U het waarskynlik 'n Bybel êrens in u huis. Jaar na jaar, is die Bybel die boek wat boaan die lys van topverkopers staan. Nogtans weet die meeste mense baie min van hierdie wonderlike boek en wat daarin staan. Die Bybel onthul die geheime van die lewe. Dit onthul ook die toekoms van die mensdom. Dit kan u op baie maniere help – baie meer as wat u ooit kon hoop of droom.

Miljarde mense regoor die wêreld besit Bybels. Reeds in 1950, het 'n gesaghebbende tydskrif berig dat “teen die einde van 1950 (die 500ste herdenking van Gutenberg se uitvinding), sal twee miljard Bybels of dele van Bybels, gedruk wees, met 'n verdere 25 miljoen wat jaarliks bygevoeg word” (Antiquarian Bookman, 18 November 1950). 'n Opname deur die Princeton Navorsingsentrum het onlangs bevind dat 93% van Amerikaners “'n Bybel besit en dat 27% van hulle vier of meer besit. U besit heel moontlik ook 'n Bybel. Indien u Bybel in 'n kas of laai weggepak is, dring ek by u aan om dit op te spoor en te lees. Dit sal u in baie, baie opsigte help. Ons sal in hierdie artikel slegs vyf van die baie maniere ondersoek waarop die Bybel u kan help – ver bo u hoogste verwagtings – mits u die instruksies sal volg.

'n Gallup-opname wat in Oktober 2000 vrygestel is, onthul dat “sowat ses uit elke tien Amerikaners (59%) beweer dat hulle ten minste soms die Bybel lees ... Die aantal Bybellesers het sedert die 1980’s oor die algemeen afgeneem van 73% na die huidige 59%. Die persentasie van gereelde lesers, dit is diegene wat ten minste een keer per week Bybel lees, het ook weinig afgeneem, van 40% in 1990 na 37% vandag” (Six in the Ten Americans Read Bible at least Occasionally, Gallup News Service, 20 Oktober 2000).

Wat het hierdie opname nog aangaande die lees van die Bybel onthul? Gallup het berig: “Ten opsigte van gereeldheid van Bybellees, is bevind dat 16% van Amerikaners sê dat hulle die Bybel daagliks lees, 21% sê dat hulle dit weekliks lees, 12% sê dat hulle dit maandeliks lees, 10% sê dat hulle dit minder as maandeliks lees en 41% sê dat hulle die Bybel selde of nooit lees” (ibid.).

Hoe belangrik is die Bybel in ú lewe? Lees u die Bybel ten minste een keer per week? Ekself probeer om daagliks die Bybel te lees. Ek het gewoonlik moeg van die werk op kantoor tuis gekom en dan die televisie aangeskakel, maar ek het gou uitgevind dat te veel tyd verlore gaan deur te veel televisie te kyk. Nou het ek die gewoonte aangekweek om sodra ek by die huis kom, in 'n gerieflike stoel te gaan sit, die Bybel te neem en vir ten minste tien minute uit die Bybel te lees voordat ek enigiets anders doen. Hierdie gewoonte help my om die aand op 'n positiewe noot te begin – en my vrou waardeer ook my positiewe gesindheid!

Ons behoort almal tot die besef te kom hoe belangrik die Bybel vir ons is – persoonlik en as 'n nasie. Die geskiedenis van die wêreld leer ons die diepgaande les dat geen ryk of nasie ooit staande kon bly sonder sterk geestelike karakter en integriteit nie. Die Bybel toon aan ons die weg na 'n goddelike leefwyse en 'n regverdige karakter. Alle nasies op aarde behoort te strewe om daarvolgens te lewe. George Washington, die eerste president van die Verenigde State van Amerika, het in hierdie beginsel geglo. Hy het gesê: “Dit is onmoontlik om die wêreld regverdig te regeer sonder God en die Bybel” (Halley's Bible Handbook, bl. 18).

Ons kan slegs verstaan wat George Washington bedoel het as ons werklik verstaan wat die Bybel is. Wat sê die Bybel oor die Bybel self? “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Timotheus 3:16-17). Of, soos die Nuwe vertaling dit stel, “Die hele Skrif is deur God geïnspireer.”

Ons Skepper wil hê dat ons die regte weg na die ewige lewe moet ken en Hy het daardie weg in u Bybel geopenbaar. Die Bybel bied talle voordele aan 'n ieder en 'n elk.

Voordeel 1: Die Bybel openbaar die weg na lewe ná die dood

U Bybel openbaar die weg na die ewige lewe en saligheid. Nadat u gesterf het, sal u weer lewe? Hoe weet u dit? Kyk wat skryf die apostel Paulus aan die jong evangelis Timotheus: “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus” (2 Timotheus 3:14-15). 

Ja, die heilige Skrif lei ons na verlossing deur geloof in Jesus Christus! Slaan ag op twee belangrike beginsels in hierdie verse. Ten eerste is Timotheus die skrifte reeds sedert sy kinderdae geleer! As u 'n ouer is, hoop ek dat u die Skrif aan u kinders leer. Onthou ook dat toe Paulus hierdie boodskap aan Timotheus geskryf het, die Nuwe Testament nog nie eens volledig geskryf was nie. Die Heilige Skrif wat Timotheus as kind bestudeer het, was dus die Ou Testament. Paulus het die Ou Testament aangeprys dat dit hom sou “wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.” Die hele Bybel – van begin tot einde – is deur God geïnspireer en is steeds vandag op Christene van toepassing!

Ons almal benodig verlossing en redding. Ons benodig vergifnis van ons sondes. Waarom? Die rede is dat sonde die ewige dood meebring. Die Skrif leer ons: “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23). Deur ons sondige lewens verdien ons die dood. God het egter 'n Saligmaker en Verlosser in die wêreld ingestuur – Jesus Christus. Met Sy gestorte bloed het Hy vir ons sondes betaal. As ons ons Saligmaker en Verlosser se voorskrifte navolg, kan ons sondes vergewe word. Soos Jesus Self gepreek het: “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:15). Let ook op wat die apostel Petrus sê: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38). 

Party van u wat hierdie artikel lees, mag reeds vir 'n geruime tyd al op twee gedagtes hink. U het moontlik al daaraan gedink om u lewe daaraan toe te wy om Christus heelhartig en opreg te volg, maar u het dit nog altyd uitgestel. Indien God u roep, is dit nou die tyd om te reageer! Indien u vrae het en graag raad wil inwin van 'n leraar, skakel gerus of skryf aan ons streekkantoor waarvan die adres en telefoonnommers op bladsy twee van hierdie tydskrif verskyn. U Bybel onthul dat Jesus Christus, die Messias, die Verlosser en Saligmaker van die wêreld is. (Johannes 4:42; 1 Johannes 4:14). Sal u reageer op hierdie kennis? Net soos in die geval van Timotheus, is die Bybel in staat om u wys te maak tot verlossing en redding deur Christus Jesus. Dit openbaar die weg na lewe ná die dood.

Voordeel 2: Die Bybel verduidelik die werklike betekenis en doel van die lewe

Wat is die doel van lewe? Wat is u lotsbestemming? Ons het reeds hierbo gesien dat God aan ons die ewige lewe belowe – maar wat is dan ons uiteindelike lotsbestemming? Sal ons vir ewig net op wolke ronddrywe? Het God nie miskien 'n baie groter doel en plan met ons nie? Koning Dawid van ouds het ook oor sy doelwit in die lewe gepeins. Terwyl hy nog skape opgepas het, het Dawid baie maande, jaar na jaar, onder die nagtelike hemel deurgebring en hy het bespiegel oor sy plek in die heelal. Dawid het in eerbied onder die sterrehemel gestaan. Hy het besef dat die Oorsprong van daardie heelal die Skeppergod is. Dawid skryf: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het – wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?” (Psalm 8:4-5).

Soos Dawid dit gestel het, “dink” God aan mensewesens. Hy is besorg oor ons! Waarom? Omdat Hy ons geskape het! God het ons ook vir 'n belangrike doel geskape – om in 'n persoonlike verhouding met Hom te staan! Dit is 'n diep-gaande waarheid. Dink net daaraan! God het gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape” (Genesis 1:26-27).

God het die mens na Sy beeld geskape om 'n ewige verhouding met Hom te hê. Daardie verhouding moes 'n liefdevolle gemeenskap wees! God het die menslike gesin geskep en Hy verlang dat u deel van Sy goddelike gesin sal wees. Let op wat die apostel Paulus skryf: “Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus, van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang” (Efesiërs 3:14-15). God is die Vader van 'n gesin, en Hy wil hê dat u deel van 'n skeppende gesin moet wees wat bevrediging en vreugde vir alle ewigheid sal smaak. 

Die meeste belydende Christene het geen duidelike beeld van hul roeping in God se Koninkryk nie. Luister egter na hierdie duidelike stelling van die apostel Johannes oor wat God vir ons sal doen: “En het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:10). Wanneer Christus as Koning van die konings en Here van die here sal terugkeer, sal ware Christene Hom in die Wêreld van Môre dien. Gedurende die Millennium sal hulle help om die res van die wêreld die weg na blywende vrede te leer. Daarna sal daar 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde wees, en hulle sal dan saam met Hom vir ewig regeer! U Bybel kan u help om hierdie wonderbaarlike lotsbestemming te begryp. U lewe het 'n ontsaglike betekenis en doel – en dit word alles in u Bybel verduidelik!

Voordeel 3: Die Bybel toon die weg na harmonieuse verhoudings

Party van ons vind dit baie moeilik om met ander mense oor die weg te kom. Ons ondervind dalk konflikte met ons hoof by die werk, met ons lewensmaat, met familie- en gesinslede of met vriende. Kan die Bybel u help om beter met andere oor die weg te kom? Ja, dit kan, mits u die instruksies volg. Onthou u die twee Groot Gebooie? Jesus onderrig ons: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mattheus 22:37-39). 

Wanneer u hierdie twee groot gebooie toepas, kan u u verhoudings met ander mense verbeter. Die Tien Gebooie verduidelik aan ons spesifieke maniere om God lief te hê en ook om ons naaste lief te hê. U betoon liefde aan u naaste deur u ouers te eer, deur eerder te help as om dood te maak, deur getrou en liefdevol teenoor u lewensmaat te wees, deur nie egbreuk te pleeg nie, ensovoorts. Die Christen se manier van lewe – die Bybel se leefwyse – is geheel en al teenstrydig met die wêreldse, selfsugtige, gierige en egosentriese manier van die tipiese menslike natuur. Neem kennis: “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s'n” (Filippense 2:3-4). God leer ons om andere hoër as onsself te ag – om ander mense te waardeer en te respekteer en om vir ander se welsyn om te gee en daaroor besorg te wees.

Die Bybel leer ons ook die belangrikheid van vergifnis. Werklike vergifnis sal u verhoudings met ander mense verbeter. Klou u vas aan griewe? Baie mense is nie bereid om griewe te vergewe en te vergeet nie. Onthou egter altyd wat Jesus ons in die modelgebed (die “Onse Vader”) leer: “En vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe” (Mattheus 6:12). 

Is dit hoe u bid? Vergeef u ander mense?

1 Korinthiërs 13 word dikwels die “hoofstuk van liefde” genoem. Indien u slegs een van die beginsels daarin vervat toepas, is u op die regte pad om u verhoudings te verbeter. Luister na hierdie pragtige gedeelte: “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nimmermeer” (1 Korinthiërs 13:4-8). Die heel eerste eienskap wat hier genoem word, is geduld. Die liefde is lankmoedig, met ander woorde, liefde is geduldig. Is u geduldig? Deur hierdie Bybelse beginsels toe te pas, kan u lewe dramaties verander word. Dit kan u help om blywende vreugde uit u verhouding met ander mense te put!

Voordeel 4: Die Bybel leer ons hoe om ware sukses, vervulling en blydskap te verkry

Die Bybel kontrasteer dikwels die wêreldse weë met die weë van Jesus Christus. Let op hierdie diepsinnige waarheid wat Jesus Self spreek: “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10). 

Jesus het gekom dat u die lewe meer oorvloedig mag beleef! U kan 'n oorvloedige lewe – ware sukses – hê, mits u u Saligmaker en Verlosser in al u gedagtes en in elke handeling elke dag in ag neem. Deur Christus kan u ware sukses smaak. Soos die apostel Paulus skryf: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Filippense 4:13). Let ook op na hierdie sleutel tot God se seëninge: “Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak” (Spreuke 3:5-6).

As ons Hom in ag neem, beloof God om ons elke dag op die pad na lewe en sukses te lei. Indien u egter nie met God kommunikeer nie, erken u Hom nie. Bid u daagliks? Bid u gereeld daagliks? Volg u die apostel Paulus se vermaning: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God” (Filippense 4:6)? Indien u dit doen sal God al u bekommernisse wegneem en “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (vers 7). Erken God in al u weë en hy sal u paaie gelyk-maak!

Die Bybel gee aan ons die ware beginsels wat tot sukses sal lei. Ons moet regte waardes in die lewe nastreef, nie wêreldse, selfsugtige, wellustige waardes nie. Koning Dawid was 'n man so na God se eie hart (Handelinge 13:22), en onder God se inspirasie het hy wonderlike Psalms geskryf. Let dan op na hierdie noodsaaklike beginsel vir sukses wat God deur Dawid openbaar het: “Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; maar sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag” (Psalm 1:1-2).

Dawid openbaar die inspirerende gevolg van oordenking van God se Wet en leefwyse: “En hy sal wees soos 'n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit” (vers 3). Ongelukkig lyk dit of baie Amerikaners nie voorspoedig wil wees nie; 'n Barna navorsings-opname van 1992 onthul dat 18% van Amerikaanse volwassenes dink dat “die Tien Gebooie nie van toepassing is op mense wat vandag leef nie.” Iets skort beslis in sulke mense se lewens!

Die Bybel onthul baie ander noodsaaklike en opwindende beginsels vir 'n suksesvolle lewe. Lees Mattheus 5-7 (die “Bergpredikasie”). Lees ook die hele boek Spreuke. Namate u die Bybel-se beginsels vir 'n goddelike leefwyse aanleer, sal u ware sukses, vervulling en geluk smaak.

Voordeel 5: Die Bybel onthul die toekoms!

Almal van ons wil 'n gelukkige en veilige toekoms hê. Is dit egter moontlik? Kan u so 'n toekoms hê? Jare gelede, voordat ek 'n Christen geword het, het ek 'n tyd beleef waarin ek geen hoop vir die toekoms gesien het nie. Al wat ek my kon voorstel, was 'n wêreld wat binnekort deur die atoomwapens van die supermoondhede aan flarde geskiet sou word.

Trouens, was dit nie vir Jesus Christus se belofte van ingryping nie, is dít wat sou gebeur! God was my egter genadig en ek het geleer dat Jesus Christus na hierdie aarde sal terugkeer om ons (die wêreld) van onsself te red. Indien u u Bybel lees en glo wat God sê, kan u hoop hê vir die toekoms – u toekoms.

Bybelprofesie onthul hoe God in wêreldgebeure sal ingryp. Bybelprofesie gee ons ook die goeie nuus van ons uiteindelike lotsbestemming. Ons het reeds gesien dat God se doel is om ons voor te berei vir Sy Koninkryk hier op aarde! Ware Christene sal saam met Christus vir 'n duisend jaar lank as konings en priesters regeer. Ware Christene sal ook verander word – in God se Koninkryk ingebore word – met die opstanding uit die dood. Dit kan u toekoms wees. Die apostel Paulus skryf oor die opstanding – die glorieryke gebeurtenis met Christus se Wederkoms, wanneer ware Christene onsterflikheid sal ontvang en die Koninkryk van God sal beërwe: “Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie. Kyk, ek deel julle 'n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in 'n oomblik, in 'n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (1 Korinthiërs 15:50-52).

Indien u 'n gereelde leser van Die Wêreld van Môre is, is u vertroud met die raamwerk van Bybelprofesie en sal u weet dat toe Paulus geskryf het van die “laaste basuin”, hy geskryf het van die sewende basuin of trompet, waarvan in Openbaring 11 gepraat word. Daardie basuin kondig Christus se Wederkoms aan, om oor al die nasies te regeer: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Wat 'n glorieryke toekoms beloof God ons! Na die opstanding sal ons onsterflik wees. Soos Paulus skryf: “Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning” 1 Korinthiërs 15:53-54).

Dit is God se begeerte dat elke mensewese vir ewig in Sy gesin sal wees. Dit is 'n glorieryke toekoms. Indien God u nou roep, moet u kennis dra van daardie toekoms en daarvoor voorberei!

In hierdie artikel het ons kortliks vyf Bybelse voordele bespreek – vyf maniere hoe die Bybel u kan help. Daar is baie ander maniere waarop die Bybel u kan help – en u sal hulle almal ontdek as u Bybelstudie deel van u daaglikse lewe maak. Die Bybel is nie net 'n boek vir vandag nie, dit is ook 'n boek vir die toekoms. Soos Jesus in Lukas 21:33 sê: “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie” Dank God dat Hy met ons die waarheid en doel van die lewe gedeel het. U sal meer aangaande daardie lewe – en aangaande u toekoms – leer, namate u u Bybel bestudeer.