Wat gebeur met nasies wanneer hulle leiers rampspoedige beleidsrigtings navolg wat teenstrydig met hulle eie nasionale belang is? Die gewilde geskiedskrywer, Barbara Tuchman, het oor hierdie verskynsel geskryf in haar klassieke 1984 verhandeling, The March of Folly. Vandag sien ons dat die Verenigde State, Groot Brittanje, Frankryk en ander nasies wat die nakomelinge is van die stamme van antieke Israel, die gevaarlike pad afmarsjeer wat deur Tuchman waargeneem is. ’n Paar opmerksame kritici het die dreigende gevolge van hulle nasies se flaters raakgesien, maar sonder die insig van Bybelse profesie faal hulle om te verstaan waarom hulle nasies struikel.

God het lank gelede in die Bybel geprofeteer dat, namate ons die einde van hierdie tydvak nader, die moderne Israelitiese nasies blindelings verkeerde paaie sal volg. Die Bybel openbaar ook hoekom dit besig is om te gebeur deur profesieë wat vandag besig is om gestalte aan te neem.

Kortsigtige, mislei beleide

Tuchman het geskryf oor wat sy geïdentifiseer het as Amerika se selfverydelende beleid wat aanleiding gegee het tot die wanbestuur van die Viëtnamese oorlog. Sedertdien het Amerika, (dikwels saam met Brittanje en ander hoofsaaklik Angel-Saksiese bondgenote) ’n reeks militêre aksies begin wat die nasie beroof het van finansiële, militêre en menslike hulpbronne. Oorloë in die Midde-Ooste en Sentraal-Asië het veroorsaak dat Amerika groot handelstekorte opgebou het en finansieel in die skuld geraak het by nasies soos Sjina, wat potensiële teenstanders is. Dit is ironies dat die geld wat deur die Weste aan Sjina en die Arabiese nasies gestuur word, dan dikwels deur daardie nasies aangewend word om vaste eiendom en ander hulpbronne in die Weste aan te koop. In werklikheid is die Westerse nasies besig om hulle bates aan buitelandse eienaars te verkoop.

In hul pogings om hul nasie binne die Europese Unie te betrek, het Britse leiers baie van die Britse goudreserwes aan Europa verhandel, beheer oor Britse viswaters prysgegee en ingestem dat die Europese Unie se wette en howe Britse wette ter syde kan stel.

Die nasies wat van antieke Israel afstam – insluitende Amerika, Brittanje, Kanada, Australië, Frankryk, Holland en Skandinawië – het hulle grense oopgegooi vir ’n massiewe instroming van immigrante wat begin het om nasionale gesondheidsorg en maatskaplike dienste te bedreig. Anders as vorige generasies immigrante wat gewoonlik probeer het om in te skakel by hulle gasheer-nasies, is hierdie meer onlangse immigrante geneig om vas te klou aan hulle moedertale, hul eie gebruike, waardes en gelowe – wat aanleiding gee tot maatskaplike spanning wanneer hulle aandring op hulle “regte” in hulle nuwe tuistes namate hulle poog om die einste karakter van die lande wat hulle binnegedring het, te verander.

Een waarnemer het insiggewend opgemerk: “Binne tien jaar sal Engeland nie meer Engeland wees nie”. Insgelyks praat immigrante na die Amerikaanse grensstate soos Kalifornië, Arizona, Niew-Mexiko en Texas, openlik van ’n reconquista (herowering) namate hulle probeer om die kultuur van hierdie state te verander om ooreen te stem met dié van hulle geboorteland, Mexiko. Sommige immigrante hoop selfs op ’n politieke herskikking. In Europa het geweld waarby immigrante betrokke is, alreeds eens rustige gemeenskappe ontwrig in Engeland, Frankryk en Holland – en sal sekerlik voortgaan solank beide immigrante en hulle gashere bedreigd voel. Alhoewel “veelvuldige kulturalisme” sigbaar besig is om te faal in hierdie lande, gaan misleide politici voort om hierdie selfvernietigende beleid te bevorder en hou hulle blind vir die vernietigende gevolge daarvan.

Vir dekades reeds, verkondig sekulêre wetenskaplikes in die Westerse wêreld dat godsdiens ontoepaslik is, dat mense “bevry” behoort te word van die boeie en beklemmende beperkings van Bybelse morele waardes. Sogenaamde “progressiewe” leermeesters handhaaf die mening dat seksuele genot deur enigeen, enige plek, enige tyd, nagestreef en geniet behoort te word met min of geen beperking nie. “Verligte” denkers wil die “huwelik” herdefinieer as enige ooreenkoms wat aanvaarbaar is vir die partye wat daarby betrokke wil wees.

Wat is die gevolge van sodanige “bevryding”? Die kommerwekkende statistieke van gebroke huise, dwelmmisbruik, jeugmisdaad, seksueel-oordraagbare siektes, jeug-selfmoord en armoede in enkelouer-huishoudings vertel die treurige verhaal. Eerder as om die gemeenskap te bevry, bevind ’n gemeenskap wat alle Bybelse beperkings oorboord gooi, dat dit sy eie stabiliteit ondermyn – nogtans gaan ontelbare Westerse leiers voort om hierdie gemeenskapsvernietigende idees aan te moedig. Tydens ’n tyd wat ons nasies baat sou kon vind by ’n terugkeer na Bybelse waardes, is die trefferlyste vol boeke geskryf deur aggressiewe ateïste wat met geloof in God en die Bybel die spot dryf.

Genadiglik is daar ’n handjievol bedagsame mense wat besef dat sekere morele waardes – wat toevallig ook die Bybelgebaseerde morele waardes is wat lank reeds aanvaar word deur diegene wat ware Bybelse godsdiens beoefen – ’n gesonde basis kan verskaf aan enige gemeenskap wat dit aanvaar. Die meerderheid egter, selfs in die sogenaamde “Christelike” nasies, verwerp daardie waardes – en verstaan nie dat God Self voorspel het dat hierdie verwerping sou plaasvind, net voor die einde van hierdie tydvak nie!

Antieke profetiese waarskuwings

Die God van die Bybel sê Hy kan die toekoms voorspel en dit dan laat gebeur (Jesaja 46:9-10). In tweeledige profesieë, wat aanvanklik deur antieke Israel vervul was maar uiteindelik vervul sal word deur die moderne afstammelinge van die twaalf antieke stamme van Israel, waarsku God: “... jou leiers verlei jou en bring jou van koers af” (Jesaja 3:12; 9:16 NV).

Aangaande Israel se leiers, sê God: “Dié wat oor my volk moet waak, is almal blind, hulle weet niks nie ... Hulle is herders sonder insig” (Jesaja 56:10-11 NV). Hierdie profesieë is gerig tot ’n siek en sondige nasie, waar “vreemdes ... julle landerye [verteer] in jul teenwoordigheid” (Jesaja 1:3-4, 7) – net soos dit vandag besig is om te gebeur. God het ook die Israeliete gewaarsku daar kom ’n tyd wanneer “... die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim; en jý sal laer en laer afsak. Hý sal aan jou leen, maar jý sal aan hom nie leen nie; hy sal die kop en jy die stert wees” (Deuteronomium 28:43-44) – net soos dit vandag besig is om te gebeur. God waarsku dat daar ’n tyd gaan kom wanneer die leiers van die Israelitiese nasies “sleg goed [sal] noem en goed sleg” (Jesaja 5:20), wanneer die profete valslik sal profeteer “en my volk wil dit graag so hê” (Jeremia 5:31).

Die Skrif beskryf ’n tyd wanneer die leiers sal praat van “Vrede, vrede! – terwyl daar geen vrede is nie” (Jeremia 6:14). Die wêreld se politieke leiers ken nie vandag die weg na vrede nie (Jesaja 59:8), omdat hulle nie kan insien en nie kan verstaan dat die Bybel die weg na vrede openbaar nie (Psalm 119:165).

God voorsien ’n tyd van moeilikhede en afnemende invloed vir die nakomelinge van antieke Israel, wanneer mense verblind sal wees vir die gevolge van hulle eie dade (Hosea 7:8-10). Hulle sal dwaasheid nastreef, betrokke raak in beleid wat teenstrydig met hulle eie nasionale belang is, omtrent soos Tuchman beskryf het. Maar hoekom is die moderne Israelitiese nasies – hulle leiers en hulle mense – verblind en nie in staat om hulle eie probleme in te sien nie?

Die oorsaak van blindheid

Die Skrif openbaar: “Die Here het oor julle [die Israelitiese nasies] uitgegiet ’n gees van diepe slaap, en Hy het julle oë – die profete – toegesluit en julle hoofde – die sieners – toegebind ... en die wysheid van hulle wyse manne sal vergaan, en die verstand van hulle verstandige mense sal wegskuil” (Jesaja 29:10, 14). Daar is ’n rede waarom God toelaat dat hierdie gees van blindheid oor die leiers en mense van die Israelitiese nasies kom: “Want hulle het nagelaat om die Here te vereer” (Hosea 4:10). “Omdat hulle my verbond oortree het en teen my wet gesondig het (Hosea 8:1). God kla: “Al sou Ek ook self vir hom ontelbare afskrifte van my wet gee, dit bly vir hom die wet van ’n onbekende ... Toe Israel sy Maker vergeet het” (Hosea 8:12-14 NV). Die apostel Paulus waarsku die Israeliete van sy dag: “God het hulle gegee ’n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie” omdat hulle weier om God en Sy woord te glo (Romeine 11:8). Paulus vermaan dat wanneer mense God en Sy weë verwerp, Hy hulle sal oorgee aan “’n slegte gesindheid” – ’n verstand wat nie reg kan dink nie en nie sy eie dwaling kan insien nie (Romeine 1:18-28). Regdeur die Bybel openbaar profesieë dat die moderne Israelitiese nasies ’n paar harde lesse sal moet leer, omdat hulle hulle oë vir God en Sy weë gesluit het. Maar selfs indien u nasie verblind bly, kan u as indiwidu u oë open en handel volgens die waarhede wat u besig is om te leer. Sal u dit doen