V: Die God van die Ou Testament wat “’n oog vir ’n oog” en “’n tand vir ’n tand” eis, blyk streng te wees. Is dit nie waar dat Jesus gekom het om weg te doen met Sy Vader se wet van wrede gebondenheid nie?

A: Menige Bybelstudent is geskok oor God se “oog vir ’n oog” opdrag in Eksodus 21:23-25. Hulle veronderstel dat gedurende Ou Testamentiese tye enigiemand wat die verlies van ’n oog, hand of voet veroorsaak het, outomaties ’n soortgelyke verlies sou ly. Baie wonder: Hoe kan so ’n wrede opdrag van ’n liefdevolle Vader af kom?

Ons lees “Maar is daar ’n letsel, dan moet jy gee lewe vir lewe, oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet, brandplek vir brandplek, wond vir wond, kwesplek vir kwesplek” Eksodus 21: 23-25. God beskryf die beginsel van regverdige vergoeding. “’n Oog vir ’n oog” is egter nie in alle gevalle toegepas nie. Kyk na die volgende vers (26): “En as iemand sy slaaf of slavin op die oog slaan en hy dit beskadig, moet hy hom vry laat weggaan vir sy oog”. God het ’n regverdige vergoeding beskryf - vryheid vir die beseerde slaaf - eerder as ’n vergeldende verminking.

’n Paar verse vroeër het God beveel dat een wat ’n ander beseer, ’n regverdige vergoeding moet voorsien: “... sy tydverlies moet hy vergoed en sorg dat hy heeltemal gesond word” (verse 18-19). Hierdie wet was ’n soort werknemersvergoeding, wat verseker het dat die beseerde regverdige vergoeding sou ontvang vir sy besering en verlore produktiwiteit. Eerder as om wreedheid van God te weerspieël, het God se wette en uitsprake die Israeliete geleer om hulle naaste lief te hê deur die beginsel van regverdige vergoeding vir verlies toe te pas.

Het Jesus Christus weggedoen met God se wette? Nee! Hy stel dit uitdruklik dat Hy gekom het om God se wette te vervul (Jes. 42:21 en Mat. 5:17-19). Op die vraag watter van God se wette die grootste is, het Jesus geantwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete” (Mat. 22:37-40).

Het Jesus met hierdie woorde die Ou Testamentiese wet tot niet verklaar? Nee! Hy het die Skrif aangehaal (Deut. 6:5 en Lev. 19:18)! Eerder as om iets nuut in te bring, het Jesus die bestaande wet vervul en hulle geleer hoe Christene dit behoorlik moet toepas.

Die “oog vir ’n oog” beginsel het betrekking op naasteliefde. Jesus het dit vervul deur vergifnis te beklemtoon. Let op na Sy verduideliking: “Julle het gehoor dat daar gesê is: Oog vir oog en tand vir tand. Maar Ek sê vir julle dat julle ’n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe” (Mat. 5:38-39).

Jesus het hier gewys dat ’n Christen bereid moet wees om onregverdig te ly. Die wet bly egter die maatstaf tussen reg en verkeerd. Die apostel Paulus het vir die Korintiërs gesê dat hulle onregverdig moet ly en beroof moet word, eerder as om ’n mede-Christen voor ’n openbare hof te daag (1 Kor. 6:1-8). Paulus het ook geleer dat ons onderdanig moet wees aan regeringsgesag, selfs as dit onregverdig en onbillik is (Rom. 13:1-7) - solank dit nie God se wette skend nie. Die voorbeeld wat Christus vir alle Christene gestel het om te volg, is dat dit beter is om die pyn van onverdiende lyding te verduur, ter wille van die geregtigheid (1 Pet. 2:19-20).

Die waarheid is dat die juk van gebondenheid op diegene wat sondig is (Joh. 8:34) - nie op die wat God se gebooie onderhou nie. God se wette is heilig, regverdig en goed (Rom. 7:12). Jesus het gekom om die hele wet te vervul en uit te brei, wat liefde teenoor mekaar is (Rom. 13:10). Petrus het dit so gestel: “En eindelik, wees almal eensgesind, medelydend, vol broederliefde en ontferming, vriendelik. Vergeld geen kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde nie, maar seën inteendeel, omdat julle weet dat julle hiertoe geroep is, sodat julle seën kan beërwe” (1 Pet. 3:8-9). God se wet is altyd die maatstaf van geregtigheid maar Christene moet daardie wet altyd met barmhartigheid toepas.