Tegnologie het ons lewens gemakliker, geriefliker en minder van ’n beslommernis gemaak as ooit tevore. Ons verwonder ons oor die krag van virtuele realiteit, kunsmatige intelligensie en ’n skynbaar onbeperkte vloei van inligting – létterlik in ’n oogwink. Baie mense is egter tog bekommerd oor ons samelewing se toenemende vervreemding van die natuurlike wêreld. Baie van ons leef, werk en speel in 'n wêreld van eindelose tegnologiese skerm interaksies. Namate tegnologie vorder, sal daardie vervreemding net toeneem.
Op die mees fundamentele vlak, is ons as menslike wesens werklik deel van die skepping – die wêreld van sade, plante en grond. Selfs die woord “mensdom”, is afgelei van ’n Latynse woord, humanus, wat kom van ’n woord wat letterlik “aardse wese” beteken (“human”), Online Etimology Dictionary, 18 Desember 2023) en humus verwys na “die donker organiese materiaal in grondsoorte” (“humus,” Dictionary.com). Die mensdom was deur die Ewige God geskape met die potensiaal om vir ewig te leef. Ons leef as “klei-modelle” en hierdie aarde is ons oefenterrein om vir daardie bestemming voor te berei (2 Korinthiërs 5:1). Die heel eerste werk wat aan ons voorvader Adam gegee is, was om ’n deel van die aarde “te bewerk en te bewaak” (Génesis 2:15).
Daar is wesenlike en praktiese voordele vir u en u gesin om te geniet deur lewende, groeiende plante deel van u lewe te maak. Wat is sommige van die voordele van die aankweek van ’n leefstyl wat die versorging van plante behels? Oorweeg die volgende:
Dit is goed vir u gesondheid
Die fisiese voordele daarvan om in ’n groente- of blomtuin in die buitelug te werk is voor die hand liggend: loop, buig, optel en rondbeweeg. Dit is egter ook goed vir ons geestelike welstand. Dr. Charles Hall, Ph.D., professor aan die Texas A&M Universiteit, het uitgebreide navorsing gedoen oor hoe plante en tuinmaak, fisiese asook geestelike gesondheid kan verbeter. Hy het dit in ’n artikel in die Journal of Environmental Horticulture gepubliseer. Hier is ’n paar van die positiewe effekte wat Dr. Hall met groeiende dinge geïdentifiseer het:
• Angs- en stresvermindering
• Herstel van aandag-afleibaarheid
• Verminderde depressie
• Verbeterde geheue
• Verbeterde vreugde en lewenstevredenheid
• Verligting van post-traumatiese stresversteuring
• Verhoogde kreatiwiteit, produktiwiteit en oplettendheid
• Verminderde gevolge van demensie
• Verbetering van selfbeeld
(“Die positiewe uitwerking van tuinmaak op geestesgesondheid,” AgriLifeToday.TAMU.edu, 25 April 2022).
U hoef egter nie eens buitentoe te gaan om die positiewe effekte van die groei van plante te ervaar nie. Binnenshuise plante kan dieselfde voordele skep, soos beskryf in die Healthline.com se artikel “A Hobby for All Seasons: 7 Science-Backed Benefits of indoor plants” wat sê: “Tuinmaak binnenshuis verlig spanning, verhoog kreatiwiteit, produktiwiteit en oplettendheid en bevorder ook herstel. Daar is bewyse dat potplante ook die luggehalte in u huis positief kan beïnvloed. Deur u leef- of werkspasie met lewende, ‘asemhalende’ plante te deel kan u omgewing ’n gelukkiger, gesonder plek wees”.
Beleef u en u gesin spanning en angstigheid? Waarom nie net ’n bietjie versorging van groenigheid in u lewe inbring nie? In ’n era van angs is dit kalmerend om iets groen wat leef te versorg.
Dit kan u geld spaar
Ons móét almal eet – waarom probeer u dan nie om plante te kweek wat voedsel vir u en u huishouding verskaf nie? Indien u die kostebesparings in ag neem deur ’n eenvoudige tamatie te kweek, is dit verbasend om te besef hoeveel u kan bespaar deur dit self te kweek. ’n Tamatieplant kan ’n paar keer die koste van een tamatie wees. Indien daardie plant ’n paar dosyn tamaties kan oplewer, sal u die hoër koste baie maklik verhaal!
Indien u saad saai, kan u letterlik honderde tamaties kweek vir minder as die koste van een tamatieplant! U kan die koste selfs nog meer verlaag indien u saad van vorige seisoene koop, wat van jaar tot jaar gedroog en gestoor kan word vir ’n toekomstige seisoen.
Terwyl inflasie u huishouding se begroting al hoe meer wegvreet, kan die groei van u eie kos – selfs ’n klein hoeveelheid – groot finansiële voordele vir u en u gesin inhou.
In kontak met die Wonderbaarlike
Die groei van plante gee ons ook die pragtige geleentheid om die wonderwerk van die lewe self te aanskou. Dink daaraan: Het enige mensgemaakte uitvinding al ooit naby die “hoëtegnologie”-vermoëns van die gewone saad gekom? Daardie saad – of dit nou van ’n tamatieplant, ’n zinnia-blom of ’n reusagtige, majestueuse Ponderosa-denneboom is – bevat die volledige genetiese kode wat daarin vasgelê is om dieselfde soort plant te reproduseer waarvandaan dit kom. Dikwels, gegewe die regte toestande, kan sade dormant in ’n rustoestand lê en daardie waardevolle data vir weke, maande of jare “berg”. Sommige sade is selfs duisende jare oud en groei steeds (“Wetenskaplikes in Israel kweek dadelplante van 2,000 jaar oue sade”, The Guardian, 5 Februarie 2020)!
Wat ’n verstommende wonderwerk! Ons kan dit self aanskou, net deur ’n saadjie in ’n beker met grond te plant, dit nat te maak en dit op ’n sonnige vensterbank te plaas. Indien u kinders het, doen dit saam met hulle. Leer hulle van die skepping. Verduidelik ook waar hulle vandaan kom – nie van slym nie, maar geskape na die beeld van God (Génesis 1:26; 2:7. Laat hulle dan ’n saadjie plant, dit natmaak en in verwondering sien wanneer dit ’n paar dae later opkom! Dit is ’n kragtige getuienis van die lewende kwaliteit van God se skepping, waarvan ons almal deel is. Kinders kan self agterkom dat die evolusie-teorie nie kan kers vashou met die werklikheid nie – die grootsheid en krag van God.
’n Ware verbinding met die regte wêreld
Gedurende die afgelope jare het aanlyn boerdery-nabootsings soos Farm Ville, Hay Day, en Harvest Honours groot besighede geword – tot op ’n punt dat die “wêreldwye wildsvleis boerdery” in 2023 op meer as $370 miljoen gewaardeer is (“Farming Game Market,” Econ Market Research, Februarie 2024). Kermit Ball, die gemeenskapskoördineerder vir Giants Software, beskryf die aantrekkingskrag van sy maatskappy se Farming Simulator:
U kan ontspan en met vriende gesels terwyl u speel, maar u kan ook nooit uit werk raak nie ... Baie mense praat oor die kalmerende aard daarvan om net op jou landerye te werk. Dit is ’n speletjie waarin u werklik kan verlore raak. U begin speel en werk op u lande, terwyl u luister na die klanke van plaastoerusting en die natuur gekombineerd, terwyl dit u kalmeer. Daar gaan ure verby sonder dat u dit eers agterkom (“Coziness, control, and crops: Farming simulators are the ultimate escapism,” Digital Trends, 20 Augustus 2022).
Dit is duidelik dat ons kinders maklik gemotiveer kan word om speletjies van virtuele boerdery te speel. Waarom word hulle nie aangemoedig om die werklike ding te probeer nie – om ’n regte tamatie te kweek, ’n regte blom te plant – alles terwyl hulle aan die skepping raak, ruik en voel?
Ons as Christene wag op Jesus Christus se vinnig naderende duisendjarige heerskappy, waar “elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, [sal sit], sonder dat iemand hulle verskrik” (Miga 4:4). Beteken dit dat almal boere sal wees? Heel waarskynlik nie. Dit beskryf 'n diep verbintenis met die grond – die einde van steriele omgewings wat bekommernis en ontevredenheid aanwakker.
Deur die komende Koninkryk van God voor die gees te roep, behoort aan ons ’n voorsmakie te gee oor hoe ons ons lewens vandag kan verbeter – selfs net ’n bietjie. Die meeste van ons kan nou ’n paar plante in ons lewens inbring – ’n voorsmakie van die Millennium. Ter wille van u gesondheid, u gesin se gesondheid, u finansies en u verhouding met u Skepper, oorweeg dit gerus om ’n bietjie lewende groenigheid meer deel van u lewe te maak. Plant iets!


