Die jong Melody se versorgers was versot op haar. Hulle het haar beskou as iets spesiaals wat hulle hoop vir hulle toekoms sou gee toe sy in Augustus 1996 gebore is. Daardie hoop is egter verydel voor haar derde verjaardag.

Melody was gesien as ’n baie spesiale jong kalf en bekend as ’n “rooi vers” wat onder ’n kudde melkkoeie in Israel se laagte van Jísreël ontdek is. Die Joodse rituele wette wat bestaande kennis oorgedra het uit die Ou Testament word toegepas met vereistes wat deur Joodse geleerdes oor die eeue heen gevestig is. Dit verklaar dat totdat ’n drie jaar oue rooi vers geoffer kan word en die as daarvan versamel word, dit nie moontlik sal wees om diere-offers in Jerusalem te hervat nie. Sommige Ortodokse Jode hoop om dit te doen – volgens die Bybel voordat Jesus Christus terugkeer. By geboorte het Melody gelyk of sy aan die rabbi’s se vereistes voldoen, maar voordat sy oud genoeg was om geoffer te word, het sy te veel swart of wit hare ontwikkel om aanvaarbaar te wees.

Meer as ’n kwart eeu later, het vyf verskalwers, wat in Texas gebore is, die potensiaal gehad om te kwalifiseer om as ’n rooi vers geoffer te word. Hulle is per skip in September 2022 na Israel vervoer en onder streng sekuriteit in Silo aangehou. Hulle het min aandag in die wêreldse media getrek maar nogtans het ’n Hamas-woordvoerder in Februarie 2024 beweer dat die teenwoordigheid van ’n rooi vers ’n faktor was in Hamas se brutale aanslag teen Israel op 7 Oktober 2023.

Ons nader die derde herdenking van daardie Hamas-gruweldaad, waarvan die gevolge steeds in Gaza woed. Ons behoort die besorgdheid oor die rooi vers te ondersoek. Waarom stel ’n deel van Israel se bevolking soveel belang daarin en waarom is dele van die Islamitiese wêreld so gretig om daarteen op te tree? Evangeliese Christene stel ook intens belang in die saak.

Besonderhede oor die rooi vers, die kwalifikasie daarvan en die vereistes vir die offer daarvan word in Númeri 19 uiteengesit. Rabbi’s het ander vereistes bygevoeg, met inbegrip van die ouderdom van die dier wanneer dit geoffer kan word en die aantal anderskleurige hare wat op die dier gevind kan word. Die vers behoort ten minste twee jaar oud te wees om gereed te wees vir offerande. Teen September 2024 sou een van daardie diere wat uit Texas ingevoer is moontlik beskikbaar gewees het vir offerande, mits daar aan alle ander vereistes voldoen kon word. Die afwagting styg dus onder belangstellendes.

 

Die belangrikheid van die offer

In die Januarie-Februarie-uitgawe van hierdie tydskrif is ’n artikel gepubliseer wat geskryf is deur ons Hoofredakteur, Gerald Weston, met die titel “Drie profesieë wat u lewe sal verander”. Die tweede van daardie profesieë was die begin van daaglikse offers in Jerusalem. Daardie offers sal nie begin voordat ’n rooi vers geoffer is nie.

Hierdie offer van die rooi vers of offerande, is ’n noodsaaklike deel van die rituele voorbereiding om ’n potensiële nuwe Joodse priesterdom en hulle gereedskap vir die uitvoering van daaglikse offers te reinig. Dit is belangrik om daarop te let dat die Skrif bepaal dat hierdie vers buite die laer geoffer moet word, nie in die Tabernakel of Tempel se binnehof nie. Die offer moet gedoen word op die plek waar die karkasse van sondoffers van die Versoendag se offers verbrand moet word (Númeri 19:3-4; Levítikus 16:27-29). Terwyl die Tempel in Jerusalem in gebruik was, sou enige offer van ’n rooi vers op die Olyfberg plaasgevind het, ’n plek vanwaar die hoëpriester wat die offerande waargeneem het, die Tempel duidelik sou kon sien. Die Skrif praat van die verband tussen hierdie plek en die dood van Jesus Christus (Hebreërs 13:11-14). Daar word gesê dat ’n groep bekend as die Temple Institute, probeer om die offer van ’n rooi vers op die regte tyd voor te berei, grond besit op die Olyfberg wat vir sulke doeleindes gebruik kan word, maar dit het ook ander opsies. ’n Rooi vers kon by Silo geoffer word, eerder as op die Olyfberg, om die geleentheid “onopsigtelik” en weg van media-aandag te hou. Ten spyte hiervan sal Moslems in die streek ’n offer op enige plek as ’n uitdaging beskou.

Wat is die doel daarvan? Die offer lei tot as wat, wanneer dit met water gemeng word, vir reiniging gebruik kan word. Die boek Hebreërs spreek die seremoniële betekenis van die as van ’n vers aan en sê dat “die bloed van stiere en bokke en die as van ’n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees” (Hebreërs 9:13). Diegene wat in die Tempel of Tabernakel gedien het, moes seremonieel gereinig word deur “reinigingswater” – water gemeng met die as van ’n vers (Númeri 8:5-12; 19:9).

Gewone Israeliete is ook deur hierdie as gereinig voordat hulle die Tabernakel of Tempel binnegegaan het. Ons vind dat hierdie reiniging plaasgevind het toe die Jode die Pasga in Jerusalem gehou het nadat hulle uit ballingskap teruggekeer het (Esra 6:20) en dit verskyn ook in die verslae van die Evangelie, wat mense beskryf wat vroeg na Jerusalem kom om gereinig te word voordat hulle die Pasga hou (Johannes 11:55). Die reinheid van Sy volk is vir God van groot belang.

Die offer van die rooi vers is egter slegs die begin. Die Tempel-instituut skat dat daar 13 belangrike stappe nodig is om voor te berei vir die begin van daaglikse offers in Jerusalem. Een van hierdie stappe is om die Israeliese regering se goedkeuring te bekom. Die huidige regering blyk tans nie gretig daarvoor nie, maar die moontlikheid vir ’n verandering in die benadering bestaan wel.

Wat meer is, die offer van die rooi vers beteken nie dat daaglikse offers onmiddellik daarna sal begin nie – selfs al kon hulle. Die as kan oor ’n lang tydperk geberg en gebruik word, met een vers wat moontlik genoeg as kan verskaf om hierdie doel vir dekades lank te dien. Sodra ’n rooi vers egter geoffer is, sou die Tempel-instituut die middele hê om al die toebehore en gereedskap wat vir ’n nuwe altaar en tempel voorberei is, te reinig, sowel as ’n middel om die priesterskap en Levitiese helpers te reinig wat nodig is om die tempel en offerstelsel te bedryf.

 

Die tyd kom

Die profeet Daniël vertel aan ons van ’n tyd wanneer offerandes heringestel sal word en dan met geweld gestaak sal word deur ’n leër wat Jerusalem binneval (Daniël 8:11-12). ’n ontsettende “gruwel van die verwoesting” sal net ’n paar jaar vóór die Messías se Wederkoms opgerig word (Daniël 12:9-13). Dit was klaarblyklik die Skrifgedeeltes wat die siening van die Middeleeuse Joodse geleerde Maimonides gevorm het, toe hy beweer het dat die finale rooi vers voorberei sou word ten tye van die Messías se Wederkoms. Jesus Christus het Daniël se profesie gebruik as ’n merker vir ’n tyd van toekomstige teëspoed – met ’n omvang tot nog toe onbekend aan die wêreld (Matthéüs 24:15-21). Die konteks is weereens die tyd van Jesus se Wederkoms, hierdie keer as die Koning van konings en Here van die here – die Messías – wat hierdie wêreld sal verander.

Daar is potensiële rooi verse wat meer as twee jaar oud is, nogtans bestudeer rabbi’s steeds hulle geskiktheid vir gebruik as ’n offer van die rooi vers. Ons weet egter dat een van hierdie dae, wanneer God besluit dat die tyd reg is, ’n rooi vers geoffer sal word om Daniël se geïnspireerde profesieë te vervul en dit sal die era van die Messías se Wederkoms inlui.

Vir meer insigte oor gebeure wat binnekort in Israel en die Midde-Ooste gaan plaasvind, bied ons ons gratis boekie Die Midde-Ooste in Profesie aan. U kan ’n gratis gedrukte eksemplaar aanlyn of by die naaste streekkantoor aanvra (lys op bladsy 2 van hierdie tydskrif) of u kan dit aanlyn lees by wvm.co.za.