Hoe dikwels het die meeste van ons ander mense hoor sê: “Ondervinding is sonder twyfel die beste leermeester”. Is dit werklik só? Ervaring is beslis een manier om te leer en vir baie mense is dit verseker ’n leermeester. Dit is omdat ervaring dikwels pynlik is en ons wil gewoonlik nie iets herhaal wat pynlik is nie. Dit lyk nogtans of sommige mense nooit leer nie! Hulle herhaal steeds dieselfde foute oor en oor. U ken waarskynlik so iemand.

Wat van u? Leer u uit ondervinding of is u iemand wat “skynbaar nooit iets leer nie?” Ongeag of u is of nie is nie, die vraag bly: Is ervaring die beste leermeester of is daar ’n beter manier? Indien wel, wat is dit?

Daar is baie maniere in hierdie lewe om mens se vingers te brand. U kan ’n fout maak deur ’n slegte belegging, verhouding of ’n onverstandige besluit te neem. Sommige kinders verbrand letterlik hulle vingers wanneer hulle met vuurhoutjies speel, dikwels nadat daar vir hulle gesê is om dit nie te doen nie. Hoeveel tieners of jong volwassenes leer die pynlike les dat drink en bestuur ’n baie slegte kombinasie is? of dat dwelms en sigarette tot langdurige afhanklikheid kan lei in die vorm van pynlike verslawings en gesondheidsprobleme? Ons word almal op een of ander tyd seergemaak, maar is daar ’n manier om ons pyn te beperk? Gelukkig is daar!

Geloof in God is nie so gewild soos dit voorheen was nie. Darwin se evolusieleer het God in die gedagtes van baie mense vervang en indien daar geen God is nie, word elkeen aan homself oorgelaat om reg van verkeerd te onderskei. Besluite bring gevolge wat óf positief óf negatief kan wees. Wat baie mense nie besef nie, is die verband tussen hulle besluite en onsigbare morele wette. Soos Moses beveel het: “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag” (Deuteronómium 30:19).

Indien God se gewildheid afgeneem het, is dit selfs nog meer so met die boek wat Hy geïnspireer het. Terwyl die Bybel nog steeds deur baie mense gesien word as ’n boek wat goeie raad en troos in moeilike tye bevat, dra dit nie meer dieselfde gewig van gesag as wat dit tevore gedra het nie. Die Tien Gebooie wat dit bevat word dikwels beskou as die Tien Voorstelle. Daardie gesindheid is ongelukkig waarom baie mense seerkry. Wanneer ons die Gebooie verbreek, breek dit ons!

Kan die Tien Gebooie ons leer?

Die meeste van ons in ons Westerse wêreld het van die Tien Gebooie gehoor, maar hoeveel mense weet regtig wat dit sê? Diegene wat wel weet wat dit sê, kies en keur dikwels waarmee hulle saamstem of om dit anders te stel, waarmee hulle nie saamstem nie. Ironies genoeg, mense wat die grootste ontkenners is van die noodsaaklikheid om al Tien Gebooie te onderhou, is dikwels diegene wat die meeste lawaai en protesteer wanneer monumente waarop die Tien Gebooie voorkom van openbare gronde verwyder word! Hulle aanvaar waarskynlik die gebooie teen moord, egbreuk en om ouers nie te eer nie. Hulle stem waarskynlik ten minste in beginsel saam dat dit nie goed is om ander gode te aanbid, te steel of te begeer nie. Wat dan van die Sabbatsgebod?

Vanuit ’n ander perspektief gesien, wonder mens wat die doel van die Tien Gebooie is? Watter verband hou dit met ervaring en met die soort leermeester wat ervaring kan wees? Weereens is ervaring dikwels ’n pynlike leermeester. Is dit dus die beste een? Dit is maklik om te erken dat slegte finansiële besluite gevolge het. Die verband tussen ervaring en morele besluite word egter dikwels oor die hoof gesien.

Dink aan die sewende gebod, “Jy mag nie egbreek nie.” Hoeveel mense dink hulle kan hierdie gebod verbreek en nie hulle vingers verbrand nie? Ons wêreld is besaai met gebroke harte, gebroke huise en seer, verwarde kinders, weens die skending van hierdie kort gebod. Al hierdie pyn kon vermy gewees het indien individue ywerig hierdie gebod gehoorsaam het. Hoeveel individue moet eers seerkry deur die oortreding daarvan voordat ons dié punt verstaan? Verbreking van hierdie gebod maak almal seer en benadeel almal wat betrokke is – veral kinders. Die doel van die gebod is om ons te laat besef dat dit nie saak maak hoe verleidelik die versoeking mag lyk nie, maar die gevolge van toegee aan daardie versoeking sal nie goed wees nie. Oortreding van so ’n wet is ’n verskriklike slegte besluit.

Die gebooie is bedoel om ons te help om goeie besluite te neem, maar alles gaan nie net oor “my” nie. Dit vorm die grondslag van enige eensgesinde samelewing. Oortreding daarvan skep verwarring en meningsverskille. Slegs deur liefde en samewerking kan ons almal gelukkig wees. Die eerste vier van die Tien Gebooie leer ons hoe om ons Skepper te respekteer en dit is waar dit alles begin. Afgesien van God, het geen individuele, burgerlike of kollektiewe menslike gesag die vermoë om ’n gedragskode te skep wat suksesvolle harmonie aan die samelewing sal bring nie. Al wat ons behoort te doen is om rond te kyk om die realiteit hiervan te besef. Terwyl u al hierdie Gebooie onderhou, mag u naaste dalk slegs nege of glad niks daarvan, onderhou nie. Burgerlike owerhede dwing reëls af, maar is enigeen van ons heeltemal tevrede met die werk wat húlle doen? Hierdie reëls wissel van jurisdiksie tot jurisdiksie, asook die afdwinging daarvan.

Die laaste ses Gebooie gee ons die grondslag van hoe om ons naaste lief te hê. Hierdie tweeledige verdeling – liefde teenoor God en liefde teenoor ons medemens word in Matthéüs 22:37-40 gevind.

Ons benodig die hele Boek

Waarom dan nie net die Tien Gebooie hê en dit daar laat nie? Waarom die res van die Bybel?

Hierdie merkwaardige boek openbaar hoe om hierdie Gebooie toe te pas en wat die algehele doel vir die mens is. Die Bybel verduidelik ook die gevolge van oortreding van die Gebooie en leer ons dus op ’n beter manier as wat ondervinding ons kan leer.

Die Spreuke in die Bybel is bedoel om kennis, begrip en wysheid te gee (Spreuke 1:2-6). Dit is veral op die jeug gerig wat onervare in die lewe is en is bedoel om hulle te wys hoe om pynlike ervarings te vermy. Hulle erken dat versoeking ’n probleem is. Hulle gaan dan egter voort om te verduidelik wat die gevolge is van om toe te gee daaraan. (Spreuke 5:1-14).

Onderrig is beskikbaar, maar as leerder moet ons daardie onderrig aanvaar en dit ons eie maak. Die probleem is nie met die leermeester nie, maar met die leerder! Om te luister na die instruksies van iemand wat wyser en meer kundig is, is die beste leermeester en op hierdie manier kan ondervinding ’n goeie leermeester wees.

Groot dele van die Bybel is geskiedkundig van aard en openbaar die gevolge daarvan om die weg te volg wat vir ’n mens reg lyk, maar die eindresultaat van om te doen wat net reg lyk, in teenstelling met God se aanwysing, is die dood (Spreuke 14:12). Sommige mense maak beswaar teen die geweld wat in sommige verhale in die Bybel voorkom, soos in die boek Rigters. Hierdie boek boekstaaf wat gebeur het toe die volk van Israel God verwerp het en die weg van die nasies rondom hulle gevolg het. Daardie praktyke moes vir hulle baie aanloklik gewees het, maar die gevolge was rampspoedig en pynlik.

Hierdie Bybelse geskiedkundige verhale leer ons deur die ondervindings van ander mense, hoe om wyse besluite te neem. Hulle pyn, hartseer en lyding hoef nie ons s’n te wees nie, indien ons die lesse wat tot ons eie voordeel opgeteken is sal bestudeer, dit ons eie maak en in ons eie lewens toepas. Soos dit vir ons in 1 Korinthiërs 10:11 vertel word: “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het”.

Om na die Een te luister wat ons geskape het, is die beste manier om te leer. Om te leer uit die voorbeelde van andere, om te leer uit hulle pynlike ondervindings, is ook ’n goeie leermeester. Alhoewel dit beter is om uit eie ondervinding te leer, is dit nie altyd die beste nie! Om meer te leer van die lewenswyse wat God vir u aanbied – ’n baie minder pynlike lewe – kan u ons boekie met die titel Die Tien Gebooie, aanvra. Hierdie hulpbron toon in besonderhede wat God se bedoeling vir die mens is en waarom al tien van Sy Gebooie bewaar moet word.