Die profeet Daniël het sewe eeue voor Christus Koning Nebukadnésar se droom uitgelê. Dit was van ’n groot standbeeld wat die vier koninkryke uitbeeld wat die Midde-Ooste sou oorheers (Daniël 2). Die vierde koninkryk word algemeen erken as die Romeinse Ryk, met sy finale fase (die voete en die tone), wat bestaan uit ’n mengsel van yster en klei wat losserig aan mekaar kleef. Hierdie eindtydse fase wat verband hou met die Romeinse Ryk, sal bestaan uit ’n federasie van tien konings wat saamgestel sal word net voordat Jesus Christus terugkeer na hierdie aarde (Daniel 2:40-45). In Daniël 7 word hierdie selfde vier ryke gesien as “diere”.

Studente van Bybelse profesieë weet dat die tien horings op die vierde dier die tien herlewings van die Romeinse Ryk uitbeeld – nege daarvan het reeds in Europa gerealiseer. Die “ander horinkie” verwys na die heersende rol wat ’n godsdienstige organisasie (die Rooms-Katolieke kerk) gespeel het en nog sal speel, in die herlewings van die Romeinse en Heilige Romeinse Ryk.

Openbaring 13 voorspel die verskyning van ’n eindtydse dier (’n politieke figuur) en ’n godsdienstige leier wat wonderwerke sal doen en wat die mense van die wêreld sal aanwys na hierdie Europese leier. Profesieë in Openbaring 17 verbind hierdie selfde twee individue en organisasies met Rome. Die vrou (’n magtige kerk met wêreldwye invloed) word uitgebeeld as sou sy op die politieke dier “ry” [ondersteun en beïnvloed]. Openbaring 17:12-14 gee te kenne dat die tien horings van hierdie eindtydse dier, “tien konings” is wat vir ’n kort tydjie “hulle krag en mag” (hulle soewereiniteit) sal oorgee aan die dier, net voor Christus se wederkoms. Die tien konings en die dier sal “een gesindheid” hê (’n gemeenskaplike beleid navolg). Ander profesieë verwys na hierdie eindtydse Europese dier as die “Koning van die Noorde” (Daniël 11:40-44) – wat deur Duitsland (of Assirië – sien Jesaja 10:5) gelei sal word. Die opkoms van die Europese diermoondheid sal ernstige negatiewe gevolge vir die moderne Israelitiese nasies inhou (Hosea 5:5, 8:8-9, 14).

Profetiese ontwikkelings in Europa

In die lig van hierdie antieke Bybelse profesieë is dit merkwaardig om te sien wat tans besig is om plaas te vind op die vasteland van Europa. Europese leiers maak geen geheim daarvan dat hulle bande het met die erfenis van die Romeinse Ryk nie. Robert Rothschild, ’n diplomaat en raadgewer van die Belgiese Minister van Buitelandse Sake, Paul-Henri Spaak, het in 1996 op BBC Televisie in ’n dokumentêre program die treffende oopmerking onthou wat Spaak gemaak het tydens die ondertekening van die 1957-verdrag wat die Europese Ekonomiese Gemeenskap gevorm het. “Spaak het na ons gedraai en gesê: ‘Dink julle ons het vandag, hierdie keer sonder om ’n skoot te skiet, die eerste steen van ’n nuwe Romeinse Ryk gelê?’ Ons het daardie dag almal soos Romeine gevoel” (“The Decline and Fall of Rome”. Time Magazine 13 Junie 2005).

Roomse pouse beywer hulle vir ’n verenigde Europa, net soos die pouse gedurende die Middeleeue toe hulle keisers van die Heilige Romeinse Ryk gekroon en met hulle bondgenootskappe gesluit het. Baie mense wonder dalk hoe die profesieë van die tien konings verband hou met die 27 lande van die Europese Unie, maar die antwoord sal duidelik word in die maande wat voorlê. Talle artikels wys daarop hoe die finansiële krisis in Europa skeure laat ontstaan het in die EU – tussen die ryk noordelike lande en die skuldbelaaide nasies in die suide wat geteister word deur toenemende werkloosheid. Dit lyk asof Brittanje op die punt staan om te onttrek, Frankryk volg dalk ook. Dit sal die aantal lande binne die EU drasties verminder.

Die voormalige Duitse Minister van Verdediging, Joschka Fischer en ander stel voor dat die 17 lede van die Eurosone die “kern” moet vorm van die nasies wat vooruitbeweeg om ’n dieper monetêre en politieke unie te vorm. ’n Ander vermoede is dat die EU-president tien verteenwoordigers uit die 27 lidlande van die EU sal kies om ’n raad te vorm om Europa te lei (spiegel.de, 18 November 2011). Die Duitse Minister van Buitelandse Sake, Guido Westerwelle, het onlangs leiers uit tien Europese nasies byeengeroep – die “Berlynse groep” – om die toekoms van Europa te bespreek (Presseurope 20 Junie 2012). Hulle idee om omvattende beheer oor die EU aan ’n onverkose burokraat, wat gelyk is aan ’n moderne Europese keiser, te gee word deur hulle teëstanders beskou as ’n poging om “terug te keer na die dae van die Heilige Romeinse Keiser” (Daily Express, Mei 2013). Die oproepe vir “tien” nasies om die kern van ’n “Verenigde State van Europa” te vorm – ook tien leiers om Europa te lei – kan die vroeëre profesieë vervul aangaande tien nasies of leiers wat hulle mag sal oorgee aan ’n eindtydse dier wat in Europa opgang sal maak.

Nog ’n belangrike ontwikkeling in Europa is dat die finansiële krisis Duitsland laat “opskiet” het tot in die dominante posisie in Europa. Duitsland het die grootste en sterkste ekonomie in Europa, wat beteken dat hy ook geld het om uit te leen aan die lede van die EU wat finansieel arm is. Duitsland het egter aangedui dat hy voorwaardes sal stel vir die lenings. Die Duitse kanselier, Angela Merkel, het ook gesê dat die ander nasies van Europa aspekte van hul soewereiniteit sal moet prysgee (beheer oor hulle nasionale begrotings, ens.) om ’n hegter ekonomiese en politieke unie te vorm. Een waarnemer het opgemerk: “Europa se betaalmeester [Duitsland] wil weer die voortou neem” (Boyes, Roger. London Times, “Britain is left out of talks on the EU’s future”, 22 Junie 2012). Die Duitse sosioloog, Ulrich Beck, waarsku dat Duitsland gereed is om die “leermeester van Europa” te word en dat die sprake wat daar is oor die dreigende ineenstorting van die euro en die EU dramatiese veranderings in Europa kan meebring. Dit was voorheen “ondenkbaar” en “kan uitloop op die geboorte van ’n potensiële monster” wat die wêreld mag verras (German Europe, bll. 3, 28). Die Bybelse profesieë in Openbaring 13:3 waarsku lank reeds dat dit in Europa sal gebeur, namate ons die einde van die tye nader.

Een Europese monarg?

Idees doen ook die rondte dat wat Europa nodig het, die terugkeer is van ’n Europese monarg. Europese lande het ’n lang geskiedenis van monargieë – om die waarheid te sê, baie het nog steeds konings wat as seremoniële staatshoofde optree. In Berlyn herbou die Duitsers die vroeëre Hohenzollern paleis van die Pruisiese en Duitse konings (“Germany lays new foundations for Berlin Palace rebuild”, dw.de, 12 Junie 2013). Die agter-agter-kleinseun van die laaste Duitse keiser het gesê dat die moderne Duitsers voordeel sal trek uit die “morele leiding” van ’n herstelde monargie (The Local, 16 Junie 2013). Oostenrykse monargiste is ten gunste van die idee om die Habsburgse troon te herstel om sodoende ’n sentrale Europese monargie daar te stel (earthtimes.org, 12 November 2007). Die voormalige erfgenaam van die Oostenryk-Hongaarse Ryk, Otto von Hapsburg, wie se familielede aktiewe “staatsamptenare” in verskeie Europese lande is, het voor sy dood in 2011 aangedui dat die Oostenryk-Hongaarse troon en die kroon van Karel die Grote in die toekoms van Europa nog ’n rol kan speel.

Gegewe hierdie geskiedenis, is dit nie verbasend dat Karl-Theodor zu Guttenberg (van die Habsburgse lyn – getroud met die agter-agter kleindogter van Otto von Bismarck) ’n opkomende ster en Minister van Verdediging in Duitsland geword het voor sy skielike val nie. Hy is tans ’n “voortreflike staatsman” by die invloedryke Sentrum vir Strategiese en Internasionale Studies, met uitstekende kontakte in Washington en Europa – met planne om terug te keer na Duitsland in ’n rol waaroor nog besluit moet word (Die Welt, 14 Maart 2013). In die lig van hierdie verwikkelings in Europa, moet ons Jesus se opdrag onthou om te “waak” (op die uitkyk te wees) vir profeties-betekenisvolle gebeure wat sal aandui dat die einde van die tyd en Sy wederkoms naby is!