Vraag: Jesus sê: “Begryp julle nie dat alles wat van buite af in die mens ingaan, hom nie onrein kan maak nie, omdat dit nie ingaan in sy hart nie, maar in die maag, en dit gaan in die heimlikheid uit en maak al die voedsel rein?” (Markus 7:18-19). Beteken dit dat Christene enigiets mag eet wat hulle wil?

Antwoord: 
Mense gebruik soms Markus 7:18-19 om hul begeerte te regverdig om kosse te eet wat die Bybel as “onrein” bestempel. Dit is egter belangrik om hierdie vers, uit een van Christus se gelykenisse, in die konteks daarvan te verstaan, sodat ons waarlik waardering kan hê vir wat Hy geleer het.

Let op die verse wat onmiddellik daarna volg: “Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein” (verse 20-23).

Dit is duidelik dat Jesus ’n standpunt ingeneem het oor die belangrikheid van goddelike gedrag, maar het Hy ook ’n stelling gemaak oor dieet? Let op die parallelle vertelling van hierdie gelykenis in Mattheus 15. Hier verduidelik Christus – in die konteks van die rituele handewas, nie dieetvereistes nie – dat elke plant “wat My hemelse Vader nie geplant het nie, ontwortel sal word” (Mattheus 15:13). Dit was ’n gelykenis oor goddelike gedrag, nie oor wat vir middagete op ons spyskaart moet wees nie!

Indien hierdie ’n letterlike opdrag oor dieet was, moet ons onsself afvra: “Kan Christene vandag verwag om arseen en ander gifstowwe te eet sonder om daardeur geaffekteer te word?” Natuurlik nie! Die gelykenis sê dat alle voedsel deur ’n mens gaan. Dit sê egter nie dat onrein items as “voedsel” beskou word nie – Christus het nie aan ons gesê om arseen te eet nie, des te minder om die diere te eet wat die Bybel duidelik in Levitikus 11 as “onrein” beskryf.

Die apostel Petrus bevestig hierdie begrip in Handelinge 10. God gee aan Petrus ’n visioen van ’n laken wat uit die hemel neersak, waarin daar diere is wat hy as “onrein” beskou het. In die visioen sê ’n stem aan Petrus om die diere te slag en te eet, maar Petrus weier en God praat weer met hom en sê: “Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie” (Handelinge 10:15).

Het Petrus verstaan dat dit die herroeping was van die wet oor rein en onrein voedsel? Nee! Petrus self verduidelik die les van die visioen deur te sê: “God het my getoon dat ek geen mens onheilig of onrein mag noem nie” (vers 28). God het aan Petrus die visioen gegee om te toon dat hy vir beide Jode en Grieke moet preek en met hulle moet meng en gesels. Daar is geen rekord van Petrus wat onrein kosse eet nie, hetsy voor of na hierdie visioen!

’n Eindtydse profesie uit die boek Jesaja toon dat wanneer Christus terugkeer, Hy  oordeel sal bring oor diegene wat daarmee volhou om onrein diere te eet, insluitend diegene “wat varkvleis eet” (Jesaja 66:17). Indien Christus mense werklik toegelaat het om varkvleis te eet, sou hierdie profesie geen sin maak nie – tensy ons aanneem dat Christus beplan om mense te straf omdat hulle Hom gehoorsaam!

Die Bybelse wette oor rein en onrein voedsel is nie bloot ’n manier waardeur God Sy mense uitsonder nie; dit is wette wat die fisiese gesondheid beskerm van diegene wat dit gehoorsaam. Soos Eerdmans’ Handbook of the Bible ons herinner: “Hierdie lys [van rein en onrein diere] het ’n belangrikheid wat dikwels geïgnoreer word. Hierdie lyste is geensins gegrond op grille of giere nie, maar beklemtoon ’n feit wat nie tot laat in die vorige eeu ontdek is nie ... diere dra siektes wat vir die mens gevaarlik kan wees” (bl. 176). Diegene wat God se wet vandag gehoorsaam, kan die seëninge ervaar wat Hy vir Sy skepping beoog het.

Om meer te wete te kom oor die Bybelse wet van rein en onrein voedsel, en hoe dit u fisies sowel as geestelik van nut kan wees, skryf gerus aan ons streekkantoor op bl. 2 van hierdie tydskrif en versoek u gratis afskrif van ons artikel Wil u dít werklik eet? Deur God se dieetriglyne te volg, kan u u gesondheid – en u lewe – verander!