Toe ek 'n tiener was, het ek en my vriende gedink dat “pret” 'n sinoniem was vir “geluk”. Hoe meer pret jy gehad het, hoe gelukkiger sou jy wees. Hoe langer jy die pret kon uitrek, hoe groter sou jou geluk wees. Daar was natuurlik altyd 'n hindernis wat jou keer om hierdie geluk te bereik – geld. Geld kon betaal vir daardie uitstappie pretpark toe waar jy op die grootste tuimeltrein kon ry wat jy wou. Geld kon 'n aand by die fliek koop, met melkskommels en slaptjips. Dit kon betaal vir die koelste klere en die vinnigste kar. Dit kon 'n jong man selfs help om die hart te wen van daardie “onbereikbare” meisie, die een wat niemand uitvra nie omdat sy te beeldskoon, te slim, te volmaak, te alles was – in kort, te ver buite bereik. Maar wat daarvan as jy haar wel kon bereik? Dit sal jou sekerlik al die pret en al die genot bring waarvoor jy kan hoop. Dit sal jou sekerlik al die geluk bring wat jy kan hanteer. Dit sou die “ewige opwinding” wees.

Vandag se jeug soek dikwels na pret wat nooit einde kry nie, nes hul ouers gedoen het. Die pret hou egter nie en hul soeke vir ware geluk is soos om na rookwalms te gryp. Ongelukkig ontdek baie jongmense dat die gevolge van hul soeke wel bly voortbestaan, vir veel langer as hul vlugtige pogings om geluk te vind in seks, dwelms en allerlei soorte vermaak.

Wat sou jy doen as jy al die geld gehad het wat nodig is om die “ewige opwinding” na te jaag? Wat daarvan as jy alles kon eet wat jou hart begeer, wanneer jy wou? Wat daarvan as jy al die nuutste videospeletjies kon hê en dit op die grootste en beste TV-skerm wat ooit gemaak is, kon speel? Wat daarvan as jy enige motor kon koop wat jou hart begeer? Wat daarvan as niemand en niks in jou pad gestaan het om enige en al die genietinge te hê wat jy jou kon indink, vir so lank as wat jy kan dink nie? Dink jy dit sou jou ware geluk bring?

Sowat 3 000 jaar gelede het een man alles gehad wat hy nodig gehad het om die “ewige opwinding” na te jaag. Sy lewe kan vir ons 'n kragtige les wees, mits ons bereid is om daaruit te leer. Daardie man was koning Salomo, die rykste man wat Israel ooit regeer het. Hy het in 'n boek, wat nou deel van die Bybel uitmaak, oor sy soeke na geluk geskryf. Hy beskryf sy soeke na geluk soos volg: 
“Ek het in my hart daaroor nagedink om my liggaam met wyn te verkwik... Ek het groot werke onderneem ... ek het ook 'n groot besitting van beeste en kleinvee gehad... Ek het vir my ook silwer en goud versamel, en 'n eiendom van konings en provinsies... En alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsê nie; my hart het ek van geen enkele vreugde teruggehou nie” (Prediker 2:3-4, 7-8, 10).

Salomo het beslis elke plesier gehad wat hy hom kon indink! Hy het 700 vroue en 300 houvroue (vroue van laer rang) gehad. Ons kan verseker weet dat hierdie die pragtigste vroue in Israel en al die omliggende nasies was (1 Konings 11:3, 8). Salomo het geweet dat niemand dit beter as hy gehad het nie, en hy neem waar: “Alles waarmee ek my besig gehou het, het my plesier verskaf” (Prediker 2:10, NV).

Die koning het 'n reuse-eksperiment uitgevoer; homself oorgegee aan elke denkbare genot vir so lank as wat hy wou, en dan oorweeg wat dit vir hom gedoen het. Hoe het dit hom aan die einde van die dag laat voel? Was hy waarlik gelukkig? Was hy vervul of leeg? Salomo se antwoord sal jou verbaas: “Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het – en kyk, dit was alles tevergeefs en 'n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie... Daarom het ek die lewe gehaat, want die werk wat onder die son gedoen word, het my mishaag, omdat alles tevergeefs is en 'n gejaag na wind” (Prediker 2:11, 17).

Salomo het die beste komediante ontbied en genot daaruit geput om te lag, maar op die ou einde het dit hom nie vervul nie. Selfs nie die beste musikante, die meeste en beste alkohol of die grootste bouprojekte, kon hom vervul nie, nog het al sy vroue en die voorregte van die huwelik dit reggekry. Ongeag hoe Salomo na geluk probeer uitreik het, was dit nie blywend van aard nie. Daar was geen ewige opwinding nie!

Ongelukkig weet min mense van Salomo se eksperiment en nog minder mense leer daaruit. Pleks daarvan soek hulle na die genot wat blywend sal wees en hulle sal bevredig – maar geen genot doen dit ooit nie. Party genietinge kan natuurlik pret wees, maar sodra die genot iets van die verlede is, moet ons terugkeer na die alledaagse aktiwiteite van ons lewens.

In my werk met jongmense geniet ek dit om hul idealisme te aanskou. Die meeste jongmense dink na oor filosofiese vrae soos dié wat Salomo ondersoek het. Hulle soek na waarheid en betekenis. Hulle wil van die wêreld 'n beter plek maak en deelneem aan waardige sake. Hulle wil weet wat geluk is, hulle wil verstaan wat dit is wat die lewe die moeite werd maak en hulle wil die doel van die lewe ontdek.

Dit gee my groot vervulling wanneer ek sien hoe jongmense wyse keuses maak, dinge reg doen en hulself op die weg na blywende geluk en sukses plaas. Soms behels dit dat hulle beter keuses as hul ouers moet maak en dit beteken dikwels dat hulle beter keuses as hul maats moet maak, maar dit kan gedoen word! Ja, ek is 'n ware optimis wanneer dit by jongmense kom, soos Salomo was en soos God is!

Salomo het Prediker geskryf sodat party mense by hom kon leer, dit reg doen en die ware “ewige opwinding” vind. “Die Prediker [Salomo] het gesoek om welgevallige woorde te vind en wat reg geskrywe is – woorde van waarheid. Die woorde van die wyse manne is soos prikkels; en soos spykers, diep ingeslaan, is die versamelde spreuke; hulle is deur die enige Herder gegee. En buitendien, my seun, wees gewaarsku; aan baie boeke maak kom geen einde nie, en baie studie is vermoeiing van die vlees” (Prediker 12:10-12).

Die les van Prediker is dat ons nie ware en blywende bevrediging vind in die dinge wat ons doen nie, maar eerder in hoe ons ons lewens leef. Salomo gee raad: “Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid; en wandel in die weë van jou hart en in die aanskouing van jou oë; maar weet dat God jou oor al hierdie dinge in die gerig sal bring. En weer verdriet uit jou hart, en hou die kwale weg van jou liggaam, want die jeug en die jonkheid is nietigheid... En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid...” (Prediker 11:9-10, 12:1).

Om 'n lang storie kort te maak, Salomo het ons geleer dat hoewel ons beslis “goeie, skoon pret” kan najaag, dit nie op sigself 'n doeleinde is nie. Ons moet altyd onthou dat daar 'n God is wat Sy wet aan ons gegee het en ons wys hoe om vandag pret te hê wat môre steeds pret sal wees. Die laaste twee verse van Prediker som op wat Salomo geleer het: “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg” (Prediker 12:12-14). Salomo se soeke na die ewige opwinding moet vir ons almal – jonk en oud – 'n les wees in ons soeke na die ware ewige geluk wat ons nooit in die steek sal laat nie.