Vraag: Mattheus se evangelie boekstaaf dat na Jesus se opstanding, “die grafte ... oopgegaan [het] en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan” (Mattheus 27:52). Het hierdie mense hemel toe gegaan? Verduidelik asseblief wat gebeur het met hierdie mense wat uit die dood opgewek is.

Antwoord: In die Bybel as geheel vind ons agt ander gevalle van mense wat weer lewend geword het nadat hul gesterf het (1 Konings 17:17-24; 2 Konings 4:32-37; 13:20-21; Mattheus 9:23-26; Lukas 7:11-15; Johannes 11:43-44; Handelinge 9:36-41; 20:9-12). In elkeen van hierdie gevalle is dit duidelik dat die betrokke individue opgewek was terug na ’n fisiese lewe. Dit beteken dat hulle die res van hulle natuurlike, fisiese lewens uitgeleef het en toe weer gesterf het soos alle mense (Hebreërs 9:27).

Wat was die besonderhede van die opstanding wat in Mattheus 27 beskryf word? Let op na vers 53: “... ná sy opstanding het hulle uit die grafte uitgegaan en in die heilige stad ingekom en aan baie verskyn”. Hierdie opgewekte heiliges het nie “na die hemel gegaan” nie – hulle het na Jerusalem gegaan, die “heilige stad”, waar baie hulle gesien het.

Die ander agt opstandings waarvan hierbo melding gemaak word, was nie opstandings tot die ewige lewe nie; dit was opstandings na ’n fisiese lewe. Is daar enige rede om te dink dat die opstanding van hierdie “ontslape heiliges” enigsins anders was?

Die apostel Paulus voorsien die antwoord in sy eerste brief aan die Christene van Korinthe. Paulus verduidelik dat daar ’n besliste volgorde aan die opstandings verbonde is. Jesus Christus het die “eerste vrugte” geword – die eerste wat opgewek is tot die ewige lewe – van almal wat gesterf het. (1 Korinthiërs 15:20). Daarna beskryf Paulus die Christene se opstanding tot die ewige lewe: “Want aangesien die dood deur ’n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ’n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms” (1 Korinthiërs 15:21-23).

Neem kennis! Christene sal opgewek word met Christus se Wederkoms! Slegs dan sal opgewekte sterflike wesens “met onverganklikheid beklee” word (vers 54). God is nie ’n God van wanorde nie en Hy kan nie lieg nie, dus kan ons verseker weet dat die opgewekte heiliges van Mattheus 27 nie opgewek was tot die ewige lewe nie. Toe die “opgestane heiliges” Jerusalem binnegegaan het, soos in Mattheus 27 beskryf word, het Christus se Wederkoms nog nie plaasgevind nie, dus moes hul opstanding tot fisiese lewe gewees het!

Hoe kan ons seker wees dat hierdie heiliges wat opgestaan het – en inderdaad al die ander opstandings wat in die Bybel beskryf word, met Christus se opstanding as die enigste uitsondering – opgewek was tot sterflike lewe? Ons weet dit omdat slegs Jesus “alleen onsterflikheid besit en ’n ontoeganklike lig bewoon” (1 Timotheus 6:16). Jesus het aangekondig: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is” (Johannes 3:13).

Watter doel dien hierdie opstanding – en trouens al die ander vroeëre opstandings – in God se plan? Hulle dien as wonderbaarlike bewyse van God se groot genade, heerlikheid en mag. Hulle identifiseer God se ware Werk en Sy ware diensknegte. Let op hoe Lasarus se verstommende opstanding die geloof van die omstanders versterk het. Jesus het tot die Vader gebid: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het; en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar ter wille van die skare wat rondom staan, het Ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het” (Johannes 11:41-42).

Soortgelyk het die opstanding van die heiliges wat Jerusalem binnegegaan het, gedien as ’n kragtige getuie dat God deur Sy onlangs opgewekte Seun werk. “Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil” (Johannes 5:21). Hierdie heiliges het hul sterflike lewens uitgeleef as ’n wonderbaarlike getuie van God se ontsagwekkende krag, en daarna het hulle weer gesterf. Hulle is nou dood in hul grafte in afwagting op Jesus Christus se Wederkoms. “En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie, omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie” (Hebreërs 11:39-40).