Ons leef in ’n tydperk waar die besigtiging van die heelal moontlik is deur baie meer as ’n inspirerende blik in die donker, nagtelike hemel. Hulpmiddels soos die Hubble Ruimte Teleskoop het beelde van wêrelde, sterrestelsels en nebulae aan ons aardgebonde oë gebring – ontsagwekkende inspirerende vergesigte wat ons daaraan herinner dat die heelal wat ons Vader geskape het, werklik ’n eindelose uitgestrektheid van verskeidenheid en wonders is!

Natuurkundiges en kosmoloë beweer nogtans al hoe meer dat, buiten ons vermoë om waar te neem, daar eintlik veelvoudige kosmosse of heelalle bykomend tot ons eie is. Sommige van hierdie teorieë is meer wetenskapfiksie as wetenskap, met ’n oneindige verskeidenheid van heelalle waarin elke denkbare moontlikheid voorkom. In sulke teorieë is daar ’n heelal waarin ’n mens ’n Olimpiese atleet is en ’n ander een waarin ’n mens ’n berugte massamoordenaar is! Klink dit absurd? Moontlik, maar sommige ander veelvoudige heelal-teorieë is ten minste gegrond op die geloofwaardige wetenskap.

Wanneer ’n mens dit so sien, is ons groot heelal maar net nog een van ’n groter versameling verskillende wêrelde, wat gewoonlik die veelal genoem word. Wat behoort ons dus te dink van hierdie soort aansprake oor die skepping? Is daar goeie rede om te glo ons lewe in ’n veelal? Waarom propageer so baie wetenskaplikes dan deesdae die idee so driftig?

’n “Astronomiese” teorie

Afgesien van wetenskapfiksie is een van die wetenskap se groot doelwitte om ’n teorie te ontdek wat die ganse heelal in een eenvoudige stel vergelykings kan beskryf. Die vergelykings van die “string-teorie” is ’n gewilde moontlikheid, maar daar is een groot haakplek. In plaas daarvan om net een oplossing te bied, het die vergelykings 10500 oplossings, ’n getal so groot dat om dit te skryf dit ’n “1” sou wees, gevolg deur 500 nulle!

Aanvanklik is dit as ’n groot fout in die “string-teorie” gesien, maar later het natuurkundiges begin voorstel dat ons dalk die groot aantal moontlike oplossings behoort te sien as ’n aanduiding dat daar so baie verskillende heelalle bestaan – waarvan elke oplossing ’n ander heelal verteenwoordig, met verskillende wette van fisika.

Hierdie voorstel, hoewel gewild by baie natuurkundiges, is nietemin meer wensdenkery en fantasie as werklike wetenskap. Terwyl hy die implikasies daarvan in ’n radio-onderhoud gedurende 2010 bespreek het, sê die wêreldbekende natuurkundige, dr. Roger Penrose, dat die string-teorie en die veronderstelde 10500 heelalle “nie eers ’n teorie is nie. Dit is ’n versameling van idees, verwagtings, aspirasies ... [Die idees] het absoluut geen ondersteuning van waarneming nie ... Dit is nouliks wetenskaplik” (Unbelievable, “Stephen Hawking, God & the Universe”, 25 September 2010).

Eenvoudig gestel, die menigte veronderstelde heelalle van die “string-teorie” het geen ondersteuning van getuienis of data nie. ’n Baie meer belowende aanduiding van veelvuldige heelalle lê in ’n konsep wat soms die “Ewige Inflasie” genoem word.

Nadat wetenskaplikes ontdek het dat ons groeiende heelal tydens ’n kosmiese “Oerknal” ontstaan het – ’n begin wat duidelik ’n Skepper impliseer, het hulle agtergekom dat hulle behoort aan te neem dat ’n kort, maar intense tydperk van hiperinflasie nodig was, toe die heelal teen ’n ondenkbare spoed gegroei het. Terwyl hierdie “Inflasie”-konsep ’n paar probleme oplos, laat dit ook die moontlikheid ontstaan dat, eerder as ’n eenmalige gebeurtenis, dit ’n voortdurende proses mag wees, waartydens nie slegsons heelal uit die Oerknal “ontstaan” het nie, maar waar ander bykomende heelalle dieselfde ding kon gedoen het en dalk nog steeds doen. Soos een van die baie seepborrels wat deur ’n opgewonde kind wat op ’n somersdag speel, geblaas word, kan ons heelal eenvoudig maar net een “borrel” tussen baie wees!

Fisici en sterrekundiges het afmetings van die diep ruimte ondersoek om te bepaal of daar enige van hierdie hipotetiese heelalle na aan ons eie bestaan. Tot dusver het hulle egter nog niks gevind nie (“Blow for ‘dark flow’ in Planck’s new view of the cosmos”, New Scientist 6 April 2013).

In die lied van veelvuldige heelalle lyk dit of elke vers ’n herhaling van die eerste is: Geen bewyse, geen data – niks nie, behalwe veronderstellings en spekulasie. Dus, met min werklike wetenskap om baie wetenskaplikes se godsdienstige aanhang van die idee van ’n veelvuldige heelal te regverdig, waaom is so baie van hulle verknog aan ’n veelal?

Wetenskaplike erkennings

Die antwoord kan in die titel van ’n artikel in ’n Discover tydskrif van 2008 gesien word: “Wetenskap se alternatief vir ’n intelligente Skepper: Die Veelal-teorie”.

 Wetenskaplikes is lankal bewus daarvan dat hulle nie maklik kan verduidelik waarom ons heelal so fyn ingestel is vir lewe om voort te bestaan nie. Soos Tim Folger in die artikel skryf: “Trek die wette van fisika in enige rigting en ... lewe soos ons dit ken, sou nie bestaan het nie ... Op ’n vreemde manier lyk dit of ons nie aangepas is by die heelal nie; die heelal is vir ons aangepas”.

So ’n feit – dat dit lyk of die heelal net vir ons ontwerp is – impliseer dat daar net twee opsies is, waarvan daar een is wat baie wetenskaplikes eenvoudig nie wil hê nie! Soos New Scientist verduidelik: “[D]ie vernaamste rede waarom geglo word in ’n samestelling van heelalle, is omdat dit moontlik kan verduidelik waarom die wette wat ons heelal beheer lyk of hulle vir ons bestaan so fyn ingestel is ... Die fyn instelling het twee moontlike verklarings: Óf die Heelal is spesifiek deur ’n Skepper vir ons ontwerp of daar is ’n menigte van heelalle – ’n ‘veelal’” (“Anything Goes”, 6 Junie 1998).

Dít is die finale “aantrekkingskrag” van die veelal! Vir baie mense word die idee van ’n veelal nie gedryf deur data of wetenskaplike bevindings nie, maar eerder deur ’n begeerte om die ooglopende implikasie dat die heelal ’n Ontwerper het, te omseil.

Die saak word bondig, maar eerlik deur kosmoloog Bernard Carr in die Discover-tydskrif opgesom: “Indien u God nie wil hê nie, moet u liewer ’n veelal hê”. Maak geen fout nie, vir baie wetenskaplikes wat die idee van ’n veelal aanvaar, gaan dit veel meer oor godsdiens as oor die werklike wetenskap.

Die heelal en buite die grense van die bekende: Ons bestemming?

Diegene wat in die Bybel glo het natuurlik geen probleem met die idee van ’n heelal wat fyn ingestel is net vir ons nie: “Want so sê die Here, wat die hemele geskape het – Hy is God! – wat die aarde geformeer en dit gemaak het – Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word” (Jesaja 45:18).

Kan die “hemele” egter onsigbare gebiede van die skepping buite die grense van die bekende heelal insluit? Wat daarvan as bewyse ooit gevind word van die bestaan van talle bykomende heelalle? God die Almagtige sê aan ons dat die mensdom se uiteindelike bestemming nie net is om die wêreld, sonnestelsel of sterrestelsel te beërf nie, dit is om alle dinge te beërf (Openbaring 21:7), met inbegrip van die dinge wat ons nog nie kan sien nie!

Hetsy ons toekomstige erfenis die een, pragtige heelal is wat ons rondom ons kan sien, of ’n ontsaglike leërskare van heelalle wat tans buite ons vermoë om te sien is, die beloftes van die Skepper God wat alle dinge geskape het staan seker en vas. “U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape” (Openbaring 4:11).