Vraag: Wat is belangriker: Jesus Christus as persoon, of die evangelie wat Hy verkondig het?

Antwoord: 
Jesus Christus het ’n evangelie kom verkondig, wat ’n boodskap is oor die eerskomende Koninkryk van God (Markus 1:14-15). Alhoewel Jesus Sy dissipels die taak opgelê het “gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom” (Markus 16:15), is baie van dié wat hulself “Christene” noem totaal onbewus van die evangelie wat Hy verkondig het. Daardie evangelieboodskap het ’n komende Koninkryk aangekondig waaroor Hy Koning sal wees, bygestaan deur diegene wat Hy in hierdie tydvak die “eerstelinge” noem (Openbaring 14:4). Ons kan nie daardie Koninkryk verstaan – of binnegaan – sonder die Koning nie.

Christus se boodskap word deesdae op een van twee uiterste denkwyses misverstaan. Party mense – wat betwis dat die Koninkryk van God ’n werklike plek sal wees – sê dat die geprofeteerde Millennium – Christus se duisendjarige heerskappy op Aarde, voor die “Laaste Oordeel” (Openbaring 20:11-15) – versinnebeelding is. Hulle onderrig dat die Koninkryk van God “in jou hart” gevestig word. Dit blyk ’n aangename sentiment te wees, maar dit ignoreer Christus se duidelike leerstellings en wat Hy en die Vader vir die hele mensdom beplan. Omdat hierdie misverstand so algemeen voorkom, beklemtoon die Wêreld van Môre dikwels die waarheid oor die glorieryke Koninkryk van God waaroor Jesus eersdaags sal regeer.

Sommige mense maak egter deesdae ’n heel ander fout. Omdat hulle tereg besef dat Jesus deurentyd klem gelê het op die Koninkryk van God, neem hulle verkeerdelik aan dat omdat Jesus Sy Vader se “Boodskapper” was, dit verkeerd is om te preek oor Sy naam en Sy opoffering.

As ’n voorbeeld van die behoorlike balans verwys die Bybel ons na die diaken Stefanus – die eerste aangetekende martelaar van die Kerk in die tyd van die Apostels. “En hulle het Stéfanus gestenig terwyl hy die Here aanroep en sê: Here Jesus, ontvang my gees!” (Handelinge 7:59). Terwyl hy vir sy onbeskroomde prediking vermoor word, het Stefanus na Jesus Christus, sy Verlosser, uitgeroep. Stefanus het ’n innige verhouding gehad met beide God die Vader en Jesus Christus.

Terwyl Jesus in die vlees was, het Hy aanbidding ten opsigte van Sy persoon aanvaar (Lukas 5:8, 17:16), en toe Hy aan Sy dissipels verskyn het na Sy opstanding, “kom hulle nader en gryp sy voete en aanbid Hom” (Mattheus 28:9). Jesus, soos Sy Vader, is inderdaad ons aanbidding waardig – aangesien Hy die Een is wat die voorhangsel geskeur het en dit vir ons moontlik gemaak het om ons Vader te aanbid (2 Korinthiërs 3:14).

Die Apostels – wat direk deur Christus onderrig was – het, soos Jesus, die Koninkryk van God verkondig. Na Christus se opstanding het hulle steeds “die hele raad van God” (Handelinge 20:20-27) verkondig – wat bekering tot God, geloof teenoor Christus en die evangelie van genade insluit – alles wat noodsaaklik is vir dié wat die Koninkryk van God wil binnegaan.

Die apostel Paulus het die Koninkryk van God, en ook van daardie dinge aangaande Jesus Christus, gepreek (Handelinge 28:30-31). Sy fokus was op “Jesus Christus, en Hom as gekruisigde” (1 Korinthiërs 2:2) – op ons Verlosser, die Een deur wie se opoffering ons die Koninkryk van God sal kan binnegaan! Hoe het Paulus hierdie evangelie beskryf? Hy erken dat die evangelie “waardeur julle ook gered word” die boodskap insluit dat “Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte” en dat “Hy op die derde dag opgewek is” (1 Korinthiërs 15:1-8).

Ter opsomming, ons kan nie Christus se evangelie verstaan en aanneem, of ons werklik bekeer en Sy Koninkryk binnegaan, sonder om Sy persoonlike opoffering te aanvaar nie. Dié wat aanvoer dat ’n blote “geloof in Christus” genoeg is om die Koninkryk binne te gaan, behoort te onthou: selfs die duiwels “glo” in Christus (Jakobus 2:19). Die Wêreld van Môre streef daarna om die eenvoudige waarheid van die saak aan te bied – dat, deur die opoffering van Jesus Christus, diegene wat Hom vandag gehoorsaam hulle voorberei om Hom by te staan met Sy regering tydens die geprofeteerde Millennium wat voorlê, wanneer Hy die vele foute wat die mensdom oor duisende jare van wanbestuur begaan het, sal regstel.