Op 6 Desember 1917 het ’n massiewe ontploffing in die hawe van Halifax, Nova Scotia plaasgevind. Die Franse vragskip SS Mont-Blanc, wat met ’n 2,400 ton hoogs plofbare oorlogsvrag gelaai was, het presies om 9:04 vm. teen die Noorse skip SS Imo gebots. Binne twintig minute het ’n vuur die plofstof op die Mont-Blanc laat ontvlam en dit het tot ’n ramp gelei wat ontsettende skade, beserings en lewensverlies tot gevolg gehad het.

Ongeveer 2,000 mense is op slag dood weens strukture wat ineengestort het, vallende puin en vlamme. Nog ongeveer 9,000 is beseer. Binne ’n radius van 800 meter is byna elke struktuur in die pad van die ontploffing vernietig. ’n Tsoenami wat op die ontploffing gevolg het, het die land getref en ’n nedersetting van die Mi’kmaq, ’n inheemse Kanadese stam, uitgewis (CBC.CA, “The Halifax Explosion”, 2015).

Die aangrensende gemeenskappe van Dartmouth en Richmond is ook tot ’n groot mate geraak. Baie mense het destyds gedink dat die ontploffing die gevolg van ’n Duitse U-boot aanval was. Die ontploffing, wat na raming (in 2014-Kanadese dollar) $545 miljoen se skade veroorsaak het, staan in die geskiedenis bekend as die grootste mensgemaakte ontploffing voor die ontwikkeling van kernwapens.

Baie is al oor hierdie ramp geskryf, met inbegrip van die roman Barometer Rising, deur die Kanadese skrywer Hugh MacLennan. Daar is baie verhale van individue wat dit oorleef het, soos dié een van Eric Davidson wat twee-en-’n-half jaar oud was en met sy speelgoed naby ’n venster gespeel het toe die glas voor hom versplinter en hom lewenslank blind gemaak het.

Soos so dikwels die geval tydens ramp-scenario’s is, het individue wat heldhaftige dade van moed en onselfsugtigheid in gevaarlike situasies verrig het, uitgestaan. Dit was ook die geval daardie Desember-oggend in Halifax, toe Vince Coleman, ’n spoorwegseiner, wat minder as ’n kilometer van die ontploffing af gewerk het, uitgevind het wat dieMont-Blanc dra. Hulle het die brandende skip net voor die ontploffing gesien en hy en sy mede-werker het besluit om te hardloop omdat hulle geweet het dat dit ’n lewensgevaarlike situasie is. Hy het nogtans onthou dat ’n inkomende passasierstrein met ongeveer 300 passasiers daarop, slegs minute weg is van die spoorwegwerf af. Coleman het omgedraai en ’n dringende Morsekode-boodskap gestuur, wat die lewens van die passasiers gered het.

Daar is verskeie weergawes van die boodskap wat gestuur is. Die Maritieme Atlantiese Museum berig hierdie ysingwekkende weergawe:
“Hou trein terug. Ammunisieskip brand in hawe en is op pad na Seehoof 6 en gaan ontplof. Dink dis my laaste boodskap. Vaarwel my vriende”. (MaritimeMuseum. NovaScotia.CA, “Vincent Coleman and the Halifax Explosion”, 2015).

Coleman het in die versendingskantoor gebly en voortgegaan om verskeie bykomende boodskappe te stuur. Coleman het in die massiewe ontploffing gesterf, maar die heldhaftigheid, dapperheid en onselfsugtigheid wat hy daardie dag in die aangesig van dreigende gevaar aan die dag gelê het, was verantwoordelik daarvoor dat alle inkomende treine na Halifax met skreeuende remme tot stilstand gekom het.

Wat is moed?

Daar is al gesê: “Moed is nie die afwesigheid van vrees nie, maar eerder die besluit dat iets anders belangriker as vrees is”. Die gemiddelde persoon sal waarskynlik nie in sulke dramatiese omstandighede beland, wat so ’n manhaftige reaksie sal verg as mnr. Coleman s’n nie, maar dit beteken nie dat moed nie deel is van die daaglikse lewe van ’n Godvresende individu nie. Die apostel Paulus het Timótheüs ingelig dat een kenmerk van die gevaarlike eindtye sal wees: “... mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan [God se krag] verloën” (2 Timótheüs 3:1, 5). Om aan God gehoorsaam te wees in hierdie wêreld verg moed. Om God te vertrou ten spyte van die druk om te kompromitteer, verg moed. Om tot bekering te kom en daarmee vol te hou, verg moed.

Bybelse voorbeelde van moed

In die Bybel is baie voorbeelde van moed opgeteken om aan God gehoorsaam te bly ten spyte van die omliggende druk om anders op te tree. Een so ’n geval is in die eerste hoofstuk van Josua opgeteken, waar Josua na Moses se dood die verantwoordelikheid van leierskap oorgeneem het om die Israeliete die Beloofde Land in te lei. God het Josua drie keer bemoedig deur die woord “moed” te gebruik – moed om Sy opdrag uit te voer en Sy Wette te gehoorsaam:
    “Niemand sal voor jou standhou al die dae van jou lewe nie; soos Ek met Moses gewees het, sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nieWees sterk en vol moed; want jy sal hierdie volk die land laat erwe wat Ek hulle vaders met ’n eed beloof het om aan hulle te gee. Wees net baie sterk en vol moed, om nougeset te handel volgens die hele wet wat Moses, my kneg, jou beveel het; wyk daarvan nie regs of links af nie, sodat jy met goeie gevolg kan handel, oral waar jy mag gaan. Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel. Het Ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die Here jou God is met jou, oral waar jy heengaan” (Josua 1:5-9).

Hierdie kragtige woorde van God aan Josua is tydlose instruksies en is in die 21ste eeu nog net so toepaslik soos destyds.

In die Nuwe Testament beskryf Hebreërs 11 en 12 dapper mans en vrouens, mense van God deur die eeue heen, na wie verwys word as ’n “wolk van getuies” (Hebreërs 12:1) wat vir ons die pas aangee. Hulle het verby hulle onmiddellike omstandighede van lyding en gevaar gekyk en het erken dat God hulle uit hierdie wêreld uitgeroep het om deel van iets groter as hulle self te wees, om Sy wil te doen. Dit het moed geverg!

Moed om tot die einde te volhard

Dit sal moed verg om vol te hou om die wonderlike nuus van God se Koninkryk op aarde te verkondig en terselfdertyd mense te waarsku om te verander en hulle in opregte berou tot God te wend. In die komende maande en jare sal diegene wat deur God geroep is om hierdie Werk te ondersteun en daarvoor te bid, moed nodig hê. Om terselfdertyd ’n lewe in ooreenstemming met God en Sy Wette te leef, sal ook moed verg.

Soos die apostel Paulus sê: “Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk” (1 Korinthiërs 16:13).

Kanadese en inderdaad al die moderne nasies wat van antieke Israel afstam, sal in die nabye toekoms beproewings ondervind wat baie erger sal wees en ’n groter impak sal hê as die geskiedkundige Halifax-ontploffing van 1917. Dit sal nodig wees dat ons die moed van Vince Coleman aan die dag sal lê, wat op sy dag tot op die einde ’n onbaatsugtige werk verrig het en so honderde mense van uiterste verwoesting gered het.

As gevolg van individue wat in ons huidige tyd ook ná aan God sal wees, wat dapper sal wees, manmoedig, sterk sal staan, wat sal volhard, wat ’n voorbeeld sal stel en wat hierdie Werk van die Almagtige God sal ondersteun en doen, sal God die wêreld van “totale uitwissing” red (Mattheüs 24:14, 21-22).

Sal u een van hulle wees? Sal u “sterk en vol moed wees”?