Die meeste van ons het seker al predikante so hoor praat. In die World Magazine van 29 April 1999 skryf outeur Andree Seu: “Ek ken 'n pastoor wat graag sê: 'Jesus kom vandag terug,' want, so verduidelik hy, watter dag Hy ookal kom, sal dit 'vandag' wees.”

Ja, al is baie mense afgesit deur die uiterste emosionalisme en datumstellings, sê u Bybel tog dat Jesus Christus binnekort sal terugkeer! Hy gaan hierdie wêreld met 'n “ysterstaf” regeer. Hy sal 'n letterlike regering op hierdie aarde instel met die Hoofkwartier in Jerusalem! Glo u dit?

Ek hoop so, want dit is wat u Bybel duidelik sê. Hoe moet u egter persoonlik gereedmaak vir Christus se wederkoms? Wat moet u doen? Wat moet u leer? Welke veranderings moet u in u lewe maak? Hierdie is fundamentele vrae wat alle ware Christene moet vra. Wat is die ware antwoorde? Eerstens moet ons, ons oriënteer: ons is definitief in die geprofeteerde “laaste dae” van die samelewing soos ons dit ken. In Mattheus 24:3 vra Jesus se dissipels Hom: “wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?”

 

'n REEKS gebeure

Jesus antwoord deur 'n hele reeks gebeure op te noem waarvoor uitgekyk moet word, naamlik valse profete, verskeie oorloë wat tot wêreldoorloë lei, hongersnood, siekte-epidemies, aardbewings, die “gruwel van die verwoesting” in die heiligdom en dan 'n waarlike Groot Verdrukking, erger as enigiets wat die wêreld nog ooit aanskou het. Dit alles kan aanleiding gee tot die uitwissing van die mensdom, mits God nie bo-natuurlik intree om dit te beëindig nie (verse 21-22). Baie van hierdie gebeure is sekerlik al aan die gang. Let ook op hierdie lewensbelangrike feit: tot en met die afgelope paar dekades was dit nog nooit vir die mensdom moontlik om homself totaal uit te wis nie, maar met die uitvinding van die atoom-bom, die waterstofbom en nou biologiese en biochemiese wapens, kan die mensdom waarlik alle lewe op hierdie planeet vernietig!

Daarbenewens is die feitlike afbreking van die ordentlike samelewing soos die apostel Paulus dit beskryf, definitief aan die gang. “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, onge-hoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat 'n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Timotheus 3:1-5).

Die geprofeteerde Europese “Diermag”, die laaste herlewing van die dominante Rooms- Katolieke Heilige Romeinse Ryk, is sekerlik besig om byeen te kom en die Verenigde State vir wêreldleierskap uit te daag. Lees Openbaring 17:6-14 noukeurig. Soos ons telkens vantevore verduidelik het, het die eerste ses konings wat hier voorspel word, reeds verskyn.

Die sewende koning, die gevreesde leier van die “Diermag”, sal binnekort verskyn. Hy leef moontlik vandag reeds êrens op aarde!

Hoewel die meeste nuusanaliste en politieke kenners òf nie verstaan nie òf weier om te erken wat aan die gang is, word daar 'n “godsdiensoorlog” geveg tussen die belydende Christendom en die meer as 'n biljoen volgelinge van Islam. Hulle voel dat die rykdom, mag en hedonistiese lewensstyl van die Westerse wêreld, ons beheer van die wêreldmedia en ons toenemende invloed op hulle volk, 'n bedreiging is vir alles waarin hulle glo en waarvoor hulle staan. Nou begin hulle terugslaan!

Die terreur van 11 September 2001 was net die begin van 'n voortslepende reeks aanvalle teen die Weste en ons ganse leefwyse. Hierdie stadig toenemende botsings tussen die magte van Islam en die Weste, berei definitief die weg voor vir die gebeure wat deur die profeet Daniël beskryf is. Hy beskryf die komende “Mahdi”, 'n godsdienspolitiese leier van 'n Arabiese Nasiebond, wat die komende Diermag in Europa aanval. “Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei. Hy sal ook kom in die Pragtige Land, en baie sal struikel; maar hierdie volke sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon. En hy sal sy hand uitsteek teen die lande; ook Egipteland sal nie vrykom nie” (Daniël 11:40- 42). Namate al hierdie gebeure uiteindelik duidelik sigbaar word, is dit duidelik dat ons waarlik naby die voleinding van hierdie tyd is!

Daniël se profesie onthul dat Christus werklik kort na hierdie laaste Midde-Oosterse oorlog, sal kom en die opstanding van die dode laat plaasvind en 'n ontsagwekkende beloning sal gee aan diegene wat ywerig in Sy Werk gedien het. “En in dié tyd sal Migael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal 'n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat 'n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan. En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik. En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos” (Daniel 12:1-3).

 

Wat staan U te doen?

Wat staan ons te doen, siende dat ons in werklikheid in die “laaste dae” is? By watter spesiale aktiwiteite moet ons betrokke wees? Na watter doelwitte moet ons streef?

Die Bybel waarsku ons teen selfgenot en 'n wêreldse lewens-styl, wat jammerlik selfs baie belydende Christene aangegryp het. Soos ons in 2 Timotheus 3 sien, verdoem God diegene wat “liefhebbers van hulleself” is en net selfgesentreerd is. Hy verdoem diegene wat hul lewens op geld en rykdom fokus, dus “geldgieriges”, en “meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” is.

Word u deur enige van hierdie eienskappe beskryf? Dan moedig ek u in Jesus se Naam aan: Bekeer u! Vra God om u te help om eerlik en opreg te verander en “... soek eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid ...” soos Jesus sê (Mattheus 6:33).

Jesus Christus waarsku diegene wat in die laaste tydvak leef: “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (Openbaring 3:15-16). Ons sien vandag miljoene Moslems wat vurig is vir hul godsdiens. Sommige veglustige Moslems het 'n misleide ywer om Amerika en die Weste aan te val, maar al is hulle niks anders nie, is hulle wél ywerig en kan geensins as “lou” beskryf word nie!

Tog is die oorgrote meerder-heid van belydende Christene, veral in Amerika, Kanada, Brittanje en Suid-Afrika, baie lou. Kerkbywoning in Brittanje en Kanada het baie afgeneem. Selfs die meeste algemene godsdiensskrywers en analiste in die V.S.A. erken openlik dat die meerderheid van kerk-gangers geestelik swak, Bybelongeletterd, beslis oppervlakkig en “lou” in hul godsdienstige verbintenis is.

Wat elkeen van u as lesers moet doen is om ywerig te soek na waar die volle Waarheid van die Bybel onderrig word en dan entoesiasties daarby betrokke te raak – om te leer en die egte Waarheid van God in u lewe toe te pas en dit aan die wêreld te verkondig! Jesus gee Sy ware volgelinge die opdrag: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen” (Mattheus 28:19-20).

Is u kerk of godsdiens verbind daartoe om “alles” te onderrig wat Jesus al Sy dissipels geleer het, of is dit betrokke by die lou praktyk om tradisie, moderne filosofieë en politiekery na te volg en 'n “sosiale klub” te stig, waar mense “gemaklik” kan voel sonder om gedaag te word deur die kragtige leringe van die Bybel?

Het u persoonlik die geloof en die moed om op die waarheid te reageer?

 

Neem toe in BEGRIP

Onthou die apostel Johannes se waarskuwing oor die menslike begeerte om aanvaar te word en by die samelewing rondom ons in te skakel: “Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie. Want hulle het die eer van die mense meer liefgehad as die eer van God” (Johannes 12: 42-43).

Dwarsdeur die Bybel sê God vir ons om Hom en Sy Waarheid te soek, soos Jesus sê: “soek eers die koninkryk van God ...” (Mattheus 6:33). Die geïn-spireerde apostel Paulus skryf: “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie” (Kolossense 3:1-2).

In Deuteronomium 4:29-30 beskryf God wat met die eindtydse afstammelinge van Israel sal gebeur wanneer hulle uiteindelik in die Groot Verdrukking gestraf word, in ballingskap weggevoer en werklik verneder word: “Dan sal julle daarvandaan die Here jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek. As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die Here jou God terugkeer en na sy stem luister.”

Vra uself die vraag af: “Sal dit die Groot Verdrukking verg om my wakker te ruk en met ywer na God en Sy ware leringe te laat soek?”

Ek hoop werklik nie so nie! Elkeen van ons moet leer om God met ywer, met ons hele hart te soek! Ons moet besef dat egte Bybelstudie en hartlike gebede vir begrip en krag, die hoofmetodes is om die ware God te soek. 'n Wonderlike hulpmiddel om u in hierdie geestelike soektog te help is ons Wêreld van Môre Bybelstudiekursus. Hierdie kursus sal u stap vir stap lei in 'n diepsinnige begrip van die Bybel, mits u die lesse werklik sal bestudeer (en nie net goedsmoeds deurlees nie!) en sal voortgaan met die kursus. U inskrywing in hierdie kursus is absoluut gratis op u versoek. Stuur slegs u versoek na ons adres naaste aan u, soos dit op bladsy 2 van hierdie tydskrif aangedui is.

 

Maak gereed vir u verantwoordelikheid onder Jesus Christus!

Ter aanvulling van ernstige studie, gebed en die bou aan 'n kragtige verhouding met die Jesus Christus van u Bybel, moet u dink oor die baie werklike verantwoordelikheid, wat binnekort aan elke ware heilige in Christus se Koninkryk, gegee sal word! Die apostel Paulus is geïnspireer om ons van hierdie komende verantwoordelikheid te vertel: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Korintiërs 6:2-3).

Die meeste belydende Christenkerke verstaan nie of laat dit absoluut na, om hierdie bepaalde opdrag aan hul lidmate oor te dra! Hulle praat eerder daarvan dat 'n mens “die hemel vol gaan sweef” met niks om te doen nie! Maar die lewende Jesus Christus sit nou aan die regterhand van God en maak gereed om terug te keer na hierdie aarde met die laaste basuin om alle nasies met 'n ysterstaf te regeer (Openbaring 19:15). Jesus sê “.aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met 'n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Openbaring 2: 26-27).

Die geïnspireerde “gebed van die heiliges” dui ook aan wat ware Christene oor 'n paar jaar gaan doen. “Toe sing hulle 'n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:9-10). Waarom het u nog nooit tevore geleer van hierdie ontsagwekkende doel vir u eie lewe nie? Waarom nie?

Die ware Christen se ontsagwekkende roeping tot heerskappy, om onder die leiding van die lewende Jesus Christus te dien, te help om hierdie wêreld se probleme uit te stryk, is die einste rede waarom ons dwarsdeur die Bybel vertel word om te “oorwin” en toe te “neem in die genade en kennis”. Deur 'n lewe van oorkoming, gehoorsaamheid en diens, demonstreer ons aan God dat ons werklik aan Hom oorgegee het en dat ons altyd op Sy Wil sal reageer! Indien redding slegs 'n kwessie van emosionele “aanneming” van Jesus was en van “hemel toe gaan”, met niks om te doen nie, sou dit nie nodig vir ons wees om deur beproewinge en toetse te gaan nie, ook nie vir die geestelike groei en oorwinning wat Jesus Christus van Sy volgelinge vereis nie! Indien ons dan opreg, maar “lou” was, sou dit geen verskil gemaak het nie!

Maar in der waarheid maak dit 'n groot verskil vir God en die ware Christus van die Bybel! Want ware Christene word nou geroep om hulself gereed te maak om Christus by te staan in 'n werklike regering – wat binnekort op hierdie aarde ingestel gaan word. God moet weet waar ons werklik staan en dat ons gehoorsaam sal wees aan Sy wette en Sy weë wat ons binnekort aan die hele wêreld sal moet leer!

Dit is waarom Jesus sê: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). Daarom waarsku Jesus: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mattheus 7:21-23).

In die bekende gelykenis van die “ponde” beskryf Jesus 'n koning (Jesus verwys duidelik na Homself), wat aan Sy diensknegte 'n sekere bedrag geld gee om mee handel te dryf en dan na 'n “ver land” (die hemel) reis. Met Sy terugkeer, beveel Hy hierdie mans om voor Hom te verskyn om vas te stel “... wat elkeen met handel verdien het” (Lukas 19: 15). Geestelik gesproke wou Hy vasstel hoeveel hulle “oorwin” het, hoeveel hulle andere gedien en help voorberei het vir die Koninkryk van God.

En wat was hul beloning? Om hemel toe te gaan? Nee!

Aan die man wat sy pond vertienvoudig het, is gesê: “Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (Lukas 19:17). Die man wat 'n vervyfvoudige opbrengs getoon het, is vertel: “En jy moet wees oor vyf stede” (vers 19).

 

Die WERKLIKHEID van Christus se komende regering

Die meeste hedendaagse godsdienskenners sal probeer om die werklikheid van ware Christene se komende verant-woordelikheid digterlik weg te praat, maar die geïnspireerde apostel Paulus se baie duidelike stelling – “Weet julle nie dat ons die wêreld sal oordeel nie?” – is moeilik om weg te “dig”, nes Jesus se ewe duidelike verklaring dat die ware heiliges die nasies met 'n “ysterstaf” sal regeer (Openbaring 2:26-27).

Dwarsdeur die Bybel word hierdie bepaalde verant-woordelikheid beklemtoon. In sy beskrywing van die tyd na Christus se wederkoms, skryf die profeet Daniël: “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is 'n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees” (Daniël 7:27).

Leer u persoonlik om die Bybel te bestudeer met dít in gedagte? Bestudeer u werklik God se wet, sodat u in staat sal wees om hierdie wet te kan toepas in die ware regering van God onder Jesus Christus? Onthou dat Koning Dawid van Israel weereens Koning oor al die nasies van Israel sal wees. Een rede daarvoor is sekerlik omdat Dawid God se wet liefgehad het; daardie selfde wet wat die einste basis gaan vorm in die regering van die wêreld van môre (Jesaja 2:2-3)! Koning Dawid het uitgeroep: “Hoe lief het ek U wet; dit is my bepeinsing die hele dag” (Psalm 119:97).

Bestudeer u die boek Spreuke vir wysheid, sodat u wyse besluite kan maak in die bestuur van die stede oor wie u geplaas mag word, in Christus se koninkryk wat binnekort kom?

Die apostel Paulus beskryf sommige van die eienskappe wat God deur Sy Heilige Gees verleen. “Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Timotheus 1:7). Ontwikkel u die geestelike krag deur Jesus Christus wat in u is om uself, die samelewing en Satan te oorwin? Neem u toe in geestelike liefde, in ware spontane besorgdheid vir die ganse mensdom? Neem u toe in ware wysheid en balans – die gees van selfbeheersing – sodat u nou én in Sy komende regering, 'n meer effektiewe dienskneg van Christus kan wees?

Christus se komende regering gaan baie werklik wees! Dit sal letterlik die regerings van mense dwarsoor die wêreld oorneem. “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15). Soos God voortgaan om presies volgens Sy plan in wêreldsake in te gryp, namate Hy die “volke skud” sodat hulle die konsep van 'n ware God begryp, moet ons in liefde en entoesiasme voorberei op Christus se wederkoms!

Ons moet nie in die een of ander swak, verwarde, “tradisievaste” kerk sit wat feitlik geen begrip het van profesie of die voortreflike doel vir die mensdom nie. Ons moet eerder God se ware Kerk opsoek en deel word daarvan. Daardie Kerk wat die Bybel verstaan en die “hele raad van God” verkondig (Handelinge 20:27), wat die Werk van God in hierdie eindtyd doen en waarvan die lidmate waarlik voorberei om konings en priesters te wees in die wêreld van môre, onder leiding van die lewende Jesus Christus.

Mag God u help om te verstaan en daarvolgens op te tree.