Is daar ’n verskil tussen ’n vergadering en ’n samekoms?


VRAAG: In Mattheüs 18:20 het Jesus aan Sy volgelinge gesê, “... waar daar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde”. Beteken dit dat individuele Christene hulle eie plekke van aanbidding kan bepaal op die jaarlikse Heilige Dae en die weeklikse Sabbat?

ANTWOORD: Om hierdie vers te verstaan, moet ons dit binne konteks lees. Verse 18-19 toon dat die onderwerp onder bespreking die gesag van die bediening is om bindende besluite te neem in verband met aangeleenthede van konflik en nie individuele Christene wat saamkom nie. Selfs die uitdrukking “... in My Naam” impliseer dat die byeenkoms daar is om Christus te verteenwoordig. Wat sê die Skrif aan ons oor Christene wat op die Sabbat en jaarlikse Heilige Dae bymekaar kom om te aanbid?

•    Christene moet nie hulle onderlinge byeenkoms nalaat nie (Hebreërs 10:25). Dit is ’n algemene beginsel, maar is veral van toepassing op dae van aanbidding.

•    Ons behoort te aanbid op dae wat God “heilig” gemaak het (Levitikus 23). Ons word aangesê om te aanbid op die plek wat deur God gekies is (Deuteronomium 16:15-16). ’n Skaapwagter se kudde kan hulle nie self voed nie en God se mense behoort te vergader waar Hy gekies het om hulle te voed. Diegene wat om een of ander rede nie saam met ander Christene kan vergader nie, moet ten minste seker maak dat hulle gevoed word deur God se Woord, deur middel van die voeding wat Hy voorsien.

• Die Sabbat en die jaarlikse Heilige Dag-byeenkomste behoort heilige “samekomste” te wees (Levitikus 23).

Mense verstaan dikwels die woord “samekoms” verkeerd en dink dat dit net ’n ander woord is vir “vergadering”. Let egter op na die definisie van “convoke [saamroep]”, soos in die Webster’s New Collegiate Dictionary: “To call together to a meeting” [om saam geroep te word vir ’n vergadering]. Hierdie woordeboek lys die volgende sinonieme: oproep, roep, aanhaal, saamroep, bymekaarroep, versamel wat beteken dat “teenwoordigheid vereis word”. Met ander woorde iemand moet die sameroeping, of bymekaarroeping, van die vergadering reël. Aan wie het God dan die gesag verleen om so ’n samekoms te reël, aangesien dit ’n heilige samekoms is?

Die Hebreeuse woord wat regdeur Levitikus 23 vertaal word as “samekoms” is miqrā. Dit beteken letterlik “oproeping tot ’n vergadering” of “vergadering van persone wat daartoe opgeroep is” (HAT, Vyfde uitgawe 2005). Die Theological Wordbook of the Old Testament sê die volgende oor die woord miqrā: “Die algemeenste betekenis is voorbehou vir die sewe spesiale samekoms sabbatte ... Sulke dae (asook die weeklikse Sabbat) het ’n formele oproep ingesluit vir mense om te aanbid, deur die geblaas van ramshorings of basuine”.

Ons sien dat die betekenis daarvan verder uitgebrei word wanneer ons lees: “Dit is die feestye van die Here, die heilige vierdae wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd” (Levitikus 23:4). Die woord “uitroep” is vertaal uit die Hebreeuse woord miqrā, wat vertaal kan word as “saamroep” in die sin van byeenroep en kom ongeveer 80 keer met hierdie betekenis in die Skrif voor.

God werk altyd deur Sy bediening – dit is óf deur die priesterdom in die Ou Testament óf die ingeseënde bediening in die Nuwe Testament. Dwarsdeur die Skrif was ditnooit aan individue oorgelaat om self te besluit wanneer en waar die heilige byeenkomste gehou moes word nie. Dit is vandag steeds so, die bediening roep ons om saam te aanbid en kondig die betrokke plek van samekoms aan.

Daar is sekerlik geleenthede wanneer ’n persoon nie in staat is om na ’n aangewese vergaderplek te reis nie, maar God maak voorsiening daarvoor. ’n Vrou kan byvoorbeeld as gevolg daarvan dat sy geboorte skenk nie in staat wees om na die Huttefees te reis nie. God sê dat ten minste al die mans moet gaan (Deuteronomium 16:16). God is ’n God van liefde en deernis en verwag nie van Sy mense om te reis wanneer hulle siek is of ongesteld is nie.

Dieselfde beginsels geld vir die weeklikse Sabbat. Indien iemand te ver van ’n heilige samekoms woon, kan God se leraars reëlings tref sodat die verafgeleë gemeentelede klank- of video-kopieë van preke of eredienste ontvang, of dit moontlik maak deur die telefoon of die Internet. Dit is uiters belangrik dat ons die Bybelse patroon onthou – dit is God se bediening, nie dié van die individuele gelowige nie, wat daartoe gemagtig is om die plek van aanbidding te bepaal.