Miljoene belydende Christene trek jaarliks saam vir Paas-sonsopkomsdienste. Baie mense wat andersins selde kerk toe gaan, sal selfs op Paassondag aanbiddingsdienste bywoon by die kerk van hul keuse. Het u egter geweet dat die Goeie Vrydag Paastradisie eintlik die enigste teken ontken wat Jesus die godsdiensleiers van Sy tyd gegee het om Sy Messiasskap te bewys? Hoe ongelooflik ookal daardie stelling mag voorkom, dit is waar – en u kan dit bewys!

Weet u dat die Bybel nêrens aanspraak maak dat Jesus Christus op Sondagoggend uit die dood opgestaan het nie? Trouens, dit leer iets heeltemal anders! Hoe het Paasvieringe dan bykans algemeen geword onder belydende Christene? Wanneer het Christus se opstanding werklik plaasgevind?

Wat het paaseiers, sjokoladehasies en meisietjies in rokkies met valletjies met Jesus van Nasaret te doen? Wat is die verbintenis tussen paaseierjag en Christus se opstanding?

Lees verder vir die antwoord op hierdie en ander belangrike vrae!

Die teken van Jesus se Messiasskap

Vir dié wat werklik die waarheid wou verstaan, was daar baie bewyse dat Jesus van Nasaret die beloofde Messias van die Ou Testament was. Toe Johannes die Doper se dissipels na Jesus kom na Johannes se inhegtenisname en gevangenskap deur Herodus, sê Hy vir hulle: “En Johannes het in die gevangenis gehoor van die werke van Christus, en twee van sy dissipels gestuur en vir Hom gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ’n ander een verwag? En Jesus het geantwoord en vir hulle gesê: Gaan vertel aan Johannes wat julle hoor en sien: blindes sien weer en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig. En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie” (Mattheus 11:2-6).

In die Evangelie volgens Johannes is talle merkwaardige tekens opgeteken wat Jesus gedoen het, waarvan die eerste die bruilofsfees te Kana waar Hy water in wyn verander het (Johannes 2:11). Let op waarom Hy hierdie wonderwerke gedoen het: “Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie; maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam” (Johannes 20:30-31). Jesus se dissipels het hierdie wonderwerke gesien en dit het hul geloof versterk dat Hy werklik die beloofde Messias was.

Van die begin van Jesus se bediening af, was die godsdiensleiers bewus van Sy boodskap en die tekens wat Sy gesag bevestig het. Johannes skryf: “En daar was ’n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ’n owerste van die Jode. Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ’n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie” (Johannes 3:1-2). Dít was gedurende die eerste Pasgaseisoen van Jesus se bediening, in 28 n.C. Gedurende die volgende drie jaar het hierdie leiers talle geleenthede gehad om vertroud te raak met Jesus se boodskap en om baie van hierdie wonderbaarlike tekens te hoor en te aanskou. Niks hiervan het hulle tevrede gestel nie.

Trouens, hulle het telkemale na Hom gekom en aangedring op ’n teken wat eens en vir altyd sou bevestig dat Hy die Messias was. Jesus het by elke geleentheid vir hulle gesê dat slegs een so ’n teken aan hulle gegee sou word. Johannes meld dat die eerste sodanige gesprek plaasgevind het gedurende die Pasgaseisoen van 28 n.C., tydens die heiliging van die tempel toe Jesus die geldwisselaars verwilder het. Toe die godsdiensleiers Hom aanspreek en daarop aandring dat Hy nog ’n teken gee, bo en behalwe die wonderbaarlike genesings wat Hy in die Tempel gedoen het, antwoord Jesus en sê vir hulle: “Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig ... Maar Hy het oor die tempel van sy liggaam gespreek” (Johannes 2:19-21). Mattheus maak ook melding van hierdie gesprek: “Toe spreek sommige van die skrifgeleerdes en Fariseërs en sê: Meester, ons wil graag ’n teken van U sien. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Mattheus 12:38-40).

Daar het u dit! Die enigste teken wat Jesus die skeptiese godsdiensleiers van Sy tyd aangebied het, was dat Hy presies drie dae en drie nagte in die graf sou wees. Is hierdie teken bewaarheid? Absoluut! Let op die getuienis van ’n engel wat met die vroue gepraat het wat Sondagoggend gekom het om die liggaam te balsem: “Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het” (Mattheus 28:6). Jesus het beloof dat Hy presies drie dae en drie nagte in die graf sou wees en Hy het opgestaan net soos Hy gesê het Hy sou.

Hoe is dit moontlik om drie dae en drie nagte gelykstellig te maak aan die tyd tussen “Goeie Vrydag” en “Paassondag”? Tel dit self; dit sal eenvoudig nie werk nie! Party mense hou vol dat “drie dae en drie nagte” ’n Griekse uitdrukking is en kan enige gedeelte van drie dae en drie nagte beteken. Hierdie teorie val egter plat wanneer ons die Bybel toelaat om sy eie terme te definieer.

Let daarop dat Jesus verwys na Hebreeuse, en nie Griekse gebruik nie. Hy het uitdruklik Sy tyd in die graf verbind met dié van Jona in die buik van die vis. “En die HERE het ’n groot vis beskik om Jona in te sluk; en Jona was drie dae en drie nagte in die ingewande van die vis” (Jona 1:17). Koningin Ester het dieselfde uitdrukking gebruik toe sy haar neef Mórdegai toespreek: “Gaan heen, versamel al die Jode wat in Susan te vinde is, en vas julle om my ontwil; en julle moet nie eet en drink nie, drie dae lank, nag en dag” (Ester 4:16). Beide hierdie weergawes beskryf duidelik ’n periode van 72 uur – drie dae en drie nagte. Dit is presies wat Jesus bedoel het en die Fariseërs het dit geweet. Kyk hoe hulle Sy stelling aan Pilatus, die Romeinse goewerneur, aanhaal: “My heer, ons herinner ons dat dié verleier, toe hy in die lewe was, gesê het: Oor drie dae staan ek op” (Mattheus 27:63). Hulle het geweet dat Jesus nie bloot van ’n dag-en-’n-half gepraat het nie, maar eerder van drie volle dae.

Wanneer was die kruisiging?

Baie mense sal egter reageer, “Sê die Bybel dan nie dat Jesus Vrydag gekruisig en begrawe is en dat die graf Sondagoggend leeg was nie?” Dit is waar dat die graf reeds Sondagoggend leeg was, maar die Bybel maak nêrens melding van die kruisiging op Vrydag nie. Dit sê wel dat Hy gekruisig was op die “voorbereiding ... die voorsabbat” (Markus 15:42-45), maar ons moet identifiseer watter voorbereidingsdag dit was. Onthou, die Bybel praat van jaarlikse Sabbatte – “Heilige Dae” – bykomend tot die weeklikse Sabbat (vgl. Levitikus 23:4, 7, 24, 27-32). Jesus was gekruisig op die voorbereidingsdag voor ’n jaarlikse Sabbat, gedurende die dagliggedeelte van die Pasga – 14 Abib op die Hebreeuse kalender. Die volgende dag – 15 Abib – is ’n jaarlikse Heilige Dag, die eerste Dag van die fees van die ongesuurde brode.

In 31 n.C., die jaar van Jesus se kruisiging, het die Pasga op ’n Woensdag geval. Donderdag was ’n jaarlikse Sabbat, die eerste Heilige Dag van die fees van die ongesuurde brode. Jesus is pas voor sononder die Woensdagmiddag begrawe en was Woensdagnag, Donderdag, Donderdagnag, Vrydag, Vrydagnag en Saterdag in die graf – drie dae en drie nagte, net soos Hy beloof het. Hy het pas voor sononder Saterdagmiddag opgestaan, stiptelik 72 uur na Sy begrafnis. Toe die vroue Sondagoggend teen dagbreek gekom het om Sy liggaam te balsem, was Hy reeds weg. Hulle het nie die opstanding gesien nie; hulle het ’n leë graf gesien en ’n engel het vir hulle gesê dat Hy opgestaan het soos Hy gesê het Hy sou.

Jesus Christus het gekom as “die Lam van God” om die boete van sonde te betaal (Johannes 1:29). Paulus verklaar: “Want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Korintiërs 5:7). Noukeurige studie van die Evangelies dui daarop dat Jesus en Sy dissipels die Pasgamaal na sononder geëet het met die aanvang van 14 Abib (Markus 14:16-18, Lukas 22:13-15, vgl. Eksodus 12:1-8). Later daardie aand, na ete, het hulle na die Olyfberg gegaan (Markus 14:26), waar soldate, gelei deur Judas Iskariot, Hom gekry en gevange geneem het (verse 43-46). Kort na dagbreek het die Sanhedrin vergader om formele klagte teen Jesus te lê en hom aan Pontius Pilatus uit te lewer (Markus 15:1). Omstreeks nege uur die oggend – die “derde uur” na dagbreek volgens Joodse gebruik (vers 25) – is Christus saam met twee misdadigers na ’n heuwel in die buitewyke van Jerusalem gelei en gekruisig op die kenmerkende Romeinse wyse. Van twaalfuur die middag tot met Jesus se dood omstreeks 3 nm., was daar algehele duisternis oor die hele aarde (verse 33-37).

Kort daarna het Josef van Arimathéa gewaag om na Pilatus te gaan en die liggaam van Jesus te vra om te begrawe (vers 43). Nadat die hoofman oor honderd, wat in beheer van vonnisvoltrekkings was, ontbied is om vas te stel of Jesus werklik dood is, het Pilatus toestemming gegee dat Josef die liggaam mag neem en begrawe (verse 44-45). Die Evangelie volgens Lukas beklemtoon dat die begrafnis haastig afgehandel moes word net voor sononder (Lukas 23:53-54, vgl. Johannes 19:41-42). Die beklemtoning daarvan dat Jesus haastig begrawe is net voor die Sabbat begin het, het baie mense verwar om te dink dat die kruisiging op ’n Vrydag plaasgevind het. Talle lesers kyk Johannes se verduideliking mis dat “... die dag van daardie Sabbat groot [was]” (Johannes 19:31). Dit was nie ’n weeklikse Sabbat nie; dit was ’n jaarlikse “groot dag” Sabbat. Onthou, 15 Abib – die dag na die Pasga – was die eerste Heilige Dag van die fees van die ongesuurde brode, die eerste van sewe jaarlikse Heilige Dae wat aan antieke Israel beveel is om deur hulle onderhou te word (Levitikus 23: 5-7).

Die Evangelies maak dit duidelik dat daar daardie week eintlik twee Sabbatte was – ’n jaarlikse Heilige Dag op Donderdag en die gewone weeklikse Sabbat op Saterdag. Markus skryf: “En toe die sabbat verby was, het Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Jakobus, en Salóme speserye gekoop om Hom te gaan salf” (Markus 16:1). Winkels in Jerusalem sou op beide die weeklikse en jaarlikse Sabbatte gesluit wees. Jesus is begrawe net voor die aanvang van die jaarlikse Heilige Dag Sabbat en die vroue was teenwoordig by Sy begrafnis (Markus 15:47). Hul eerste geleentheid om speserye te koop en voor te berei sou Vrydag wees, toe die winkels heropen het na die Heilige Dag wat die fees van die ongesuurde brode ingelei het. Lukas verduidelik dat die vroue “op die sabbat gerus [het] volgens die gebod” (Lukas 23:56) nadat hulle die speserye en salf voorberei het – ’n takie wat ure in beslag sou neem.

Hoe kon hulle gewag het tot na die Sabbat om speserye te koop en voor te berei (soos Markus duidelik sê), maar tog op die weeklikse Sabbat gerus het nadat hulle dit voorberei het (soos Lukas duidelik sê) – tensy daar inderwaarheid twee Sabbatte in daardie week was? Om hierdie punt te begryp is die sleutel om te verstaan hoe lank Jesus in die graf was.

Waarom dan het die vroue Sondagoggend graf toe gekom? Was dit om die eerste Paas-sonsopkomsdiens te vier? Natuurlik nie! Hulle het op die eerste beskikbare geleentheid gekom om ’n dooie liggaam te balsem (Lukas 24:1). Toe hulle opdaag, was Jesus reeds weg – en die graf was oop sodat almal kon sien dat dit leeg was.

Waarom was hierdie vir die godsdiensleiers ’n spesiale teken wat Jesus se Messiasskap bevestig? Godsdiensleiers van Jesus se tyd het hul eie uitgesoekte getuies van die gebeure rondom Jesus se dood en begrafnis gehad. Onthou, Mattheus verduidelik dat die dag na die kruisiging – vroeg die oggend van die “groot dag” Sabbat – die Joodse leiers ’n afvaardiging na Pilatus gestuur het om toestemming te kry om ’n gewapende wag te plaas om die graf te bewaak. Pilatus het hulle toestemming gegee en beveel: “Julle sal ’n wag kry; gaan verseker dit soos julle dit verstaan” (Mattheus 27:65). Hierdie wagte was getuies van die gebeure wat gevolg het en dit was hulle wat die godsdiensleiers verwittig het van wat werklik gebeur het (Mattheus 28:11). Uit die monde van die einste wagte wat hulle self geplaas het, het hierdie leiers verneem dat Jesus die teken van die profeet Jona vervul het – net soos Hy gesê het Hy sou!

Waar kom Paasfees vandaan?

In die geïnspireerde teks van die Nuwe Testament word Paasfees nêrens genoem nie. Hoewel beide die Ou- en Nuwe Vertaling in Handelinge 12:4 die woord “Paasfees” bevat, is die korrekte vertaling “Pasga”, wat die regte weergawe van die Griekse woord pascha is. U kan dit maklik vir uself kontroleer deur bykans enige Bybelkommentaar of die Griekse Interlineêre Bybel na te slaan. Die vroeë eerste-eeuse Kerk het nooit Paassondag onderhou nie. Christene het voortgegaan om die Pasga te onderhou net soos die oorspronklike Apostels in Jesus se teenwoordigheid gedoen het. Hoewel die Nuwe-Testamentiese Kerk egter die Pasga onderhou het soos God geveel het, het Christene in besonder gebruik gemaak van die simbole wat Christus met Sy laaste Pasga ingestel het. Hierdie simbole, naamlik ’n klein stukkie ongesuurde brood en ’n slukkie wyn, stel die offerande van Christus voor – Sy liggaam wat vir ons genesing gebreek en Sy bloed wat vir die vergifnis van ons sondes gegiet is.

Waar kom die onderhouding van Paasfees dan vandaan? Daar is geen vermelding daarvan in die Christengemeenskap tot byna ’n eeu na Jesus se kruisiging en opstanding nie. Let op hierdie treffende stelling van ’n geleerde wat verbonde is aan die Pontifical Gregorian University Press in Rome: “Daar is wye konsensus van opinie tussen geleerdes dat Rome werklik die oorsprong van Paassondag is. Party mense bestempel dit met reg as die “Roomse-Paasfees” (From Sabbath to Sunday, Bacchiocchi, bl. 201).

In sy Ecclesiastical History, verskaf die vroeë Katolieke geskiedskrywer Eusebius insig tot die bekendstelling van Paasfees. As tydgenoot van die Romeinse Keiser Konstantyn, beskryf Eusebius die laat tweede-eeuse geskil tussen Victor, Biskop van Rome, en Polykrates, wat stry oor wat gevier moet word, die Pasga of Paasfees. Eusebius skryf: Die Biskoppe, egter, van Asië, hou vol in die onderhouding van die gewoonte wat afkomstig is van hul vaders, onder leiding van Polykrates ... ‘Ons’ sê hy, ‘onderhou die werklike dag; sonder om daartoe by te voeg of weg te neem, want groot ligte het in Asië gaan slaap, wat sal opstaan in die dag van ons Heer se verskyning, ... Filippus, een van die twaalf Apostels ... Johannes, wat op ons Heer se bors gerus het ... Polykarpus van Smirna ... Almal van hulle het die veertiende dag Pasga volgens die Evangelie onderhou, sonder om enigsins af te dwaal, het hulle die weg van geloof gehandhaaf” (hoofstuk 24). Eusebius gaan voort en haal aan uit ’n brief van Irenaeus, ’n tweede-eeuse Biskop van Lyon, wat die onderhouding van Paasfees as ’n plaasvervanger vir die Pasga teruggevoer het tot die dae van Sestus, biskop van Rome (ongeveer 116-126 n.C.)

Met ander woorde, Paassondag was nie onderhou deur die belydende Christengemeenskap nie tot bykans 20 jaar na die dood van die apostel Johannes, die laaste oorlewende ooggetuie van die kruisiging en die herrese Jesus. As God weliswaar wou hê dat Sy volk hierdie vakansiedag moes hou, waarom het dit so lank geneem om ingestel te word? Indien dit werklik die gebeure van Christus se kruisiging en opstanding herdenk het, sou dit sekerlik van die begin af onderhou gewees het! Tog is dit nie bekendgestel as ’n “Christelike” vakansiedag voor almal wat eerstehandse kennis van die feite gehad het, eers dood was nie. Dit op sigself behoort ons te laat regop sit en daarop ag slaan.

Paassondag het sy eintlike oorsprong in die kultus van antieke heidense sonaanbidding. Die Engelse naam “Easter” is afgelei van Ishtar of Astarte, name wat verwys na die antieke Babiloniese godin wat aanbid was as die moeder van die songod. Let op hierdie erkentenis: “Die motief van die Son was nie slegs deur Christelike kunsskilders gebruik om Christus uit te beeld nie [sedert die derde eeu] maar ook deur Christelike leermeesters om Hom aan die heidense menigte, wat welbekend was met die ryk Son-simboliek, te verkondig. Talryke Vaders ontleen en herinterpreteer die heidense simbole en gelowe betreffende die Son en wend dit verontskuldigend aan om die Christenboodskap te leer” (Bacchiocchi, bl. 253).

Baie van die simboliek wat met Paasfees geassosieer word, insluitend hasies en eiers, se herkoms strek terug na antieke gewoontes met hul oorsprong in Babilon en het ons hedendaagse tyd, via Rome, bereik. Die Romeinse Keiser Konstantyn, ’n lewenslange aanbidder van Sol Invictus, die Songod, het vroeg in die vierde eeu ’n bondgenootskap met die Biskop van Rome gesmee. Dit is deur hierdie verbintenis van Kerk en Staat dat die verlokkings kom wat geassosieer word met hedendaagse Christendom en wat op die Christenbelydende samelewing afgedwing word.

Maak dit saak dat “Paasfees” en baie van die motiewe wat met daardie vakansiedag geassosieer word, nagespeur kan word tot die antieke heidendom? Baie opregte belydende Christene sal beswaar maak en sê dat hulle Paas-sonsopkomsdienste bywoon om Jesus Christus en Sy opstanding uit die dood te vereer, nie om die songod te aanbid nie. Is dit aanvaarbaar om heidense gewoontes en simbole te neem en dit vanuit ’n Christelike oogpunt te herinterpreteer? Nee! God waarsku die eertydse Israeliete, toe hulle voorberei het om die land van die Kanaäniete binne te gaan: “neem jou dan in ag ... dat jy nie na hulle gode vra en sê nie: Hoe het hierdie nasies hulle gode gedien? – dat ek ook so kan doen. So mag jy nie handel met die HERE jou God nie” (Deuteronomium 12:30-31). God sê eerder aan Sy volk: “Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie” (vers 32).

Paassondag vier nie die opstanding van Jesus nie. Dit verberg as’t ware die eintlike punt wat Jesus gesê het die deurslaggewende teken van Sy Messiasskap sou wees – die drie dae en drie nagte in die graf. Paasfees, soos die meeste van die simbole wat daarmee gepaardgaan, het nie sy oorsprong in Skriftuurlike bevele nie, maar in die gebruike van antieke sonaanbidders. Dit is hoog tyd dat diegene wat bely dat hulle God se mense is, uit geestelike Babilon kom en die Skepper aanbid soos Hy beveel – in gees en in waarheid!