Dit is met groot hartseer dat ons u in kennis stel van die dood van die jarelange Evangelis, Richard Franklin Ames. Baie van u is bekend met mnr. Ames vanweë sy vele Tomorrow’s World-televisie uitsendings, tydskrif-artikels en boekies.
Mnr. Ames was ’n gedrewe, tipe A persoonlikheid en ’n man wat prestasies bereik het. Hy is in Junie 1936 gebore, hy het grootgeword en openbare skole in New London en Meriden en Connecticut bygewoon. Hy het gedien as medekaptein van sy hoërskool se sokkerspan en was die senior klaspresident. Hy het sy loopbaan in die uitsaaiwese begin deur ná skool as ’n omroeper vir ’n Meriden radiostasie te werk. Na sy gradeplegtigheid het hy voortgegaan om ’n B.C.E. graad van Rensselaer Polytechnic Institute in Troy, New York, te verwerf en daarna die Yale Universiteit bygewoon om ’n jaarlange graadkursus in verkeers- en vervoer-ingenieurswese te voltooi. Hy is daarna aangestel as ’n vervoer ingenieur by die Suidoos-Virginia streekbeplanning-kommissie in Norfolk, Virginia.
Ingenieurswese was egter nie sy uiteindelike roeping nie. Soos baie mense, het hy besef dat hy iets in die lewe mis. Dit was op daardie stadium dat hy bekendgestel is aan die werk van mnr. Herbert W. Armstrong. Hy het in 1962 sy werk in Virginia bedank om Ambassador College in Pasadena, Kalifornië, by te woon. Daar het hy as studente-leier gedien en in 1964 is hy met Kathryn Lind Meredith getroud. Kathryn was die jonger suster van die ontslape Evangelis Roderick C. Meredith – my voorganger in hierdie werk.
Mnr. Ames is ’n jaar later as ’n leraar van Jesus Christus georden en het gemeentes in sewe state bedien as deel van ’n vinnig groeiende werk. Deur die loop van sy lewe het hy ook teologie, spraak en uitsaaiwese by die Big Sandy, Texas, Ambassador College-kampus onderrig en het gedien as direkteur van toelatings. Hy was ook ’n instrukteur van teologie sowel as ’n registrateur by die Pasadena-kampus.
Hy het ’n bekende gesig gedurende 1986 tot 1994 geword vir baie mense op die televisieprogram The World Tomorrow. Hierdie program was op sy hoogtepunt die godsdiensprogram waarna die meeste mense in die Verenigde State gekyk het. As een van die program se vier aanbieders het mnr. Ames gereis om programme op verskeie plekke op te neem in Israel, Egipte, Groot-Brittanje, Duitsland en verskeie plekke regoor die Verenigde State.
Mnr. Ames het die Worldwide Church of God verlaat nadat dit die suiwer woorde van die Skrif begin vervang het met heidense leerstellings en Griekse filosofie. Hy het nederig saam met baie ander mense besluit om die hervestigde Werk te ondersteun wat deur sy swaer gelei is en het sy besluit verduidelik in ’n brief wat hy destyds geskryf het: Ek het gewoonlik met dr. Meredith geargumenteer en vir hom gesê dat die Worldwide Church of God nooit sou aanvaar [’n leerstelling wat nêrens in die Skrif gevind word nie] dat daar met die heiligheid van die Sabbat wegdoen sou word nie. Hy was reg en ek was verkeerd.
Kort voor lank het dr. Meredith vir mnr. Ames gevra om weer met televisie-programme te begin, wat hy vervaardig het vanaf 1996 tot ’n paar weke voor sy dood. Mnr Ames is toe die Lewende Kerk van God gestig is, ook aangestel as Direkteur van Media-bedrywighede. Deur sy werk as omroeper, skrywer en spreker het hy miljoene mense in baie lande regoor die wêreld bereik. Hy het deeglik begryp wat God geprofeteer het vir Sy getroue dienaars wat hulle lewens aan Sy Werk wy: “En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos” (Daniël 12:3).
Datums, plekke en prestasies vertel ons egter nie álles van die hierdie toegewyde man nie. Selfs gedurende sy laaste dae, beperk tot ’n hospitaalbed, wou hy weet, Hoe gaan dit met die Werk? Is die jongste boek al na die drukkers? Sy denke was gefokus om die Werk van God te doen – net soos die denke van Jesus Christus, toe Hy aan Sy dissipels verkondig het: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring” (Johannes 4:34).
Hoe langer ’n mens iemand ken, hoe meer besef mens dat Jesus Christus die enigste volmaakte mens was wat ooit op hierdie aarde gewandel het. Iemand met hierdie wete het eenkeer vir mnr. Ames gevra hoe hy vir sy swaer kan werk. Hy sou immers dr. Meredith se menslike swakhede van naderby gesien het. Sy antwoord was ondubbelsinnig: “Ek vrees God”. Mnr. Ames het werklik verstaan dat Jesus Christus die ware hoof van die Kerk is en dat terwyl as wat die menslike leier Christus volg – soos dit duidelik in die Bybel geopenbaar word – dit ’n ernstige fout sou wees om teen hom in opstand te kom, hoe onvolmaak hy ook al mag wees. Ek is seker dit is waarom hy my grootste ondersteuner was toe ek aangestel is om dr. Meredith se opvolger te wees, al was ek amper ’n dekade jonger as hy.
Vir baie jare was mnr. Ames waarlik ons ouer staatsman en altyd die volwassene in die groep. Een van ons Kanadese leraars het dit só gestel: Wanneer mnr. Ames gepraat het, het almal geluister. Mnr. Stuart Wachowicz, Evangelis en streekdirekteur van Kanada vir Tomorrow’s World en die Lewende Kerk van God, het die volgende geskryf oor die persoon wat hy leer ken het:
Mnr. Richard Ames sal onthou word vir sy vele bydraes tot die Werk van God gedurende hierdie era. Sy totale fokus was om die Werk te doen, wat altyd ’n inspirasie en aanmoediging vir ons almal was om verder as ons eie begeertes te kyk en ons energie toe te spits op die roeping wat so waardevol vir hom was. Vir my en my vrou sal mnr. Ames die beste onthou word vir sy vermaning om aanspraak te maak op God se beloftes en daarom totale vertroue in ons Vader en Christus te plaas. Ons sal altyd die herinnering koester aan mnr. en mev. Ames se besoek aan Alberta ’n hele aantal jare gelede, waartydens hy Tomorrow’s World-aanbiedings in Red Deer en Calgary gedoen het. Hulle opregte besorgdheid oor die lidmate het ’n baie diep en blywende indruk gemaak. Dieselfde indruk is gedeel deur lede regoor die land. Dit sal wonderlik wees om hom weer in ’n verheerlikte liggaam in die komende Koninkryk van God te sien.
Mnr. Ames het profesieë vir miljoene mense verstaanbaar gemaak vir miljoene mense en drie van sy boekies was gefokus op die onderwerp: Verstaan Bybelse Profesie, Armagéddon en daarna sowel as Die Midde-Ooste in Profesie. Sy fokus was egter nie nét om toekomstige gebeure te verstaan nie, maar om baie mense tot geregtigheid te bring. Let op hierdie vermaning uit sy artikel Hoe om Armagéddon vry te spring in die Julie-Augustus 2025 Wêreld van More-tydskrif – die laaste uitgawe wat voor sy dood op 4 Julie gepubliseer is:
Dalk het u nie gebid nie; dit is nou die tyd om op u knieë te gaan en na God uit te roep vir ’n verandering in u lewe. Die Skrif sê aan ons hoe om nader aan God te kom. “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik” (Jesaja 55:6-7). God beloof om u te seën en u te vergewe indien u Hom met u hele hart soek.
As onderwyser en bemoediger het mnr. Ames altyd na die beste in ander mense gesoek. Daar was tye wat hy reguit gepraat het. Hy kon blaf, maar hy het nie gebyt nie. Insien hy ’n manier gesien het waarop u in u lewe kon verbeter, sou hy dit onder u aandag bring. Hy was opreg gemotiveer deur liefde en ’n begeerte om u te help om te verbeter, terwyl hy ook daarna gestreef het om sélf aan die hoogste standaard te voldoen.
Richard Ames was ’n medewerker in Christus, ’n ware vriend en ’n inspirasie. Ons sien uit daarna om hom weer te sien by die opstanding in die Koninkryk van God.


