Die mensdom is al vir duisende jare op soek na die ideale vorm van regering. Sal daardie ideale regering ooit gevind word? Indien wel, watter vorm sal dit aanneem? U Bybel onthul die bemoedigende en hoopvolle antwoord!

In die nasleep van die onrus in die Arabiese wêreld, het bale Westerse geleerdes en politieke leiers aangeneem dié streek is op die rand van ’n “Arabiese Lente”; ’n ontwaking van Westerse demokrasie in ’n gebied wat voorheen oorgegee was aan stam- en godsdienstige verbondenheid.

Hierdie waarnemers huldig algemeen die mening dat die Westerse styl liberale demokrasie die beste vorm van menslike regering is. Baie mense beskou liberale demokrasie nie net as ’n vorm van regering nie, maar eerder as die natuurlike gevolg van die intellektuele en maatskaplike ontwikkeling van die mensdom.

Moontlik die heel bekendste van sodanige teoretici wat vandag leef, is Dr. Francis Fukuyama, tans ’n professor in politieke teorie aan die Stanford Universiteit. Kort voor die ineenstorting van die Sowjetunie, het Fukuyama ’n algemeen geleesde verhandeling gepubliseer waarin hy ’n onvergeetlike stelling maak: “Wat ons nou dalk waarneem, is nie net die einde van die Koue Oorlog, of die beëindiging van ’n bepaalde tydperk van na-oorlogse geskiedenis nie, maar die einde van geskiedenis as sodanig: Dit is die einde van die mensdom se ideologiese evolusie en die universialisering van Westerse liberale demokrasie as die finale vorm van menslike regering (“The End of History”,The National Interest, Summer 1989, bl. 4).

Was Fukuyama reg? Sal Westerse styl liberale demokrasie “die finale vorm van menslike regering” wees? Gaan die hele wêreld se toekoms soos die Europese Unie en die Verenigde State lyk? Baie mense hoop so, maar ander het tot baie teenstrydige gevolgtrekkings gekom. Dus, hoe gaan die toekoms werklik lyk, en is dit moontlik om dit te weet?

Die stryd van vertellings

Geskiedenis is ’n storie oor die verlede, maar die verteller se uitgangspunt maak ’n groot verskil in hoe daardie storie vertel word. Verskillende vertellers, met verskillende wêreldbeskouings, sal verskillende feite insluit of uitsluit, gebaseer op wat hulle as toepaslik en belangrik beskou. Byvoorbeeld, die geskiedenis van Jerusalem sal baie anders klink wanneer dit deur ’n Israeli aangebied word, as wanneer dit deur ’n Palestyn aangebied word. Konteks is belangrik.

Politieke geskiedskrywers sal van tyd tot tyd probeer om ’n “Universele Geskiedenis” daar te stel deur identifisering van vorms, tendense of beginsels in die verlede, waardeur hulle hul historiese verhaal kan uitbrei tot in die toekoms en dit voorspelbaar maak. Dit is wat Fukuyama gedoen het deur waarneming, dat die konsep van menseregte ontwikkel het, wat gelei het tot politieke veranderings wat deurgaans in die algemene rigting van ’n groter politieke en ekonomiese vryheid beweeg het (ten spyte van gewelddadige en bloedige konflikte langs die pad). Byvoorbeeld, die Amerikaanse Rewolusie het die heerskappy van ’n Britse vors oor Britse kolonies in Amerika beëindig, wat ’n nuwe republiek – die Verenigde State van Amerika – tot gevolg gehad het. Net so het ander volke regoor die wêreld koloniale of outokratiese heersers omvergewerp en hulle vervang met liberale demokrasieë.

Dit was natuurlik nie altyd die geval nie. Moet nie vergeet dat die Nasionale Sosialistiese (Nazi) party in Duitsland na die Eerste wêreldoorlog, aan bewind gekom het deur bemiddeling van demokrasie nie. Nogtans, selfs in hierdie geval het die oorhoofse tendens getoon dat Duitsland ná die Tweede wêreldoorlog ’n rolmodel geword het van ’n demokratiese regering. Soos met Duitsland, was daar baie ander stoppe en beginpunte, maar Fukuyama is glad nie alleen tussen die politieke historici in die langtermyn historiese tendens te sien waardeur land na land onverbiddelik beweeg het tot aanneming van liberale demokrasie as die beste en finale vorm van regering, nie.

Wat dan van ander teorieë oor die toekoms? Karl Marx, skrywer van The Communist Manifesto, bied ’n heel ander weergawe van die geskiedenis, en gee ’n heel ander siening van die toekoms. Marx sien geskiedenis as ’n reeks botsings tussen verskillende ekonomiese klasse in die soeke na materiële goedere. Hy het geglo dat die armer werkersklas in opstand sou kom teen die ryker kapitalistiese klas, en heen en weer sou beur dwarsdeur die geskiedenis, totdat ’n finale, volmaakte toestand van die samelewing bereik is, wat Marx kommunisme genoem het. Marx het verwag dat kommunisme die einde van die evolusie van menslike politieke ontwikkeling sou verteenwoordig. As sodanig het Marx, deur ’n frase van die Duitse filosoof, J.W.F. Hegel (1770-1831) te leen, gesê dat kommunisme “die einde van geskiedenis” sou verteenwoordig.

Marx se visie van die toekoms het op ’n tyd groot invloed gehad, maar nou word dit algemeen geminag. Teen die einde van die 20ste eeu, namate die sentraal-beplande ekonomieë van die Sowjetunie en die Volksrepubliek van China begin wankel het, het die Marxistiese verhaal sy reputasie verloor. Was daar ’n swak plek in die “kommunisme” wat hierdie nasies beoefen het? Of kon kommunisme eenvoudig net nie suksesvol meeding teen die kapitalistiese ekonomieë, deur nie in staat te wees om die groter welvaart en vryheid wat die Westerse demokrasieë blykbaar kon bied, te voorsien nie?

Namate die Sowjetunie gewankel het op die rand van ineenstorting in 1989, het politieke teoretikus Fukuyama ’n ander historiese verhaal, wat grootliks onherkenbaar was in die Westerse wêreld, in onguns gebring – die verhaal van die Islamitiese jihad. Nogtans het sy mening teen 1992 meer ingewikkeld begin raak. Aan die een kant skryf Fukuyama dat die “aantrekkingskrag van Islam potensieel wêreldwyd” is, maar aan die ander kant verwerp hy die Islamitiese verhaal as sou dit “feitlik geen trekkrag hê buite daardie gebiede wat kultureel Islamities was om mee te begin nie” (The End of History and the Last Man, bll. 45-46).

Geskiedenis deur Islamitiese oë

Die Islamitiese ideologie waarvan Fukuyama aangehaal het, maar verwerp het, het egter ’n baie kragtige verhaal opgelewer wat aanklank vind by baie Moslems wat ontevrede is met Westerse waardes en ideale. Vanuit hierdie oogpunt van geskiedenis sal die “einde van die geskiedenis” kom wanneer ’n groot leier, die Mahdi, binnekort sal verrys om die Kalifaat te hervestig, waarin ’n outokraat, die Kalief, deur middel van Shariawet (afgelei uit die Koran en gesegdes van Mohammed waarvan berig is), sal regeer.

As ’n eerste stap in die rigting van wêreldoorheersing, verwag Islamiete dat die Kalifaat die gebiede wat Moslem-heersers voorheen, op die hoogtepunt van Islam se uitbreiding in die laat Middeleeue, beset het, sal herower. Interessant genoeg, hierdie herstel van die Kalifaat stem goed ooreen met Bybelse profesieë wat praat van ’n toekomstige “koning van die Suide” wat ’n sleutelrol sal speel in eindtydse gebeure, voor die wederkoms van Jesus Christus (Daniël 11:40).

Verskeie Moslem-nasies (soos Afghanistan, Iran, Libië, Saoedi-Arabië, Soedan en Jemen) word reeds deur die een of ander vorm van Shariawet regeer. Ander, soos Egipte, Marokko, Jordanië, Pakistan, Sirië, Katar en die Verenigde Arabiese Emirate, meng die Sharia met ander stelsels. In teenstelling daarmee om as onderdrukkend beskou te word, word Sharia gesien as ’n goddelike alternatief vir korrupte sekulêre oorheersing. Navorsers van die Universiteit van Maryland het in 2008 ’n meningspeiling gehou in Arabiese nasies en het bevind dat ’n aansienlike meerderheid in Pakistan, Egipte en Marokko ten gunste is van die instelling van die Kalifaat, wat outokratiese Islamitiese heerskappy beteken! Dit is ’n voorkeur wat die meeste mense in Westerse demokrasieë moeilik verstaan. Dit is egter duidelik dat terwyl die meeste Westerse ontleders van die Midde-Ooste ten gunste is van politieke en ekonomiese vryheid, baie, indien nie die meeste nie, van die Moslems wat hulle bestudeer het, sou verkies om deur die Islamitiese wet regeer te word.

Wat van die “Arabiese lente”?

Betogings vir demokrasie het gelei tot die val van die Tunisiese regering in Desember 2010 en sedertdien het die “Tunisiese Wind” deur Egipte, Jemen, Bahrein, Sirië en Libië gewaai en politieke onrus en populêre eise vir demokrasie voortgebring. Hierdie verskynsel staan bekend as die “Arabiese Lente”. Die Westerse demokrasieë kyk met hoopvolle oë na hierdie betogings en voorsien Westerse styl liberale demokrasieë op die horison vir die Midde-Ooste.

Westerse leiers is optimisties dat demokrasie na die Midde-Ooste sal uitbrei, en sal dit finansieel ondersteun as hul kan. Op ’n G8-vergadering verlede Mei 2011 het die Britse Eerste Minister, David Cameron, gesê dat Brittanje beplan om GB£110 miljoen toe te sê om die opstande in Noord-Afrika en die Midde-Ooste te help slaag. “Daar is goeie rede om te sê dat indien ’n mens kan slaag om groter demokrasie en vryheid in lande soos Egipte en Tunisië te kry”, het die Eerste Minister gesê, “dit goed sal wees vir ons hier tuis ... Dit sal minder ekstremisme beteken, dit sal na meer vrede en voorspoed lei, dit sal beteken dat daar minder druk op immigrasie sal wees wat ons land andersins in die gesig staar ... Ek wil hê dat ’n baie eenvoudige en duidelike boodskap van hierdie beraad moet uitgaan, dit is dat die mees magtigste nasies op aarde bymekaar gekom het en aan diegene in die Midde-Ooste en Noord-Afrika wat groter demokrasie, groter vryheid, meer burgerlike regte wil hê, te sê: ‘Ons is aan julle kant’”. Op dieselfde vergadering het die Amerikaanse President Barack Obama die Verenigde State verbind tot ’n hulppakket wat tot US$4 miljard kan bedra.

Die Weste sal egter verbaas wees oor hoe die mense van die Midde-Ooste stem wanneer hulle die geleentheid gegun word. Die “Arabiese Lente” kan omswaai in die “Islamitiese Winter”. Historici en teoretici soos Fukuyama sien die geskiedenis van die vorige eeu as ’n grootse stryd tussen totalitarisme (in beide sy sosialistiese en fascistiese vorms) en demokrasie – ’n stryd wat hulle glo deur demokrasie gewen is. Daar is egter andere wat die komende eeu sien as ’n stryd tussen Westerse waardes en Islamitiese waardes. Islamiete stem saam, en hulle weergawe van die volgende eeu is dramaties anders as wat baie Westerse politieke teoretici verwag.

Toekomstige geskiedenis: Die 7,000-jaar Boek

Geskiedenis kan gesien word as ’n byna eindelose versameling van menslike interaksies, gesprekke en konflikte – beide groot en klein. Historici moet derhalwe kies tussen gebeure om ’n verhaal van die verlede te skep. Die insluiting of uitsluiting van ’n enkele feit kan grootliks bepaal hoe ons ’n historiese gebeurtenis waarneem.

Dus, wie is reg? Op wie se perspektief kan vertrou word?
Die werklikheid is die wêreld soos God dit sien. Het God dus Sy eie ware en akkurate verhaal van wêreldgebeure aan ons voorsien? Daar is een boek wat ’n unieke insig gee in ’n 7,000-jaar tydperk van geskiedenis, waartydens God besig is om Sy plan vir die mensdom uit te werk!

Daardie 7,000-jaar boek is die Bybel. Alhoewel dit saamgestel is deur skrywer na skrywer, eeu na eeu, handhaaf die Bybel ’n deurlopende verhaal en een uitgangspunt – dié van die “God van Abraham, Isak en Jakob”. Dit begin in die boek Genesis, vertel dan van 6,000 jaar van menslike wanbestuur oor die planeet Aarde, en openbaar daarna die goeie nuus van Jesus Christus se duisendjarige heerskappy op hierdie aarde, wat gevolg word deur ’n tyd van finale oordeel. Hoewel die Bybel wel ’n bietjie inligting gee oor die tyd vóór Adam en die tyd ná die finale oordeel van die mensdom, handel die historiese verhaal grootliks oor ’n 7,000-jarige “week” van duisendjaar “dae”. Hierdie konsep was goed bekend aan Christus se eerste volgelinge. Bedink hierdie woorde van die apostel Petrus, wat geskryf is in ’n duisendjarige konteks: “Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag” (2 Petrus 3:8).

Alhoewel die Bybelse weergawe verduidelik dat die finale tydperk van duisend jaar ’n “Duisendjarige Vrederyk” [Millennium] onder die goedgunstige heerskappy van Jesus Christus sal wees, beperk die menslike geskiedenis dit vir ons om te bepaal presies wanneer daardie finale “dag” van die 7,000-jarige week sal begin. Ons kan kyk na ’n paar Bybelse mylpale en dit vergelyk met die lyste van Israelitiese konings, maar as gevolg van sommige onsekerhede (soos hoe die konings se opvolgjare aangeteken is), kan ons slegs die begin van die Millennium vaspen binne ’n algemene tydsraamwerk wat God wil hê ons van bewus moet wees (Markus 13:28). “Maar van daardie dag en dié uur weet niemand nie” (Markus 13:32). Slegs Hy ken die presiese tydsberekening.

Die menslike geskiedenis is ontsaglik veelomvattend, maar die “7,000-jaar boek” bevat die verlede en die toekomstige geskiedenis wat ons moet ken om God se plan vir die mensdom te kan verstaan. Dit bevat die belangrike gesprekke, onderrig ons in die regte lewenswyse, en bevat die toekomstige geskiedenis – die profesieë – wat ons behoort te ken. Die Bybel laat ons die verlede, die hede en die toekoms verstaan in die konteks van ’n voltooide verhaal van die geskiedenis. Diegene met “oë [om] te sien en ore om te hoor” kan die bestendige doel daarvan insien. Dit is ’n verhaal wat deur God vertel is.

Sewe duisendjaar “dae”

Histories het beide die antieke Jode en die eerste-eeuse Christelike Kerk ​​uit die Skrif verstaan dat die menslike beskawing sal bestaan uit 6,000 jaar van menslike regering, gevolg deur ’n duisendjarige tydperk onder die heerskappy van die Messias (die “Gesalfde” of, in Grieks, Christus). Onder die historici wat hierdie leer in die vroeëre Christelike era vermeld het, is Irenaeus, Ketina, Lactantius, Victorinus, Hippolytus, Justinius die Martelaar en Metodius. Dit word ook prominent gevind in die geskrifte van die Sanhedrin van Jesus se dag.

Die Skrif maak dit duidelik. Ons lees: “En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:4-6).

Die meeste van vandag se belydende Christene ignogeer hierdie verhaal van 7,000-jaar van die geskiedenis heeltemal, of beskou dit as ’n versinnebeelding, om beter in te pas by hulle eie oortuiging aangaande die mensdom se geskiedenis en toekoms. Tussen God se verhaal en dié van die mens, wie s’n verwag u, sal seëvier?

Terug na die stryd

Lank gelede het die God van Abraham, Isak en Jakob die mensdom uitgedaag om te voorspel wat in die toekoms gaan gebeur, en Sy uitdaging staan steeds! “Dink hieraan en wees beslis; neem dit ter harte, o afvalliges! Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:8-10).

Dit is duidelik dat die mens se voorspellings van die toekoms grootliks beïnvloed word deur die gebeure wat ons dink toepaslik is op ons siening van die verlede. Ons hoef tog nie staat te maak op ons eie raaiskote nie – God het aan ons ’n voltooide verhaal van die vorige en toekomstige geskiedenis gegee! Ons moet net wêreldgebeure korrek daarin plaas.

Die meeste mense verwerp egter wat God openbaar en neem aan dat hulle ingelig kan word, uitsluitlik deur die wêreld rondom hulle. Diegene wat nie “God in erkentenis ... hou nie” (Romeine 1:28), sal natuurlik anders reageer as diegene wat gewillig is om God se Woord – Sy eie weergawe – toe te laat om hulle in te lig oor hul verlede en hul toekoms. Die Skrif erken dat daar geestelike dinge is wat net geestelik beoordeel kan word (1 Korinthiërs 2:14). God openbaar dat die wêreld in duisternis is, maar God se Woord verlig dit vir ons – indien ons bereid is om dit te sien. Op wie se weergawe van die geskiedenis kan u vertrou? Fukuyama s’n? Die Islamiete s’n? Iemand anders s’n?

En die wenner is ...

Die Bybel bied aan ons God se eie weergawe wat aan ons die werklike “finale vorm van regering” bekend maak. Vandag se Christene, wanneer hulle deel is van daardie regering, sal “konings en priesters vir onse God ... [wees], en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:10). Daardie regering sal onder die oorhoofse heerskappy van Jesus Christus, die Koning van die konings, wees. “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen” (Jesaja 9:5-6).

Hierdie “einde van die geskiedenis” sal net die begin wees! Ons moet tot dan Jesus Christus se opdrag in Mattheüs 6:10 volg, waar Hy aan Sy volgelinge sê om altyd te bid, “laat U koninkryk kom”!.