Baie mense in God se Kerk gaan deur erge beproewings. Party mense mag wonder waarom God sulke beproewings toelaat en of daar moontlik enigiets positief daaruit kan voortvloei.

Sommige lidmate het al deur baie ongewone swaar beproewings gegaan. Ons kan baie daarvan op onsself bring deur foute, ’n gebrek aan oordeel of deur die verbreking van God se wette. Soms kan beproewings egter tog uit die bloute en vir geen verklaarbare redes op ons pad kom. Vind enigeen van ons dit vreemd dat hierdie beproewings God se mense teister?

Mense in die apostel Petrus se tyd het dieselfde vraag gevra. Let op sy antwoord: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Petrus 4:12-13).

Petrus het gesê dat ons nie verbaas moet wees oor die vurige beproewings nie. “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn? So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade” (verse 17-19).

Soms is dit God se wil dat ons swaarkry, hoewel ons vertroosting kan vind in die wete dat Hy ’n glorieryke eindresultaat in gedagte het wat enigiets wat ons onsself kan voorstel, sal oortref. Om daardie eindresultaat te bereik, moet Hy ons egter soms deur vurige beproewings laat gaan om ons soos edelmetale te louter. Hoewel dit soms nimmereindigend voel, is beproewings slegs tydelik, gesien in die lig van die geheelbeeld.

“Daarin verheug julle jul, al word julle nou – as dit nodig is – ’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus” (1 Petrus 1:6-7).

Vurige beproewings toets ons geloof net soos goud gelouter word deur vuur. Met die uitsondering van Jesus Christus Self, het geeneen in die Bybel deur dieper beproewings gegaan as Job nie, wat self gewonder het waarom hy deur sulke diepe smart getref is. God het dit met ’n doel toegelaat, maar Job het dit baie vreemd gevind. Hy kon nie sien wat God besig was om met hom te doen of waarom God dit toegelaat het nie.

“Kyk, ek gaan na die ooste, en Hy is nie daar nie; en na die weste, maar ek bemerk Hom nie. As Hy in die noorde werk, aanskou ek Hom nie; buig Hy af na die suide, dan sien ek Hom nie. Want Hy weet hoe my wandel is; as Hy my toets, sal ek soos goud te voorskyn kom” (Job 23:8-10).

Job het besef dat sy beproewings hom soos gelouterde goud sou laat word. Die suiweringsproses skei goud van ander metale en onsuiwerhede. God is besig om almal van ons deur ’n suiweringsproses te laat gaan om ons te reinig van al ons onsuiwerhede.

Daar is ’n duidelike parallel tussen ons suiweringsproses en dié van goud.

’n Meule verpoeier hoëgraad erts. God moet ons dikwels platslaan voordat Hy selfs net kan begin om met ons te werk. Reduseerbare erts word teen meer as 540o C in ’n oond gebak om koolstof weg te brand. Die koolstoflose erts word dan geoksideer in ’n outoklaaf wat super verhitte stoom onder hoë druk gebruik om goud los te maak van sulfate.

Ons voel ook soms asof ons deur geweldige hitte of onder druk geplaas word ten tye van ’n vurige beproewing.

Die erts word daarna met sianied deurspoel wat die goud laat oplos. Uiteindelik word die onsuiwer goud na ’n ander raffinadery gestuur waar dit in stawe van 999,9 dele per duisend suiwer goud gegiet word. God is ook besig om Sy mense te suiwer, te louter, te beproef en te toets. Hy wil hê ons moet suiwer en heilig wees en volmaak word soos wat Hy volmaak is.

Spreuke wys duidelik dat God hierdie suiweringsproses gebruik om ons te toets. “Die smeltkroes is vir die silwer en die oond vir die goud, maar die HERE toets die harte” (Spreuke 17:3; 27:21).

Goud het ’n geweldige rol gespeel in die beskawing en is sedert die begin van die mensdom hoog aangeslaan. Dit was vir eeue ’n algemeen aanvaarde betaalmiddel. Dit is die wêreld se mees gesogte en veelsydigste edelmetaal. Die Romeine het dit geken as “glinsterende dagbreek”. ’n Hebreeuse woord daarvoor – zahab – beteken “om te glinster”. Goud word beskou as die kosbaarste van sy soort.

In Daniël 2 lees ons van die bekende droom wat koning Nebukadnésar van Babilon gehad het. Daniël was die enigste een wat sy droom kon uitlê. Towenaars, astroloë, goëlaars en waarsêers was verbyster, maar God het die geheim in ’n nagtelike visioen aan Daniël geopenbaar.

Let op wat Daniël vir Nebukadnésar vertel het omtrent die droom: “U, o koning, het ’n gesig gehad – kyk, daar was ’n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik. Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei” (Daniël 2:31-33).

Let daarop dat die waarde en kwaliteit van die metale afneem van die beeld se kop na sy tone toe. God sê dat goud die kosbaarste van al die metale is wat beskryf word.

“Dit is die droom; sy uitlegging sal ons nou voor die koning sê: U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het … ú is die hoof van goud. En ná u sal daar ’n ander koninkryk opstaan, geringer as dié van u; daarna ’n ander, ’n derde koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers; en die vierde koninkryk sal hard wees soos yster ...” (verse 36-40).

God wys ons daarop dat goud verhewe is bo silwer wat verhewe is bo brons wat weer verhewe is bo yster. Vandag nog plaas die mens daardie metale in dieselfde volgorde. Goud is beslis die waardevolste van al daardie metale.

Nebukadnésar het toe ’n beeld gemaak wat sowat 27 meter hoog, maar heeltemal van goud gemaak was, nie ’n mengsel van ander metale soos hy gedroom het nie. Dit was ongetwyfeld ’n beeld van homself, omdat hy die kop van goud was.

“Koning Nebukadnésar het ’n beeld van goud gemaak; sy hoogte was sestig el, sy breedte ses el; hy het dit opgerig in die dal Dura, in die provinsie Babel” (Daniël 3:1). Die beeld se hoogte tot wydte verhouding was 10 tot 1.

Daniël se drie vriende het toe deur ’n letterlike beproewing van vuur gegaan, maar dit nie as iets vreemds beskou nie. Hulle is beproef en getoets of hulle God of mense sou gehoorsaam. Sou hulle God se wet oortree om ’n mens se bevel te gehoorsaam?

Al die inwoners van Babilon is aangesê dat wanneer hulle roerende simfoniese musiek gehoor het, hulle “moet … neerval en die goue beeld aanbid wat koning Nebukadnésar opgerig het. En hy wat nie neerval en aanbid nie, sal op die daad binne-in die brandende vuuroond gegooi word” (verse 5-6).

Dit was moontlik dieselfde oond wat die Babiloniërs gebruik het om die enorme hoeveelheid goud in te smelt wat hulle nodig gehad het om daardie reuse beeld te bou. Dit moes gestook word om die geweldige hitte vir die suiweringsproses te genereer.

Almal het neergeval en die goue beeld aanbid. Dit was ’n voorloper van die beeld van die dier wat in die nabye toekoms in die moderne Babilon opgerig gaan word (Openbaring13:15). Daar gaan ook ’n doodsvonnis opgelê word vir diegene wat nie die beeld gaan aanbid nie.

Daar was sekere Jode wat nie Nebukadnésar se gode wou dien nie en ook nie die goue beeld wat hy opgerig het nie – net soos baie Jode en Sabbatonderhouers nie sal neerbuig en die beeld van die dier aanbid nie.

’n Ontstoke Nebukadnésar het opdrag gegee dat Daniël se drie vriende in die vuuroond gegooi word omdat hulle nie die beeld wou aanbid nie. Die Groot Slagting in Nazi Duitsland was nie die eerste keer dat Jode deur heidene in oonde gegooi is nie!

Nebukadnésar het gevra: “Wie is die God wat julle uit my hand kan verlos?” (Daniël 3:15). Let op hul reaksie: “Ons ag dit nie nodig om u hierop ’n antwoord te gee nie. As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos; maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie” (verse 16-18).

Hulle het nie geweet wat die uiteinde van hul vurige beproewing sou wees nie, maar hulle was vasbeslote dat hulle God sou gehoorsaam tot die heel einde toe. Hulle het geweier om God se tweede gebod te verbreek wat die aanbidding van gesnede beelde verbied.

In reaksie daarop het ’n ontstoke Nebukadnésar beveel dat die oond sewe maal warmer as gewoonlik gestook moes word en dat hulle daarin gegooi moes word. Dit was so geweldig warm dat die vlamme die mans gedood het wat hulle ingegooi het. God het ’n engel gestuur om Daniël se drie vriende te beskerm sodat geen haar op hul koppe geskroei was nie en hulle klere nie eens gebrand het nie. Hulle het nie eens na rook of vuur geruik nie.

God laat gereeld toe dat beproewings ons karakter toets. Daniël se drie vriende het uit daardie beproewing gestap as goud. “Kyk, Ek het jou gelouter, maar nie soos silwer nie; Ek het jou beproef in die smeltkroes van ellende” (Jesaja 48:10). God sal ons soms suiwer en toets deur smarte en vurige beproewings.

Die Nuwe Testament wys ook dat God wil hê ons karakter soos goud moet wees. Dit mag egter vuur kos om vas te stel of dit só is.

In 1 Korintiërs 3 sien ons dat goud weer genoem word as die kosbaarste stof, gevolg deur silwer. “Want niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels – elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen” (verse 11-15).

Paulus wys dat ons vergoed sal word volgens ons werke, wat sal bepaal watter soort vergoeding ons sal ontvang. Soms is vurige beproewings die enigste manier waardeur God ons karakter kan bepaal. Sulke beproewings onthul of ons werke van goud, silwer, hooi of strooi is.

Goud is die smeebaarste en mees bewerkbare van al die metale. Een klein ons (28.35 gram) goud kan in 9 vierkante meter plaat gerol word. ’n Draadjie van 8 kilometer kan daaruit gevorm word. Daar word geskat dat, sou al die goud wat die afgelope 6,000 jaar ontgin is, saamgesmelt word, dit ’n kubus met sykante van nie meer as 18 meter sou vorm nie. Die Goudinstituut reken dat die totale hoeveelheid goud wat nog ooit gemyn is, 3.8 biljoen onse is, waarvan meer as die helfte sedert 1850 ontgin is.

Goud het die geskiedenis gevorm. Die Kaliforniese goudstormloop van die 1850’s het derduisende mense dwarsoor die Amerikaanse kontinent getrek en die Atlantiese- en Stille Oseane se kuslyne verenig. Mense was bereid om geweldige ontberings te verduur en selfs te sterf vir goud. Die goudstormloop in Suid-Afrika het dieselfde tot gevolg gehad.

Die antieke Egiptenare het die kuns vervolmaak om goud in dun velle te klop en allooie te vorm saam met ander metale. “Bladgoud” is suiwer goud, verwerk in velle, wat op ander oppervlakke aangebring kan word. Toe Koning Tut se grafkelder in 1922 oopgemaak is, is ’n goue kis van 1,110 kilogram en honderde goue en vergulde items gevind.

Met die uittog uit Egipte het die Israeliete items van goud en silwer met hulle saamgeneem. In Egipte het hulle skynbaar ook die kuns aangeleer om goud in dun velle of lagies te klop. Die Verbondsark was met goud oorgetrek en die versoendeksel van suiwer goud gemaak. Die tabernakel het ook goud daarin gehad. Salomo het dit rojaal in die tempel gebruik.

Die Israeliete het geëis dat Aäron ’n goue kalf maak wat hulle kon aanbid. Aäron het hulle goue oorbelle daarvoor gevra. Hy het die goud gesmelt en die berugte goue kalf daaruit gevorm. Daarna het hulle gesê: “Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het” (Eksodus 32:4). Die mensdom aanbid goud reeds vir millennia!

Ons lees in die Bybel dat Israel se slawerny in Egipte deur God vergelyk word met ’n smeltoond waarin hulle was. Dit was ’n intense vurige beproewing vir hulle (Deuteronomium 4:20; 1 Konings 8:51; Jeremia 11:4).

Net soos antieke Israel sal die hedendaagse Israel ook in slawerny gaan weens die toenemende nasionale sondes en in ’n vurige smeltoond met geen gelyke in die geskiedenis nie, gedompel word: “En in die ganse land, spreek die HERE – twee-derdes sal daarin uitgeroei word, sal sterwe, maar een-derde daarin oorbly. Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos ’n mens silwer smelt en hulle toets soos ’n mens goud toets” (Sagaria 13:8-9).

Dit verwys na die Groot Verdrukking, die verskriklikste straf wat mense ooit sal teister. Die Amerikaners en Britte sal die swaarste getref word. God sê dat Hy dit sal toelaat om hulle te “suiwer en te toets”; om hulle te reinig van al hul onsuiwerhede sodat hulle as goud na vore kan kom.

Esegiël is na Israel gestuur met ’n waarskuwingsboodskap. Hy het sy hare en baard met ’n skeermes geskeer en dit toe geweeg en opgedeel. “’n Derde deel moet jy binne-in die stad met vuur verbrand as die dae van die beleëring verby is; dan moet jy ’n derde deel neem en met die swaard stukkend kap rondom die stad, en ’n derde deel moet jy in die wind strooi; en Ek sal ’n swaard agter hulle uittrek” (Esegiël 5:2).

Dit beskryf dieselfde derdes waarna in Sagaria verwys word, wat die straf met ’n smeltoond vergelyk.

“Jy moet ook ’n klein bietjie daarvan neem en dit in jou slippe bind; en daarvan moet jy nog weer neem en dit binne-in die vuur gooi en dit met vuur verbrand; daar sal vuur van uitgaan in die hele huis van Israel” (verse 3-4).

Waarom sal God toelaat dat hierdie ongeëwenaarde beproewing oor hedendaagse Israel kom? “En om al jou gruwels ontwil sal Ek aan jou doen wat Ek nooit gedoen het nie, en wat Ek só nooit weer sal doen nie” (vers 9).

Net buite Pocatello in Idaho het die wêreld se grootste elementale fosfaat-aanleg gefunksioneer voordat dit in Desember 2001 gesluit is. Dit het vier enorme elektriese oonde gebruik om fosfatiese erts te suiwer om ’n chemiese stof te vorm. In die proses het dit byna 15 persent van die staat se totale bruikbare elektriese kapasiteit gebruik. Sowat 250 megawatts is gebruik om daardie oonde aan te skakel.

Een van die neweprodukte van daardie suiweringsproses was gesmelte metaalskuim wat uit die oonde getap en na afvaldamme gelei is. Dit was onsuiwerhede of skuim wat uit die elementale fosfaat verwyder moes word. Dit was afval of vreemde stowwe, ’n onsuiwerheid.

As gevolg van nasionale sondes beskou God sy bevlekte volk as skuim. Hy sal hulle aan geweldige hitte onderwerp om hulle te louter en hul onsuiwerhede weg te smelt.

“Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, die huis van Israel het vir My skuim geword; hulle is almal koper en tin en yster en lood [nie goud nie, maar minderwaardige metale] binne die smeltoond; silwerskuim het hulle geword” (Esegiël 22:17-18).

“Daarom, so sê die Here HERE: Omdat julle almal skuim geword het ... Soos silwer en koper en yster en lood en tin binne-in ’n smeltoond bymekaargemaak word om daarteen ’n vuur aan te blaas en dit te smelt, so sal Ek julle bymekaarmaak in my toorn en in my grimmigheid en julle ingooi en smelt. Ja, Ek sal julle versamel en met die vuur van my grimmigheid teen julle blaas, dat julle dáárin gesmelt kan word. Soos silwer in die smeltoond gesmelt word, so sal julle daarin gesmelt word; en julle sal weet dat Ek, die HERE, my grimmigheid oor julle uitgegiet het” (vers 19-22).

God beloof om toegewyde lidmate van Sy Kerk te beskerm teen hierdie Groot Verdrukking wat uiteindelik die wêreld sal verteer in ’n verwoestende wêreldwye brand.

Jesus Christus gee erkenning aan die Filadelfiërs en noem dat hulle oor min krag beskik, Sy woord hou en Sy naam nie verloën het nie: “Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie” (Openbaring 3:10-11).

Christus sê dat ’n vurige beproewing oor die hele aarde sal kom om die bewoners te toets, maar die lidmate van Sy Kerk wat getrou is, sal gespaar word.

Let op Christus se beskrywing van die gemeente van die Laodiseërs wat die laaste era van Sy Kerk oorheers. “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (verse 15-16). “Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word …” (vers 18).

Die gemeente van Laodicea moet boet vir hulle laksheid deur deur die Groot Verdrukking te gaan, sodat hulle gelouter kan word. “Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou” (vers 19).

God sal Sy Kerk deur ’n suiweringsproses laat gaan. “En van die verstandiges sal sommige struikel, om onder hulle loutering en reiniging en suiwering aan te bring tot die tyd van die einde – want dit sal nog duur tot op die vasgestelde tyd” (Daniël 11:35).

In God se Kerk het ons baie mense met insig sien struikel. Die Bybel wys dat selfs God se leraars gelouter sal word voor Christus se Wederkoms. “Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers. En Hy sal sit: ’n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die HERE in geregtigheid ’n offer sal bring” (Maleagi 3:2-3).

Christus sal Sy hele Kerk voor Sy Wederkoms suiwer sodat almal van ons regverdig sal wees. Christus wil alle sonde verwyder sodat dit nie in Sy Koninkryk sal wees nie.

“Die Seun van die mens sal sy engele uitstuur en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, en sal hulle in die vuuroond gooi ... Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader” (Mattheus 13:41-43). 
Ons word gelouter sodat ons kan skyn soos glorieryke geestelike wesens, net soos Christus nou krag en lig uitstraal (Openbaring 1:15).

“En in dié tyd sal Mígael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ’n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ’n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word … En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos” (Daniël 12:1, 3).

Ons moet eers gesuiwer word om daardie glorie te bereik. Paulus het gesê dat beproewings nie waardig is om vergelyk te word met die heerlikheid wat aan [in] ons geopenbaar sal word nie (Romeine 8:18). Daardie suiweringsproses neem toe in intensiteit namate ons Christus se Wederkoms nader.

“En hy het gesê: Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe. Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word” (Daniël 12:9-10). God sal die bose op aarde soos skuim uit die weg ruim (Psalm 119:119).

Petrus sê dat ons nie ons vurige beproewings vreemd moet vind of deur hulle bedroef moet word nie. Hy sê ons geloof is baie kosbaarder as goud en word ook deur vuur getoets. Hy sluit sy laaste sendbrief af deur te toon dat God uiteindelik die fisiese aarde en die heelal gaan ontsondig deur alle skuim, onsuiwerhede en sonde met geweldige hitte te verbrand (2 Petrus 3:10-11).

Behoort ons dan daarna te streef om te verseker dat ons karakter goud is? Ja! God is besig om ons te louter en ons soms deur vurige beproewings te laat gaan sodat ons soos goud daaruit te voorskyn kan kom. Ons moet dit nie vreemd vind wanneer ons deur vurige beproewings gaan nie, maar eerder besef dat ons Skepper besig is om ons in Sy heerlike beeld te giet.

Ons moet vurige beproewings nie beskou as iets wat gevrees moet word nie, maar eerder as goue geleenthede.