Vir so lank as wat enigiemand kan onthou, was die mensdom na ’n volmaakte wêreld op soek, maar elke menslike poging om ’n Utopia te skep, het skouspelagtig misluk. Daar is egter hoop!

Talle mense wat al geleef en gesterf het, het probeer om “hemel op aarde” te skep. U Bybel beloof dat God kan en binnekort sal slaag waar die mensdom misluk het!

Konings, diktators en militêre leiers het van wêreldoorheersing en die verowering van alle nasies van die wêreld gedroom. Die groot ryke van die verlede het hulle in die vertoning van hulle grootsheid en mag verlustig. Moderne China het vandag die wêreld se langste geskiedenis as ’n ononderbroke nasie wat met die Xia Dinastie begin het van ongeveer 2070-1600 v.C. Die Egiptiese Ryk het magtig oor nasies geheers tydens die slawerny van antieke Israel, tot hulle uittog in die 15de eeu v.C. Daar was baie ander ryke, soos die Russiese Ryk wat in 1917 geëindig het, die Mongoolse Ryk onder Genghis Khan, die Bisantynse Ryk wat in 1204 geëindig het en die Britse Ryk wat effektief in 1997 geëindig het toe China regeringsbeheer oor Hong Kong verkry het.

Groot ryke het gekom en gegaan. Die wêreld het gedurende die afgelope 6,000 jaar min universele vrede geken. Diktators het probeer om hulle eie weergawe van Utopia te skep, maar het misluk. Ten spyte van twee Wêreldoorloë om die voornemens van Duitsland en die Spilmoondhede van wêreldwye verowering tot stilstand te bring, duur die begeerte na wêreldmag voort. Sal die mensdom ooit wêreldvrede tot stand kan bring?

U Bybel openbaar die goeie nuus dat ’n nuwe wêreldregering universele vrede na die planeet Aarde sal bring. Die meeste mense voel deesdae egter dat hulle ’n hopelose toekoms tegemoetgaan. Die moderne samelewing ly nou onder korrupsie, terrorisme, klimaatsverandering en konflikte van alle soorte. Dank God dat die toekomstige nuwe Wêreldregering universele vrede en voorspoed sal meebring. Dit mag dalk na ’n onmoontlike droom lyk, maar u Bybel waarborg die heel voordeligste Wêreldregering ooit en u kan ’n rol daarin speel!

Die algemene idee van Utopia is ’n glorieryke, volmaakte wêreld van vrede en voorspoed. Die woord is uit Grieks afgelei en beteken “geen plek” of “nêrens”. Die HAT woordeboek definieer Utopia soos volg: “... ’n denkbeeldige plek waar vrede, geluk en welvaart heers, die ideale verblyfoord” of “as ’n denkbeeldige plek”. Sulke mens-bedinkte plekke is dikwels nie heeltemal wat dit veronderstel is om te wees nie, soos wat dit uitstekend en ironies in Thomas More se roman, Utopia, uitgebeeld word.

Sommige mense het probeer om wêreldvrede met hulle eie vindingryke vorms van regering en Utopia voort te bring. Kritici dring nogtans daarop aan dat so ’n plek buitengewone dissiplinêre maatreëls sou vereis, sodat niemand die vryheid van keuse sou hê nie. Sal daar dus ooit een of ander vorm van Utopia op die planeet Aarde wees? Is die idee van ’n wêreldwye Utopia ’n onmoontlike droom? Die 1965 Broadway musiekblyspel, Man of La Mancha, beeld die gewilde liedjie met die titel, “The Impossible Dream”, uit. Dit beskryf ’n dapper stryd om “die onbereikbare ster te bereik”. Ons smag almal waarlik na ’n glorieryke wêreld van vrede en voorspoed. Is daardie doel onmoontlik vir ons om te bereik?

U Bybel openbaar ’n toekomstige wêreld wat baie meer glorieryk is as dit wat deur futuriste en menslike dromers in die vooruitsig gestel word. Wat is die werklikheid van die toekoms? Daar is ’n nuwe wêreld aan die kom – die Koninkryk van God – wat nie net die vryheid van keuse sal toelaat nie, maar wat ’n keuse tussen lewe en dood, seën en vervloeking sal vereis.

Baie godsdienstige mense vestig hulle drome vir die toekoms op ’n vae begrip van die hemel, maar u Bybel openbaar die spesifieke wêreldregerende staatstruktuur en die vreedsame voordeel wat alle volke daaruit sal trek.

Distopia of hoop?

Sal die toekoms Utopia bring? Of Distopia? Distopias is die teenoorgestelde van Utopias. Distopia word gedefinieer as: “’n Denkbeeldige plek waar mense onmenslike en dikwels vreesbevange lewens lei”. Die Gulf News gee hierdie ietwat skrikwekkende geopolitieke analise van die Europese Unie en die Europese tendense. Die artikel met die titel “Europe’s Politics of Dystopia”, gee hierdie waarneming: “In Duitsland, Nederland, Finland, Denemarke, Oostenryk en ook in Swede, is die gewildheid van volkereg, anti-EU, anti-migrante regse partye aan die toeneem ... Versuim om nou daadwerklik op te tree, sal tot die uiteindelike mislukking van die vreedsame, geïntegreerde, geglobaliseerde, supranasionale staat lei wat die EU is en die toeneem van somber nasionalistiese regeringstelsels. Die omtrek van sulke plekke word in literêre werk weerspieël soos George Orwell se 1984, Aldous Huxley se Brave New World en Michel Houellebecq se jongste roman, Submission. Laat ons hoop dat dit tot die gedrukte bladsy” beperk sal bly.

Hoe sal u toekoms daar uitsien? Die 15 November 2015 uitgawe van die New York Times Magazine was getiteld “The Future Issue”. Die kreatiewe buiteblad stel die toekoms voor as ’n waagspel. Die wiel van geluk dui daarop dat die toekoms “Misterieus”, “Gewelddadig”, “Bankrot”, “Onegalig”, “Geoptimaliseerd”, “Vreedsaam”, “Oorbevolk”, “Heerlik”, “Ge-outomatiseer”, “Sinteties”, “Gedoem”, of “Utopies” mag wees. Watter een van hierdie beskrywings van die toekoms, indien enige, sal die oorhand hê en bewaarheid word? Die New York Times sê: “Niemand weet wat die toekoms inhou nie”. Is daardie stelling waar? Kan enigeen werklik weet wat die toekoms inhou? Kan u regtig Bybelprofesie vertrou?

Ons kan dankbaar wees dat die Skepper-God alle mag in die heelal het. Hy is almagtig, soos dit vir ons in Openbaring 19:6 gesê word. God onderhou hierdie klein planeet in die Melkwegstelsel deur die Woord van Sy krag, soos dit vir ons in Hebreërs 1:3 gesê word. Wanneer God toekomstige tendense en gebeure verklaar, kan niks in Sy pad staan nie, want “die mond van die Here van die leërskare het dit gespreek” soos dit byvoorbeeld in Miga 4:4 gemeld word. Een van die mees inspirerende voorbeelde van vervulde profesie behels die Messias se eerste koms. Bykans elke Bybelwoordeboek sal ’n lys van die Ou-Testamentiese profesieë aangaande Christus se eerste koms bevat asook die vervulling daarvan soos dit in die Nuwe Testament gedokumenteer is. Die Ou Testament bevat meer as driehonderd verwysings na die Messias se koms. In sy boek Science Speaks, ondersoek die skrywer Peter Stoner, die waarskynlikheid van een persoon wat net 48 van daardie profesieë vervul. Om per toeval te gebeur, sou een uit tien wees, gevolg deur 157 nulle. Soos iemand bereken het, sal dit wees soos om een spesifieke elektron uit al die elektrone in die hele bekende heelal met die eerste probeerslag te probeer vind.

Dit neem slegs 48 van die honderde Messiaanse profesieë in aanmerking wat reeds vervul is. Met ander woorde, die profesieë wat betref Christus se eerste koms, kon nooit per toeval vervul gewees het nie. Dit was kragtig voorspel en in honderde akkurate besonderhede vervul. Ja, u kan Bybelprofesie vertrou!

Hoe sal nasies verenig?

Staatsmanne het voorgestel dat ’n een-wêreldregering ons probleme kan oplos. Het die Verenigde Nasies, wat sy 70ste bestaansjaar op Verenigde Nasie-dag op 24 Oktober 2015 gevier het, dan vir ons wêreldvrede gebring? Die Verenigde Nasies kan baie humanitêre dienste en prestasies dokumenteer. Tog het die Wetenskaplike en Sekuriteitsraad van die Bulletin of Atomic Scientists, sy simboliese oordeelsdag horlosie na drie minute voor middernag gestel. Die Bulletin het hulle aankondiging op 22 Januarie 2015 gedoen.

Het die gevaar vermeerder of verminder sedert daardie aankondiging? U ken die antwoord op daardie vraag. Terrorisme en plaaslike konflikte het toegeneem. Ons het ’n nuwe wêreldregering nodig wat wêreldvrede kan waarborg! Is so ’n regering enigsins moontlik? Dit is nie net moontlik nie, dit word in u Bybel voorspel! Die Messias, Jesus Christus, gee aan ons In Mattheüs 6 ’n uiteensetting van gebedsonderwerpe. Ons moet bid: “... laat U koninkryk kom” (Matthéüs 6:10)!

Hoe sal daardie Koninkryk daar uitsien? Wie sal die nasies regeer? Hoe sal die Duisendjarige Regering georganiseer word? Wie sal die hoofleiers in God se toekomstige Koninkryk wees? Wêreldgeskiedenis bewys dat die mensdom nie die weg na vrede ken nie; ons streef na Utopia maar alte dikwels lyk dit of ons Distopia skep. Dit hoef egter nie so te wees nie – u Bybel openbaar ook die finale uitslag van menslike pogings. Ons kan Bybelprofesie vertrou! Spesifieke profesieë is reeds vervul, word tans vervul en word gewaarborg om in die toekoms vervul te word. Baie mense in die wêreld droom van blywende vrede tussen nasies. Moontlik het sommige van u al die beeld buite die Verenigde Nasies se gebou in New York gesien, wat ’n man uitbeeld wat ’n swaard in ’n ploegskaar omskep. Daardie beeld is op ’n profesie van Jesaja gebaseer. Terwyl hy ’n toekomstige tyd onder die wêreldregerende Koninkryk van God beskryf het, meld die profeet Jesaja: “... en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:4).

Let daarop dat Christus, die Koning van die konings, die mag sal hê om nasies en individue te verhoed om te rebelleer en oorlog te voer. Ware Christene sal saam met Christus in Sy toekomstige Koninkryk heers: “... en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank” (Openbaring 20:4). Wat sal die heiliges, alle ware Christene, in die toekomstige Koninkryk gedurende daardie duisend jaar doen? Luister na die lied van die heiliges: “U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:9-10).

U Utopiese taak?

As konings en priesters in God se toekomstige Koninkryk, sal getroue Christene die weg na vrede aan die nasies leer.

God roep nou Sy mense om as konings en priesters opgelei te word. Dit is skokkend, maar slegs ’n paar belydende Christene verstaan die wonderlike roeping en toekoms wat God vir die heiliges, alle ware Christene, in die toekomstige Koninkryk voorberei. Let op ’n paar van die poste waarin die wedergebore heiliges sal dien. “Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen” (Openbaring 1:5-6). Ook: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Openbaring 2:26). Ja, sommige van die heiliges – getroue Christene – sal oor nasies regeer en hulle help en onderrig om God se manier van leef en liefde te beoefen. Hoe wonderlik is dit dat God wil hê dat u deel van Sy wêreldregerende Gesin sal wees!

Onthou wat Jesus aan Sy getroue Apostels gesê het. Wat sal hulle in die Koninkryk doen? Die apostel Petrus het aan Jesus hierdie vraag gevra: “Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal daar dan vir ons wees? En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel” (Matthéüs 19:27-28).

Wie sal oor die twaalf Apostels in God se toekomstige Koninkryk toesig hou? Onthou, God het koning Dawid van ouds “’n man na my hart” genoem in Handelinge 13:22. Bybelprofesie openbaar dat koning Dawid oor die verenigde huise van Israel en Juda sal regeer: “En my kneg Dawid sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; en hulle sal in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en daarna handel” (Eségiël 37:24).

Wat sal dus u werk in die Koninkryk wees? Getroue Christene sal verskillende verantwoordelikhede hê, afhangende van hulle opleiding in hierdie lewe en hulle diens aan Christus, die Kerk en die mensdom. U mag dalk vertroud wees met die gelykenis van die talente, of die gelykenis van die ponde. Die Koning het daardie diensknegte beloon wat getrou was en inderdaad voordeel uit hulle oorspronklike geskenk getrek het. “En toe hy terugkom, nadat hy die koningskap ontvang het, sê hy dat daardie diensknegte aan wie hy die geld gegee het, by hom geroep moes word, sodat hy kon weet wat elkeen met handel verdien het. En die eerste het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak. En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede. En die tweede kom en sê: Meneer, u pond het vyf ponde verdien. En hy sê ook vir hierdie een: En jy moet wees oor vyf stede” (Lukas 19:15-19).

Ja, vandag se ware Christene is in opleiding om te dien en te heers. Die idee om vir ewig op hemelse wolke rond te sweef is nie wat u Bybel ons leer nie. Inteendeel, ware Christene sal op die utopiese planeet Aarde heers.

Ware Utopia kom!

Wat baie mense as ’n onmoontlike droom beskou, ’n wêreldwye Utopia, sal waar word. Die Prins van Vrede sal die weg na vrede en voorspoed onderrig. Jerusalem sal die hoofstad van die planeet Aarde wees. “So sê die Here: Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon; en Jerusalem sal genoem word: Die stad van trou, en die berg van die Here van die leërskare: Die heilige berg. So sê die Here van die leërskare: Daar sal weer ou manne en ou vroue op die pleine van Jerusalem sit – elkeen met sy stok in sy hand vanweë die veelheid van hulle dae. En die pleine van die stad sal vol wees van seuntjies en dogtertjies wat op die pleine daarvan speel” (Sagaria 8:3-5).

In plaas van stedelike geweld, bendemoord en die vroeë dood van kinders, sal gesinne veilig woon. Bejaarde manne en vroue sal in vrede leef en nie meer allerhande soorte mishandeling verduur nie. Plase sal met volhoubare landbou voorspoedig wees. Lees hierdie inspirerende profesie in Amos 9:13: “Kyk, die dae kom, spreek die Here, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees. En Ek sal die lot van my volk Israel verander, en hulle sal die verwoeste stede bou en bewoon, ook sal hulle wingerde plant en die wyn daarvan drink, en tuine aanlê en die vrugte daarvan eet. En Ek sal hulle plant in hul land, en hulle sal nie meer uitgeruk word uit hul land wat Ek hulle gegee het nie, sê die Here jou God” (Amos 9:13-15).

Dank God dat daar vir die toekoms van die wêreld hoop is en dat daar hoop vir u toekoms is! In plaas van ’n onmenslike Distopia, sal die glorieryke Koninkryk van God selfs die mees manjifieke Utopia oortref wat deur optimistiese dromers aan hulleself voorgestel is. Vandag se getroue Christene, die ware heiliges, sal in die eerste opstanding wees om Christus by te staan om oor die wêreld te regeer. Hulle sal die Millennium van wêreldvrede inlei. Die profeet Jesaja gee aan ons hierdie Duisendjarige visie: “Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ’n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ’n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:6-9).

Dank God dat Sy Koninkryk binnekort sal kom! U behoort na die profetiese tendense en tekens op te let wat Christus se Wederkoms aankondig! U behoort te bid: “... laat U koninkryk kom”!