Wat is u rykdom en wat is die plek daarvan in u lewe?

Het u onlangs u prioriteite ondersoek?

’n Gewilde radio- en televisie persoonlikheid het onlangs melding gemaak van ’n gesprek wat hy met ’n bekende miljardêr-filantroop gehad het. Terwyl hulle oor die uitgebreide landgoed van die ryk man gestap het, het die onderhoudvoerder ’n belangrike vraag gevra: “Hoeveel is genoeg?” Hierdie persoon met groot rykdom, het die punt gemaak dat indien mense nie weet “hoeveel” hulle wil verdien of verwerf nie, dan behoort hulle te weet ... dat hulle nooit “genoeg” sal hê nie.

Die soeke na rykdom kan ’n wrede en veeleisende meester wees. Ons as menslike wesens met fisiese behoeftes het sekerlik ons deel om te doen. Die klem wat ons plaas op die verdien van ’n inkomste en om rykdom te vergader het baie te doen met ons gevoel van tevredenheid en vervulling. Ons Hemelse Vader erken dit en die Bybel bevat Sy opdrag oor die onderwerp. Salomo byvoorbeeld, wat met ongelooflike rykdom geseën was, het hierdie woorde opgeteken: “Vermoei jou nie om ryk te word nie, laat staan jou slimheid”! (Spreuke 23:4). Hy het verder bygevoeg, “’n Betroubare man is ryk aan seëninge; maar hy wat haastig is om ryk te word, sal nie ongestraf bly nie” (Spreuke 28:20).

Genoeg skatte

Dit is duidelik dat die verkryging van rykdom nie verkeerd is nie, maar ons gesindheid teenoor rykdom kan ’n probleem wees. Ons is dikwels geneig om mense te oordeel op grond van hulle fisiese uiterlike vertoon, soos hulle huis, motor, klere, ens. Jesus waarsku duidelik teen ’n veroordelende gesindheid. “En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie” (Lukas 12:15).

Terwyl Hy aan Sy volgelinge verduidelik het dat ons Hemelse Vader weet wat ons nodig het en dit aan ons voorsien, het Jesus gesê, “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie” (Matthéüs 6:19). Hy het voortgegaan: “Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie” (vers 24). Ten slotte het Hy gesê: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:33). Dit is dus ’n kwessie van prioriteite. Voordat ons rykdom najaag behoort ons God en ons medemens eerste lief te hê, indien ons God wil behaag. Die tipiese voorskrif oor die onderwerp kom van die apostel Paulus aan Timótheüs. “Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees. Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor” (1 Timótheüs 6:8-10).

Genoeg wysheid

Om die balans te vind is die sleutel tot gelukkige vervulde lewens. Die apostel Johannes het dit verstaan toe hy geskryf het: “Geliefde, ek wens dat dit met jou in alles goed mag gaan en dat jy gesond is, soos dit met jou siel goed gaan” (3 Johannes 1:2). ’n Belangrike aspek om die balans in sulke sake te vind, is om die bron van ons seëninge te onthou. Die manier om dit te doen, word verduidelik: “Vereer die Here uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou inkomste” (Spreuke 3:9).

Die wyse koning Salomo het die boek Prediker afgesluit met hierdie opregte stelling: “Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word” (Prediker 12:13, NV).

Hoeveel is genoeg? U sal dit net vir uself kan bepaal, dit sal vir elke persoon verskillend wees. Indien u egter eers die Koninkryk van God en Sy geregtigheid soek, sal dit u help om te fokus en die balans in u lewe te vind, wat gewoonlik baie ontwykend kan wees.