Baie van u wil graag meer weet van God se weë en hoe om die ware God en Sy Seun, Jesus Christus, te dien. So nie, sou u heel moontlik nie hierdie tydskrif gelees het nie.

Daar was ’n tyd toe talle mense sou stry oor die verskille in godsdiensleerstellings en -praktyke. Oor die algemeen erken mense dat groot verskille tussen die onderskeie kerke en godsdiensorganisasies bestaan. Hulle was gewillig om die Bybel te bestudeer en uit te vind wat dit werklik sê. In onlangse jare blyk dit egter dat die meeste mense maar net aanneem dat ons “almal dieselfde” is en dat dit nie werklik saak maak wat ons glo nie. Pleks daarvan het mense ’n “lekker warm, hartlike” gevoel oor God. Hulle probeer ’n kerk vind wat vriendelik is, met baie aktiwiteite, jeugprogramme en goeie musiek – en hulle laat die bespreking van leerstellings aan die leraars oor.

Tog gebied u Bybel: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21). Die Christene in Berea is aangeprys omdat hulle “die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek [het] of hierdie dinge so was” (Handelinge 17:11).

Het u eerlikwaar die “Skrif ondersoek” om heeltemal seker te wees dat u godsdiensoortuigings reg is? Het u uself geestelik ingespan om die godsdiensleerstellings wat u aanhang deeglik te bewys?

Dit is lewensbelangrik om te besef dat daar selfs onder belydende Christene heelparty absoluut teenstrydige sienings is oor God, die leringe van Jesus Christus en die ganse doel vir die menslike bestaan! Die Rooms-Katolieke byvoorbeeld, het ’n heeltemal verskillende siening as die meeste Protestante aangaande die outoriteit van die Bybel, die versoenende offerande van Jesus Christus en selfs die geaardheid van God.

In my besoeke as toeris aan verskeie Katolieke kerke oor die jare, het ek baie mense op hul knieë voor standbeelde van die maagd Maria en ander “heiliges” gesien, terwyl hulle uit hul hart uit tot hierdie standbeelde bid. Baie evangeliesgesinde Protestante sê dat hulle nooit voor sodanige standbeeld, prent of afgod sal bid nie. Hul idee is dat Christene net “vandag vir Jesus in hul lewens moet innooi en dan is die soeke verby. Jesus sal alles vir u doen en daar is niks meer wat u hoef te doen nie. Neem Jesus nou aan en maak nie saak wat later gebeur nie, u sal hemel toe gaan wanneer u sterf”.

“Nou wat is fout daarmee?” mag u vra. Wel, eerstens, die algemene “hoofstroom” konsep van “hemel toe gaan” is heeltemal vals en teenstrydig met God se Plan. Die Bybel beskryf nooit die hemel as die ewige beloning van die wat gered word nie. Dit praat van die “koninkryk van die hemel” – nie ’n koninkryk in die hemel nie. Dit beskryf dat God besig is om ons beloning in die hemel voor te berei, maar nooit dat ons daarheen sal gaan om dit in ontvangs te neem nie! Jesus sê eerder: “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Openbaring 22:12).

Weet Jesus Christus, die Seun van God, van die hemel? Natuurlik! Hy sê: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het” (Johannes 3:13). Waar laat dit Abraham, die “vader van die getroues”? Waar laat dit Dawid, “’n man na God se hart”?

Die wesentlike gevaar van hierdie “hemel toe gaan” idee is dat dit in direkte teenstelling is met Christus se duidelike en konsekwente onderwysing dat Christene “oorwinnaars” is wat gereedmaak om Hom by te staan om heerskappy oor die ganse aarde te voer! Jesus sê: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Openbaring 2:26-27).

Die ware Jesus van u Bybel het gekom om die boodskap van die Koninkryk van God (Markus 1:14) te verkondig. Dit was nie ’n vae evangelie oor ’n warm gevoel in ’n mens se hart of om net die Persoon van Jesus “aan te neem” nie. Dit was eerder oor die eerskomende regering van God om ware vrede, voorspoed, gesondheid en geluk aan hierdie siek en verwarde wêreld te bring. Jesus sê aan Sy dissipels: “En Ek beskik vir julle ’n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Lukas 22:29-30). Die meeste hedendaagse leraars laat hierdie en ander soortgelyke skrifdele óf heeltemal na, óf hulle probeer om hierdie lewensbelangrike teksverse as slegs ’n geestelike mededeling af te maak. Jesus het egter duidelik van ’n letterlike koninkryk of regering gepraat wat met Sy Wederkoms hier op aarde gevestig gaan word. Die apostel Johannes beskryf juis Jesus se Wederkoms met die blaas van die “laaste basuin”: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15). Let daarop dat Jesus Christus na Sy Wederkoms oor die “koninkryke van hierdie wêreld” gaan regeer – nie oor mense in die hemel nie!

Lees ook die geïnspireerde “Lied van die Heiliges” wat in Openbaring 5:9-10 aangeteken is: “Toe sing hulle ’n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers”. Die Bybel leer ons dat die ware heiliges van God saam met Christus op die aarde sal regeer. Daar is nie een enkele vers êrens in u Bybel wat beloof dat om “hemel toe te gaan” die beloning van die heiliges is nie!

Waarom versuim die meeste hoofstroom kerke om hierdie kragtige boodskap te verkondig dat die Koninkryk van God binnekort op hierdie aarde gevestig gaan word? Waarom dring hulle daarop aan om oor die Persoon van Jesus te praat, maar tog laat hulle die kragtige boodskap na wat Hy van die Vader af gebring het oor ’n toekomstige wêreldregering?

Waarom?
Die apostel Paulus sê tog baie duidelik dat die doelwit van ware Christene is om deel te hê aan daardie letterlike regering wat op hierdie aarde gevestig gaan word! “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Korintiërs 6:2-3). In hierdie skrifgedeelte stel Paulus dit duidelik aan die ware Christene om voor te berei om hierdie ganse aarde te “oordeel” of te regeer, terwyl die apostel Johannes sê: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:6).

Wat ’n opwindende toekoms! Wat ’n ontsagwekkende doelwit om na te streef! Wat ’n wonderlike rede om God te dien, ons sondes te oorwin en ons lewens ten volle oor te gee sodat Christus in ons kan leef en in ons die einste karakter van God kan bou (vlg. Galasiërs 2:20). Dan en slegs dan sal ons geskik wees om saam met Christus te regeer in Sy eerskomende koninkryk.

God se Woord sê immers: “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees” (Daniël 7:27). Tog glo die meeste belydende Christene dit nie, omdat hulle dit nog nooit geleer het nie. Hulle verstaan nie naastenby die opperdoel waarom die mens op aarde geplaas is nie!

In hierdie Werk van God verstaan ons dit wel. Ons het nou die voorreg om miljoene mense te help om die ware God, die ware Jesus Christus van die Bybel en die Meesterplan wat God hier op aarde uitwerk, te leer ken.
Lees asseblief die hoofartikel in hierdie uitgawe noukeurig, naamlik: “Watter Christus aanbid U?” wat uitbrei oor wat Jesus Christus van u Bybel werklik onderrig. Vir meer diepgaande Bybelse en geskiedkundige bewyse van wat met die oorspronklike Christenskap van Jesus en die Apostels gebeur het, skryf gerus vir ’n eksemplaar van ons insiggewende, ten volle gedokumenteerde boekie, Hervestig die Christenskap van die Apostels. Dit sal op versoek heeltemal gratis aan u gestuur word.