterk oortuigings verdeeldheid veroorsaak”. Thatcher se menings was, in politieke terme, regse konserwatiewe waardes. Daarby het sy ook sterk godsdienstige en maatskaplike beginsels van haar Metodiste-opvoeding in alles laat geld, wat duidelik gewys het waarvoor sy staan. Haar pa was ’n lekeprediker. Sy aangrypende preke het aan sy dogter, wat gretig was om te leer en te vorder, bestendige karakter-bouende beginsels oorgedra. Haar harde werk, spaarsamigheid, persoonlike verantwoordelikheid en diens om getrou te bly aan haar beginsels en al hierdie praktiese morele deugde het daartoe bygedra om Thatcher se onbuigsame krag te vorm. ’n Vurige geloof in die morele beginsels van die Bybel, liefde vir haar land en ’n geweldige drang om iets tot stand te bring het Thatcher onverbiddelik voortgedryf.

In die jare voordat sy Eerste Minister geword het, het opeenvolgende regerings – Arbeiders sowel as Konserwatiewes – gefaal om Brittanje se probleme op te los. Magtige vakbonde het koning gekraai en het ’n ongekende aantal stakings tot gevolg gehad wat die Britse samelewing so te sê lamgelê het. Gedurende 1978–1979 is ’n “winter van ontevredenheid” beleef toe onafgehaalde vullis in die strate gestrooi is. Inflasie het geheers en hulle skuld was so groot dat hulle ’n vernederende reddingsplan deur die Internasionale Monetêre Fonds benodig het. Dit het voorgekom asof niks wou werk nie. Brittanje was in baie opsigte ’n gebroke nasie – diep verdeeld en besig om uitmekaar te val. Die nasie het die “siek man van Europa” geword en het desperaat ’n dosis gesonde medisyne nodig gehad!

Nie vir omdraai nie

’n Vasberade vrou het in hierdie groot gemors ingestap. Nadat sy alles forensies ontleed het van wat sy gesien het as die basiese oorsake van die insinking – sosialisme in al sy gedaantes – het ’n ontstoke Thatcher daadwerklik ingegryp. Sy het haar beleid onomwonde verklaar met die bekende sin: “Dié dame is nie vir omdraai nie!” Deur vas te staan het sy en haar ondersteuners ’n dramatiese ommekeer van die sterwende Brittanje gelei. Dit was ’n harde, ongenaakbare en opdraande stryd. Baie mense het haar kwalik geneem omdat hulle die onbekostigbare sosialistiese geriewe moes prysgee – maar deur haar vasberadenheid het Thatcher die land ekonomies, polities en maatskaplik verander, asook Brittanje se aansien in die wêreld laat herleef.

Die Thatcher-revolusie was niks minder as ’n morele kruistog nie. Sy het haar dit ten doel gestel om die nasionale mentaliteit van wanhoop en dreigende ineenstorting radikaal te verander na een van sukses en voorspoed. Sy verklaar in 1981: “Ekonomie is die metode; maar die doel is om die siel te verander”. Sy het egter geen twyfel gehad oor die kern van daardie revolusie nie: “Dit is vir my moeilik om aan enigiets anders as Christelikheid te dink, wat die meeste mense in die Weste weer sal kan toerus met die nodige bevoegdheid sodat die samelewing weer hulle sedelike gedrag op baie praktiese maniere kan verbeter” (The Path to Power, bl. 554).

Vir diegene wat nie met Thatcher se Bybelse uitkyk saamgestem het nie, was haar idees en beginsels natuurlik niks minder as ’n vervloeking nie. Dit is dus geen verrassing om te verneem dat die politieke linksgesindes – ook die meeste geleerdes binne en buite haar eie politieke party – alles waarvoor sy gestaan het, verafsku het nie. In die meeste gevalle was die gemiddelde persoon op straat tot wie se beswil haar gewilde kapitalisme gerig was nogtans ten gunste van haar beleid.

Geestelike erfenis

Wanneer Christelike beginsels toegepas word in ons wêreldse samelewing, was dit ongelukkig nog altyd geneig om aanleiding te gee tot verdeling. Die rede hiervoor is eenvoudig: Die hedendaagse wêreld is sonder uitsondering verbind aan onchristelike waardes waarvan hulle nie wil afsien nie. Selfs toe die Messias Self Sy dissipels opdrag gegee het om voort te gaan met die verkondiging van die evangelie van Sy komende Koninkryk wat die hele wêreld sal regeer, het Hy hulle gewaarsku dat die pad nie maklik sal wees nie. Daar sal teenstand, vervolging en verwerping wees (Mattheüs 10:16-19, 22-23). Mense sou haat waarvoor Christene staan en die Evangelie-boodskap sal verdeeldheid bring binne gemeenskappe en selfs gesinne (verse 34-39).

Die apostel Paulus het daardie selfde boodskap in Klein-Asië verkondig waar hy selfs daarvan beskuldig is dat hy die wêreld onderstebo gedraai het of “die wêreld in opstand bring” (Handelinge 17:6). Nogtans, uit God se oogpunt, was dit werklik net die teenoorgestelde – Paulus het eintlik die wêreld regop gedraai!

Barones Thatcher het besef dat die revolusie wat sy begin het, een was wat in elke geslag geveg en gewen moes word. Daar sal altyd mense wees wat in die teenoorgestelde rigting trek. Suksesse wat behaal is vir individuele vryheid en Bybelse waardes, sal sonder uitsondering as kwaai bestrede en sensitief geag word. Totdat Christus self kom om die Koninkryk van God op die aarde te vestig, sal alle menslike pogings power en onvolledig wees.

In 1978 het Thatcher in ’n kerk in Londen ’n tydlose waarskuwing gerig oor die netelige kwessie van vryheid. “Vryheid sal homself vernietig as dit nie uitgeoefen word binne ’n soort van sedelike raamwerk nie, een of ander vereniging van gedeelde oortuigings, een of ander geestelike erfenis wat oorgedra behoort te word deur die kerk, die huisgesin en die skool. Dit sal homself ook vernietig as dit geen doel het nie” (The Path to Power, bl. 555).

Daardie raamwerk kom binnekort. Profesie onthul dat Jesus Christus sal terugkom om ’n wêreldregering te vestig wat op ware Bybelse beginsels gebaseer sal wees. Dit sal egter nie ’n blote “Thatcheristiese” regering wees nie! Dit sal die letterlike Regering van God wees – ’n welwillende koninkryk wat alle volke sal verenig binne God se morele raamwerk – ’n raamwerk wat omskryf wat ware vryheid is.