Is China sterk genoeg om die plek in te neem van die Verenigde State wat besig is om sy krag te verloor as ’n supermoondheid? Bybelse profesieë bied ’n antwoord wat u sal verras!

China wat ongeveer een vyfde van die wêreld se totale bevolking uitmaak bly vir baie mense in die Weste ’n raaisel. Duisende jare gelede was China ’n heerssugtige nasie met groot ambisies om sekere gebiede en selfs die wêreld te oorheers. Alhoewel hierdie ambisies gedurende die 20ste eeu byna heeltemal geblus is deur oorloë en ekonomiese rampe, sien ons gedurende die eerste dekades van die 21ste eeu dat nuwe aandag geskenk word aan China as ’n ekonomiese en politieke supermoondheid-in-wording. Wat openbaar u Bybel aangaande China se toekoms en sy plek in die profesieë oor die eindtyd? Die antwoord mag u verras!


Twintig jaar gelede, toe Philip Schaefer, ’n finansier, ’n konferensie onder die titel “Die Chinese Eeu: Vanaf Wallstraat tot die Groot Muur”, vir beleggers georganiseer het, het baie min mense nog van die uitdrukking “die Chinese Eeu” gehoor wat daardie geheimsinnige nasie se opgang na ’n nuwe vlak van supermoondheid beskryf.

Deesdae, met Amerika se snelle afwaartse neiging en beleggers soos Warren Buffet wat openlik verklaar dat die 21ste eeu “China se Eeu” is, gee baie meer mense aandag. Terwyl die Chinese nasie hard daaraan werk om die Weste verby te steek op beide ekonomiese en militêre gebied, is dit egter so bestem dat hulle die wêreld sal oorheers soos wat Amerika en Brittanje in staat was om te doen gedurende die laaste eeu? Sal hierdie 21ste eeu inderdaad “China se Eeu” wees?

Met ’n beraamde bevolking van 1.4 miljard, is China die nasie met die grootste bevolking op aarde. Hulle het verreweg die grootste finansiële reserwes van alle nasies – tans geskat op meer as US$3.5 triljoen! China se militêre- en vlootmagte word voortdurend ontwikkel. Waarnemers van China het opgemerk dat die nasie doelbewus ’n rigting inslaan wat ekonomiese groei met militêre mag verenig. China se gemiddelde jaarlikse groeikoers van ongeveer 9% oor die afgelope 20 jaar, het gelei tot ’n tienvoudige toename in die per capita Bruto Binnelandse Produk (BBP) en ’n een-en-twintigvoudige toename in die koopkrag vir militêre besteding. China werk dus stadig maar seker daaraan om sy gewapende magte te omskep in ’n volskaalse weermag wat in staat sal wees om Chinese mag reg oor die wêreld te projekteer.

Ekonomiese groei

China beskik nou oor die tweede grootste ekonomie ter wêreld – slegs ’n kortkop agter die Verenigde State van Amerika (wat die derde grootste is indien die Europese Unie se lidlande getel word as een gesamentlike blok). Ongeag van waar u ook al woon, as u ’n rekenaar of ’n slimfoon gebruik, is die moontlikheid baie goed dat dit in China gemaak is. China se Ministerie van Produksie en Inligtingstegnologie het berig dat daar slegs in die eerste elf maande van 2012, meer as ’n miljard selfone, meer as 314 miljoen rekenaars, 116 miljoen monitors en 114 miljoen televisiestelle in Chinese fabrieke vervaardig is! Dit sluit nie die geskatte 120 miljoen tablet-rekenaars in wat verlede jaar in China gemaak is nie. China se internasionale teenwoordigheid in die motorbedryf groei ook steeds.

Dekades gelede was “Made in China” ’n kode-woord vir slordige en goedkoop vakmanskap. Maar nou nie meer nie! Die Chinese bedryf is nou op die voorpunt van die wêreld-ekonomie, terwyl lande soos Viëtnam en Thailand nou die rol vervul van mededingers op die gebied van prysverlagings. Deesdae het die entrepreneur of sakeman in China baie om voor dankbaar te wees.

Tog is dit belangrik om te besef dat die Chinese hulleself vir baie dekades beskou het as swak mededingers op die wêreldtoneel – ’n verskriklike verleentheid vir ’n nasie vir wie sy historiese verlede as ’n groot wêreldmoondheid baie belangrik was. Ten spyte van China se roemryke verlede, is die nasie vir baie eeue teruggehou deur ’n aantal opeenvolgende swak regerings en onverstandige pogings. China is voortdurend deur die Amerikaners of die Engelse oorheers. Die kommunistiese rewolusie het toe begin – nou skielik het miljoene Chinese begin om ’n gevoel van trots in hulle eie regering te ontwikkel, iets wat hulle voorheen nie gehad het nie. Deesdae besef selfs die Chinese dat kommunisme nie die antwoord is nie. China se senior leier, Xi Jinpeng, praat nou van die “Twee 100e” – die doelwit om die land se totale groot bevolking “redelik welaf” te maak teen 2020, wat die 100ste herdenking van die Chinese Kommunistiese Party sal wees, asook die doelwit om China ’n ten volle gemoderniseerde en ontwikkelde land te maak teen 2049, die 100ste herdenking van die Volksrepubliek van China. Soos Robert Lawrence Kuhn, ’n deskundige op die gebied van China dit stel, het Xi se visie van die “Chinese Droom” vier dele: “Sterk China (ekonomies, polities, diplomatiek, wetenskaplik, militêr); Beskaafde China (gelykheid en regverdigheid, ryk kultuur, hoë sedelike waardes); Harmonieuse China (met vriendskap tussen verskillende maatskaplike klasse); Mooi China (’n gesonde omgewing, lae vlakke van besoedeling)” (“Xi Jinping’s Chinese Dream”, New York Times, 4 Junie 2013).

Vanaf plase na stede

Een treffende voorbeeld van hierdie vurige begeerte om te moderniseer is die plan van die Chinese leiers om 250 miljoen Chinese burgers te verskuif vanaf hulle voorvaderlike plasies na nuwe stedelike wonings, waar hulle in kantore of fabrieke kan werk in plaas van op die plase. “Dikwels magtig die regering die vervanging van klein plattelandse huise met hoë wolkekrabbers, bedek hulle groot bane landbougrond met plaveisel en word die lewens van landelike bewoners drasties verander. So groot is die omvang daarvan dat die getal splinternuwe Chinese stedelinge deesdae die totale stedelike bevolking van die Verenigde State van Amerika begin inhaal – in ’n land wat reeds uit sy nate bars van al die reuse stede” (“China’s Great Uprooting”, New York Times, 15 Junie 2013).

Die plan is om 70% van China se bevolking – ongeveer 900 miljoen mans, vrouens en kinders – teen 2025 in stede te laat woon. Die New York Times berig: “Dit sal beslis die karakter van China verander, waar die Kommunistiese Party vir dekades lank daarop aangedring het dat die meeste boere, selfs die wat in stede werk, steeds hulle klein lappies grond moes hou om politieke en ekonomiese stabiliteit te verseker. Die party het egter nou sy prioriteite verskuif, hoofsaaklik om ’n nuwe bron van groei te vind vir die ekonomie wat traag is. Sodoende kan hulle toenemend staatmaak op ’n groeiende verbruikersklas stedelinge” (ibid.).

Dit sou moeilik wees om die dramatiese verandering wat dit vir China en sy mense sal inhou, te kan oorbeklemtoon. Chinese kommunisme het feitlik van die heel begin af op een dramatiese manier verskil van ortodokse Marxisme, wat die geïndustrialiseerde werkersklas gesien het as die grondslag vir rewolusie. In teenstelling hiermee het die Chinese kommunisme dit veral van die kleinboere verwag om die belangrikste dryfkrag binne die bevolking te wees om volgens “Mao Zedong Thought” die revolusie teen kapitalisme aan te hits en te ondersteun, wat die Chinese nasie na sosialisme en kommunisme sou lei.

In ’n tyd waarin miljoene mense in Amerika bekommerd is oor hulle eie land se afname in voorspoed en tradisionele waardes en die oënskynlike wegbeweging van persoonlike vryhede wat lankal reeds as vanselfsprekend aanvaar is – soos die openbaarmaking van opnames van persoonlike foongesprekke deur die Nasionale Veiligheidsagentskap. Dit is dus maklik om te verstaan waarom baie mense regoor die wêreld kan aanvoel dat daar ’n verskuiwing in die globale supermoondheid-dinamika aan die kom is. Sal ’n verstedelikte, ekonomies-kragtige China die wêreld se belangrikste supermoondheid word, nou terwyl die Verenigde State van Amerika sy posisies van ekonomiese gesag en morele leierskap, wat hy al vir ’n geruime tyd in die wêreld handhaaf, verloor?

Waarheen gaan dit alles lei? Wat gaan werklik gebeur? Wat dui die geïnspireerde Woord van God aan?

Nog ’n siening: Uit God se Woord

Op verskeie plekke in u Bybel dui God duidelik aan dat Hy in beheer is van al die belangrike gebeurtenisse in die wêreld. In die boek van Daniël lees ons dat Koning Nebukadnésar van ouds vir sewe jaar uit sy amp verdryf is en soos ’n bees moes gras eet om hom ’n les te leer. Wat was daardie les? God antwoord: “... sewe tydperke sal oor jou heengaan, totdat jy erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil” (Daniël 4:32). Selfs die meeste belydende Christene verstaan nie die feitlikheid van God se finale gesag en hoe werklik God is nie. In hierdie huidige geslag sal hulle dit egter begin verstaan – aangesien God kragtiger as ooit tevore begin ingryp in menslike sake. Die geïnspireerde Woord van God sê weereens aan ons: “Die Here vernietig die raad van die nasies, Hy verydel die gedagtes van die volke. Die raad van die Here bestaan vir ewig, die gedagtes van sy hart van geslag tot geslag” (Psalm 33:10-11).

Alhoewel China nou besig is om een van die magtigste en invloedrykste nasies van die wêreld te word en dit toenemend meer sal word, openbaar u Bybel duidelik dat ditnie die grootste bedreiging vir Amerika sal word nie. Die 21ste eeu sal nie “China se Eeu” wees nie.

God se geïnspireerde Woord sê tereg aan ons dat ’n magtige ryk in Europa tot stand sal kom – een wat inderdaad die hele wêreld ekonomies en op handelsgebied saloorheers. Indien ons die Bybel toelaat om die Bybel self te vertolk, sal ons nie hoef te “raai” wie daardie mag is of waar dit moontlik tot stand sal kom nie.

Soos byna alle Bybelstudente weet, het die Almagtige God, deur Daniël, ’n reeks van vier koninkryke geopenbaar wat op die wêreldtoneel tot stand sal kom. Terwyl hy Koning Nebukadnésar se droom uitgelê het, het Daniël die volgende voorspel (sien hoofstuk 2 van die boek van Daniël):

  • ’n Kop van goud, simbolies van die Babiloniese Ryk wat in 539 v.C. tot ’n val gekom het.
  • Bors en arms van silwer, simbolies van die Medo-Persiese Ryk (558 – 330 v.C.).
  • Buik en lendene van koper, simbolies van die Hellenistiese Ryk, gestig deur Alexander die Grote (333 – 31 v.C.).
  • Twee bene van yster, simbolies van die Romeinse Ryk, met tien tone aan die voete wat van yster, gemeng met klei, gemaak is – dit simboliseer die Romeinse Ryk en sy laaste herlewing met tien nasionale regeerders wat onder ’n enkele leier sal verenig (31 v.C. tot Christus se wederkoms).

Die finale wêreldoorheersende herlewing van die Romeinse Ryk sal van betreklik korte duur wees en sal ontwortel word deur ’n “vyfde koninkryk” wat letterlik die regering van God onder Jesus Christus sal wees (Daniël 2:36-45). Wanneer Hy die “vyfde koninkryk” beskryf, sê God aan ons: “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (vers 44).

Hierdie finale magtige ryk is nie ’n Chinese Ryk nie! Hoe kan dit egter ’n “Romeinse” Ryk wees, terwyl ons weet dat die Romeinse Ryk in 476 n.C. geval het? Onthou egter dat, hoewel die Romeinse Ryk in 476 n.C. deur ’n “dodelike wond” neergevel is, daar tog agtereenvolgende keisers was, wat dit vir kort tydperke laat “herleef” het. Die eerste was Justinianus in 554 n.C., gevolg deur die Karolingiese Ryk (van die beroemde Karel die Grote, gekroon in 800 n.C.), daarna die Heilige Romeinse Ryk, die Hapsburgse Vorstehuis en die ryk van Napoleon. In die 20ste eeu het Benito Mussolini en Adolf Hitler ’n kortstondige poging aangewend om die ryk te laat herleef deur die Spilmoondhede.

Dit is hierdie ryk wat die wêreld weer ’n keer teen die einde van hierdie huidige eeu sal sien herrys. Die apostel Johannes beskryf hierdie ryk verder: “En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer? En ’n mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek, en aan hom is mag gegee om dit twee-en-veertig maande lank te doen. En hy het sy mond oopgemaak om te laster teen God, om sy Naam en sy tabernakel en die wat in die hemel woon, te laster. Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Openbaring 13:4-7). Hierdie ryk was ’n baie magtige ryk, wat – onder die invloed van die pousdom – die ware heiliges van God gruwelik vervolg het en gedurende die Donker Middeleeue God se Kerk so te sê heeltemal uitgewis het.

Misleidende godsdienstige gesag

In sy geïnspireerde visioen, sien Johannes egter “uit die aarde ... ’n ander dier ... opkom” (vers 11). Hierdie dier het soos ’n “lam” gelyk – net soos Jesus Christus regdeur die Bybel as ’n “Lam” beskryf word – nogtans het hy “gepraat soos ’n draak”. Die term “draak” word regdeur hierdie selfde boek – die Bybel – gebruik om Satan die duiwel aan te dui “wat die hele wêreld verlei (mislei)” (Openbaring 12:9).

Die “tweede dier” wat in Openbaring 13:11-18 beskryf word, is baie duidelik ’n groot godsdienstige mag wat die hele mensdom mislei. Hierdie mag sal ook ongelooflikewonderwerke verrig teen die einde van hierdie tydperk. “Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ’n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het” (verse 13-14).

Hierdie godsdiens-politieke mag is nou in wording op die Europese vasteland. Aanvanklik sal dit lyk asof hierdie moondheid “goed doen”, maar uiteindelik sal dit die leisels van die godsdienstige, finansiële en politieke gesag in die Westerse wêreld oorneem. Sy oorheersing van handel en finansies sal selfs later oor die hele aarde uitbrei.

Openbaring 18 beskryf hierdie moondheid as ’n moderne “Babilon”. God se Woord sê immers: “... omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid” (Openbaring 18:3).

Uiteindelik beskryf God die vernietiging van hierdie stelsel wanneer “die handelaars van die aarde sal ween en rou bedrywe oor haar, omdat niemand hulle koopware meer koop nie” (vers 11). God se Woord stel dit so: “Wee, wee die groot stad ... omdat in een uur soveel rykdom verwoes is! En elke stuurman en die hele menigte op die skepe, en die matrose en almal wat die see bevaar, het ver weg gaan staan en het uitgeroep toe hulle die rook van haar verbranding sien, en gesê: Watter stad is soos die groot stad?” (Openbaring 18:16-18). Ons sal teen die eindtyd hierdie magtigste politieke, militêre en handelsmoondheid op aarde vind – ’n moondheid wat deur ’n valse godsdienstige stelsel oorheers en sterk beïnvloed word: “En die bloed van profete en heiliges is in haar gevind, en van almal wat op die aarde gedood is” (vers 24).

Wie se eeu sal dit wees?

Die 21ste eeu sal beslis nie uiteindelik die “Eeu van China” wees, soos so baie politieke en ekonomiese voorspellers verwag nie. Ten spyte van Europa se kortstondige opgang in die nabye toekoms, sal dit ook nie die “Eeu van Europa” wees nie. Die woord van God maak dit egter baie duidelik: Jesus Christus se wederkoms sal binnekort plaasvind, wat dit dan die Eeu van Jesus Christus sal maak!

Direk na die beskrywing van die algehele vernietiging van die finale ryk van die “dier”, sê God se Woord aan ons: “En na hierdie dinge het ek iets soos ’n groot stem van ’n groot menigte in die hemel gehoor wat sê: Halleluja, die heil en die heerlikheid en die eer en die krag aan die Here onse God!” (Openbaring 19:1). In vers 11 sê God aan ons deur Johannes: “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ’n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ’n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ’n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met ’n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van konings en die Here van die here” (Openbaring 19:11-16).

Die toekomstige Koning!

Waar sal dit dus alles eindig? Dit sal eindig met die wederkoms van die “Koning van konings” wat binnekort sal plaasvind – die allerhoogste Alleenheerser, Jesus Christus, wat in luisterryke heerlikheid uit die hemel sal neerdaal! Dan sal die “laaste basuin” weerklink en engele-stemme sal aankondig: “Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in allewigheid” (Openbaring 11:15).

Regdeur die Bybel gee God aan ons duidelike aanduidings waarvoor ons op die “uitkyk” moet wees vir die vervulling van Sy geïnspireerde profesieë. Dit is Hy – slegs Hy alleen – wat die einde weet van die begin af. Daar is geen aanduiding van ’n Chinese vlootmag in die Bybelse profesieë aangaande die eindtyd nie. Kan ’n mag op land wat uit 200 miljoen manne bestaan vanuit die Ooste (Openbaring 9:16) egter saamgestel word sonder China? Kennis van Bybelse profesieë stel ons in staat om China se opkoms dop te hou met inligting waaroor die wêreld se politieke kenners nie beskik nie!

Terwyl die wêreld se oë op China gerig is, sal diegene wat God se Woord bestudeer weet dat die “werklike aksie” in Europa en in die Midde-Ooste sal plaasvind. Tien nasies of groepe nasies sal verenig onder ’n oppermagtige diktator wat u Bybel die “Dier” noem. ’n “Koning van die Suide”, suid van Jerusalem – die gebied waar ons die Arabiese Moslem-nasies aantref – sal sy magte na ’n dramatiese konflik teen hierdie Europese “Dier”-moondheid lei en so die laaste reeks eindtydse oorloë inlui, wat sal uitloop op die wederkoms van Jesus Christus!

Ja, dit sal ’n aantal jare neem vir alles om ten volle tot vervulling te kom. Terwyl ons egter wag en waak, behoort ons op ons hoede te wees vir die grootse plan waarmee die Almagtige God hier op aarde besig is om aan die mens te leer dat ons manier van doen nie vrede bring nie en dat die menslike geslag nie in staat is om homself te regeer nie. Daaardie Wêreldregering wat deur die Gees gelei word en onder Jesus Christus staan is die enigste oplossing vir die verskriklike leed en lyding wat elke nasie op aarde toenemend raak.

Werklikwaar, elkeen van ons behoort innig en baie ernstig Jesus Christus se opdrag te gehoorsaam: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36).