Elke Desember begin miljoene mense praat van “vrede op aarde, in die mense ’n welbehae”. Hulle sê hulle is volgelinge van die “Prins van Vrede” – Jesus Christus. Wat doenhulle egter daaromtrent?

Sommige lesers het dalk gelees van die beroemde “Kersfees wapenstilstand” tydens die Eerste Wêreldoorlog. Vir een dag, na maande van dodelike “loopgraaf-oorlogvoering” het baie van die vegtende soldate hulle gewere neergesit. Sommiges het selfs Kersliedere saam met die vyand se soldate gesing.

Die volgende dag het hulle die slagting hervat.

Ja, vrede het die mensdom nog altyd ontwyk. Vandag, selfs terwyl ek skryf, gaan ISIS-guerrillas voort om hulle vyande om die lewe te bring, te martel, selfs te onthoof en te kruisig. Russiese troepe hou die Oekraïne fyn dop en dreig met ’n inval. In Suidoos-Asië is kleiner lande soos Viëtnam bekommerd oor die druk wat China uitoefen om totale oorheersing van daardie streek te bekom. Selfs groter lande soos Japan en die Filippyne raak onrustig.

Die gevaar van siekte-epidemies neem steeds toe. Duisende mense in Afrika is besmet met die Ebola-virus en dit is net ’n vliegtuigrit ver van Amerika en Wes-Europa af!

Waarom is dit alles besig om te gebeur?

As gevolg van ons opstand teen God en Sy Wette kom ons onder die geïnspireerde vervloekings soos beskryf in Deuteronomium 28. Onthou, geagte Lesers, Jesus het voortdurend na die Ou-Testamentiese boeke as “die Skrifte” verwys. Hy sê aan ons: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4). Tussen Sy woorde vind ons die Tien Gebooie wat by Sinaï gegee is, wat later deur Jesus Christus beklemtoon en uitgebrei is (Exodus 20; Mattheüs 22). Sonder God se Gees is die mensdom geneig om nie van “reëls” te hou nie en wanneer daar reëls is, hou hulle daarvan om te “redeneer” oor die nodigheid om dit te gehoorsaam. Lees mnr. Jonathan McNair se weldeurdagte artikel, ’n Uitsondering op die reël?, elders in hierdie uitgawe, om meer inligting oor hierdie belangrike onderwerp te verkry.

Dwarsdeur die Skrif herinner God ons daaraan dat “verbreking van die reëls” ernstige gevolge meebring. In die bekende profetiese gedeelte wat God se vloek oor moderne Israel bevat, waarsku God: “Die Here sal die reën van jou land poeier en stof maak; van die hemel sal dit op jou afkom totdat jy verdelg is” (Deuteronomium 28:24). Groot dele van die weste van die VSA ly erg as gevolg van ’n verskriklike droogte. Volgens kundiges het soveel as 99,8% van Kalifornië hierdie somer ’n “strawwe” droogte beleef.

Amerika is verneder!

Geagte Lesers, Amerikaners en ons broers van Britse afkoms is in baie groot moeilikheid. Ons “trotse mag” is werklik verbreek (Levitikus 26:19). Dosyne artikels, selfs in ons hoofstroom koerante en tydskrifte, wys gereeld daarop dat selfs al het ons nog die grootste militêre mag in die wêreld, Amerika al meer as ’n “papiertier” beskou word. Dus het Vladimir Putin van Rusland, die leiers in China en die magtige terroriste van die Midde-Ooste almal “ons nommer”.

 Dit word uiteindelik vir Amerika se leiers duidelik dat die Islamitiese terroriste ernstig is! As gevolg van die goud en die kontant wat hierdie rebelle van banke geneem het en as gevolg van die miljoene dollars se militêre hardeware waarop hulle in die afgelope maande beslag gelê het, word die sogenaamde “Islamitiese staat” nou beskou as die bes-gefinansierde, swaarste gewapende terroristegroep waarmee ons nog ooit te doen gehad het.

 Ons is in die moeilikheid. Ons broers en nasies van Britse afkoms is ook in die moeilikheid, want ons het onsself van die God gedistansieer wat in die eerste plek ons aansien aan ons gegee het. Ons behoort nie verbaas te wees nie dat die burgers van Skotland – wat reeds vir die afgelope drie eeue deel van die Verenigde Koninkryk is – daardie unie ontstig het met hulle toenemende begeerte na onafhanklikheid, wat sy toppunt in September se referendum bereik het waarin daar hard baklei is – ten spyte van die “Nee!” meerderheid – waar omtrent vier uit nege Skotte skeiding van die VK verkies het. Selfs Wallis en Noord-Ierland het ’n toenemende aantal mense wat groter outonomie wil hê, of selfs totaal onafhanklik van die Verenigde Koninkryk en die Engelse wil wees.

Wie kan dan anders as om te profeteer?

Die verhoog is dus gereed. Die finale ineenstorting van die nasies van Britse afkoms en die Amerikaanse volke is op hande – tensy ons ons waarlik bekeer en ons op ’n manier wat ons nog nooit in die moderne tyd gedoen het nie na die ware God wend! God sal nogtans nooit Sy beloftes “vergeet” nie. Hy sal altyd ware dienaars hê om Sy volke te waarsku aangaande enige groot ramp wat voorlê. Soos Sy dienaar Amos geïnspireer was om aan ons te sê: “Want die Here Here doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie. Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie? Die Here Here het gespreek, wie sal nie profeteer nie?” (Amos 3:7-8).

Ja, ons wat verstaan kan nie anders as om reguit te praat nie! Lees my artikel Waarom loop dinge verkeerd? elders in hierdie uitgawe. Dit sal u help om die betekenis van die huidige gebeure te verstaan, namate ons al hoe nader aan Jesus Christus se geprofeteerde Wederkoms om die Koninkryk van God op die planeet Aarde te vestig beweeg!

Maak ook seker dat u mnr. Richard Ames se insiggewende artikel, Openbaring: ’n Boodskap van waarskuwing en hoop, elders in hierdie uitgawe lees. Alhoewel hierdie komplekse boek ’n verborgenheid is vir selfs die meeste belydende Christene, kan u die boodskap verstaan indien God u verstand open en u kan daarop ag slaan voordat dit te laat is om uself te beskerm teen die gevaarlike tye wat voorlê.

Ware vrede

Miljoene mense, moontlik met inbegrip van ’n paar van ons lesers, raak toenemend angstig en gespanne tydens die aanloop tot die Kersvakansie hierdie 25ste Desember. Miljoene mense sal dieper in die skuld raak, deur geld te spandeer wat hulle nie het nie om dinge te koop wat hulle nie nodig het nie. Waarom is dit so? Baie kritici dring daarop aan dat ons “teruggaan” na die “ware betekenis” van Kersfees. Wat is dan daardie ware betekenis? Waar kom “Kersfees” eintlik vandaan? Lees mnr. Dexter Wakefield se onthullende artikel [Die ekonomie van Kersfees] elders in hierdie uitgawe. Dit sal u oë oopmaak vir die waarheid oor Kersfees soos nog nooit tevore nie. Ek bid dat u die kwessie van God se Heilige Dae, wat Christus onderhou het en wat alle mense sal onderhou gedurende die toekomstige Millennium, onder die heerskappy van die Koning van die konings en die Prins van Vrede, Jesus Christus, sal bestudeer. Ja, ’n tyd sal spoedig aanbreek wanneer die wêreld sal weet dat God bedoel wat Hy sê! Van hulle sal verwag word om hulle Skepper te gehoorsaam! Hulle moet Jesus Christus se ontnugterende stelling ernstig opneem: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). Wanneer die Prins van Vrede oor die planeet Aarde heers, sal mense werklik verstaan dat ware Christenskap veel dieper gaan as om net in Christus te “glo”. Dit behels ’n waaragtige oorgawe om te leef volgens elke Woord van God. Dit behels om ons lewe so oor te gee sodat Christus werklik “Sy lewe” in ons kan “leef” deur die Heilige Gees (Galasiërs 2:20).

Geagte Leser, die meeste mense in die wêreld is heeltemal “mislei” wat betref die ware boodskap van Jesus Christus en die plan wat God die Vader in werking gestel het om uiteindelike vrede na die planeet Aarde en die hele mensdom te bring. U is egter anders. God het u in aanraking met hierdie Werk gebring en aan u hierdie tydskrif gegee. Lees dit asseblief sorgvuldig. Bestudeer die Skrifverwysings. Bewys aan uself dat wat ons skryf, die waarheid is! Bid dat God sal voortgaan om u verstand te open met die lig van Sy waarheid, wat aan u vrede sal bring soos u nog nooit voorheen gehad het nie.