Die Verenigde Koninkryk se Nasionale gesondheidsdiens wat in 1948 deur die na-oorlogse Arbeidersregering gestig is en wat wêreldwyd bekend staan as die “NHS” het een van die land se mees gewaardeerde bates geword – ’n “heilige koei” waarmee politici tot hulle eie nadeel peuter. Gereelde Wêreld van Môre-lesers onthou dalk ons artikel in die Mei-Junie 2019-uitgawe, “Die NHS: Onbevoeg vir diens?”, waarin ons die geskiedenis daarvan aangespreek het asook die uitdagings wat dit in die gesig staar. Daardie artikel was geskryf voor die COVID-19-pandemie, waartydens dit ’n top prioriteit van politici was om die NHS te red.
Die NHS staar steeds groot uitdagings in die gesig. Baie Britte betreur die lang en toenemende wagtye vir behandeling in die ongevalle eenhede. Sedert 2018 het die aantal mense wat meer as vier ure vir behandeling wag, van net meer as 10 persent tot ongeveer 24 persent gestyg. Waglyste het van 3 miljoen mense tot meer as 7,5 miljoen mense toegeneem – met inbegrip van diegene wat op kankerbehandeling wag. Die uitdagings wat ons in ons 2018-artikel beskryf het, het net toegeneem en dit word al hoe duideliker dat die NHS nie aan die gesondheidsbehoeftes van inwoners van die VK kan voldoen nie. Die skep van programme om verouderde hospitale te verbeter of te vervang met die doel om in die behoeftes van die een-en-twintigste eeu te voorsien, administratiewe opgraderings om digitale rekordhouding te implementeer, personeelbehoeftes en te veel rompslomp bestuurstrukture wat nie op pasiënte se behoeftes fokus nie, is alles uitdagings wat dringende aandag vereis. Hierdie uitdagings word nogtans oorskadu deur die enorme probleme wat veroorsaak word deur die swak gesondheid van Britse burgers.
Vetsug vier hoogty onder die jongmense. Staatskole het grootliks die befondsing van sport en fisieke aktiwiteite laat vaar aangesien onderwysbegrotings nie kan bekostig om dit te finansier nie. Liggaamlike opvoeding wat noodsaaklik is vir jong liggame en siele, het die behoud van fooi-vereiste skole geword wat die meeste Britte nie kan bekostig nie. Deesdae word 25 persent van Engeland se bevolking as vetsugtig beskou, terwyl meer as die helfte van die bevolking van Skotland as oorgewig beskou word.
In die Britse samelewing ontbreek dit meer as ooit tevore aan ’n behoorlike begrip van ’n gesonde dieet en kennis van wat tot goeie gesondheid lei. Britte is oor die algemeen gekant teen die idee om goeie eetgewoontes aan te leer. Baie kortsigtige mense sien regering-inisiatiewe om die inname van suiker te beperk as inmenging wat gemotiveer word deur wat hulle spottender na verwys as ’n “kinderoppasser”-houding. Pogings om ultra-geprosesseerde voedsel te ontmoedig – items wat oral beskikbaar is in elke winkel en supermark – word verontagsaam. Vetsug verhoog egter die voorkoms van tipe 2-diabetes, wat aansienlike druk plaas op die NHS. Sommige beramings bereken die koste van vetsug in die VK so hoog as £58 miljard of US$73 miljard (“Nine major challenges facing health and care in England,” The Health Foundation, Health.org.uk, 3 November 2023). Om hierdie enkele koste in perspektief te plaas, is dit ongeveer twee keer die kapitaal investeringstekort van die NHS gedurende die jare 2010-2019.
Huidige beramings verwag ’n toename van 49 persent in VK diabetes-gevalle tussen 2019 en 2040. Volgens die Britse liefdadigheidsorganisasie Diabetes UK dui skattings selfs deesdae daarop dat meer as 5,6 miljoen Britte met diabetes leef. Dit beteken dat meer as 8 persent van die bevolking aan diabetes ly. Hartversaking is die enigste gesondheidsprobleem met ’n groter beduidende toename wat in daardie tydperk verwag word.
Bykomend tot hierdie ellendes waarmee Britse burgers te kampe het, staar die land se toenemende immigrante-gemeenskappe groot uitdagings in die gesig om te probeer aanpas by ’n nuwe en dikwels baie verskillende voedselvoorraad. ’n Toename in gewig en ’n toenemende voorkoms van diabetes onder Suid-Asiatiese immigrante word toegeskryf aan hierdie nuwe immigrante se probleme om aan te pas by voedsel wat in die VK beskikbaar is.
’n Gebrek aan fokus
Die oorweldigende NHS hoef nie ’n alles-verterende en steeds groeiende monster te wees wat ’n steeds groter deel van die nasie se beperkte hulpbronne opeis nie. Daar is ’n baie eenvoudiger oplossing vir die probleem. Henry Dimbleby, die voormalige regering se “voedsel-tsaar” wie in 2023 bedank het uit protes teen die Konserwatiewe Party se gesondheidsorg-beleid het opgemerk dat daar verwaarloosde openbare gesondheid-strategieë is waarop die regering behoort te fokus. Volgens ’n artikel in The Times van 7 November 2024, het Dimbleby opgemerk dat die huidige regering se benadering tot vetsug deur mediese ingryping is wat inspuitings vir gewigsverlies insluit, eerder as om mense te oortuig om te oefen en gesonde voedsel te eet. Hy het ’n versoek gerig dat swak diëte hanteer word soos wat rook nou op openbare vervoer en in ander openbare plekke hanteer word.
Is dit ’n realistiese doelwit? Ja, dit is. Samelewings kán verander, soos Dimbleby aan ’n groep verbaasde jongmense verduidelik het dat sigaretrook op ’n stadium algemeen op die Londense moltrein was – sedert 1985 is dit ’n rookvrye sone. Ongelukkig het rook nie verdwyn nie en dit bly ’n hoofoorsaak van gesondheidsprobleme. “Rook, swak dieet, ’n gebrek aan fisiese aktiwiteite en skadelike alkohol-gebruik is die grootste risikofaktore van voorkombare swak gesondheid en sterfgevalle in die VK” (Health.org.uk). Rook is op verskeie plekke regoor die VK verbode terwyl dit steeds gedoen word. Damprook [vaping] het ’n beduidende verslawing geword – veral vir jongmense.
Kwessies in verband met geestesgesondheid is nóg ’n toenemende koste wat werkgewers en die NHS in die gesig staar. Daar word klaarblyklik min oorweging geskenk aan die nasie se dramatiese toename in kwessies van geestesgesondheid. Een ooglopende faktor is eensaamheid wat dikwels verband hou met die toenemende gebruik van sosiale media. COVID-19-inperkings het hierdie probleem vererger. ’n Ander onderliggende oorsaak is egter die gebrek aan standaarde en norme binne die samelewing – dit is toenemend onaanvaarbaar in ’n samelewing waar “enigiets aanvaarbaar” is. Hierdie morele afwyking voeg spanning by, nie net met die verwarring wat dit meebring nie, maar in die eise wat dit op individue plaas om besluite oor hulle lewens te neem wat hulle nie geleer is om te doen nie – ook terwyl hulle beginsels kort wat hulle kan toepas.
Terwyl siektes en verwaarlosing te veel jongmense te vroeg laat sterf, kom diegene wat wel tot ’n ryp ouderdom leef – dikwels as gevolg van aansienlik verbeterde higiëne oor die afgelope jare – voor nog ’n kwessie te staan wat aandag verg: Versorgingsoorde vir diegene wat aan ouderdomsverwante kwale ly, veral dié met een of ander vorm van demensie. Die vraag na versorgers vir bejaardes neem dramaties toe en plaas druk op reeds beperkte menslike hulpbronne.
Die ontbrekende element
Die profeet Hoséa het dit betreur en gesê: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis” (Hoséa 4:6). Die Skrif verskaf lewensbelangrike inligting wat ons oor alle fasette van die lewe kan inlig, maar tog volg die meeste mense in die VK in die voetspore van hulle Israelitiese voorouers deurdat hulle die God van Israel asook die kennis wat Hy aan ons gegee het, verwerp. Die hedendaagse VK is in wese ’n ná-Christelike samelewing – God het nie meer ’n aktiewe plek in die denke van die leiers of burgers nie. Soos die Israeliete in die tyd van Hoséa, het die mense van die VK hulle God vergeet.
Deur die vestiging van Israel as ’n model-nasie, toe Hy die Israeliete uit Egiptiese ballingskap gebring het, het die God van Israel instruksies aan Sy volk gegee aangaande gesondheidskwessies – lewensbelangrike beginsels wat deesdae net so geldig is soos wat dit was toe Hy dit meer as drie millennia gelede aan hulle gegee het. Gesondheid en welstand van die gemeenskap is sentraal tot die lewe wat God vir Sy mense wou hê. Beginsels van kwarantyn, netheid, behoorlike dieet en aanbevole gebruik van seks word in die bladsye van die Skrif uiteengesit. Dit is nie primitiewe idees van ’n rondtrekkende volk nie – dit is eerder die manier wat ons Skepper ontwerp het vir Sy mense om volwaardige en gelukkige lewens te lei. Besonderhede van hierdie instruksies word ondersoek in ons gratis boekie, Bybelse beginsels van gesondheid. Versoek u gratis eksemplaar vandag by die streekkantoor naaste aan u. Die lys van kantore verskyn op bladsy 2 van hierdie tydskrif of lees dit aanlyn by wvm.co.za.


