Terwyl die Tweede Wêreldoorlog gedurende April 1945 in Europa einde se kant toe gestaan het, het burgerlikes in die weste van Nederland, wat steeds onder Duitse besetting was, ’n dreigende humanitêre krisis in die gesig gestaar. Dit was as gevolg van voedselvoorrade wat besig was om al hoe skaarser te raak en die risiko van ’n onvermydelike massa-hongersnood het gedreig. Geallieerde bomwerpervliegtuie het ’n militêre operasie van stapel gestuur om voedsel uit die lug neer te laat om miljoene mense van ’n stadige dood te red. Hierdie operasie, met die naam “Manna”, na aanleiding van die wonderbaarlike voeding van die Israeliete wat in die Bybelse boek Exodus beskryf word, het noodsaaklike fisiese voedsel vir die veerkragtige Nederlanders voorsien. As ’n merkwaardige gebeurtenis op daardie stadium, wat kan Operasie Manna ons vandag leer?
Die einde van die “winter hongersnood”
Gedurende Mei 1940 het die Duitse weermag Nederland binnegeval en vir die res van die oorlog was die land onder Nazi-besetting. Die Nederlanders het daaraan gewoond geraak om die Royal Air Force (RAF) en ander geallieerde bomwerpers hoog bokant hulle in die lugruim te sien vlieg, op pad na teikens in Duitsland, terwyl hulle eie oorlewing al hoe moeiliker geraak het.
Na die D-Dag-inval in Junie 1944 het die Geallieerdes ’n vastrapplek in Frankryk gekry. Duitse magte in Nederland het probeer om Geallieerde magte se opmars te stuit deur doelbewus meer as 2,000 vierkante kilometer (780 vierkante myl) grondgebied in die weste van Nederland te laat oorstroom. Die oorstroming van hierdie gebied – die tuiste van groot stede en kanale, het vervoer ontwrig en het tekorte aan voedsel vererger vir die 4,5 miljoen mense wat in die streek gewoon het.
Die situasie het in die winter van 1944 vererger nadat Duitse magte ’n verbod op voedselversendings ingestel en brandstofvoorrade ernstig beperk het. Die strawwe winter het kanale en riviere laat vries en dit het vervoer nog ’n groter uitdaging gemaak. Gedurende hierdie tydperk, bekend as die Hongerwinter (“Hunger Winter”), het na raming 20,000 burgerlikes – meestal bejaardes – aan koue, wanvoeding en verwante siektes gesterf. Honderde-duisende burgers het langdurige gesondheidsgevolge gely. Sommige Nederlandse burgers het gras, tulpbolle, suikerbeet en selfs troeteldiere geëet ten einde te oorleef.
Met die einde van die oorlog in Europa in sig, het die toestande in die weste van Nederland al hoe hagliker geraak en Prins Bernhard en die uitgeweke Nederlandse regering het ’n beroep gedoen op die geallieerde leiers, Winston Churchill en Franklin D. Roosevelt, om hulp te verleen. Ten spyte van Duitse weerstand het die Geallieerdes begin voorberei vir ’n humanitêre sending. Die vervoer van voorrade per see was bemoeilik deur die teenwoordigheid van myne in die skeepvaart-roetes en skade wat aan die hawens aangerig is – dus het die Geallieerdes eerder besluit om voedselvoorrade uit die lug neer te laat.
Op 17 April 1945 is RAF-lugkommodoor Andrew Geddes, na generaal Dwight D. Eisenhower se hoofkwartier ontbied, waar hy die taak opgelê is om ’n lugbrug vir voedsel te organiseer met behulp van die gekombineerde bronne van RAF Bomber Command en die Amerikaanse Agtste Leër Lugmag. Daar was egter ’n logistieke uitdaging – geen valskerms was beskikbaar vir die lugaflewerings nie. Die lugbemannings – wat ook Australiese, Kanadese, Nieu-Seelandse en Poolse vlieëniers ingesluit het – het ondervinding gehad van hoe om ammunisie vanaf 6,000 meter (20,000 voet) neer te laat, maar vir hierdie sending sou hulle laag moes vlieg – soms so laag as 120 meter (390 voet) – om seker te wees dat die voedsel die grond veilig bereik.
Met die hulp van Nederlandse amptenare is aangewese afleweringsones en landingstroke ingestel en op 29 April 1945 het Operasie Manna ’n aanvang geneem. Op daardie dag het RAF Lancaster en Muskietbomwerpers 535 ton voedsel neergelaat. Die operasie is die volgende dag op nog ’n groter skaal uitgevoer, met 1,021 ton voedsel wat op vyf plekke neergelaat is. Tussen 29 April en 8 Mei het die RAF en destyds Amerikaanse B-17 Flying For-tress-bomwerpers wat Operasie Chowhound uitgevoer het, meer as 10,000 ton se voorrade neergelaat.
Die voorrade het bestaan uit basiese voedsel soos meel, eierpoeier en ingemaakte voedsel. Op die grond is dit met behulp van Nederlandse burgers en Duitse soldate gemonitor en versprei deur die gebruik van platboom-skuite en perdekarre. Die sukses van die sending was duidelik uit die reaksie van Nederlandse burgers, wie baie vlae en lakens by die afleweringsones geswaai het om hulle dankbaarheid te betoon.
Op 5 Mei 1945 het Duitse magte in Nederland oorgegee. Die lugaflewerings het kort daarna gestaak en voedsel kon per vragmotor afgelewer word.
Ware brood uit die hemel
Die naam “Operasie Manna” is nie lukraak gekies nie. Dit was ’n verwysing na die Bybelse verhaal van die Israeliete se wonderbaarlike onderhouding gedurende hulle 40 jaar van rondswerf in die woestyn. In die boek Exodus word aan ons vertel dat God die Israeliete van “manna” voorsien het en dit het, volgens die Israeliete, gesmaak soos wafels wat met heuning gemaak is.
God het aan Moses gesê: “Ek sal vir jou brood uit die hemel laat reën” (Exodus 16:4). Die manna was ’n noodsaaklike voorsiening van voedsel wat die Israeliete gevoed het terwyl hulle deur die woestyn van die Sinai-skiereiland gereis het. Hulle is daardeur in staat gestel om in ’n andersins onherbergsame omgewing te oorleef.
In die Nuwe Testament het Jesus Christus aan hierdie wonderwerk gedink toe Hy na Homself verwys het as die “brood van die lewe”. In die Evangelie van Johannes, nadat Jesus ’n skare van duisende mense bonatuurlik gevoed het, het Jesus Sy wonderwerk gebruik as ’n geleentheid om die mense te onderrig in verband met ’n dieper, geestelike voeding, deur Sy ewige gawes te kontrasteer met die tydelike aard van fisiese voedsel.
Jesus het vir die skare gesê: “Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee” (Johannes 6:27). Hy het toe verder gesê: “Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie” (Johannes 6:35). Jesus het verduidelik dat, net soos die Israeliete manna in die woestyn geëet en oorleef het, diegene wat aan Hom deel het – glo in Sy woorde en Sy leerstellings volg – die gawe van die ewige lewe sal ontvang.
Christus het verklaar: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid” (Johannes 6:51). Sy uitspraak verbind Hom aan die manna in die woestyn, maar met ’n selfs groter belofte dat diegene wat op Christus voed – die “brood wat uit die hemel neergedaal het” – die ewige lewe gegee word (Johannes 6:57-58).
Jesus leer ons dat om “te eet” van die brood van die lewe as geestelike voedsel, net so noodsaaklik is soos fisiese voedsel. Net soos wat die Israeliete op die manna moes staatmaak om fisies te oorleef, word Christene geroep om op Christus te “voed”, hulle gedagtes te vul met Sy woorde (Psalm 19:14) en om ’n innige, voortdurende verhouding met Hom na te streef (Jeremía 29:13).
Terwyl ons die tagtigste herdenking van Operasie Manna nader, het ons ’n geleentheid om na te dink oor die dieper geestelike lesse wat in hierdie verhaal verweef is. Net soos die Nederlandse volk gered is deur die “manna” wat uit die lug geval het, word ons daaraan herinner dat ons ware voeding van die God van die Hemel moet kom. Die “brood van die lewe” wat Jesus bied, wat meer as tydelike verligting bied, is die Bron van die ewige lewe. Ware Christene hou met elke Pasga ’n diens met gedenktekens van die opoffering wat Christus gemaak het om aan Sy mense toegang te gee tot daardie “brood van die lewe”. Ons behoort onsself dus af te vra: Voed ons op die “brood” wat werklik bevredig? Gee ons voorkeur aan ons verhouding met God, wat aan ons die gawe van die ewige lewe bied?
Die verhaal van Operasie Manna dien as ’n kragtige simbool van hoop. Net soos die Israeliete op manna in die woestyn staatgemaak het, moet ons ook staatmaak op die ware brood uit die hemel vir geestelike voeding. Die ware Evangelie wat Christus byna 2,000 jaar gelede verkondig het, het werklike betekenis vir u lewe, maar ú behoort dit te soek en daarop te voed. Om te ontdek hoe daardie Evangelie u lewe vandag kan verander, bestel gerus ’n gratis eksemplaar aan van ons boekie Glo u die ware Evangelie? of lees dit aanlyn by wvm.co.za.


