Inhoudsopgawe

Voorwoord - Die rede vir die seisoen?
Hoofstuk 1 - Waarom 25 Desember?
Hoofstuk 2 - Wanneer is Jesus gebore?
Hoofstuk 3 - Drome van ’n kommersiële Kersfees?
Hoofstuk 4 - Kersvader of die “Ho, Ho, bedrogspul”?
Hoofstuk 5 - Immergroen bome en ander Kersfeestradisies
Hoofstuk 6 - Kan Kersfees die “heidene heilig”?
Hoofstuk 7 - God bied ’n beter manier
Hoofstuk 8 - Baie mense distansieer hulle van Kersfees

Ons sien die toneel elke jaar … versierde bome, immergroen kerskranse en helder veelkleurige liggies. Somtyds is daar ’n kerstoneel in die hoek wat ’n klein kindjie uitbeeld wat ’n groot aantal geskenke kry. Nogtans word die meeste geskenke aan kinders, familie en vriende deesdae geskenk deur skuldbelaaide volwassenes wat probeer om mekaar te oortref betreffende die nuutste modegier of stokperdjie.

Is dit wat Jesus Christus in gedagte gehad het vir Sy volgelinge? Trouens, wat het hierdie tradisies enigsins te doen met die geboorte van Jesus Christus? Mense sê dikwels “kom ons bring Jesus terug in Kersfees”, maar was Hy ooit daar? Waar kry ons hierdie tradisies vandaan? Die antwoord mag u verbaas!

Inhoud


Voorwoord

Die rede vir die seisoen?

Kersfees is volgens die meeste standaarde regoor die wêreld, die gewildste enkele vakansiedag, sowel as die middelpunt van die wêreld se grootste godsdienstige tradisie. Nege uit tien mense sê hulle vier Kersfees. Byna almal wat hulleself “Christene” noem, vier die dag en in die Verenigde State maak selfs agt uit tien nie-Christene daarop aanspraak dat hulle een of ander soort Kersvakansie vier (ibid.).

Wat word dan gevier? Miljoene mense dompel hulleself in die skuld om geskenke te koop vir die viering van ’n Jesus wat ons daaraan herinner dat ons nie God én Mammon kan dien nie. Dit wil voorkom of hulle dink dat die Verlosser wat ons teen gierigheid gewaarsku het, vereer word deur die jaarlikse verbruikerswaansin wat rondom die Kersboom ’n hoogtepunt bereik. Elke Desember ooreet miljoene jolige pretmakers hulle aan ryk voedsel, drink ’n bietjie te veel en neem deel aan roekelose gedrag – ter viering van die Verlosser wat in Sy Bergpredikasie, sagmoedigheid en nederigheid verkondig het.

Wat dan van kerk? Byna enige predikant, pastoor of priester kan u van “tweekeer-per-jaar Christene” vertel wat net op Kersdag en Paasfees hulle opwagting by die kerk maak.

Dan is Kersfees ook ’n tyd wanneer vroom gelowiges die “Kerstoneel” opstel en nadink oor die legendes rondom Christus se geboorte. In plaas daarvan om hulle gedagtes met die nuutste verbruikersgier of winskopies te vul, verkies hulle om aan die Liewe Jesus-baba in Sy krip te dink wat deur die wyse manne met geskenke besoek word. Sou hierdie welmenende mense geskok wees om te verneem dat hierdie algemene Kersfeestoneel nie net nêrens in die Bybel gevind kan word nie, maar dat die Bybel self heeltemal ’n ander weergawe verkondig as dié een wat hulle geleer het?

Kersfees het vir miljoene mense om verskeie redes belangrik geword. Dit is pret. Dit is winsgewend. Dit is ’n manier om oor geliefde tradisies te besin. Tog is daar ’n fundamentele vraag wat gewoonlik onbeantwoord bly: Is Kersfees Christelik?

Lees verder en die inligting in hierdie boekie sal u oë laat oopgaan, u perspektief verander – u moontlik selfs aanspoor tot ’n veel dieper en betekenisvoller verhouding met die Ware Jesus Christus – baie meer as al die legendes en tradisies van Kersfees!

Inhoud


Hoofstuk 1

Waarom 25 Desember?

Hoe het Kersfees ontstaan? Lank voor Jesus se geboorte, was die seisoen rondom 25 Desember ’n verjaardagviering! Kersfees het ’n voor-Christelike oorsprong!

Elke jaar omtrent daardie tyd het ’n gebeurtenis plaasgevind wat baie belangrik vir die antieke landbougemeenskappe was – dit was die wintersonstilstand genoem. Daardie gebeurtenis vind plaas wanneer die dae nie meer korter word nie maar langer raak. Die son se boog raak elke dag hoër in die lug, wat die terugkeer van die lente beteken en lei tot ’n hergeboorte van lewe ná die winter se skynbaar dooie aarde [Noordelike halfrond]. Kulturele antropoloë merk op: “Mense regoor die wêreld het vir etlike ontelbare millennia aan ’n godsdienstige ritueel deelgeneem tydens die wintersonstilstand, wanneer die son se afwaartse koers ophou en dit terugkeer na die aarde, soos dit vir hulle gelyk het. Hierdie verandering van die weerstoestand, in die gure hartjie van die winter, is ervaar as die hergeboorte van die son en is herdenk as die geboortedag van die songod, die liggewende goddelike kind” (The Myth of the Goddess, Baring en Cashford, bl. 561).

Wanneer die son flouer geskyn en die dae korter geword het, het dit die begin van die winter en die verlies van produktiwiteit in die land aangedui. Wanneer dit die kortste dag van die jaar is, is dit die laagste punt van die son se boog in die lug. Daardie dag word die wintersonstilstand genoem. Ná daardie tyd begin die boog van die son deur die lug elke dag hoër klim en voorspel die koms van die lente asook ’n vernuwing van die aarde. Die fees in die hartjie van die winter wanneer die wintersonstilstand is, was ’n belangrike gebeurtenis vir alle sonaanbiddende kulture en baie mitologie het daar rondom ontstaan. Baie feesvieringe het ook hiermee gepaard gegaan.

Die feit dat Kersfees van heidense oorsprong is, is nie juis omstrede nie – soos gewilde ensiklopedieë daarvan getuig. Let op wat die Encyclopaedia Britannica daaroor te sê het: “Die onderhouding daarvan as die geboortedag van die Verlosser gaan gepaard met wêreldse gebruike wat dikwels afkomstig is van heidense bronne: Kersfees en Driekoningefees, [viering van wyse manne wat na Jesus gekom het] wat 12 dae later op 6 Januarie val, is inderdaad veranderde heidense vieringe van die wintersonstilstand, wat so nou verbind is dat hulle oorsprong nie afsonderlik bespreek kan word nie”.

“25 Desember in Rome – Dit was die datum van ’n heidense fees in Rome wat deur keiser Aurelianus in 274 n.C. gekies is as die geboortedag van die onoorwinlike son (natalis solis invicti), wat met die wintersonstilstand weer begin om helderder te skyn. Op ’n stadium voor 336 n.C. het die kerk in Rome die herdenking van die geboortedag van Christus en die son van geregtigheid, op dieselfde datum vasgestel”.

“Tradisionele gebruike – Die tradisionele gebruike wat met Kersfees verband hou, is ontleen vanuit verskeie bronne, as gevolg van die toevallige ooreenstemmende tyd van die fees van die geboorte van Christus en die heidense landbou en son se herdenkingsdae in die hartjie van die winter. In die Romeinse wêreld was die Saturnalia (17-24 Desember) ’n tyd van uitbundige pret en die uitruil van geskenke ... Hoewel Kersfeesvieringe indirek deur hierdie gewoontes beïnvloed is, het die feit dat Kersfees op die verjaardag van die onoorwonne son gevier is, die seisoen ’n son-agtergrond gegee, wat verband hou met die kalenders van Januarie (1 Januarie) – die Romeinse Nuwejaar wanneer huise met groenigheid en ligte versier is en geskenke aan kinders en die armes gegee is. Germano-Keltiese “yule” gebruike was by hierdie herdenkingsdae van die sonstilstand gevoeg toe die Germaanse stamme, Gallië [Frankryk], Brittanje en Keltiese Europa binnegedring het. Die “Kerstyd” het na sy eie tradisie van feesvieringe en lykshuisgebruike gelei om saam te val met die Romeinse sonstilstand en tradisionele Nuwejaarsgebruike ... Immergroen bome as simbole van oorlewing het ’n lang verbintenis met Kersfeesvieringe, wat waarskynlik dateer uit die agtste eeu toe St. Bonifatius die verchristeliking van Duitsland voltooi en die denneboom aan die Heilige Kind opgedra het om die heilige eik van Odin te vervang” (“Christmas,” bl. 704, Vol. 5, 1970 uitgawe).

Nog ’n uitgawe van Britannica voeg by: “Die presiese oorsprong van die vasstelling van 25 Desember as die geboortedatum van Jesus is onduidelik. Die Nuwe Testament bied geen leidrade in hierdie verband nie. 25 Desember is vir die eerste keer as die datum van Jesus se geboorte deur Sextus Julius Africanus in 221 geïdentifiseer en het later die algemeen aanvaarde datum geword. Een algemene verduideliking van die oorsprong van hierdie datum is dat 25 Desember die verchristeliking was van die dies solis invicti nati (“dag van die geboorte van die onoorwinlike son”). Dit was ’n gewilde vakansiedag in die Romeinse Ryk wat die wintersonstilstand gevier het as ’n simbool van die herlewing van die son, die beëindiging van die winter en die aankondiging van die hergeboorte van die lente en somer. Trouens, nadat 25 Desember algemeen aanvaar is as die datum van Jesus se geboorte, het Christelike skrywers gereeld die hergeboorte van die son en die geboorte van die Seun aan mekaar gekoppel. Een van die probleme met hierdie siening is dat dit dui op ’n ongeërgde bereidwilligheid aan die kant van die Christelike kerk om ’n heidense fees vir hulle toe te eien, dít terwyl die vroeë kerk so vasbeslote was om homself kategories te onderskei van heidense oortuigings en gebruike” (Encyclopaedia Britannica, “Christmas”).

Britannica gaan voort: “Kersfees was nie onder die vroegste feeste van die kerk nie ... Kersfeesgebruike is ’n evolusie van die tye lank voor die Christelike tydperk – ’n herkoms van seisoenale, heidense, godsdienstige en nasionale gebruike, omhul met legende en tradisie” (1959, Vol. 5, “Christmas,” bl. 642).

“In die suide van Europa, in Egipte en Persië, was die songode aanbid met noukeurig uitgewerkte seremonies tydens die seisoen van die wintersonstilstand as ’n gepaste tyd om hulde te bring aan die goedgunstige god van oorvloed, terwyl die Saturnalia vieringe in Rome ’n week lank geduur het. Vir die lande in die noorde was die middel van Desember ’n kritiese tyd aangesien die dae al hoe korter en korter geword het, die son was dus verder weg en het flouer geskyn. Hierdie antieke mense het dus feeste gehou op dieselfde tyd as wat Kersfees nou gevier word ... Dus het die sentrale idee van die wintersonstilstand – die terugkeer van lig – die hoop van die wêreld geword met die Geboorte van Christus, die lig van die wêreld ... Toe die kerkvaders in 440 n.C. op ’n datum besluit het om hierdie gebeurtenis [Christus se geboorte] te vier, het hulle keuse gerieflikheidshalwe geval op die dag van die wintersonstilstand wat ferm gevestig was in die denke van die mense en wat hulle heel belangrikste fees was. As gevolg van veranderings in mensgemaakte kalenders, kan die tyd van die wintersonstilstand en die datum van Kersfees met ’n paar dae verskil” (ibid., bl. 643).

Het u daarop gelet dat die belydende Christelike owerhede in 440 n.C. eenvoudig ’n antieke heidense gebruik oorgedra het na die aanbidding van Christus terwyl hulle in effek gedink het dat hulle kon “verchristelik” wat die heidene alreeds gedoen het! Het hulle egter heidense gebruike “verchristelik” of het hulle Christelikheid “verheidens”?

Inhoud


Hoofstuk 2

Wanneer is Jesus gebore?

Gedurende watter tyd van die jaar is Jesus werklik gebore? Dit mag u dalk verras om te weet dat dit nie teen die einde van Desember kon wees nie! Lukas 2:8 dui die volgende aan ten tye van Jesus se geboorte: “En daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het.” Hierdie gebeurtenis kon nie in die winter plaasgevind het nie, aangesien die vee in die vroeë herfs van die weivelde af na meer beskutte areas ingebring is om die winter daar deur te bring. Die winters in daardie streek is koud en nat, soms bedek sneeu die verdorde droë weivelde. Die herders en die skape kon nie die blootstelling aan die elemente die hele winter verduur nie. Let op die duidelike stellings hieroor in die bekende Adam Clark’s Commentary: “Dit was ’n gebruik onder die Jode om hulle skape ongeveer ten tye van die Pasga na die woestyne uit te stuur en om hulle weer huistoe te bring met die begin van die eerste reën. Gedurende die tyd wat hulle in die oop veld was, het die herders hulle dag en nag opgepas. Aangesien die Pasga in die lente [noordelike halfrond] val en die eerste reëns vroeg in die maand van Marchesvan begin, wat ooreenstem met ons Oktober en November, vind ons dat die skape die hele somer in die oop veld gehou is. Aangesien hierdie herders nog nie hulle vee huistoe gebring het nie, kan ons aanvaar dat dit nog nie die maand Oktober was nie en dat ons Here gevolglik nie op die 25ste Desember gebore is nie. Daar kon geen vee buite in die veld gewees het nie; nog minder kon Hy later as September gebore gewees het, aangesien die troppe vee nog in die oop veld was gedurende die nag. Op grond hiervan behoort die geboorte in Desember laat vaar te word” (“Lukas 2:8”).

Indien Jesus nie in Desember gebore kon wees nie, is daar dan enige aanduiding wanneer Hy gebore was? Die presiese datum kan nie uit die Skrif vasgestel word nie, maar daar is sterk aanduidings dat dit in die vroeë herfs [noordelike halfrond] moes wees, om en by September.

Let daarop dat Jesus Sy bediening begin het voor of ná Sy dertigste verjaardag. “En Hy, Jesus, was omtrent dertig jaar oud toe Hy begin leer het” (Lukas 3:23). Die Evangelieweergawes toon dat Sy bediening beëindig is ná drie-en-’n-half jaar, toe Hy gekruisig is tydens die Pasga, wat in die lente van die jaar, laat in Maart of vroeg in April, plaasgevind het. Dit plaas die tyd van Sy geboorte ’n halwe jaar ná die Pasga, in die herfs, om en by laat September of vroeg Oktober.

Die tydsberekening van die geboorte van Johannes die Doper verskaf ook nog ’n bevestiging dat Jesus gedurende die herfs gebore is.

Ons lees in Lukas 1 van ’n belangrike gebeurtenis in die aanloop tot die verwekking en geboorte van Jesus. Daar was ’n priester met die naam Sagaria wat volgens sy aangewese priesterlike diensgroep uit die afdeling van Abía in die tempel diens gedoen het (vers 5). Elisabet, sy vrou, was ’n niggie van Maria, Jesus se moeder. Sagaria en Elisabet was albei op ’n “vêr gevorderde leeftyd” (vers 7) en het geen kinders gehad nie. Toe Sagaria besig was om op sy aangewese tyd in die tempel te dien, het die engel Gabriël aan hom verskyn en aan hom gesê dat sy vrou swanger sou word. Ons leer daardie kind later ken as Johannes die Doper (Johannes 1:13-17).

Eeue vroeër het koning Dawid die priesterdom wat in die tempel gedien het, in 24 groepe verdeel om diensbeurte te roteer (1 Kronieke 24:1-19). Sagaria was in die agtste groep van die 24 en dit het ooreengestem met ’n sekere tyd van die jaar – om en by die einde van Mei, op ons kalender. Die Heilige Dag van Pinkster was gedurende die week ná afloop van Sagaria se beurt en dit was van hom verwag om ook gedurende daardie tyd diens te doen, net soos al die ander priesters. Hy was weg van sy vrou tydens sy dienstyd en die vroegste wat hy kon teruggekeer na die huis en ’n kind sou kon verwek, was om en by die tweede week van Junie.

Dieselfde engel, Gabriël, is ses maande later na Elisabet se niggie Maria, wat ’n maagd was, gestuur om haar te vertel dat sy deur die krag van die Heilige Gees swanger sou word met die Messias. “En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word. En kyk, Elisabet, jou bloedverwant, het self ook ’n seun ontvang in haar ouderdom, en hierdie maand is die sesde vir haar wat onvrugbaar genoem is. Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie” (Lukas 1:35-37).

Indien Johannes die Doper verwek is kort nadat Sagaria teruggegaan het huistoe in die middel van Junie en Jesus ses maande later verwek is, dan plaas dit Jesus se geboorte in die middel tot laat September. Teen daardie tyd van die jaar, sou die vee nog steeds in die veld gewees het, soos wat Lukas 2:8 sê: “En daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het.” Christus se geboorte het nie tydens die wintersonstilstand in laat Desember plaasgevind nie.

Elke Desember hoor u dit – “Kom ons plaas Christus terug in Kersfees”. Die rede waarom mense die behoefte voel om “Christus in Kersfees te plaas”, is omdat Hy nooit in Kersfees was nie – Hy is ook nie nou nie!

Inhoud


Hoofstuk 3

Drome van ’n kommersiële Kersfees?

Baie mense wat Kersfees vier, kla oor die “kommersialisering” van Kersfees. Kleinhandelaars het selfs ’n term – “Kersfeeskriewels” – om te beskryf hoedat die Kersfees kleinhandelseisoen skynbaar al hoe vroeër elke jaar begin. Baie van ons kan onthou toe vakansieversierings slegs in Desember in die winkels te voorskyn gekom het. Sedertdien het die verkoopseisoen in November al begin en Kersmusiek word in die winkels gespeel. Nou sien ons dikwels versierings en hoor ons seisoenale musiek in die inkopiesentrums om en by Halloween in Oktober.

So ver as wat dit die wêreldse bevordering van die Kersvakansie betref, is die “rede vir die seisoen” duidelik – “Volg net die geld!

“Swart Vrydag” is die naam wat kleinhandelaars aan die dag net ná Danksegging in die V.S. en die V.K. gegee het – of “Vendredi Noir” in Frankryk – wat almal aan die einde van November voorkom. Dit verwys na die tyd wanneer kleinhandelaars tradisioneel van mening is dat hulle kontantvloei – wat die meeste van die jaar in die rooi is – tot ’n wins oorgaan wanneer hulle dan sê hulle is “in die swart”. Dit beteken dat die meeste van hulle winste uit verkope in die vakansieseisoen kom – geen Kersfees, geen wins!

Die Kersvakansie is van kritieke belang vir die ekonomie van die kleinhandel. Hulle sou die koopseisoen natuurlik so lank as moontlik wou uitrek. Daar bestaan ’n groot finansiële motivering om kleinhandel-aktiwiteite gedurende daardie tydperk te maksimaliseer.

Kersfees kan “maak of breek” beteken vir kleinhandelaars. Elke jaar probeer hulle maniere vind om hulle verkope te laat toeneem of die verkoopsvolume gedurende die vakansie te verhoog. Kreatiewe bemarkers vind talle maniere om ’n langer verkoopseisoen te skep aangesien dit beteken dat meer verbruikers se swaar verdiende kontant beskikbaar is om handelaars se produkte te koop. Indien kliënte nie regdeur die jaar vir Kersaankope gespaar het nie – wat die geval is met die meeste mense – sal hulle waarskynlik hulle aankope met hulle huidige salarisse of lone óf met kredietkaartskuld moet finansier. Om dus ’n drie of vier maande verkoopseisoen te hê, bring meer verkope mee as om bemarking eers in Desember te begin – dus sien ons wat kleinhandelaars “Kersfeeskriewels” noem. Die vakansie se bemarkingseisoen “sluip” in November, Oktober of selfs vroeër in, indien handelaars daarmee kan wegkom.

Een van die belangrikste bemarkingstrategieë is om ’n “Kersfees-atmosfeer” in die winkels en koopsentrums te skep. Vakansieversierings begin om kopers aan die seisoen te herinner en dra by tot ’n feestelike atmosfeer van betrokkenheid daarin. Daar is spoedig seisoenale musiek – gewoonlik van ’n wêreldse aard om te voorkom dat nie-godsdienstige mense aanstoot neem – dit is ’n baie belangrike element om kopers te oorreed om al hoe meer te koop. Neuriesangers waarvan sommiges al iets van die verlede is, sing sentimentele weergawes van “Santa Claus is Coming to Town” of “Rudolph the Red-Nosed Reindeer”. Sodra die verkoopseisoen in Januarie verby is, is die meeste mense baie verlig om van die konstante musikale bemarking af weg te kom.

Baie werkgewers gee aan die einde van die jaar bonusse en die kleinhandelaars wil beslag lê op soveel as moontlik van daardie bonusgeld. Baie handelaars hou dus groot uitverkopings aan die einde van die jaar om van oortollige handelsware ontslae te raak en sodoende daardie kontant self in te palm!

Skuldgevoelens verkoop! Wanneer kinders nie “’n lekker Kersfees” het nie, veroorsaak dit dat ouers skuldig voel en hulle glo dat hulle nie goeie ouers is nie. Hoe dikwels is u al gevra: “Het u ’n lekker Kersfees gehad hierdie jaar?” ’n Groot mate van sentiment word elke Kersoggend geheg aan die teenwoordigheid van ’n groot hoop geskenke wat die skenkers finansieel opgeoffer het om te koop – soveel so dat die belangrikste begunstigde van daardie sentiment die handelaar mag wees wat die geskenke verkoop het, eerder as die ontvangers.

Finansiële oorspandering tydens Kersfees vir emosionele redes is ’n algemene probleem – krediet-invorderingsagentskap-pe is ten volle bewus daarvan.

Kredietkaartskuld – “Die spook van verlede Kersfees”

“Wat toon die kaarte?” Kersfeesskuld! Kredietkaartskuld skiet die hoogte in gedurende die vakansies – dit moet dan gedurende die res van die jaar teen baie hoë rentekoerse afbetaal word. Persoonlike finansiële deskundiges noem hierdie ophoping van duur skuld die “Vakansieskuld-babbelas”. Krediet-invorderings-agentskappe hou daarvan! “Agentskappe wat skuldberading doen sien ’n 25% toename in die aantal mense wat in Januarie en Februarie hulp soek – die grootste deel van daardie toeloop, klop by hulle deure aan vir hulp met rekenings wat by die verbruikers spook soos die spook van verlede Kersfees ... ‘Heelwat mense kom tog reg omdat hulle die minimum op hulle kredietkaarte afbetaal’, sê Durant Abernethy, president van die Nasionale Stigting vir skuldberading. ‘Wanneer die vakansie-rekenings bymekaargetel word is daardie minimum bedrae skielik meer as wat hulle kan bekostig’” (Eileen Alt Powell, “Lingering Christmas Bills Can Lead to Debt Woes,ABCNews.go.com. 7 Maart 2014).

Kredietkaartmaatskappye hou baie van die vakansieseisoen en die “vakansieskuld-babbelas” wat dit meebring. Dit is uiters winsgewend vir hulle en uiters duur vir onverstandige vakansiekopers. Daar is baie nugter advies oor die hantering van die probleme wat die vakansieseisoen skep. Deborah Fowles verskaf advies op about.com, “Hoe om die Finansiële vakansie-babbelas te vermy: Klink hierdie scenario bekend? U gebruik kredietkaarte om u vakansie-inkopies te doen en belowe uself dat u die skuld binne twee of drie maande sal afbetaal. Ses of agt maande later (of meer), betaal u nog steeds en daardie items wat na sulke groot winskopies gelyk het, kos u uiteindelik 10 tot 20% meer as wat u gedink het, as gevolg van kredietkaartrente. Vir baie mense word hierdie skuldpatroon jaarliks herhaal. Daar is tye wanneer dit sin maak om kredietkaartskuld aan te gaan, maar om geskenke gedurende die vakansie aan te koop is nie een daarvan nie. Die gebruik van kredietkaarte lei dikwels tot impulsiewe besteding, oorbesteding en verhoogde skuld” (“Avoid Credit Card Debt During the Holidays”).

Indien die koop van geskenke van die vakansieseisoen ’n ekonomiese seën vir kleinhandelaars en kredietkaart maatskappye is, is die maande na die vakansies ’n ware goudmyn vir krediet-invorderingsmaatskappye. Hulle doen baie van hulle besigheid as gevolg van vakansie kredietkaartaankope.

Handelaars se “Kersfeeskriewels” mag dalk veroorsaak dat mense voel die vakansie se verkope begin elke jaar al hoe vroeër, maar die vakansieseisoen het eintlik baie vroeër begin as wat die meeste mense dink. Wat die geskiedenis aanbetref, die viering van 25 Desember het as die geboortedag van die songod begin, nié as die Seun van God nie!

Inhoud


Hoofstuk 4

Kersvader of die “Ho, Ho, bedrogspul”?

Hoeveel kinders het hulle ouers al gevra: “Wat het Kersvader met die geboorte van Jesus te doen?” Of, “my vriende sê daar is geen Kersvader nie. Bestaan Kersvader werklik?” Het hulle ’n eerlike antwoord ontvang?

Kinders word aangemoedig om in die mite van ’n Kersvader te glo, maar op een of ander stadium vind hulle wel uit dat die hele storie nooit waar was nie. Hulle leer dat daar geen onsterflike, bebaarde, gesette man in ’n rooi pak klere is nie, geen rendier en geen werkswinkel by die Noordpool waar besige kabouters speelgoed maak nie. Wat hulle van daardie onvermydelike ontdekking oorhou, is die idee dat daar mites is wat met hulle godsdienstige oortuigings verband hou. Kersfees, na alles, is veronderstel om ’n godsdienstige fees te wees. Die mite van ’n Kersvader word aan ’n ontvanklike jong verstand opgedis as die feitelike waarheid – later vind die kind uit dat dit nooit werklik waar was nie. Ouers mag selfs vervalste bewyse van Kersvader se besoek agterlaat, soos ’n leë glas waarin melk was of ’n half-gedrinkte koeldrank. Sodra ’n kind van die waarheid bewus raak, skep dit die indruk dat stories van die bonatuurlike waarskynlik vals is. Kinders leer sonder uitsondering dat die storie van Kersvader ’n versinsel is – ’n leuen of selfs ’n ingewikkelde reeks leuens. Die meeste kinders leer dit op ’n vroeë ouderdom.

David Kyle Johnson, Assistent Professor in Filosofie by die King’s College, Pennsylvania, skryf op die Psychology Today webwerf dat elke kind wat in ’n werklike lewende Kersvader glo, ’n “ontnugterende oomblik” ondervind wanneer hy of sy besef dat dit eenvoudig nie waar is nie. Hy berig dat daar “’n klomp onstellende stories oor die ‘oomblik van ontnugtering’ is – stories wat toon dat die ontdekking van die waarheid oor Kersvader dikwels nie sonder nagevolge is nie – enigiets van ontnugtering met betrekking tot ouerlike gesag en vertroue, tot om ’n kind in ’n ateïs te verander. Byvoorbeeld, [’n seuntjie] het die bestaan van Kersvader voor sy hele klas verdedig op grond daarvan dat sy ‘moeder nie vir hom sou leuens vertel nie’. Die inskrywing oor Kersvader in die ensiklopedie is voor die hele klas gelees. Die seuntjie het ontdek dat sy moeder wel vir hom gelieg het. ’n Klein dogtertjie het tot die besef gekom dat die rede waarom sy nie altyd gekry het wat sy van Kersvader gevra het nie, was omdat Kersvader nie bestaan nie. Sy het tot die slotsom gekom dat die beste verduideliking waarom haar gebede ook onbeantwoord gebly het, was omdat God nie bestaan nie. Ek sê nie dat dit met alle kinders gebeur nie; ek sê dit is ’n moontlikheid. Indien u godsdienstig is, twyfel ek aan die moontlikheid dat u dit vrywillig sou wou uitlok. Indien u natuurlik ’n ateïs is, mag u daarvan hou dat die leuen oor Kersvader verwarring veroorsaak” (“Say Goodbye to the Santa Claus Lie,” Desember 2012).

Natuurlik reageer alle kinders nie so erg op die “ontnugterende oomblik” nie en baie kinders, indien nie die meeste nie, is aanpasbaar. Twyfel en skeptisisme wat as kind aangeleer word kan egter tot in volwassenheid voortduur.

Nee, Virginia ...

Op 21 September 1897 het ’n welbekende gedeelte van ’n Kerslegende plaasgevind. ’n Agtjarige dogtertjie met die naam van Virginia O’Hanlon het aan die koerant, New York Sun, geskryf ...

Liewe Redakteur – Ek is 8 jaar oud. Sommige van my klein maatjies sê daar is geen Kersvader nie. Pappa sê: ‘As jy dit in die Sun sien, dan is dit so’. Vertel my asseblief die waarheid, is daar ’n Kersvader?”

Sy het die bekende antwoord wat gedeeltelik só gelees het ontvang: “Virginia, jou klein maatjies is verkeerd ... Ja, Virginia, daar is ’n Kersvader ... Helaas! Hoe somber sou die wêreld nie wees as daar geen Kersvader was nie! ... Om nie in Kersvader te glo nie! Jy kan net sowel nie in feetjies glo nie”.

Feetjies?

Virginia was ongetwyfeld deur haar ouers geleer om die waarheid te vertel en sy het die redakteur gevra, “Vertel my asseblief die waarheid ...” Sy het gevra of daar werklik ’n Kersvader is. Dink u dat die antwoord wat sy ontvang het die waarheid was? Nee, Virginia, dit was nie die waarheid nie! Virginia het egter ongetwyfeld op ’n dag die waarheid oor Kersvader uitgevind ... en sekerlik van feetjies ook.

’n Kind wonder ... Indien ’n opgetowerde Kersvader ’n mitiese deel van die Kersfeesvieringe is, wat dan van die wonderbaarlike geboorte van Jesus? Het engele dit regtig aangekondig? Het die Wyse manne werklik gekom? Was daar werklik ’n ster oor Bethlehem? Is Jesus werklik ’n Koning? Sal die kind nie wonder of al die wonderbaarlike dinge in die Bybel net mites is nie? Wanneer hulle die waarheid oor Kersvader ontdek, word kinders die idee geleer dat godsdienstige wonderwerke mites kan wees. ’n Baie betreurenswaardige kenmerk van die mite van Kersvader is dat kinders vertel word om in geloof daarin te glo. Wanneer daardie vertroue geskaad word, soos dit sonder uitsondering gebeur, kan dit in die toekoms skeptisisme oor geloof in godsdienstige sake tot gevolg hê.

In werklikheid kom Kersvader nie na die dorp nie en dit is die beste dat kinders se godsdienstige geloof gevestig word in dinge wat die waarheid is. Jesus sê: “U woord is die waarheid” (Johannes 17:17).

Ou Mites

Waar kom die moderne mite van Kersvader vandaan? Volgens geskiedkundiges het dit uit ’n verskeidenheid bronne oor baie eeue ontwikkel. In die vierde eeu n.C. was daar werklik ’n Griekse biskop in Myra (nou moderne Turkye) met die naam van Nicholas, wat deur die Roomse kerk tot ’n heilige verklaar is. St. Nicholasdag, 6 Desember, die dag wat vasgestel was om hom te vereer, het geleidelik verstrengel geraak met die gebruike wat verband hou met “Christus se Mis” (Kersfees) later in die maand.

Die Germaanse volke het vir baie geslagte voordat hulle deel van die Rooms-Katolieke kerk geword het, ’n midwinterfees gevier wat “Yule” genoem was en gevolglik is baie van die Yule-tyd tradisies in Kersfees opgeneem. Rome het dit nuttig gevind om baie van die voormalige heidense gebruike te “verchristelik” ten einde die heidene meer ontvanklik vir Katolieke evangelisasie te maak. Die betekenis van die dag mag oppervlakkig verander wees maar die werklike beoefening daarvan en die tyd op die sonkalender het dieselfde gebly.

Sommige van vandag se Kersvaderuitbeeldings het waarskynlik hulle oorsprong by die Germaanse god, Odin, wat na bewering ’n wit baard gehad het, geskenke gebring het en deur die lug gery het. “Die voorkoms van Sinterklaas of Kersvader, wie se dag 25 Desember is, is baie te danke aan Odin, die ou man met ’n blou hoed, mantel en wit baard – die persoon wat geskenke bring van die Noorde, wat deur die midwinter lug op sy agt-benige perd Sleipnir gery het en sy mense met geskenke besoek het ... Odin, wat in Kersvader en later in Sinterklaas verander het, het floreer saam met St. Nicholas en die Christuskind het ’n belangrike rol op die Kersfeesverhoog begin speel” (Margaret Baker, Discovering Christmas Customs and Folklore: A Guide to Seasonal Rites Throughout the World, bl. 62). Deur die eeue heen, het ’n verskeidenheid bronne die baie variasies van die mitologie van Kersvader beïnvloed.

In die Encyclopedia Americana verskyn die volgende: “Op die vooraand van sy feesdag ... doen St. Nicholas sy toer om paleise sowel as huise te besoek ... Die kinders plaas houers uit in afwagting van geskenke wat St. Nicholas veronderstel was om deur die skoorsteen te laat val ...” (“Saint Nicholas’ Day,” Volume 20). Die Hollandse weergawe van die naam is Sinterklaas, wat in Amerika na Santa Claus verengels is. Die Engelse weergawe is Father Christmas wat in baie tale ’n algemene weergawe van die naam is, soos Papá Noel in Spaans en Le Père Noël in Frans. Selfs die Moslemse Turke het hulle eie weergawe van Kersvader, Noel Baba, (“Father Noel”). Aangesien hulle egter meestal Moslems is, is hy veronderstel om op Nuwejaarsdag geskenke te bring. Die Turke wie belydende Christene is sê dat Kersvader Kersfees kom. Die karakter van Kersvader kom in baie kulture voor met sy naam wat in baie tale vertaal is.

Nuwe Kersvader

Die algemene oorsprong van die naam Kersvader word goed verstaan, maar die gewilde afbeeldings van vandag se Kersvader verskil baie van dié van die Germaanse god Odin, of die vierde eeu n.C. se St. Nicholas. Waarvandaan kom die moderne beeld van ’n gesette, laggende dwerg in ’n rooi pak klere? Hoofsaaklik van drie bronne.

Twas the Night Before Christmas” (wat oorspronklik genoem is, “A visit from St. Nicolas”) was ’n gedig wat deur Clement Clark Moore geskryf is en op 23 Desember 1823 vir die eerste keer in die koerant New York Sentinel gepubliseer is. Dit het ’n vrolike, bebaarde dwerg uitgebeeld wat speelgoed vir klein kindertjies aflewer vanuit ’n slee wat deur rendiere deur die lug getrek word. Hierdie beelde is baie soortgelyk aan die Germaanse god, Odin, wat geskenke aan kinders gegee het gedurende die tyd van die wintersonstilstand en soms deur die lug op ’n denkbeeldige agt-benige perd gery het. Hierdie gedig het baie gewild geword en het aanleiding gegee tot ’n spesifieke beeld van St. Nicholas.

Later is aan die woorde van die gedig ’n grafiese uitbeelding gegee toe die spotprenttekenaar, Thomas Nast, in 1881 ’n voorstelling van St. Nicholas geteken het. Die bekende spotprent het ’n glimlaggende, gesette man met ’n wit baard uitgebeeld wat speelgoed vir kinders bring en dit het die openbare verbeelding aangegryp.

Die beeld is verder deur die bemarkingspogings van die Coca-Cola Maatskappy ontwikkel, met die alomteenwoordige uitbeeldings van ’n vrolike man met ’n wit baard in ’n Coca-Cola-rooi pak wat ewe opgeruimd die maatskappy se produk vashou. Daardie gekommersialiseerde beeld – of variasies daarvan – word regdeur die hele Kersfees-bemarkingseisoen gebruik deur kleinhandelaars en Kerskaart vervaardigers. Vandag is dit die algemeenste beeld in die publiek se gedagtes van Kersvader.

Kom Kersvader na u dorp? Mens kan argumenteer dat hy in ’n sekere mitiese sin, kom as die beskermheer-god van kleinhandelaars. Vir die kind wat egter vra “Vertel asseblief die waarheid ...” soos Virginia O’Hanlon gedoen het, is die antwoord “Nee, hy sal nie kom nie – in werklikheid het hy nog nooit gekom nie”.

Inhoud


Hoofstuk 5

Immergroen bome en ander Kersfeestradisies

Die gebruik van immergroen versierings op of rondom die wintersonstilstand kom in baie antieke heidense kulture voor. Dit sluit die Egiptenare, die Romeine, die Druïdes en die Vikings in. Dit word gewoonlik geassosieer met aanbidding van ’n songod, veral tydens die winterfees, wat in baie kulture plaasvind tydens die wintersonstilstand – die tydstip wanneer die son in die winter op sy laagste is.

Het u geweet dat die versiering van bome met silwer en goud – met betrekking tot ’n hemelse gebeurtenis – in die Bybel vermeld word? Die verwysing hierna is egter nie positief nie.

Die profeet Jeremia het vir baie jare onder Babiloniese heerskappy geleef en was bewus van die gebruike van daardie nasie. Klink die gebeurtenis wat hy beskryf vir u bekend? Moontlik het u en u familie presies dieselfde vir Kersfees by u huis gedoen soos wat Jeremia dit beskryf: “Hoor die woord wat die Here oor julle gespreek het, o huis van Israel! So sê die Here: Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie, en skrik nie vir die tekens van die hemel, omdat die heidene daarvoor skrik nie. Want die insettinge van die volke is nietigheid; want ’n boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van ’n ambagsman met die byl. Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hamers, dat dit nie waggel nie. Soos ’n voëlverskrikker in ’n komkommertuin is hulle: hulle kan nie praat nie; ja, hulle moet gedra word, want hulle kan nie loop nie. Wees nie bevrees vir hulle nie, want hulle kan geen kwaad doen nie, maar daar is ook geen goeddoen by hulle nie” (Jeremia 10:1-5).

In die Westerse wêreld is die tradisie van immergroen versierings rondom Kersfees, veral die verfraaiing van dennebome, deur die Duitsers in stand gehou en hulle gebruike is na die Engelssprekende wêreld gebring. Enige betroubare geskiedkundige van daardie tyd sal weliswaar bevestig dat die gebruik van immergroen bome en struike al ’n tradisie was wat in gebruik was tydens die wintersonstilstand lank voor die geboorte van Jesus Christus.

Immergroen bome is reeds vir duisende jare lank al ’n simbool van die terugkeer van lewe ná die koue wintermaande wanneer dit voorkom asof alle plantlewe sterf of rustend is. Anders as baie ander plante, bly die immergroen denneboom en struike soos die steekpalms groen gedurende die winter. Dit is dus geen verrassing dat hierdie geharde plante reeds lank gebruik word om die wintersonstilstand en ander feeste wat daarmee verband hou te vier nie, aangesien hierdie bome ’n goeie simbool is van lewe wat oorbly in die natuur, selfs gedurende die winter. Wanneer dit voorgekom het asof alle groenigheid besig was om dood te gaan, is die immergroen plante beskou as verteenwoordigend van lewe wat in die lente sou terugkeer.

Hierdie verband is welbekend en is nie ’n onlangse ontdekking nie. Die Encyclopaedia Britannica meld: “Die Saturnalia (17-24 Desember) was in die Romeinse wêreld ’n tyd van vrolikheid asook die uitruil van geskenke ... Vure en ligte wat warmte en ewige lewe simboliseer was nog altyd in verband gebring met die winterfees wat heidens asook Christelik is ... As simbole van oorlewing is immergroen versierings lank reeds met Kersvierings geassosieer” (artikel: “Christmas” bl. 704, Volume 5, 1970-uitgawe).

Waarom gee ons geskenke?

Die gewoonte om gedurende die winterfees geskenke te gee gaan terug na die Romeinse tye en vroeër. Soos ’n gewilde ensiklopedie beskryf: “Die vieringe van Saturnalia het die maak en gee van klein geskenkies ingesluit (Latyn: saturnalia et sigillaricia). Hierdie vakansie is oor ’n reeks dae gevier, wat op 17 Desember begin (die geboortedag van Saturnus) en op 25 Desember eindig (die geboortedag van Sol Invictus, die “Onoorwonne Son”). Die gekombineerde feeste het tot ’n verlengde vakansieseisoen in die winter gelei ... Die fees van Sol Invictus op 25 Desember was ’n heilige dag in die godsdiens van Mithraïsme, wat in die Romeinse Ryk wyd verspreid was. Sy god Mitras, was ’n songod van Persiese oorsprong wat met die son geïdentifiseer is. Dit het sy onoorwinlikheid as ‘Sol Invictus’ vertoon wanneer die son hoër in die lug begin klim na die Wintersonstilstand – dus was 25 Desember as die son se verjaarsdag gevier. In 274 n.C. het keiser Aurelianus 25 Desember amptelik aangewys as die fees van Sol Invictus” ( artikel: “Christmas,New World Encyclopedia).

Waarom noem ons dit “Kersfees”?

Die Engelse woord “Christmas” kom van die Katolieke term, “die mis van Christus” of “Christus se Mis” (Christ’s Mass). Volgens The Catholic Encyclopedia: “Die woord vir Christmas (Kersfees) in laat Ou Engels is Cristes Maesse, die Mis van Christus en word vir die eerste keer in 1038 gevind en Cristes-messe, in 1131 ... Kersfees was nie ter sprake onder die vroegste feeste van die Kerk nie” (artikel: “Christmas”).

Die geskiedenis van die viering van 25 Desember gaan terug tot lank voor die geboorte van Jesus en het die Christendom binnegedring as ’n “gedoopte” heidense fees. Die vroeë Katolieke vaders wou hulle heidense bekeerlinge gemaklik laat voel in die Katolieke geloof en het dit dikwels nuttig gevind om “Christelike” betekenisse aan die bestaande heidense gebruike te koppel. Geskiedkundig het daardie heidense gebruike – die gee van geskenke, partytjies, versiering van immergroen bome, steekpalm, mistel en die viering van die geboorte of hergeboorte van ’n god ingesluit.

Inhoud


Hoofstuk 6

Kan Kersfees die “heidene heilig”?

Geskiedkundiges weet dat Kersfees sy oorsprong in heidense antieke tye het, maar teoloë het lank reeds dit oorweeg of dit moontlik is om die “heidene te heilig”. In die lig hiervan kan ’n kultuur sy voor-Christelike gedaante behou, maar die heidense simbole en mites kan verchristelik word in betekenis en doel.

Die invloedryke Katolieke kerkleier kardinaal John Henry Newman het geskryf: “Ons word op verskeie maniere deur Eusebius [’n vroeë kerkgeskiedkundige] vertel dat Konstantyn, ten einde die nuwe godsdiens aan te beveel by die heidene, die uiterlike versierings waaraan hulle gewoond was in hulle eie godsdiens, oorgedra het na die nuwe godsdiens ... Die gebruik van tempels wat toegewy was aan bepaalde heiliges ... vakansiedae en seisoene ... om na die Ooste te draai, beelde op ’n latere stadium ... is almal van heidense oorsprong en geheilig deur hulle aannneming in die Kerk” (An Essay on the Development of Christian Doctrine, hoofstuk 8:6).

Die teoloog, Christopher Dawson, het selfs verder gegaan toe hy geskryf het: “Die volkome heiligmaking van die heidene is die eindresultaat van die verchristeliking van die wêreld” (The Leavening Process in Christian Culture, 7 Augustus 1955). Volgens hierdie siening behels die bekering van die wêreld tot die Christendom noodwendig die aanvaarding van die heidense gebruike.

Wie sou wat tog aanneem? Sou die heidendom Christelikheid aanneem of sou Christelikheid die heidendom aanneem? Dit is duidelik dat dit ’n welbekende feit onder wêreldse en godsdienstige geskiedkundiges is dat baie van die simbole van Kersfees en die tyd wanneer dit gevier word, van heidense gebruike afkomstig is. Wat bevraagteken word is die leerstelling van “heiligmaking van die heidene” wat gebruik word om baie van die gebruike in die Christendom te regverdig.

Terwyl hierdie redenasie vir teoloë en tradisionaliste aanloklik mag wees, word dit deur die Bybel weerlê. Wat dink God dus van “heiligmaking van die heidene”? Wat het Hy gesê? Die waarheid mag miljoene mense verras wat net aanneem dat hulle kosbare tradisies verstrengel kan word met die aanbidding van die ware God wat aan Sy mense gesê het: “As die Here jou God die nasies waar jy na toe gaan om hulle uit die besitting te verdrywe, voor jou uitroei, en jy hulle verdrywe en in hulle land woon, neem jou dan in ag dat jy nie, agter hulle aan, verstrik word nadat hulle voor jou uit verdelg is nie, en dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die Here jou God nie; want alles wat vir die Here ’n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen; want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode. Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie” (Deuteronómium 12:29-32).

Hoe durf enige persoon hierdie duidelike opdrag van die geïnspireerde Woord van God uitdaag! Indien u ’n heidense gebruik as “aanvaarbaar” beskou en nie as ’n “gruwel” nie, sou dít dan aanvaarbaar wees om dit na te kom in die aanbidding van God? Sommige mense wat die moderne eweknieë van die heidense vakansiedae wil vier argumenteer dat God in hierdie Skrifgedeelte Israel slegs verbied om die ergste “gruwels” van die heidene te volg, soos byvoorbeeld die offer van kinders. Hulle argumenteer dus dat die res aanvaarbaar mag wees. Dit is egter nie wat God gesê het nie. Hy verbied alle heidense gebruike en bekragtig Sy eie. Selfs al dink u dat dit “aanvaarbaar” is – het Hy gesê ons behoort dit nie te doen nie. God sê: “Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie.”

Sommige mense mag teologies redeneer dat God kan reinig en heilig wat hy ookal wil – maar die punt is dat Hy in geen onsekere terme gesê het dat Hy dit nie wil doen nie. Ons word beveel om nie iets daarby te voeg of weg te laat wat Hy ons beveel het om te onderhou nie!

Het Jesus ’n heidense gebruik onderhou? Sommige mense wys daarop dat Jesus die Fees van Toewyding onderhou het (Johannes 10:22), wat op 25 Kislev (Cisleu) van die Hebreeuse kalender plaasvind – wat gewoonlik rondom die middel van Desember op ons moderne kalender is. Daardie tradisionele fees is deur ’n groot held van Judaïsme, Judas Makkabeus, ingestel om ’n belangrike gebeurtenis in die Joodse geskiedenis te herdenk – die hertoewyding van die tempel nadat dit deur die Griekse heerser, Antiochus Epiphanes verontreinig is. Hierdie tradisionele onderhouding is egter op die Hebreeuse luni-sonkalender onderhou, nie die Romeinse sonkalender nie en is nie ’n heidense praktyk wat aangeneem is nie. Dit is ’n belangrike gebeurtenis in die geskiedenis, soortgelyk aan Danksegging of Onafhanklikheidsdag in Amerika [of Versoeningsdag in Suid-Afrika]. Eweneens is Purim ’n Joodse fees wat in die laat winter of vroeë lente voorkom en wat God se beskerming van die Joodse volk gedurende Ester se tyd aandui. Albei kom op die Hebreeuse kalender voor en is nie uit die heidendom geneem nie. Jesus was ’n nougesette Jood en het baie wettige tradisies van Sy volk onderhou – maar Hy het nooit ’n heidense gebruik gevier nie.

Sommige mense maak die verkeerde aanname dat omdat ons dinge van heidense oorsprong in ons daaglikse lewe kan gebruik, behoort dit ook aanvaarbaar te wees om dit in ons godsdienstige aktiwiteite te gebruik. Hulle wys daarop dat die name van die dae van die week hulle oorsprong in heidense woorde het. Byvoorbeeld, die naam Woensdag kom van die naam van Woden – ’n Noorse god. Donderdag is van ’n ander Noorse god, Thor afgelei. Saterdag stem ooreen met Saturnus se Dag, van die Latynse Sāturni diēs. Saturnus was ’n Romeinse god. Die meeste Westerse instellings gebruik ook nie die Bybelse luni-sonkalender nie; hulle gebruik die son Gregoriaanse kalender.

In werklikheid gebruik die Israeliete se eie kalender maande met Babiloniese name. Dit is egter belangrik om ’n onderskeid te tref; mense lees of sing nie uit ’n kalender in hulle kerke nie. Die feit dat die gemeenskap ’n magdom gebruike van heidense oorsprong het beteken nie dat ons ’n eenvoudige Bybelse opdrag kan ignoreer nie. God sê nie dat ’n maand nie ’n Babiloniese naam mag hê nie; maar Hy beveel wel dat Sy aanbidding nie van die Babiloniese (of ander heidense) gebruike geneem moet word nie.

Wie het vir wie aangeneem?

Die Romeinse keiser Konstantyn het toegelaat dat Christelikheid openlik in die Romeinse Ryk van die begin van 318 n.C. beoefen word en dit is later in 380 n.C. as die amptelike godsdiens van die Romeinse Ryk verklaar. Geskiedkundiges erken lank reeds dat toe die Romeinse wêreld begin het om Christelikheid te bely, baie godsdienstige leiers dit voordelig gevind het om verskeie heidense gebruike aan te neem om aan te pas by die nuwe geloof. Hoe minder die ou gebruike verander word, hoe beter – so het hulle altans gedink!

Die bekende geskiedkundige Will Durant het ’n geskiedkundige boek van elf volumes geskryf met die titel The Story of Civilization. In Volume III, met die titel Caesar and Christ, het hy baie reguit kommentaar gelewer op die uitwerking van die heidendom op die latere ontwikkeling van belydende Christenskap. Hy skryf: “Die Christendom het nie die heidendom vernietig nie; dit het dit aangeneem. Die Griekse denke, wat aan die uitsterf was, het tot ’n transmigrerende lewe gekom in die teologie en liturgie van die kerk; die Griekse taal, wat vir eeue oor filosofie geheers het, het die geleier van Christelike literatuur en ritueel geword; die Griekse geheimenisse is op die indrukwekkende misterie van die mis oorgedra. Ander heidense kulture het bygedra tot die samevoeging van uiteenlopende godsdienste. Vanaf Egipte kom die idees van ’n goddelike drie-eenheid, die Laaste Oordeel en ’n persoonlike onsterflikheid van beloning en straf asook die verering van die Moeder en Kind ... Uit Frigië het die aanbidding van die Groot Moeder gekom; uit Sirië die opstandingsdrama van Adonis ... Die Mithraïstiese ritueel het so nou met die nagmaalsoffer van die mis ooreengekom dat Christelike vaders die duiwel beskuldig het dat hy hierdie ooreenkomste uitgedink het om mense wat daarvoor ontvanklik is te mislei. Christendom was die laaste groot skepping van die antieke heidense wêreld” (bl. 595).

Sommige mense mag redeneer dat dit nie saak maak indien hulle heidense gebruike in hulle aanbidding gebruik nie, solank as wat hulle dit doen om God te eer. Wat hulle egter behoort te vra is of God van opinie verander het oor hierdie saak. Hyself het vir ons gesê, “Want Ek, die Here, het nie verander nie” (Maleági 3:6) en “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8). Jesus haal die profeet Jesaja aan waar hy sê: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Matthéüs 15:8-9). God het nie van opinie verander oor hoe Hy aanbid behoort te word nie.

God verwerp heidense gebruike en beveel ons om dit in ons aanbidding tot Hom in te sluit. Hy sê aan ons watter dae ons behoort te onderhou, hoe ons hulle behoort te onderhou en waarom ons hulle behoort te onderhou. Daar was geen opdrag van Christus of die Apostels om ’n jaarlikse herdenking van Christus se geboorte te hou of om die heidene in hulle feeste na te boots nie! Inteendeel, nabootsing van die heidene in aanbidding tot God was verbied.

Geheilig deur die waarheid!

God se waarheid onderskei en plaas Sy verwekte kinders eenkant. Jesus het gesê: “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid. Soos U my gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur. En Ek heilig Myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees” (Johannes 17:17-19). Die geskiedenis toon aan ons dat die geloof en gebruike van belydende Christendom van die tweede eeu n.C. en daarna, baie verskil het van die geloof wat Christus en Sy Apostels verkondig het. Judas het in sy leeftyd alreeds die aanvang hiervan gesien en aan die getroue Kerk geskryf: “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die gelowiges oorgelewer is. Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën” (Judas: 3-4).

Ons moet nie met die gewilde neiging, om Christus se boodskap te wil verander na ’n gewilde heidense bespotting, vereenselwig nie. God se waarheid wys vir ons die weg en om af te dwaal van “die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is”, is gelykstaande daaraan om af te wyk van die weg waarop Hy ons geplaas het – die nou paadjie. Ongelukkig sien ons dat die nou weg baie mense soos in ’n sif uitgeskud het gedurende die afgelope dekades, net soos in antieke tye. Een les wat ons altyd moet onthou is dat die ware Kerk ’n “klein kuddetjie” is (Lukas 12:32).

Ons kan nie die “heidene heilig” nie!

Inhoud


Hoofstuk 7

God bied ’n beter manier

Het die oorspronklike Kerk enige vorm van ’n Kersvakansiedag gevier? Nee! Daar word absoluut geen melding daarvan in die Bybel of in wêreldse geskiedenis gemaak dat die eerste-eeuse Kerk Kersfees – of enige soortgelyke viering – tydens die wintersonstilstand gevier het nie. Soos vroeër opgemerk, die geskiedenis het aangedui dat Kersfees slegs ’n algemene gebruik geword het toe Rooms-Katolisisme die amptelike godsdiens van die Romeinse Ryk geword het. Dit is maklik om te verstaan dat toe die amptelike staatsgodsdiens verander het, miljoene heidene regdeur die Ryk nie skielik ’n “bekeringservaring” gehad het nie – hulle het eerder hulle gebruike en tradisies, waaraan ’n nuwe betekenis gegee is deur die Roomse kerk, oor die algemeen behou.

Daar is geskiedkundige verslae van Christus se veronderstelde 25 Desember verjaardag wat voor Konstantyn se sogenaamde bekering in 336 n.C. gevier is, maar voor daardie tyd was dit nie ’n vasgestelde gebruik nie, selfs nie van die Roomse kerk nie! Wat betref die Kerk van die eerste eeu – die oorspronklike gelowiges wat deur Christus se eie Apostels geleer is – daar was nooit enige sodanige viering nie! Die eerste-eeuse Kerk het die Hebreeuse luni-sonkalender gebruik (soos die Nuwe Testament aantoon) en die godsdienstige vieringe vermy wat verband gehou het met die Romeinse sonkalender – wat die kalender is wat ons vandag gebruik.

Watter herdenking het Christus beveel?

Wat was die godsdienstige onderhoudings van die eerste-eeuse Kerk volgens die Bybel en wêreldse geskiedenis? Wat was “... die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas: 3), waarvoor hulle moes stry en wat was die jaarlikse onderhoudings van die Kerk wat deur die Apostels onderrig was? In skrille kontras met die idee dat daar ’n viering van Christus se geboortedag behoort te wees, het Jesus Christus Self Sy volgelinge beveel om ’n gedenkdiens ter nagedagtenis aan Sy dood te hou en die Apostels het Sy opdrag oorgedra aan die Kerke wat hulle begin het.

Is Paasfees en Kersfees in die Bybel? In die King James Vertaling van die Bybel, verskyn die Engelse woord “Easter” in Handelinge 12:4. Dit kom egter van ’n foutiewe vertaling van Pascha, wat Grieks is (Πάσχα), vir die Engelse “Passover”. Hierdie fout is in die Nuwe King James Vertaling reggestel en in die meeste moderne vertalings word die woord korrek as “Pasga” vertaal. Die woord “Easter” is ’n Anglo-Saksiese woord vir ’n lentefees ter ere van die Germaanse godin, “Eastra” of “Ostara”. Die naam van die fees en ’n paar van sy verwante gebruike is deur die vroeë Anglo-Saksers oorgedra toe hulle na Rooms-Katolisisme oorgeskakel het.

Hoe wil Christus dan in herinnering geroep word? Die apostel Paulus het die lidmate in Korinthe, Griekeland – ’n gemeente wat uit heidense gelowiges bestaan het – geleer. “Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is [Nisan 14, die begin van die Pasga], brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink [elke Pasga], tot my gedagtenis” (1 Korinthiërs 11:23-25). Die vroeë Kerk het Christus se dood herdenk en die dag onderhou net soos hulle deur Jesus en die Apostels beveel is. Christus se offerdood as die Lam van God is vir die hele wêreld van groot belang. Hy gee nie aan ons ’n gedenkdag vir Sy geboorte nie!

Jesus vra: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). Hy sê ook: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe” (Matthéüs 15:8). Mense sê hulle wil Christus eer, maar hulle bedink hul eie maniere in stryd met wat Christus hulle beveel. Jesus gaan voort: “... maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (vers 9). Wanneer ons Christus wil eer met ons harte ná aan Hom, sal ons die dinge doen wat Hy gesê het – en ons sal nie die dinge doen wat Hy gesê het ons behoort te vermy nie. Ons het ’n duidelike keuse tussen die gebruike wat God gemagtig het en die tradisies wat die mensdom vir homself geskep het.

Inhoud


Hoofstuk 8

Baie mense distansieer hulle van Kersfees

Behoort Kersfees vir u ’n godsdienstige viering te wees? Die oorsprong van Kersfees is baie bekend en is nie besonder omstrede nie. Dit is ’n tradisionele vakansiedag wat sy oorsprong in die heidendom het en is in die vierde en vyfde eeu n.C. deur die belydende Christendom aangeneem. Dit is nie ’n Bybelse fees nie en was nooit deur die eerste-eeuse Kerk gevier nie. Jesus Christus het nooit ’n herdenking van Sy geboortedag gemagtig nie – inteendeel – Hy het Sy getroue volgelinge beveel om Sy dood te gedenk (Lukas 22:19; 1 Korinthiërs 11:23-26). Dit is belangrik omdat die Bybel God se mense verbied om heidense gebruike in die aanbidding van die Ware God – die God van Abraham, Isak en Jakob – aan te neem. Jesus het Self gesê dat die mensdom se tradisionele gebruike om Hom te aanbid, Hom nie eer nie (Matthéüs 15:9). Kersfees is dus nie ’n geskikte godsdienstige onderhouding vir iemand wat bely om Christus te gehoorsaam nie!

Verder het die wêreldse aspekte van die Kersvakansie – die koste en moeite wat die seisoen oorheers – probleme wat baie mense eerder sou wou vermy. Die seisoenale feestyd behels dikwels oormatige drankgebruik en die aantal verkeersongelukke neem dramaties gedurende dié vakansies toe. Almal behoort baie versigtig op die paaie te wees, veral gedurende die nag.

Die luidrugtige en uitgebreide bemarking van Kersfees oorheers die dae en weke voordat die vakansiedae aanbreek. Inkopies kan baie spanningsvol wees, aangesien die winkels volgepak is van kopers wat probeer om hulle inkopies van lang lyste van geskenke aan andere af te handel. Wat ook spanningsvol is, is die skuld wat gedurende die seisoen ophoop, wat dikwels ’n las vir kopers bly vir ’n groot deel van die daaropvolgende jaar. Al hoe meer mense verkies dus om hulle van die wêreldse feestelikheid te distansieer – tot hulle groot verligting.

Kersfees as ’n godsdienstige fees is nie Bybels nie. Trouens, die Bybel gee ons opdrag om nie heidense gewoontes te gebruik om die God van Abraham, Isak en Jakob te aanbid nie. Ons behoort nie ons kinders te leer dat leuens en mites – soos dié wat oor Kersvader gaan – godsdienstige waarhede is nie. Selfs as ’n eenvoudige wêreldse gebruik, is Kersfees oor die algemeen ’n duur, spanningsvolle tyd wat baie mense eerder sou wou vermy.

Word Christus vereer deur Kersfees? Wat sê die Bybel? Daar is as ’n voldwonge historiese feit aangeteken dat die eerste-eeuse Kerk van God die Christelike Pasga onderhou het asook die sewe jaarlikse feeste soos dit in Levitikus 23 beveel word. Deur dit te doen het hulle nie probeer om “Joods” te wees nie – hulle het eenvoudig net vir God gehoorsaam. Die Bybel boekstaaf geen herdenking van Jesus se geboorte nie. Ons eer Hom deur aan Hom gehoorsaam te wees en deur daardie feeste te onderhou wat die plan van verlossing uitbeeld.

Die Pasga beeld die reiniging van ons sondes deur die offer van die Lam van God, uit “... want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Korinthiërs 5:7). Die dae van die Ongesuurde Brode beeld God se Kerk uit wat “ongesuurd” [vry] van sonde is en so bly. Pinkster beeld die stigting en heiligmaking van die Kerk van God uit deur die uitstorting van die Heilige Gees. Die Fees van Basuine beeld die Wederkoms van Christus in mag en heerlikheid met die klank van ’n groot basuin uit – die stem van ’n aartsengel! Die vas wat op die Versoendag plaasvind beeld die binding van Satan uit en die bevryding van hierdie wêreld uit Satan se heerskappy. Die belangrike Huttefees beeld die heerskappy van Christus as Koning van die konings saam met Sy heiliges op die aarde vir ’n duisend jaar uit. Die agtste dag van die Huttefees, die Laaste Groot Dag, beeld die Groot Wit Troon Oordeel uit wat die hoop van almal is wat al ooit geleef het. Die jaarlikse Heilige Dae is heilige tyd en behoort nie ontheilig te word deur ons daaglikse pligte te verrig nie. Vir Christene het die dae ’n groot betekenis en God dui vir die mensdom Sy plan van verlossing aan.

God beveel ons om hierdie feeste te onderhou en laat ons in effek toe om hierdie groot plan uit te leef wanneer ons aan Sy jaarlikse feeste deelneem, sodat ons dit altyd sal onthou. Die apostel Judas vermaan die eerste-eeuse Kerk – en vir ons vandag: “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas: 3). “Die heiliges” sluit heidene sowel as Joodse lidmate van die Kerk in.

Geskiedkundig sowel as volgens die Bybel sluit “die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” die jaarlikse Bybelse feeste in. Die werklike keuse vandag is of ons die opdragte van Christus en die Apostels wil uitvoer – soos dit in die Bybel opgeteken is – of wil voortgaan met die bekende mens-ingestelde tradisies wat daardie opdragte se plek ingeneem het. Christus se duidelike opdrag is dat Sy Kerk Sy dood behoort te gedenk, nie Sy geboortedag nie.

Vir meer inligting oor hierdie lewensbelangrike onderwerp, maak seker dat u die volgende gratis boekie aanvra: Die Heilige Dae: God se Meesterplan. Hierdie kragtige en insiggewende boekie sal u help om te verstaan watter dae u Skepper werklik bedoel het om onderhou te word deur Sy ware volgelinge en sal ’n vollediger verduideliking gee oor hoe hierdie dae ons leer van die manjifieke plan wat Hy besig is om hier op aarde uit te werk. Om u gratis eksemplaar van Die Heilige Dae: God se Meesterplan aan te vra, kontak ons by die streekkantoor naaste aan u, soos dit op die agterkant van hierdie boekie verskyn. U kan ook gaan na ons webwerf, wvm.co.za, waar u die boekie kan lees of u eie gratis eksemplaar kan bestel. Hierdie noodsaaklike inligting sal u lewe verander!

Inhoud


Die Lewende Kerk van God bied ’n verskeidenheid van gratis literatuur aan met inbegrip van ’n Bybelstudiekursus, boekies en die Wêreld van Môre-tydskrif. 

Die volgende boekies is geskryf met die doel om u te help om God se doel met die wêreld en u lewe in die besonder beter te verstaan.

Om u gratis literatuur aan te vra, verwys asseblief na die vorige bladsy vir die adres in Suid-Afrika, of verkry u Afrikaanse literatuur via die Internet by www.wvm.co.za

Wat is ’n ware Christen?

Die Heilige Dae – God se Meesterplan

Satan se vervalste Christendom