Is daar ’n goeie rede waarom 25 Desember as die geboortedatum van Jesus Christus verwerp word?

Vraag: Dui die Bybel die datum of selfs die seisoen van Christus se geboorte aan?

Antwoord: Een sleutel tot die akkurate bepaling van wanneer Jesus Christus se geboorte is word vervat in ’n Bybelse stelling aangaande Sagaria, die vader van Johannes die Doper. In Lukas word aan ons vertel dat Johannes se vader “van die afdeling [diensgroep] van Abía” was (Lukas 1:5). Hierdie kort vermelding is van groot belang.

Ons leer uit Lukas dat Maria, die moeder van Jesus, haar niggie Elizabeth besoek het net nadat sy met Jesus swanger geraak het. Op daardie stadium was Elizabeth ses maande swanger (verse 36-41). Johannes die Doper was dus ongeveer ses maande ouer as Jesus. Indien ons dus kan bepaal wanneer Johannes gebore is, is dit maklik om die geskatte datum van Christus se geboorte uit te werk. Dit is waarom “die afdeling [diensgroep] van Abía” belangrik is.

Ongeveer 1,000 jaar vroeër, in die dae van koning Dawid, het die aantal priesters in Israel aansienlik toegeneem. Dawid het hulle dus in 24 “diensgroepe” verdeel om hulle diens in die tempel te roteer (1 Kronieke 24, vgl. 23:6, 28:13). Die Joodse historikus Flavius Josephus skryf in die eerste eeu n.C. dat die bogenoemde verdeling gebly het “tot vandag toe” (Antiquities of the Jews, boek 7, hoofstuk 14, afdeling 7).

Joodse geskiedkundige rekords toon aan dat al die tempelpriesters in Jerusalem diens gedoen het gedurende die drie jaarlikse feesseisoene – Pasga, Pinkster en die Huttefees (Levitikus 23; Deuteronomium 16). Deur die res van die jaar het hulle egter beurte gemaak met elke diensgroep wat vir ’n week lank op ’n roterende basis diens verrig het. Hulle rotasie het op die eerste Sabbatdag van Nisan (of Abib) – die eerste maand in die Hebreeuse kalender – begin, met elke diensgroep wat een week lank van Sabbat tot Sabbat diens gedoen het.

Omdat al die diensgroepe gedurende die week van die Pasga gedien het, beteken dit dat die diensgroep van Abía – agtste in rotasie (vgl. 1 Kronieke 24:10) – aan die begin van die negende week aan diens sou kom. Wanneer hierdie rotasie verby was, sou die week van Pinkster begin het – dus sou die diensgroep van Abía ook gebly het vir die tiende week. In Lukas 1 word ons meegedeel dat Johannes verwek is direk nadat sy vader teruggekeer het huistoe na sy diens in die tempel (verse 23-24). Dit was tydens die laaste helfte van Sivan, die derde maand van die Joodse kalender. Derhalwe sou sy geboorte nege maande of so later gewees het, in die lente van die volgende jaar. Aangesien Jesus naastenby ses maande na Johannes gebore is, sou Sy geboorte dus gedurende die daaropvolgende herfs gewees het.

So ’n gevolgtrekking word bevestig deur twee ander verduidelikings wat Lukas aan ons gee oor die gebeure rondom Christus se geboorte. Lukas beskryf dat die herders in die oop veld was, besig om in die nag wag te hou oor hulle skape (Lukas 2:8). Kort ná die herfsoes en die Huttefees in Oktober, het Judea se reënseisoen begin. Teen November – wanneer die weer begin kouer word – sou mense begin het om die troppe vee in te bring vir die winter. Teen Desember sou hulle nie meer in die veld gewees het sodat die herders snags oor hulle moes waghou nie.

Nog ’n verduideliking wat Lukas gee, is dat Josef en Maria na Bethlehem gegaan het ten tye van ’n sensus inskrywing vir belasting (Lukas 2:1-4). Normaalweg sou sulke inskrywings gereël word vir direk na die oes – wat weereens sou ooreenkom met ’n datum in die herfs. Dit bewys dat, in teenstelling met moderne godsdienstige idees, Jesus Christus nie in die winter gebore is nie, maar gedurende die herfs, selfs al is die presiese dag nie bekend nie.

Hoewel dit nuttig mag wees om te weet in watter seisoen Christus gebore is, vind ons nêrens dat vroeë Christene enige waarde geheg het aan verjaarsdae nie, hetsy van Christus of van enige iemand anders. Selfs so laat as 245 n.C. het die bekende geleerde Origen “die blote idee van die viering van Christus se geboortedag as sondig verwerp” (Encyclopaedia Britannica, 11de uitgawe). Dit is ook belangrik om daarop te let dat Jesus Christus nie die herdenking van Sy geboortedag aangeteken het of enige verwysing daarna op enige manier gemaak het nie. Nie een van die Apostels het eers verwys na Christus se geboortedatum of na hulle eie nie.