Voel u ooit vasgevang deur stedelike uitbreiding? Verlang u na die vrede en rustigheid van ’n panoramiese uitsig met natuurlike skoonheid, sonder die rumoer, lawaai en dreuning van verkeer? Dink dalk aan ’n meer, gevoed deur ’n gletser, aan die voet van sneeubedekte berge en koel, vars lug wat u longe vul. Sou vars forel op die oewer van ’n vloeiende stroom water nie ’n heerlike aandete wees, wanneer ’n dag buite in die natuur tot ’n einde kom nie? Ek dink die meeste van ons sal daarvan hou om tyd in so ’n omgewing deur te bring. Daar is ’n knaende leegheid in die meeste mense wat wél gevul kan word deur tyd in ’n deel van God se ongerepte skepping deur te bring, al is dit net tydelik.
Baie setlaars kon meer as twee eeue gelede toe hulle in die Verenigde State met erns hulle weswaartse tog begin het, voorsien dat die skoonheid van die natuur in sommige van die skouspelagtigste plekke op aarde kort voor lank deur nedersettings of kommersiële ontwikkeling bederf sou word. Mense met ’n toekomsvisie het druk uitgeoefen op state en die federale regering om sommige van hierdie ongerepte gebiede vir die nageslag opsy te sit. Hierdie druk het die Amerikaanse Kongres en president Abraham Lincoln aangespoor om die Yosemite Valley-gebied in 1864 onder die beskerming van Kalifornië te plaas.
Met verloop van tyd is die U.S. National Park System gemagtig om hierdie pragtige gebiede te bewaar, wat deesdae nasionale skatte is. In 1872 was Yellowstone die eerste gebied wat tot nasionale park verklaar is. Die National Park System is in 1916 gestig, met die gesag om die gebruik en ontwikkeling van National Park System eiendomme te bestuur. Baie asemrowende, skilderagtige en unieke gebiede is bygevoeg en het ’n bron van nasionale trots en groot genot vir generasies van Amerikaners en miljoene internasionale besoekers geword.
Paradys, verlede en toekoms
Die mensdom het sy bestaan op ’n ongelooflike mooi en welvarende plek begin. Dit was ’n tuin met die naam Eden, wat deur die Skepper vir die eerste mense uitgelê is. U ken die verhaal: Onder die invloed van ’n bose wese wat ons as Satan ken, het Adam en Eva, God se duidelike opdragte verwerp en is uit Eden verdryf. Sedert daardie tyd het die mensdom voortdurend, eens pragtige dele van die aarde bemors. Grondvernietigende boerderypraktyke, ontbossing, besoedeling van die omgewing en oor-ontwikkeling het die landskap beskadig en groot dele van die aarde geruïneer.
Terwyl Amerikaners baie dankbaar kan wees vir die toekomsvisie en vasberadenheid van diegene wat die pragtige gebiede van nasionale parke vir hulle genot en inspirasie bewaar het, het baie van die mensdom nie toegang daartoe nie. Dit sal egter nie altyd die geval wees nie. “Tye van verkwikking” kom, wat “die wederoprigting van alle dinge” behels (Handelinge 3:19-21). Die antieke profete het dikwels gepraat van hierdie wonderlike transformasie van verlate gebiede, wat sal begin met die Wederkoms van die Messías. Jesaja het baie daaroor te sê. Ons lees: “... want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis. En die gloeiende grond sal ’n waterplas word, en die dorsland fonteine van water; in die plek van die jakkalse waar hulle gelê en rus het, is gras met riete en biesies” (Jesaja 35:6-7).
Jesaja voorspel ook ’n groot verandering van die omgewing waarin die mensdom leef:
“Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ’n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ’n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:6-9).
Selfs terwyl ons sien hoe groot gebiede van die aarde verwoes word deur oorlog, misbruik en uitbuiting, kan ons hoop hê en uitsien na die herstel van hierdie soortgelyke tuin van Eden wat in die Skrif beskryf word. U kan meer uitvind, deur Die toekomstige wêreld: Hoe sal dit wees? op wvm.co.za te lees of versoek u eie gratis eksemplaar van die streekkantoor die naaste aan u.


