Is daar enige hoop vir vrede in ons wêreld wat moeg is van oorlog?
Sal daar ooit vrede wees in ’n wêreld waar geweld die norm is?


Die hoofberigte skree die slagting uit wat in Sirië ontvou, met bewerings dat gifgas deur die Bashar al-Assad bewind gebruik word. Terwyl die Verenigde Nasies niksseggende verklarings uitreik en die groot moondhede leë dreigemente van ingryping maak, sterf mense aan beide kante van die konflik in toenemende getalle.

In die Irakese hoofstad Bagdad, ontplof motorbomme soos wat Sunni en Sjiïtiese faksies mekaar verskeur in ’n uitgerekte magstryd. Selfs al is die oorlog “verby” en het die troepe van Amerika en die koalisie wat Saddam Hussein onttroon het onttrek, is daar nog steeds nie vrede nie.

Intussen gaan die Taliban voort om chaos in Afghanistan te saai waar ’n korrupte regering vasklou aan die mag, terwyl die Verenigde State met ’n gekerm begin onttrek aan die einde van sy langste oorlog. Moskees word gebombardeer en mense wat saamkom om te aanbid, word dood of vermink agtergelaat. Jong meisies en vroue word verdruk en mishandel namate Sharia [Islamitiese] wet ingestel word.

In Gaza word Palestynse vuurpyle gereeld afgevuur op die klein nasie van Israel, wat dan weer met dodelike geweld terugslaan. Hierdie skermutselings dien as ’n konstante herinnering aan die eeue-oue konflik wat heers oor hierdie fel omstrede gebied wat deur die eeue heen so ’n prominente rol in die geskiedenis gespeel het.

Al die brandpunte is egter nie in die Midde-Ooste nie. Noord-Korea wat deur kenners as die mees onderdrukkende regime op die planeet beskou word, dreig met ’n kernoorlog en maak verregaande dreigemente van oorlog teen Suid-Korea en die Verenigde State. Met die grootste staande mag in moderne tye, wat gelei word deur ’n jong en onbewese leier, is Noord-Korea ’n konstante, plofbare bedreiging.

Geweld lê net onder die oppervlak in Tsjetsjnië, met sy voortdurende geskil met Rusland. Islamitiese ekstremiste vlam ook dikwels op in die Filippyne en in Noord-Ierland breek die eeue-oue vete tussen Protestante en Katolieke van tyd tot tyd uit.

Suid van die Verenigde State se grens, in Mexiko, woed ’n stryd wat gelyk is aan ’n bloedige burgeroorlog soos wat die dwelmkartelle ingryping deur die regering teenstaan en wedywer vir oorheersing en beheer. Die geweld spoel soms oor die grens na die Verenigde State en is baie ontwrigtend vir die aangrensende state.

In Amerika het tuisgemaakte bomme in ’n skare toeskouers by die Boston-marathon ontplof, waartydens onskuldige mense dood is en dosyne ander ernstig beseer is. Dit is ’n strak herinnering dat terrorisme ’n baie werklike bedreiging is.

Wanneer ’n mens nadink oor hierdie volgehoue gewapende konflikte in die wêreld as gevolg van ideologiese, nasionalistiese en onderlinge verskille, is dit genoeg om die denke te laat duisel. Hierdie toestande illustreer baie duidelik die aangrypende lyn in William Shakespeare se toneelstuk, Julius Caesar, “Cry ‘Havoc’, and let slip the dogs of war”. Ja, “die honde van oorlog” is losgelaat en saai verwoesting net waar hulle kan.

Deur die geskiedenis heen was die mensdom meer dikwels betrokke in oorloë met al sy gruwels as wat hulle die kort verposings van vrede geniet het. Waarlik, die profeet Jesaja het dit korrek aangedui toe hy geïnspireer was om te skryf: “Die weg van vrede ken hulle nie, en daar is geen reg in hulle spore nie; hulle maak hul paaie krom, niemand wat daarop loop, ken die vrede nie” (Jesaja 59:8).

Jesus Christus het duidelik aan Sy dissipels gesê om hierdie toestande te verwag toe Hy gesê het: “En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie ...” (Mattheüs 24:6). Let op dat Hy sê: “... moenie verskrik word nie”. Hierdie woorde is vir diegene wat verstaan dat hierdie tydperk besig is om tot ’n einde te kom en dat Jesus Christus met groot krag en heerlikheid sal terugkeer om die “honde van oorlog” stil te maak. Wanneer Hy dit doen sal Hy ’n duisend jaar van vrede en oorvloed, vir ’n wêreld wat moeg is vir oorlog, inlei.