Jesus Christus het reguit van die geestelike leiers van Sy dag gesê, “hulle is blinde leiers van blindes” (Mattheüs 15:14). Jesus het ook lede van die geestelike gevestigde orde daarvan beskuldig dat hulle die Skrif nie verstaan nie (Markus 12:24), en dat hulle “blinde leiers ... dwase ... geveinsdes” is wat mense mislei in geestelike sake (sien Mattheüs 23). Die geestelike leiers van Sy dag het in hulle blindheid gefaal om Jesus as die geprofeteerde Messias te herken. Baie Bybelprofesieë dui daarop dat voor Jesus Christus se Wederkoms, moderne geestelike leiers dieselfde foute sal maak. Hulle sal nie die Skrif verstaan nie, hulle sal opregte mense mislei aangaande geestelike sake, en hulle sal blind wees vir die werklike betekenis van belangrike gebeure wat die wêreld waarin ons lewe, vorm!

Blindheid is voorspel

Baie profesieë van die Bybel het ’n tweeledige toepassing. Hulle aanvanklike vervulling was in die dae van die profete, dog hulle uiteindelike vervulling sal egter aan die einde van die tydvak wees, net voor Jesus Christus se Wederkoms. Let op wat Jesaja geprofeteer het oor die Israeliete se geestelike leiers, toe en nou, “... priester en profeet wankel ... hulle wankel as hulle gesigte sien, hulle waggel by die regspraak” (Jesaja 28:7). Jesaja beskryf Israel se onverantwoordelike leiers: “Hulle wagte is almal blind, hulle merk niks nie ... en herders is hulle wat nie weet om op te merk nie” (Jesaja 56:10-11). Die Israelitiese nasies en hulle geestelike leiers het blind geword omdat hulle nie die instruksies in God se woord volg nie (Deuteronomium 28:15, 28). Hierdie tema kom regdeur die Skrif voor (Jesaja 6:9-10; Esegiël 12:2; 13:1-23). Die apostel Paulus verduidelik dat Satan waarlik die verstand van diegene wat verkies om nie die Bybel te glo nie, verblind (2 Korinthiërs 4:3-4).

Jeremia voorsien ’n tyd in die toekoms wanneer “die profete sal wind word; ja, die Woord is nie by hulle nie” (Jeremia 5:13). Hy skryf, “... hulle profeteer deur Baäl en verlei My volk Israel ... Luister nie na die woorde van die profete wat vir julle profeteer nie; hulle vervul julle met ydele verwagtinge; gesigte uit hul eie hart verkondig hulle, nie uit die mond van die Here nie ... Ek het die profete nie gestuur nie ... hulle [is] daarop bedag om My volk My Naam te laat vergeet ... Ek het dit teen die profete ... [wat] My volk verlei met hulle leuens” (Jeremia 23:13, 16, 21, 27, 30, 32). Jeremia se ontnugterende gevolgtrekking aangaande hierdie profesieë is, “... aan die einde van die dae sal julle dit duidelik verstaan” (Jeremia 23:20).

Geestelike verwarring

Hoe mislei geestelike leiers mense vandag? Die meeste belydende Christene word geleer dat Kersfees, Paasfees [Engelse “Easter”] en Sondagaanbidding fundamentele voorskrifte van die Christelike godsdiens is. Wanneer u egter die Bybel en die geskiedenis deeglik bestudeer sal u vind dat die eerste Christene nie Jesus se verjaardag gevier het nie, en dat hulle geweet het dat Hy nie op die 25ste Desember gebore was nie. Baie Christelike gebruike kom nie uit die Bybel nie, maar uit heidense Romeinse Saturnalia vieringe. Christus se eerste volgelinge het nie Paasfees onderhou nie, maar het Jesus se voorbeeld gevolg en die Pasga gehou (Lukas 2:41; 22:15-16). Wanneer u “Easter” in naslaanboeke nagaan sal u gou die heidense oorsprong daarvan ontdek. Christus se eerste volgelinge het nie Sondag onderhou nie, maar het Jesus se voorbeeld nagevolg en die sewendedag Sabbat onderhou (sien Lukas 4:16; Handelinge 17:2; 13:14, 42-44). Sondagaanbidding was ook van die heidene ontleen, en beklee met “Christelike” betekenis deur kerkleiers in die tyd van Konstantyn. Kersfees en “Easter” was eeue later deur kerkrade aangeneem – selfs al is daar geen Bybelse opdrag om dit te onderhou nie! In der waarheid waarsku die Bybel duidelik: “As die Here jou God die nasies waar jy na toe gaan om hulle uit die besitting te verdrywe, voor jou uitroei, en jy hulle verdrywe en in hulle land woon, neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen” (Deuteronomium 12:29-30). Hedendaagse geestelike leiers ignoreer όf hierdie duidelike waarskuwings van die Bybel, όf hulle is onbewus daarvan – en meeste belydende Christene vandag stap maar net blindelings saam (sien Jeremia 5:31).

Die morele moeras

Liberale geestelike leiers en wêreldlike beleidmakers is besig om die gemeenskap tragies te mislei op die kritieke gebied van morele gedrag. Die Bybel verkondig: “Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg” (Jesaja 5:20). Die God van die Bybel stel dit duidelik, “Jy mag nie egbreek nie” (Eksodus 20:14) en sê: “Want Ek haat egskeiding” (Maleagi 2:16). Die Skrif leer Christene duidelik: “Vlug vir die hoerery” (1 Korinthiërs 6:18). Die Bybel noem homoseksuele gedrag “’n gruwel” (Levitikus 18:22; 20:13). Die leiers vandag het nogtans “geen fout” egskeidingswette ingestel, versprei geboortebeperkingmiddels onder tienderjariges en knipoog oor saamblyery. So ’n misleidende gedragsbeleid het ’n gemeenskap tot stand gebring waar seksuele aktiwiteit aangemoedig word, waar tienerswangerskappe en seksueel-oordraagbare siektes epidemies is en waar die helfte van alle huwelike misluk. Baie geestelike leiers voltrek deesdae dieselfde-geslag huwelike en dring daarop aan dat hulle kuddes homoseksualiteit as moreel reg moet aanvaar. Hulle verwelkom selfs indiwidue wat sulke gedrag openlik bedryf in die bediening, ten spyte van die Skrif se duidelike waarskuwings! Tallose gewilde predikers leer dat God se Wette nie meer onderhou hoef te word nie. Dit is dus nie verbasend dat die hedendaagse nuusmedia gereeld berigte plaas oor priesters, predikers en politici wat daarop aandring dat hulle “Christene” is wanneer hulle skuldig bevind word aan kindermolestering, owerspel, ontug, lieg, bedrog en diefstal nie. Hulle weier om hulle posisies te laat vaar – en word dikwels nog steeds deur hulle volgelinge aanvaar en ondersteun.

Baie besef vandag nie dat, deur die morele riglyne van die Skrif te verwerp en blindelings die “verligte” intellektuele toonaangewers van die gemeenskap te volg, ons eenvoudig terugkeer na die morele verval wat die apostel Paulus in antieke Rome waargeneem het nie (sien Romeine 1:18-32). Dit is hoekom die God van die Bybel profeties waarsku, “die wat die wet handhaaf, het My nie geken nie; en die vorste het teen My oortree ... Jou eie boosheid sal jou tugtig ... dat jy die Here jou God verlaat het” (Jeremia 2:8, 19).

Profetiese blindheid

Jesus het aan Sy dissipels gesê om te “waak” en op die uitkyk te wees vir ’n spesifieke reeks van wêreldgebeure wat sal aandui dat Sy Wederkoms naby is (sien Mattheüs 24; Markus 13; Lukas 21). Die afgelope jare het hierdie gebeure meer duidelik geword en dit lyk of dit vandag ’n crescendo nader. Baie geestelike leiers verwater of ignoreer egter hierdie profesieë en verkondig dat ons nie kan weet wanneer Christus se Wederkoms is – en of Hy wel gaan terugkeer nie. Kritici val die Skrif vandag aan en noem dit ’n versameling van fabels, hulle beweer dat die idee van God misleiding is en sê dat Jesus (as Hy ooit bestaan het) jammerlik verkeerd was oor Sy missie en identiteit. Hierdie wydverspreide ongeloof oor die Skrif, die twyfel en onkundigheid omtrent Bybelprofesieë, behoort nie ’n verrassing te wees nie. Die apostel Petrus het voorspel dat “daar aan die einde van die dae spotters sal kom” – mense wat gewilliglik onkundig is oor wat die Bybel duidelik boekstaaf (2 Petrus 3:1-9). Dit is omdat die meeste mense vandag (insluitend baie geestelike leiers) nie die Bybel ken of glo nie. Hulle besef nie dat Satan die hele wêreld verblind en mislei het nie (2 Korinthiërs 4:3-4; Openbaring 12:9). Dit is hoekom die geestelike leiers van die Israelitiese nasies “blinde wagters” is wat die blindes lei! Jesus sê dat die meeste mense onkant betrap sal word met Sy Wederkoms (Markus 13:32-37) – hulle aan die slaap gesus is deur leiers wat geen idee het van wat aan die gebeur is nie! Dit is nodig dat ons wakker word en ons oë open want hierdie profesieë neem nou gestalte aan!