Vraag: Ek het so pas 1 Timòtheüs 4:4 gelees, waar die apostel Paulus sê dat “alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie”. Beteken dit nie dat elke dier vir die mens geskik is as voedsel nie?

 

Antwoord: Baie mense gebruik hierdie vers in ’n poging om te kenne te gee dat Paulus met God se wette oor rein en onrein diere weggedoen het ten spyte daarvan dat Paulus elders sê dat God se wette heilig, regverdig en goed is (Romeine 7:12).

Wanneer enigiemand die apostel Paulus se stellings as ’n verskoning gebruik om God se Wette te ignoreer – wees gewaarsku. Die apostel Petrus is geïnspireer om te skryf dat “ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, net soos in al die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf” (2 Petrus 3:15-16).

Petrus moedig ons aan om versigtig te wees, sodat ons nie in die strik trap van diegene wat die apostel Paulus se opmerkings verdraai om iets te sê wat hulle nie bedoel het om te sê nie. Dit is vir almal duidelik dat daar ’n paar diere is wat nie geskik is as voedsel vir die mens nie soos byvoorbeeld ’n seester waarvan die vleis ’n dodelike neurotoksien bevat waarvoor daar geen bekende teenmiddel is nie. Het Paulus dus eintlik vir Timótheüs gesê dat God ons nou toelaat om elke dier wat deur Hom geskape is, te eet?

Om die konteks te ondersoek is ’n sleutel om die Bybel te verstaan. Ons lees die volgende in 1 Timótheüs 4:1–3:  “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete, wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken.

Let op dat Paulus nie God se Wet bespreek nie, maar eerder “leringe van duiwels” – deur mensgemaakte regulasies te noem wat huwelike verbied en ook onthouding vereis van voedsel wat God geskep het vir mense om te eet. Hy het dieselfde probleem in sy brief aan die Kolossense aangespreek en sulke mensgemaakte beperkings die “gebooie en leringe van mense” (Kolossense 2:22) en “eiesinnige godsdiens en nederigheid en in gestrengheid teen die liggaam” genoem (vers 23).

Is daar valse weergawes van Christenskap wat sommige mense verbied om te trou en vereis dat gelowiges hulle – byvoorbeeld – daarvan weerhou om vleis op ’n spesifieke dag van die week te eet? Daar is! Paulus spreek sulke valse oortuigings aan soos “vis op Vrydae” en “Christelike vegetarisme”. Hierdie beperkings kom nie uit die Bybel nie, maar uit die tradisies van mense en Paulus noem dit “leringe van duiwels”! Hy praat duidelik nie van God se instruksies oor presies watter diere Hy geskep het en wat geskik is as voedsel vir menslike gebruik nie.

Afgesonder deur God se Woord

1 Timótheüs 4:4-5 gee ook vir ons ’n deurslaggewende konteks: “Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; want dit word geheilig deur die woord van God en die gebed.” Om geheilig te word is om afgesonder te wees en Paulus sê hier, hy praat van voedsel van diere wat afgesonder is deur die Woord van God.

Watter diere is deur die “woord van God” afgesonder as geskep vir menslike gebruik? Die rein diere van Levítikus 11 en Deuteronómium 14! Dit sluit diere in soos beeste of skape, wat gesplete hoewe het en herkou. Die woord van God onderskei hulle duidelik as geskape om goed te wees vir voedsel. Trouens, geen diere in die wêreld is deur die woord van God afgesonder nie, behalwe die diere wat die Bybel rein verklaar.

In die verband is dit duidelik dat Paulus nie geleer het dat elke dier goed is vir voedsel nie. Hy het leringe van duiwels en mensgemaakte beperkings weerlê en verduidelik dat al die skepsels wat God in Sy woord afgesonder het, aanvaarbaar is – nie daardie diere wat God nie in die eerste plek geskep het om geëet te word nie.