Wat is die doel van u lewe? Wéét u? Gee u selfs om? Hierdie laaste vraag – Gee u selfs om? – behoort ons tot nadenke te skok. Waarom sou iemand nié omgee nie?
Ons kom in hierdie lewe sonder enige kennis. Ons het op ’n dag onwillekeurig in die lewe opgedaag en vandag bevind ons onsself iewers, op een of ander ouderdom en stadium van die lewe, om te wees wie ons is. Een of ander tyd egter, dikwels in ons tienerjare of wanneer ons die einde van ons tyd op aarde nader, wonder ons: Waaroor gaan dit alles? Wat ’n raaisel!
Vra u uself ooit hierdie vraag af? Indien nie, wáárom nie?
Ongelukkig lyk dit of baie van ons nie vreeslik bekommerd is nie. Gebaseer op hoeveel mense reageer op die aanbiedings van ons publikasies, is daar meer mense wat belangstel in waarheen die samelewing op pad is as waarheen hulle self op pad is. Kan daar dan belangriker vrae wees as: Wie is ek? Waarom is ek gebore? Wat is die doel van die lewe? Bestaan God en indien wel, wat is Sy plan vir my?
Die antwoorde op hierdie vrae word in die bladsye van die Bybel gevind – maar, die antwoorde is nie wat die meeste belydende Christene dink nie. Nee, die doel van die lewe is nie om vir ewig in die hemel rond te sweef en af te tree nie. Liewe vriende, u doel is oneindig groter as dit!
Millennia lank het filosowe en teoloë oor die doel van die lewe bespiegel en gedebatteer – tog was die antwoord van die begin af beskikbaar. Daar word nie aan ons oorgelaat om met een of ander nuwe idee vorendag te kom met ons eie beperkte verstand wat ons persoonlike smaak pas nie.
Evolusioniste het nie ’n antwoord nie
Diegene wat ’n evolusionêre oorsprong van lewe onderskryf – dus in hulle eie denke wegdoen met die behoefte aan God – het nie ’n antwoord nie. Watter groot doel kan daar wees vir ’n lewe wat beperk is tot die hiér en nóú? Selfs al leef u ’n duisend jaar lank en ontdek ’n geneesmiddel vir kanker, wat sal dit u op die ou end baat? Wanneer u sterf, indien daar geen God is nie, sal alle hoop, drome, herinnerings en tydelike belonings vir ewig in die niet verdwyn.
Professor Thaddeus Metz, wat filosowe se huidige teorieë oor die doel van die lewe opsom, sê vir ons: “Die afgelope tyd het daar egter ’n uiterste vorm van naturalisme ontstaan, waarvolgens ons lewens waarskynlik, indien nie onvermydelik nie, minder betekenis sou hê in ’n wêreld met God of ’n siel as in ’n wêreld daarsonder” (“The Meaning of Life,” The Stanford Encyclopedia of Philosophy, Fall 2023, uitgawe).
God se bestaan sou hulle met ander woorde, van ’n sinvolle bestaan ontneem! Professor Metz verduidelik verskeie teorieë wat voorgehou word om tot hierdie belaglike gevolgtrekking te kom. Die eerste teorie maak aanspraak daarop dat God se bestaan ons in ’n meester/kneg of ouer/kind verhouding plaas, dus “ons onafhanklikheid of waardigheid as volwasse persone sou skend”.
Anders gestel, ons sou nie meer ons eie baas kon wees nie. Ons sou aan ’n hoër mag moes verantwoording doen en ateïste sou gegrief wees oor so ’n idee. Professor Metz wys op ’n bykomende redenasie naamlik God moenie vir my sê wat om te doen nie: “Nog ’n opvallende argument is om te dink dat God afbreuk sou doen aan die betekenis van die lewe, wat verwys na die waarde van privaatheid ... God se alwetendheid [Hy weet alles] sou dit vir ons geheel en al onmoontlik maak om ... die mees intieme besonderhede oor onsself te beheer, wat vir sommige mense neerkom op ’n minder sinvolle lewe waar hulle minder beheer oor hulle lewe het”.
Dan is daar diegene wat teen die waarde van die ewige lewe self betoog. Die professor verduidelik soos volg, “Eerstens was daar die argument dat ’n onsterflike lewe onvermydelik vervelig sou raak ... deur die lewe as nutteloos te beskou volgens baie subjektiewe en objektiewe teorieë”. Die filosowe se bepeinsings is soms breedvoerig, tegnies met tye en ook, wel, betekenisloos! Indien ons God en Sy openbarings aan ons ignoreer, kan daar geen sin in wees ná ons veels té kort tydelike bestaan nie.
Sommige mense is verbaas om te hoor dat een belangrike Joodse sekte gedurende Jesus Christus se tyd geglo het dat daar geen toekoms anderkant die graf is nie. Tydens Jesus se drie-en-’n-half-jaar bediening op aarde lees ons: “Dieselfde dag kom daar na Hom Sadduseërs, hulle wat sê dat daar geen opstanding is nie, en vra Hom ...” (Matthéüs 22:23). Die apostel Paulus, wat voor die godsdienstige leiers van sy tyd moes verskyn, het byna ’n oproer oor hierdie onderwerp tussen die Fariseërs en Sadduseërs veroorsaak. “En omdat Paulus geweet het dat die een deel uit Sadduseërs en die ander uit Fariseërs bestaan, het hy in die Raad uitgeroep: Broeders, ek is ’n Fariseër, die seun van ’n Fariseër. Oor die hoop en die opstanding van die dode staan ek voor die gereg ... Want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding is nie, ook geen engel of gees nie; maar die Fariseërs bely albei” (Handelinge 23:6, 8).
Sommige van die Christene in Korinthe is deur hierdie verkeerde idee beïnvloed. Paulus se eerste brief aan daardie gemeente bespreek die opstanding – en redeneer met perfekte logika oor die nutteloosheid van die lewe indien dit net vir die hiér en nóú is. “Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense” (1 Korinthiërs 15:16-19).
Wat betref die nutteloosheid van selfopoffering in ’n wêreld sonder God, beredeneer Paulus die idee en kom tot die uiteindelike gevolgtrekking: “As ek in Éfese op menslike wyse met wilde diere geveg het, watter voordeel was dit vir my? As die dode nie opgewek word nie, laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons!” (1 Korinthiërs 15:32).
Voordat ons dus gaan sit om te eet, te drink en vir ewig te sterf, kom laat ons onsself die belangrike vraag vra wat Paulus hier aanspreek: Ís daar ’n opstanding uit die dood? Daar ís ’n opstanding of daar is nié een nie. Indien daar geen lewe na die dood is nie, word ons gelaat met geen blywende doel, geen hoop buiten die hiér en nóú nie. Wyle dr. Roderick C. Meredith het gevra:
Is daar ’n grootse rede waarom u lewe? Kan u, ten spyte van u huidige situasie, vir uself ’n besondere, interessante en vervullende toekoms voorstel? Is u eenhonderd persent seker van toekomstige blydskap, vreugde en vrede?
Of is u vasgevang in ’n gejaagde, teleurstellende lewe, met geen groter doel as wat die voëls, die diere of selfs die insekte het nie? (U uiteindelike lotsbestemming, bl. 1).
Hierdie is ernstige vrae vir ernstig denkende mense. Is u tevrede om deur hierdie lewe te gaan sonder om ooit te weet waarom? Sou u nie graag wou weet wat die doel van u bestaan is nie? Daar is ’n antwoord en dit is in die bladsye van u Bybel geopenbaar – wat die Bybel eintlik sê, in teenstelling met wat mense dink dit sê, is skokkend sowel as opwindend.
’n Koning se soeke na betekenis
Koning Salomo van ouds het na ’n doel in die lewe gesoek met wyn, vroue, sang en baie ander fisiese aktiwiteite en hy het tot die gevolgtrekking gekom dat nie een hiervan blywende geluk bring nie. Alles was ydelheid en ’n gejaag na die wind. Hy het verduidelik:
“Daarom het ek in my hart gesê: Dieselfde wat die dwaas tref, sal my ook tref; waarvoor was ek dan so buitengewoon wys? En ek het in my hart gespreek dat dit ook tevergeefs is. Want daar sal op die duur net so min gedagtenis wees van die wyse as van die dwaas, omdat in die dae wat kom, alles lankal vergeet is; en hoe sterf die wyse net soos die dwaas! Daarom het ek die lewe gehaat, want die werk wat onder die son gedoen word, het my mishaag, omdat alles tevergeefs is en ’n gejaag na wind” (Prediker 2:15-17).
Ek en u kan nooit met Salomo meeding wanneer dit by wyn, vroue en sang kom nie, ook nie wanneer dit kom by roem of rykdom nie. Die meeste mense wat iets probeer vind wat hulle gedink het hulle gelukkig sou maak, het misluk. Dink aan die lewens van so baie beroemdes wat lyk asof hulle “alles het”. Sommiges raak verslaaf aan dwelms, ander het die een mislukte huwelik na die ander. Keer op keer vind mense met ’n aantreklike voorkoms, roem, rykdom en alles waarvan die meeste mense net kan droom, dat niks hiervan die geluk verskaf waarna hulle soek nie. Dit beteken nie dat elke ryk persoon ’n mislukte huwelik het of dat alle beroemdes ongelukkig is nie – net dat geluk nie kom van tydelike plesier nie en dat sónder ’n God, wat ’n opstanding uit die dood beloof, enige iets wat ons in hierdie lewe doen, net tydelik is.
Hoe kan ons seker wees dat ons weer sal leef? Hoewel daar diegene is wat deur resussitasie bygebring word en dan aanspraak maak op “buiteliggaamlike”-ervarings, was daar slegs Een uit die dood opgewek na drie dae en drie nagte in die graf – dit was byna 2,000 jaar gelede. Hoe kan ons dan weet dat ’n man met die naam Jesus, wél uit die graf opgestaan het?
Paulus beantwoord daardie vraag in dieselfde “hoofstuk in verband met die opstanding” waarvan ons vroeër gelees het – hy noem die name van individue wat Jesus na Sy kruisiging gesien het en beweer dan: “Daarna het Hy verskyn aan oor die vyfhonderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap [gesterf] het” (1 Korinthiërs 15:6). Dit is geskryf minder as 25 jaar na die kruisiging, terwyl die meeste van daardie 500 mense nog geleef het. Watter geloofwaardigheid sou Paulus of dan sy brief hê, indien dit nie die waarheid was nie?
Geleerdes erken ook verdere bewyse. Volgens Johannes 7:5 het Jesus se eie halfbroers nie in Hom geglo voor die kruisiging nie, maar daarna het hulle dissipels geword. Jakobus het voortgegaan om die leier van die Jerusalem-gemeente te word en hy het die brief van Jakobus in u Bybel geskryf. Sy halfbroer Judas, het ook ’n gelowige geword en die brief “Judas” geskryf.
Baie gelowiges het as martelaars gesterf vir ’n saak waarin hulle geglo het, maar hoeveel mense sou sterf vir ’n saak wat hulle geweet het ’n leuen is? Jesus se Apostels het geweet dat die opstanding waar is. In die geskiedenis word aangeteken dat van die Twaalf Apostels (met inbegrip van Mathias, wat Judas vervang het), net Johannes nie ’n marteldood gesterf het nie.
Die vraag bly nogtans: Indien God bestaan en daar ís lewe na die dood, wat beteken dit? Wat is God se doel vir my en u?
Is ons bloot diere?
Het u al ooit gewonder waarom mense soveel groter verstandelike vermoëns as diere het? Verskeie diere het groter breine, maar nie een kom naby die menslike vermoë om te redeneer, te dink, om te innoveer nie. Geen dier kan na die maan gaan en terugkeer nie. Geen dier kan ’n teleskoop, ’n televisie of ’n rekenaar bou nie. Ja, ek weet u hond is nogal ongelooflik, maar daar is ’n fundamentele verskil tussen die twee van u.
Wat veroorsaak daardie verskil? Hoe is dit moontlik dat die mensdom masjiene kan bou om hoër, vinniger en verder as enige dier te beweeg? Waarom kan ons dan, selfs met so ’n voortreflike intelligensie, nie met mekáár oor die weg kom nie? Waarom is daar egskeiding? Waarom is daar oorloë tussen nasies? Waarom bedrieg, besteel en tree mense gewelddadig op teenoor andere mense?
Ons begin ons soektog na die antwoord met die doel van lewe in die eerste hoofstuk van die Bybel. Hier vind ons dat God die mensdom baie anders gemaak het as enige ander skepsel:
“En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape” (Génesis 1:26-27).
Hoeveel mense het hierdie gedeelte al gelees sonder om na te dink oor wat dit beteken? Eenvoudige gestel, God het mense gemaak om nie na enige dier te aard nie, maar eerder om na Hom te aard. Ons is anders omdat ons na God se beeld en gelykenis geskape is. Lees dit self in u eie Bybel en dink na oor wat dit beteken.
God het ons geskape om soos Hy te wees, met ’n ongelooflike vermoë om te dink, te redeneer en om ’n menigte wonderlike dinge te doen. Waarom gedra ons ons dan nie op ’n goddelike wyse nie? Die Skrif verduidelik wat die ontbrekende element is, naamlik dat God die mens met ’n vrye wil geskape het en sodoende die vermoë gekry het om morele keuses te maak.
“En die Here God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad” (Génesis 2:9). Dan lees ons dat “die Here God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (verse 16-17).
Die mensdom het die vermoë gekry om te kies tussen reg en verkeerd, tussen goed en kwaad. Dit is ook by ’n ander geleentheid vir die nasie Israel verduidelik: “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag, deur die Here jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang; want dit is jou lewe en die lengte van jou dae” (Deuteronómium 30:19-20).
Meer as 55 jaar nadat ons mense na die maan gestuur het en hulle veilig teruggebring het, kan ons steeds nie met mekaar oor die weg kom nie. Daar is te veel mislukte huwelike; te veel moorde, verkragtings en aanrandings; te veel oorloë, wat die hoop en drome van miljoene mense kortknip.
Waarom is daar soveel lyding? Mense wonder waarom God wat almagtig is, nie die gruweldade wat hier op aarde plaasvind keer nie. Wie van hierdie selfde mense is egter bereid om hulle geheel en al aan God se wil te onderwerp? God het ’n rede waarom Hy ons met ’n vrye wil geskape het.
God se doel vir ons
Die idee dat God die mens na Sy eie beeld geskape het, is werklik wonderbaar en hierdie tema word regdeur die Skrif gevind. Dawid het opgekyk na die naghemel en gewonder waarom God dan in die mensdom geïnteresseerd sou wees en vra: “... wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?” (Psalm 8:5). Die boek Hebreërs verduidelik hierdie vraag verder:
“Alle dinge het U [dit is, God] onder sy [mensdom] voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie; maar ons sien Hom, naamlik Jesus, wat vir ’n kort tydjie minder as die engele gemaak is, vanweë die lyde van die dood met heerlikheid en eer gekroon, sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak. Want dit het Hom betaam, ter wille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is, as Hy baie kinders na die heerlikheid wou bring, om die bewerker van hulle saligheid deur lyde te volmaak” (Hebreërs 2:8-10).
Die Bybel openbaar ’n plan en doel wat uitgewerk word en wat veel groter is as om in die hemel af te tree en vir ewig na die aangesig van God te staar. Waarom aanvaar mense dan nie wat die Bybel duidelik sê nie? Die apostel Paulus is baie duidelik oor ons toekoms. Hy verduidelik dat ons seuns van God en mede-erfgename met Christus sal wees. “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. Want julle het nie ontvang ’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!” (Romeine 8:14-15). Neem nou kennis en dink ná oor wat hy volgende sê, dat die Gees van God “getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (vers 16).
Verstaan u dit? Ons behoort kinders van God te word. Soos dit verduidelik is in Génesis 1, is die mensdom nie na die beeld en gelykenis van enige soort dier geskape nie, maar na die beeld van God Self! Kan u glo wat die Bybel duidelik sê? Paulus het voortgegaan deur te skryf dat “as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word” (Romeine 8:17).
In vorige generasies het ons almal verstaan dat die terme man en mensdom beide mans sowel as vroue in hierdie konteks verteenwoordig het; maar indien enigiemand aanstoot neem deur daardie “mikro-aggressie”, let op dat vroue nie uitgelaat word nie: “Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige” (2 Korinthiërs 6:18).
Hoe kan ons dan “erfgename van God en mede-erfgename van Christus” wees? Dink weer daaraan dat Romeine 8:17, twee geeste noem: God se Gees en “ons gees”. Hierin vind ons die verskil tussen God se denke en óns denke. Menslik gesproke dink ons nie soos God dink nie (Jesaja 55:7-9).
Sonder God se inwonende Gees, alhoewel die mens intelligent is in materiële sake, ontbreek dit mense aan ware liefde en selfbeheersing. Sonder Sy Gees vertoon ons al die eienskappe van ’n vleeslike natuur wat deur Satan, die duiwel, beïnvloed word. “En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge” (Galásiërs 5:19-21).
Beteken dit dan dat ons nooit kan dink soos God dink nie? Laat Paulus vir ons die antwoord gee: “... maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God” (1 Korinthiërs 2:9-10). Paulus gaan voort om die verskil tussen die brein van diere en die menslike verstand te verduidelik. “Want wie van die mense weet wat in ’n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het” (verse 11-12).
Die gees in die mens bemagtig die menslike brein ver bo dié van diere, maar sonder die Gees van God wat in ons woon, kan ons nie die dinge van God beter verstaan as wat my hond Markus wiskunde sou kon verstaan nie. Om ten volle na die beeld en gelykenis van God gemaak te wees en om te dink soos God dink, moet hierdie twee geeste verenig. “Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God ... Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word” (Romeine 8:14-17).
Nou toe nou – ons is “kinders van God … erfgename van God en mede-erfgename van Christus”. Dit is nou ’n doel wat die moeite werd is om voor te leef!


