Is u bewus van die tekens van die tye, of is u onder die miljoene mense wat steeds aan die slaap is?

Is u bewus van die wêreld rondom u?


In die Ou-Testamentiese boek van Jona het God die teësinnige profeet beveel om ’n waarskuwing te gaan oordra aan die stad Nineve, wat ’n Assiriese vesting was. Assirië was tradisioneel ’n geswore vyand van Israel. Jona was dwaas en het probeer om sy plig te ontduik deur weg te hardloop van sy verantwoordelikheid. Om weg te kom, het hy plek op ’n skip in Joppe (hedendaagse Jaffa) bespreek en sou na Tarsis vaar, heel waarskynlik geleë in hedendaagse Spanje.

Op pad daarheen het ’n groot storm opgekom en gedreig om die skip uitmekaar te breek. Vreesbevange het die ervare seevaarders begin om die vrag oorboord te gooi en hulle gode aangeroep vir uitkoms. Jona was die hele tyd onder in die ruim en vas aan die slaap. Uit desperaatheid het die kaptein van die skip na onder gegaan, Jona gekonfronteer en hom aangespreek: “Wat makeer jou dat jy so vas slaap? Staan op, roep tot jou God! Miskien sal dié God aan ons dink, sodat ons nie vergaan nie” (Jona 1:6).

Jona het die erns van die situasie begryp en sy betrokkenheid daarby bely, waarna hy oorboord gegooi is in die woeste see. Sommige mense mag die spot dryf met dit wat daarna gebeur het, maar – in ’n baie spesiale wonderwerk – het die storm bedaar en God het Jona gered deur ’n groot vis te gebruik.

Die skeepskaptein se dringende oproep om wakker te word is ’n bekende tema in die Bybel. Baie mense gee eenvoudig net oor en “slaap” te midde van ooglopende gevaar of ’n dreigende ramp, eerder as om die wrede werklikheid van hulle situasie te trotseer.

Vandag woed ’n storm in ons samelewing namate die morele waardes en standaarde van gedrag aanhou daal. Die grense wat reg en verkeerd, aanvaarbaar en onaanvaarbaar bepaal, het vervaag. Dit wat eens beskou is as absurde of afwykende gedrag word nou selfs bevorder as ’n “burgerlike reg”. Nogtans is die meeste mense “aan die slaap”, skynbaar onbewus van die geestelike en fisiese gevolge.

Baie van die vernaamste Christelike denominasies sien af van eeue se tradisies en die duidelike opdragte van die Skrif (Levitikus 18:22; Romeine 1:27) en selfs openlik praktiserende homoseksueles word in hulle bediening ingeseën. Toenemende getalle kinders word buite die huwelik gebore. Dwelmmisbruik kom wydverspreid voor en word dikwels selfs gewettig. Maklike toegang tot aborsie het die moderne samelewing in so ’n mate verander dat ons groot-grootouers uiters geskok en beledig sou gevoel het.

Dit lyk tog of baie mense onbewus is daarvan en voortgaan met hulle daaglikse lewens sonder die inagneming van die geestelike implikasie van hierdie toestande. Hoe behoort ons te reageer? Die Bybel gee ’n duidelike en oortuigende opdrag. Die apostel Paulus skryf in sy brief aan die Christene in Korinthe: “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes. Wees nugter op die regte manier, en sondig nie; want sommige het geen kennis van God nie. Ek sê dit tot julle beskaming” (1 Korinthiërs 15:33-34). Die boodskap is duidelik: Diegene wat God wil behaag sal nie sluimer nie, maar hulle sal besig wees om aktief voor te berei vir die wederkoms van die Messias, in krag en heerlikheid.

Die boodskap van die Bybel is tyd-sensitief, met ’n gevoel van dringendheid. “En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het” (Romeine 13:11). Namate ons nasie en die wêreld oorhel na wetteloosheid met al die gevolglike probleme, sal dit nodig word om geestelik wakker en ywerig te wees, om die lewensweg wat in die Bybel aangedui word na te streef en om sodoende persoonlike rampspoed te voorkom.

Hierdie bekende tema klink weer op in 1 Thessalonicense 5:5-6: “Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie. Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees”.

Wanneer u deur die stormagtige dae wat voorlê getrotseer word, onthou die kaptein se woorde aan Jona: “Wat makeer jou dat jy so vas slaap? Staan op, roep tot jou God ...!”