Verstaan u die ontnugterende betekenis van die gebeure wat nuushooftrekke vandag maak? Ongelukkig het die moderne sekulêre media geen benul van die ware betekenis van die gebeure waaroor hulle verslag lewer nie, omdat ons samelewing so gekondisioneer is om die enigste bron wat die toekoms akkuraat openbaar – die Bybel – te geïgnoreer! Indien u  het om te sien, kan u tot die besef kom dat ons wêreld ’n belangrike keerpunt in die geskiedenis van die menslike beskawing nader – ’n tyd wat Bybelprofesie “die einde van die tyd” noem, wat die voorloper van die wederkoms van Jesus Christus na die aarde is. Antieke Bybelse profesieë wat lankal reeds hierdie klimaktiese tydperk voorspel het, is besig om vandag gestalte aan te neem!

Antieke Bybelprofesieë

Voordat Hy na die hemel opgevaar het, het Jesus Sy dissipels belowe: “Ek [kom] weer” (Johannes 14:3). Talle profesieë in die Ou Testament (Daniël 2:44-45; Sagaria 14:4, 9) en ander uitsprake van Jesus (Mattheüs 24:30; Markus 13:26; Lukas 21:27) voorspel duidelik Sy wederkoms. Hy is deur Sy dissipels gevra: “... wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” (Mattheüs 24:3), toe noem Jesus ’n reeks gebeure wat die naderende einde van die tydperk sal kenmerk en aandui dat Sy wederkoms naby is.

Die profetiese gebeure wat Jesus sê Sy wederkoms vooraf sal gaan, en kenmerkend sal wees van die naderende einde van hierdie tydperk, soos beskrywe in Mattheüs 24, Markus 13 en Lukas 21, sluit wydverspreide godsdienstige misleiding in en die opkoms van militante vorms van godsdiens, oorloë en gerugte van oorloë, wat gekenmerk sal word deur etniese twis en internasionale konflikte, droogtes, hongersnood, brande, oorstromings, aardbewings en soortgelyke rampe, asook wydverspreide siekte-epidemies.

Die Skrif noem die tyd wanneer hierdie rampspoedige gebeure sal toeneem in frekwensie en felheid “’n begin van die smarte” – ’n tyd soos geen ander in die menslike geskiedenis opgeteken nie (Mattheüs 24:8, 21). Hierdie rampspoedige gebeure sal lei tot wydverspreide lyding en dood – ’n kwart van die wêreld se bevolking sal direk geraak word (Openbaring 6:8). Die enigste rede waarom mense nie daarin sal slaag om hulself en alle lewe op die planeet te vernietig nie, sal die wederkoms van Jesus Christus wees. (Mattheüs 24:21-22).

Huidige gebeurtenisse

Baie wêreldlike kritici dryf die spot met profesieë en noem die Bybel ’n boek van fabels. Selfs baie teoloë sinspeel dat Bybelse profesieë slegs geestelike konsepte is wat nie na werklike gebeure verwys nie. Sulke denke beteken om mens blind te hou vir die werklikheid! Vandag leef ons in ’n wêreld wat gekenmerk word deur wydverspreide godsdienstige misleiding. Honderde sektes en denominasies gee voor om “Christelik” te wees, ten spyte van die verskillende en selfs teenstrydige idees wat hul verkondig. Baie belydende “Christene” vier vakansiedae soos Kersfees en Paasfees, wat duidelik van heidense oorsprong is en wat Jesus en die Apostels nooit gevier het nie en wat die Bybelveroordeel (Deuteronomium 12:29-31; Jeremia 10:2). Baie mense wat hulself “Christene” noem, glo dat hulle siele hemel toe sal gaan wanneer hulle sterf, en daar sal wag om met hul liggame herenig te word. Tog sê die Bybel dat, behalwe vir Jesus, “niemand ... opgevaar [het] in die hemel nie” – nie eens Koning Dawid van ouds nie (Johannes 3:13; Handelinge 2:29-34).

Sekulariste het lank reeds voorspel dat, namate die samelewing meer modern en wetenskaplik raak, godsdiens sy aantrekkingskrag sal verloor. Lidmaatskap in die “hoofstroom Christelike” denominasies het inderdaad skerp afgeneem gedurende die afgelope jare. Nogtans sien die afgelope paar dekades ’n herlewing van sekere vorms van godsdiens op ’n wêreldwye skaal. Moontlik die belangrikste van almal is veral die opkoms van militante Islam, wat nuwe gevare van intergodsdienstige konflik meebring.

Internasionale organisasies is gestig om wêreldvrede te bevorder. Die Volkerebond het gefaal in hierdie taak, en die Verenigde Nasies doen nie veel beter nie. Die mensdom se beste pogings het gefaal om te verhoed dat die 20ste eeu die bloedigste in die menslike geskiedenis is. Waarnemers wonder nou wat die volgende groot wêreldoorlog sal uitlok. Sal woelinge in die Arabiese wêreld militante Islamitiese groepe in beheer plaas en nog ’n oorlog in die Midde-Ooste ontketen, wat nasies buite die streek in die konflik kan insleep? Sal die finansiële probleme van die Europese nasies ’n “ekonomiese tsunami” genereer wat die politieke kaart van Europa kan herrangskik en gewapende konflik na ’n verwoeste wêreldwye finansiële stelsel bring, wat die gebeure van die 1930’s wat gevolg het na die Groot Depressie, weerspieël? Sal etniese twis in Afrika, die Balkans en die Asiatiese subkontinent nasies in gevaarlike aggressie intrek?

Al hierdie dinge is geen verrassing vir diegene wat sien dat vandag se wêreldtoestande duidelik eindtydse profesieë van Jesus vervul. Die kulturele verskuiwings van die moderne “eie-ek generasie” sal ook dien as voeding vir die gesindhede wat geprofeteerde eindtydse konflik sal aanvuur. Soos die apostel Paulus skryf: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig ... kwaadsprekers ... wreed, sonder liefde vir die goeie ... meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God”; (2 Timótheüs 3:1-4) – wat ons moderne tyd akkuraat beskryf!

As deel van die eindtydse scenario, beskryf Jesus droogtes, hongersnood, brande, oorstromings, aardbewings en ander rampe op ’n wêreldwye skaal – insidente wat ons gereeld gesien het gedurende die afgelope jare. Hierdie waarskuwings word weerspieël in die tsunami’s wat kusgebiede verwoes het rondom die Indiese Oseaan en ’n stad en kernkragsentrale in Japan vernietig het, vulkaniese uitbarstings in Indonesië, rekord-gevalle van droogtes en oorstromings in Australië, Suid-Afrika en die Amerikaanse suidweste, dodelike aardbewings in Turkye en China, verwoestende orkane en tornado’s in Missouri en ander dele van die wêreld, verwoestende brande in Australië en Texas – en die lys gaan aan en aan. Baie van hierdie rampe is na wat berig word, die ergste in ’n eeu of die ergste volgens rekord! Kern-wetenskaplikes in Amerika het onlangs weer hul simboliese Oordeelsdag Horlosie nader aan middernag geskuif, terwyl andere waarsku: “Die wêreld is gedoem tot ’n warmer klimaat, meer ongure weersomstandighede, droogtes, hongersnood, waterskaarste, stygende seevlakke, verlies van eilande se nasies en toenemende versuring van die oseane”. Hulle onheilspellende voorspellings pas in by profesieë oor die lank-voorspelde “voleinding van die wêreld”, soos in die Bybel opgeteken.

Christus het ook gewaarsku aangaande die toenemende bedreiging van dodelike siektes. HIV-VIGS tas inderdaad miljoene mans, vroue en kinders regoor die wêreld aan. Ons sien ook die opkoms van medikasie-weerstandige vorms van aansteeklike siektes soos malaria, cholera en tuberkulose. Voeg hierby die groeiende plaag van kanker, hartsiektes, suikersiekte en ander “siektes van die beskawing”, asook die toenemende verslawing aan alkohol en dwelms. Daarbenewens ook oorvol, onhigiëniese stedelike lewensomstandighede. Internasionale straler-vlugte het die draers vir die verspreiding van siekte-kieme binne ure regoor die wêreld geword – ’n meganisme is voorsien vir epidemies op ’n skaal soos beskryf in die Skrif se profesieë oor die eindtyd!

God, wat die Bybel geïnspireer en bewaar het, sê aan ons dat Hy alleen die toekoms kan voorspel en dit tot stand bring (Jesaja 46:8-10). Dieselfde God het Sy dienaars beveel om Bybelprofesieë te verduidelik en die ontnugterende betekenis van gebeure wat vandag nuus maak, te onthul (Amos 3:7; 2 Petrus 1:19-20). Jesus waarsku dat die wêreld oor die algemeen onbewus sal wees van die ware betekenis van eindtydse gebeure, maar Hy beveel Sy dissipels: “So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. ... Maar pas op vir julleself ... Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:31-36). Eindtydse gebeure is besig om gestalte aan te neem soos nog nooit tevore nie. Om meer te leer oor hierdie lewensbelangrike onderwerp, vra gerus u gratis eksemplaar aan van ons boekie, Veertien Tekens wat Christus se Wederkoms Aankondig. U kan dit op die Internet bestel bywvm.co.za, of ’n kopie aanvra van die streekskantoor die naaste aan u (soos gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif).