Die Verenigde State van vandag is verdeel tussen die jubelendes en die moedeloses. “Make America Great Again” (MAGA). Republikeine maak staat op hulle held om die gemors in Amerika – en die wêreld – op te los. Hulle glo dit is veroorsaak of ten minste aangemoedig deur die vorige administrasie. Intussen was baie kiesers wat teen mnr. Trump se verkiesing gekant was, ontsteld oor sy oorwinning, sommige van hulle het terapie nodig gehad. Verskeie sosiale media-beïnvloeders het vroue aangeraai om hulle hare te skeer en hulle mans en kêrels “te vermy”. Diere vir emosionele ondersteuning was ook in groot aanvraag.
In die lig daarvan, wat lê vir Amerika en die wêreld voor? Sal daar in die volgende paar jaar vrede in die Midde-Ooste wees, inflasie afneem en Amerika weer magtig word, soos baie mense glo? Sal die land dalk in ’n fascistiese diktatorskap verval, soos ander mense vrees? Anders as om te wag en te sien, hoe kan ons weet? Die Wêreld van Môre kan nie elke vraag oor die toekoms beantwoord nie, maar ons kan ’n paar vrae beantwoord deur ons na die bladsye van die Bybel te wend.
Ongelukkig, sodra sommige mense die woorde Bybel of God hoor, “skakel hulle dadelik af”. Na alles kan ’n mens tog niks uit die Bybel bewys nie en ná Darwin, wie glo in God?
Sulke gesindhede is egter kortsigtig en selfs gevaarlik. Mense wat nog nooit die Bybel gelees het of ondersoek het met betrekking tot die geskiedenis nie, het geen idee hoe akkuraat daardie uitsprake is wat die toekoms aanbetref nie. Nie alle Bybelse profesieë word maklik verstaan nie, maar wat wel verstaan kan word, behoort nooit verontagsaam te word nie. In hierdie artikel sal ek drie van die Bybel se maklik verstaanbare profesieë verduidelik. Twee daarvan vind tans plaas en die derde is een om dop te hou, want dit sal sekerlik plaasvind – byna sekerlik in die leeftyd van die meeste van ons lesers.
Geen vrede vir die Midde-Ooste nie
Terwyl ek hierdie artikel skryf, bly die Midde-Ooste in beroering. Wyle Richard Ames, wie vir dekades lank gedien het as hierdie tydskrif se Redaksionele Direkteur en as ’n Tomorrow’s World-televisie-aanbieder, het geskryf: “Die Midde-Ooste is al dekades lank in beroering en baie mense wat wêreldnuus volg wonder wat volgende sal gebeur. Baie min mense besef werklik dat Bybelprofesie vooraf die ontsaglike gebeure verduidelik wat sal lei tot groter konflik en groter rampe in dié streek – wat uiteindelik sal lei tot die Derde Wêreldoorlog en dan die Wederkoms van Christus” (Die Midde-Ooste in Profesie, bl. 1). Ja, wat in die Midde-Ooste gebeur, sal u en u geliefdes raak.
Die eerste Trump-administrasie was in staat om iets te doen wat niemand gedink het moontlik was nie: Dit het waarlik gelyk of vrede in die Midde-Ooste sou aanbreek met die ondertekening van die Abraham-ooreenkomste, ’n reeks ooreenkomste om verhoudings tussen Israel, die Verenigde Arabiese Emirate, Bahrein en Marokko te normaliseer – met die vooruitsig dat ander Arabiese state ook sou volg en teken. Hierdie proses het voortgegaan tot en met die Biden-administrasie en dit het gelyk of Saoedi-Arabië en Israel op pad was om verhoudings te normaliseer. Daar vind toe op 7 Oktober 2023 die aanval op Israel deur die Hamas-terroriste plaas, wat weereens die Midde-Ooste in onrus dompel.
Hierdie tweede Trump-administrasie sal ’n beduidende verandering in die rigting bring met betrekking tot Israel en sy vyande. Baie mense is weer hoopvol dat ’n mate van vrede bereik kan word. Die vraag bly egter: Kan die nuwe V.S. president blywende vrede in daardie streek teweegbring? Die antwoord is nee – nie volgens Bybelprofesie nie. God waarsku deur sy profeet Sagaría dat daar die teenoorgestelde van vrede sal wees en voorspel die toestand van die streek vir ons tyd. “Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot ’n beker van bedwelming, en ook teen Juda sal dit wees tydens die beleëring teen Jerusalem. En in dié dag maak Ek Jerusalem tot ’n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word” (Sagaría 12:2-3).
Daar is baie vervat in hierdie twee verse. Ons leer dat daar geprofeteer is dat Juda – dit is die Jode – Jerusalem sal beheer. Hierdie profesie sou vir baie honderde jare onvervuld bly. Die Romeine was moeg vir die Jode en het hulle in 135 n.C. uit Jerusalem verdryf. Daar was géén Joodse staat van daardie tyd af tot in 1948 nie. Selfs toe, het hulle nie die hele Jerusalem beheer nie, totdat die Sesdaagse Oorlog in 1967 plaasgevind het.
Ons leer ook uit hierdie verse dat Jerusalem “’n beker van bedwelming” en “’n baie swaar klip vir al die volke” sou wees. Daardie woorde is deur Sagaría geskryf toe Judaïsme die enigste godsdiens was wat op Jerusalem aanspraak gemaak het. Dit sou nog 500 jaar lank duur voor die koms van Christendom en nog 600 jaar daarna voordat Islam op die toneel verskyn het en dit is hierdie godsdienstige spanning wat die stad ’n swaar klip maak. Gedurende die Middeleeue het Rooms-Katolieke kruisvaarders uit Europa probeer om die stad van Islamitiese beheer te bevry. Meer onlangs was Jode en Arabiere in oorlog gewikkel oor die stad. Ja, dit is ’n baie swaar klip en almal wat probeer om dit op te tel, sal hom uiteindelik self daarmee seermaak.
Nog ’n verstommende detail van daardie verse is dat Jerusalem deur vyande omsingel sou word en “al die nasies van die aarde sal daarteen vergader” – gegrief oor die Jode die stad beheer. Deesdae is anti-Semitisme – skokkend genoeg – aan die toeneem regdeur Europa, Rusland en die nasies van Amerikaanse en Britse afkoms.
Sagaría eindig egter nie daar nie. God vertel aan ons deur Sy profeet van nog ’n merkwaardige feit – dat die Israeliese staat teen die eindtyd oor ’n magtige militêre mag sal beskik. “In dié dag sal Ek die stamhoofde van Juda maak soos ’n pan met vuur onder ’n hoop hout en soos ’n brandende fakkel onder gerwe – hulle sal regs en links al die volke rondom verteer; maar Jerusalem sal nog bewoond wees op sy plek in Jerusalem” (Sagaría 12:6).
Sagaría het dit 2,500 jaar gelede voorspel, maar besef u dat daar selfs ’n ouer profesie is wat dieselfde gebeure óók voorspel?
Die aartsvader Jakob, wie se naam na Israel verander is, het twaalf seuns gehad. Aan die einde van sy lewe het hy voorspel wat van elke seun se nageslag sou word namate hulle in stamme en nasies toegeneem het – nie in daardie era nie, maar meer as 3,700 jaar in die toekoms, aan die einde van hierdie tydperk. “Daarna het Jakob sy seuns geroep en gesê: Kom bymekaar, dat ek julle kan verkondig wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar” (Génesis 49:1). Was hierdie profesieë die gevolg van ’n bejaarde en hallusinerende kranksinnige man of was dit gegee onder God se inspirasie? U is die regter: Kom ons lees wat Jakob gesê het oor Juda, die vader van die Jode, in die laaste dae. “Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; voor jou sal die seuns van jou vader hulle neerbuig. Juda is ’n jong leeu; van die roof af het jy opgeklim, my seun. Hy buig hom, hy gaan lê soos ’n leeu en soos ’n leeuin; wie sal hom opjaag?” (Génesis 49:8-9).
Is dit nie presies wat ons sien nie? Keer op keer is die leeu opgewek. Terwyl die Hamas-terroriste Israel in Oktober 2023 wreed aangeval het, het hulle die leeu in die oog gesteek en hulle het ’n duur prys daarvoor betaal. Israel het beide Hamas sowel as Hezbollah effektief uit die weg geruim.
In die boek van Jesaja is nog ’n profesie oor die Jode. Dit is gerig aan “Ariël” en terwyl daar getwis is oor wat daardie woord beteken, stem feitlik alle geleerdes saam dat dit ’n profesie is oor die huis van Juda en Jerusalem. Die vroeë vervulling daarvan was gedurende die tyd van Assiriese koning Sánherib, maar daar is duidelik ook ’n eindtydse vervulling. Let op hoe die Jode se vyande oorwinning verwag, net om wakker te word en te besef dit is niks meer as ’n droom nie, net ’n illusie.
“En soos ’n droom, ’n naggesig, sal die menigte van al die nasies wees wat oorlog toe trek teen Áriël, ja, almal wat teen hom oorlog toe trek en teen sy bergvesting en hom benoud maak. En soos ’n hongerige droom dat hy eet, maar hy word wakker en – sy siel is leeg; en soos ’n dorstige droom dat hy drink, maar hy word wakker en – hy is moeg en sy siel versmag: só sal die menigte van al die nasies wees wat oorlog toe trek teen die berg Sion” (Jesaja 29:7-8).
Daar sal egter ’n tyd kom wanneer die Joodse staat omvergewerp sal word en dit sal nodig wees dat die Messías, bekend as Jesus Christus, sal terugkeer om die Jode te red. Sagaría beskryf alle nasies wat teen die kleine Israel bymekaarkom:
“Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad [wat ’n verdeelde stad aandui] sal uitgaan in ballingskap; ... En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant” (Sagaría 14:2-4).
Nee, daar sal geen vrede in daardie deel van die wêreld wees nie, dit maak nie saak wie die president van die Verenigde State is nie. Daar mag dalk ’n kortstondige uitbundigheid wees oor wat voorkom as vrede, maar dit sal nie lank aanhou nie. Die apostel Paulus het gewaarsku: “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ’n skielike verderf hulle soos die barensnood ’n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thessalonicense 5:3). Die konteks sê vir ons dat dit na die eindtyd verwys.
Daaglikse offers in Jerusalem
Ja, dit is maklik verstaanbare profesieë aangaande die Jode en Jerusalem, wat 2,000 jaar en selfs 3,700 jaar gelede gegee is, wat op die oomblik vervul word en sigbaar is, alhoewel ons nie die spesifieke tyd van die meeste Bybelse profesieë begryp nie. Kom laat my een profesie verduidelik wat nog moet plaasvind terwyl ek hierdie artikel skryf. Dit is een wat letterlik enige tyd kan begin. Ons verwag nie dat dit lank sal neem nie, al kan ons nie ’n datum daarvoor vasstel nie. Een deel van hierdie profesie sal ’n aftelling begin vir die tyd van Christus se Wederkoms. Ons lees hiervan in Daniël 12.
Daniël wou weet wanneer die einde sou kom en was meegedeel dat die visioene wat aan hom gegee was verseël was tot die eindtyd (Daniël 12:4). Dit “sal ’n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ’n volk bestaan het tot op dié tyd nie” (vers 1). Dit sou ’n tyd van massavervoer en ’n dramatiese toename in kennis wees (vers 4) en die konteks dui duidelik aan dat dit die tyd van God se ingryping aan die einde van hierdie tyd sal wees (vers 1-4).
Die profeet wou nogtans weet wanneer al hierdie dinge sou gebeur, God het vir hom gesê dat die profesieë wat hy aangeteken het verseël sou wees tot die einde van die tyd. God het nietemin ’n teken geopenbaar om op ag te slaan, aangesien dit ’n aftelling tot die einde sou begin. “En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend-twee-honderd-en-negentig dae verloop” (Daniël 12:11).
Daar was ’n vorige vervulling van die gruwel van verwoesting in die tyd van koning Antiochus Epiphanes in 167 v.C. toe hy varkbloed op die altaar van die Jerusalemse tempel geoffer het. Nog so ’n gruwel het plaasgevind toe leërs onder die Romeinse keiser Titus, Jerusalem en die tempel in 70 n.C. vernietig het. Daar is egter ook ’n finale eindtydse gruwel van verwoesting wat kom. Jesus het hiervan gepraat in wat ons die Olyfbergprofesie noem.
“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae. En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie” (Matthéüs 24:15-20).
Die volgende twee verse gee aan ons die tydsbepaling van die profesie – die einde van die tyd wat lei na Christus se Wederkoms. “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (verse 21-22).
Daaglikse offers is vir die grootste deel van 2,000 jaar nie in Jerusalem geoffer nie. Die duidelike gevolgtrekking is dat offers eers moet begin. Let dus op na wanneer Jode weer begin om daaglikse offers te bring. Ons kan weet dat wanneer dit gebeur, die einde nie ver kan wees nie. Die beëindiging van daardie offers sal ’n aftelling inisieer wat lei tot die Wederkoms van Jesus Christus (Daniël 12:11).
Vervalste Christendom
Laat ons nou oplet na nóg ’n profesie wat op die oomblik vervul word, een wat duidelik is vir diegene wie oplettend is. Johannes was die laaste een van Christus se oorspronklike Apostels om te sterf. Hy was ’n groot genoeg probleem vir die owerhede dat hy selfs op ’n baie gevorderde ouderdom na die eiland Patmos verban was – ’n strafkolonie in die suid Egeïese See. Daar het God vir hom visioene gegee wat ’n tydlyn van eindtydgebeure uiteensit.
Daardie tydlyn was geopenbaar op ’n boekrol met sewe seëls wat net die Lam van God, Jesus Christus, kon oopmaak (Openbaring 5:3-9). Wanneer die Lam die eerste vier seëls oopmaak, vind ons die bekende “vier ruiters van die Apokalips”. Baie mense het van hulle gehoor en baie mense praat van hulle, maar min mense kan aan u vertel wat hulle simboliseer, soos wat wyle Richard Ames ons herinner het.
Terwyl die seëls oopgemaak word, sien ons eers ’n wit perd met ’n ruiter wie ’n boog dra en “hy het uitgegaan as ’n oorwinnaar en om te oorwin” (Openbaring 6:1-2). Dan sien ons ’n tweede ruiter op ’n rooi perd, met ’n “groot swaard” om “vrede van die aarde af weg te neem” (verse 3-4). Wanneer die derde seël oopgemaak word, sien ons ’n man wat op ’n swart perd ry, wie ’n weegskaal dra wat koring en gars afweeg (verse 5-6). Die vierde ruiter op ’n vaal perd, word gevolg deur die dood. Die ruiter van die rooi perd simboliseer oorlog, die ruiter van die swart perd simboliseer hongersnood en die ruiter van die vaal perd simboliseer pes – maar wat van die eerste ruiter op ’n wit perd?
Kommentators identifiseer hierdie eerste perd en sy ruiter as Christus of Sy volgelinge wat die Evangelie versprei. Hulle maak hierdie fout omdat ons in Openbaring 19 lees van ’n wit perd wat “Die Koning van die konings en die Here van die here” dra – ’n duidelike verwysing na Jesus Christus (verse 11 en 16). ’n Noukeurige ondersoek hieroor openbaar belangrike verskille tussen hierdie twee ruiters. Die een ruiter dra ’n boog, terwyl die ander ruiter ’n skerp swaard vashou. Dit is betekenisvol, maar wat beteken dit? Ons het in hoofstuk 5 gesien dat net Christus die seëls kan oopmaak en wanneer ons na Christus se woorde kyk wat elders gespreek was, vind ons die antwoord.
Tydens Sy laaste besoek aan Jerusalem het Jesus en Sy dissipels die tempel besoek. Terwyl hulle daardie manjifieke kompleks verlaat, het hulle hul verwonder oor die skoonheid en grootsheid daarvan. Dit was toe dat Jesus hulle geskok het en sy ontnugterende toekoms vir die tempel verklaar het. “Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie” (Matthéüs 24:2). Ons kan verstaan dat die dissipels wou weet wanneer so ’n verskriklike gebeurtenis sou plaasvind en hulle wou ook weet wanneer die eindtyd sou aanbreek. “En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” (Matthéüs 24:3).
Die heel eerste teken wat Christus openbaar het, behoort alle belydende Christene te skok. Ongelukkig lees die meeste oor dit wat Hy gesê het en dink dat dit nie op hulle van toepassing is nie. “En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (verse 4-5). Om in die Naam van Christus te kom, beteken om Hom te verteenwoordig. Wanneer die balju kom aanklop en sê: “Maak oop in die naam van die gereg”, sê hy dat hy die gesag van die wet verteenwoordig en dra. Christus sê dat baie mense in Sy Naam sou kom en beweer dat hulle Hom verteenwoordig en sê dat Jesus die Christus is en sodoende die meerderheid van mense, nié die minderheid nie, sou mislei.
Jesus het toe tekens gegee wat oorlog, hongersnood en pes openbaar (Matthéüs 24:6-7) – presies wat beskryf word deur die tweede, derde en vierde ruiters van Openbaring. Indien ons Jesus die seëls laat oopmaak, sien ons duidelik dat die eerste ruiter Hom nie verteenwoordig nie. Dit verteenwoordig ’n bedrieglike, valse Christendom.
Afvallige Christendom is niks nuut nie. Oorloë, hongersnood, pessiektes en aardbewings ook nie. Dit is waarom Jesus Sy dissipels gewaarsku het dat “wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie skrik nie; want dié dinge moet eers plaasvind, maar dit is nie dadelik die einde nie” (Lukas 21:9). Terwyl Jesus die betekenis en volgorde van die vier ruiters verduidelik, fokus die boek Openbaring dus op ’n veel ernstiger voorkoms van hierdie plae op die mensdom soos wat nog nooit tevore ervaar is nie.
Die Bybel waarsku ons oor die koms van ’n groot valse profeet wat binnekort sal verskyn en die hele “Christelike” wêreld sal mislei met tekens, wonders, dwase entoesiasme en emosie, soos wat Satan deur hom sal werk. Let op hierdie gedeelte uit Openbaring: “En uit die aarde het ek ’n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ’n lam en het gepraat soos ’n draak ... Hy doen ook groot tekens, sodat Hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense” (Openbaring 13:11, 13).
Ons het uit Bybelse profesieë gesien dat daar geen vrede in die Midde-Ooste sal wees voordat Jesus Christus ingryp nie. Ons sien profesieë wat 2,500 en 3,700 jaar gelede gemaak is en op hierdie oomblik gestalte aanneem: Die Jode het ’n Joodse staat en besit Jerusalem. Hulle is omring deur ’n vyandige wêreld en swaai die septer met ’n agressiewe militêre mag oor hulle vyande. Hierdie profesieë wat lank gelede uitgespel is, vind nou plaas vir enige iemand om waar te neem. Die bron van hierdie profesieë – die Bybel – sê vir ons dat offers weer in Jerusalem sal begin voordat ’n vreemde mag dit sal beëindig. Jesus Self waarsku ons meer as een keer teen ’n bedrieglike, valse Christendom.
Hierdie is profesieë waarop u kan staatmaak. Presidente kom en gaan, maar die Woord van die Almagtige God staan vir ewig!


