Die godeskemering – aangekondig as Götterdämmerung in die opera deur die komponis Richard Wagner – is ’n middeleeuse verhaal van heidense Noorse mitologie. Dit beskryf ’n reeks natuurrampe en ’n groot geveg wat uitloop op die dood van verskeie gode en die einde van die wêreld meebring – waarna die aarde weer nuut gebore word.

Uit ’n heel ander perspektief: Bybelprofesieë het lank reeds iets soortgelyks voorspel. Die 20ste eeu het die opkoms van talle maatskaplike teorieë gesien wat as die “redders” van nasies en die wêreld beskou was. Nogtans het die dramatiese mislukking van hierdie moderne “gode” onmiddellik ’n spoor van trane, lyding en verwoesting agtergelaat. Die geskiedenis van die laaste eeu bewys duidelik die standhoudendheid van God se waarheid, en die verbasende akkuraatheid van profesieë wat deur die ware God van die Bybel geïnspireer is, wat steeds vandag gestalte aanneem!

Die ware God

Terwyl Egipte die mees magtigste nasie op die aarde was, het God begin om ’n reeks groot wonderwerke deur Moses te verrig. Egiptiese towenaars, gefrustreerd omdat hulle nie God se wonderwerke kon namaak nie, het besef dat hulle met ’n krag te doen het wat groter is as wat hulle nog ooit teëgekom het. Hul het tot die gevolgtrekking gekom: “Dit is die vinger van God!” (Eksodus 8:19). God het toe die land Gosen – waar die Israeliete gewoon het – openlik gespaar van die plae wat Hy oor die res van Egipte gebring het (Eksodus 8:22; 9:4, 26; 10:23). Die Israeliete en die Egiptenare was getuie van God se krag toe Hy die waters van die Skelfsee geskei het om die Israeliete te help ontsnap van hul Egiptiese heersers (Eksodus 14-15). Die Israeliete het ook gesien hoe God die waters van die Jordaanrivier laat stilstaan terwyl hulle deurgetrek het na die Beloofde Land (Josua 3:14-17), en hulle het waargeneem hoe God bonatuurlik ingegryp het in die stryd tydens die verowering van hul nuwe tuisland (Josua 6:5; 10:11). Dit is in die Bybel opgeteken dat selfs heidense konings – Nebukadnésar en Daríus – tot die besef gekom het aangaande die God van Daniël: “... Hy is die lewende God ... Hy verlos en red en doen tekens en wonders in die hemel en op die aarde ... daar [is] geen ander god ... wat so kan verlos nie” (Daniël 6:25-28; 3:29). Die God van die Bybel herinner skeptici herhaaldelik en openlik daaraan dat Hy alleen in staat is om die toekoms te voorspel en om dit dan tot stand te bring (Jesaja 41:21-24; 45:21; 46:8-10). Die Bybel teken hierdie merkwaardige gebeure aan as bewysbare geskiedenis. Lees asseblief ons boekie Die BybelFeit of fiksie?, vir meer inligting oor hierdie lewensbelangrike onderwerp.

Antieke Waarskuwings

Moses het egter ook die antieke Israeliete gewaarsku om nie weg te dryf van die lewende God af en valse gode te volg nie: “Neem jou net in ag ... dat jy die dinge nie vergeetwat jou oë gesien het nie ... Neem julle dan terdeë in ag ... sodat julle nie verderflik handel deurdat julle vir julle ’n gesnede beeld, ’n gelykenis van enige afgodsbeeld, maak nie ... ’n gelykenis van enigiets wat die Here jou God jou verbied het” nie (Deuteronomium 4:9, 15-19, 23). Die lewende God van die Bybel het uitdruklik Sy uitverkore volk opdrag gegee: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie” (Eksodus 20:2-3).

Nogtans, ten spyte daarvan dat hulle dikwels getuie was van die wonderbaarlike mag van die ware God, het die Israeliete afgedwaal en begin om ’n afgod te aanbid gedurende die 40 dae wat Moses op Sinai was om die wette van God te ontvang (Exodus 24:18; 32:1-9). Moses het die Israeliete se neiging om die lewende God te vergeet en na valse gode op te sien besef. Hy waarsku: “Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van die Here” (Deuteronomium 31:29). Die Ou Testament dokumenteer die hartseer storie van hoe die nasies van Israel en Juda herhaaldelik weggedraai het van die ware God om die valse gode van naburige nasies te aanbid (2 Konings 17:7-8, 18-20).

God se profete het egter ook vooruit gesien wat met die afstammelinge van die Israelitiese nasies sou gebeur in die laaste dae. Jeremia profeteer van ’n “tyd van benoudheid vir Jakob ... aan die einde van die dae” wanneer valse leraars – insluitende misleide godsdiensleiers – “my volk verlei met hulle leuens en hulle grootpratery” (Jeremia 30:3-7, 12-15, 24; 23:13-16, 32). Jeremia verklaar ook dat die Israelitiese nasies ’n ander god wou aanbid: “... die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie” (Jeremia 2:4-13). Die profeet betreur die feit dat die Israelitiese nasies hulle eie gode geskep het – gode wat nie werklike gode is nie! Jeremia waarsku dat daar ernstige gevolge sal wees omdat die lewende God verwerp is: “... weet dan en sien dat dit verkeerd en bitter is dat jy die Here jou God verlaat het” (Jeremia 2:19).

Valse god van moderniteit

Die valse gode met die grootste invloed op ons moderne wêreld is nie die skandelike afgode van hout en klip wat deur die antieke mense gemaak is nie. Vandag se mees gevaarlikste valse gode is die intellektuele maaksels van die misleide menslike verstande, grootliks die gevolg van Renaissance filosowe wat probeer het om die ware God (en Sy geïnspireerde Woord, die Bybel) te onttroon en Hom te vervang met ’n wêreldlike humanisme, gebaseer op menslike rede. Hierdie fundamentele intellektuele verskuiwing het die grondslag gelê vir vrugbare menslike verstande om Marxisme (die sosialistiese visie van ’n “nuwe mens” sonder God), Nasionale Sosialisme (wat ’n “god” gemaak het van nasionalisme en rassisme) en ons boesemvriend, kapitalisme (die gebruik van “vrye” markte om rykdom op te hoop en mag oor ander mense te verkry) voort te bring.

Ander nuwe “gode” wat ons omring, sluit in verbruikerswese (die aanbidding van die uitset van die mens se hande), omgewingsake (die verheffing van “Moeder Aarde” bo die Skepper), hedonisme en seksuele bevrediging (die soeke na plesier sonder inagneming van maatskaplike norme wat al lank bestaan en die beswil van ander). Dit behoort nie verbasend te wees dat al hierdie valse gode bewys is – en nog steeds bewys word – om volslae mislukkings te wees nie! Marxisme het uitgeloop op ’n kolossale fout. Nasionale Sosialisme het vergaan in vlamme wat ’n kontinent verwoes het. Sosialisme en kapitalisme sukkel albei tans voort. Omgewingsbewustes is nie besig om die planeet te red nie, en die hedonistiese najaag van seksuele bevrediging het ’n plaag van seksueel-oordraagbare siektes en lyding op die wêreld losgelaat. Studies het getoon dat wanneer gemeenskappe gedwing word om onbybelse waardes van “alles is toelaatbaar” te aanvaar onder die dekmantel van “verdraagsaamheid” en “diversiteit”, sonder inagneming van Bybelse standaarde van liefde teenoor naaste en gehoorsaamheid aan God, dit lei tot aftakeling van vertroue, mense wat in hulself terugtrek, maatskaplike en politieke skeiding wat vererger en maatskaplike spanning wat verhoog word (Suicide of a Superpowerbll. 262-272).

Lank gelede het die profete van die ware God Sy uitverkore volk gewaarsku dat, sou hulle Hom verwerp, “Jou eie boosheid jou [sal] tugtig, en jou afkerighede sal jou straf” (Jeremia 2:19) – met ander woorde, hulle sal maai wat hulle gesaai het! Die bloed-deurweekte geskiedenis van die 20ste eeu illustreer duidelik die tragiese resultate wat plaasvind wanneer mense valse gode maak van mensgemaakte filosofieë wat veronderstel is om verlossing vir die mensdom te bring. Vir diegene wat oë het om te sien, was die vorige eeu getuie van die dood van baie valse gode – hierdie gebrekkige idees wat voortgebring is in die denke van misleide individue wat die ware God van die Bybel verwerp het. Genadiglik sal die ware God binnekort ingryp in die sake van die mens deur Sy Seun, Jesus Christus, te stuur om die Koninkryk van God op hierdie aarde te vestig en om vrede, geregtigheid en die kennis van die ware God aan die mense van die wêreld te bring. Daardie groot gebeurtenis gaan binnekort plaasvind (Jesaja 9:6-7; 11:1-9)!