Meer as 70 jaar gelede in 1984, het George Orwell in sy roman geskryf oor ’n nasie wat deur ’n totalitêre diktatorskap beheer word. Deur gebruik te maak van kameras, spioene, intimidasie en sielkundige manipulasie, het die regering – wat deur “Big Brother” verpersoonlik word – probeer om bykans totale beheer uit te oefen oor mense se bewegings, gedrag en selfs gedagtes. Die uitdrukking “Big Brother is watching you” het hierdie onderdrukkende vlak van regeringstoesig beskryf. George Orwell was ’n insiggewende waarnemer van die wêreld en hy het die moontlikheid raakgesien van ’n regering wat al hoe meer onderdrukkend kan raak en die lewens van elke persoon oorheers.

Is dit moontlik dat Orwell se voorspellings verwesenlik kan word? Neem sommige van die profesieë van die Bybel in aanmerking. Die apostel Johannes het oor die toekoms geskryf en in Openbaring opgeteken dat hy in visioene twee wreedaardige diere gesien het. Een dier het uit die see opgekom en die ander een het uit die aarde opgekom. Bybelgeleerdes verstaan dat hierdie diere menslike leiers is wat mag oor die nasies sal uitoefen. Hulle mag sal aan die einde van hierdie tydperk ’n hoogtepunt bereik, wanneer hierdie onheilige bondgenote [tussen kerk en staat] ongewone en verreikende beheer oor mense se lewens sal uitoefen. Hulle sal mense selfs dwing om ’n geheimsinnige merk te aanvaar, waarsonder hulle wesenlik van die samelewing afgesny sal wees.

Is dit moontlik dat ons beheer oor ons wil en ons lewens verloor of prysgee? Sal ’n “Big Brother”-stelsel regtig op die aarde ontstaan? Indien wel, hoe kan ons ons daarop voorberei?

Diere uit die see en die land

Die boek van Openbaring stel hierdie twee diere aan ons bekend. Hierdie is wat Johannes van die eerste dier geskryf het: “En ek het ’n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe ’n naam van godslastering” (Openbaring 13:1).

Wanneer ons hierdie Skrifgedeelte met Daniël 7 in die Ou Testament vergelyk, is dit duidelik dat hierdie dier uit die see ’n kombinasie van vier wêreldoorheersende koninkryke is wat op die Romeinse Ryk uitgeloop het. Die Romeinse Ryk het in 476 n.C. tot ’n val gekom – dit is die dodelike wond wat in Openbaring 13:3 beskryf word. Ons lees ook in vers 3 dat die dodelike wond van die dier genees is. Dit verwys na die herstel van die ryk onder Justinianus in 554 n.C. met behulp van die pous in Rome. Hierdie herrese Romeinse Ryk sou opeenvolgende herlewings hê en sal sy finale verskyning in die eindtyd maak.

Johannes beskryf die tweede dier wat uit die aarde opkom: “EN uit die aarde het ek ’n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ’n lam en het gepraat soos ’n draak” (Openbaring 13:11). Hierdie kragtige dier verteenwoordig ’n godsdienstige leier wat groot wonders doen om die massas te mislei. Hy stel homself voor as ’n verteenwoordiger van Christus, maar verkondig ’n heel ander boodskap – die woorde van ’n draak.

Hierdie twee duistere “dier”-moondhede werk saam om die bevolking te dwing om ’n identiteitsmerk te aanvaar, soos Johannes verduidelik: “En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ’n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het” (verse 16-17).

Is hierdie “Big Brother” aan die kom? Dit klink baie soos Orwell se samelewing van 1984. Dink aan die versmorende onderdrukking van persoonlike regte wat hier beskryf word. Dit is skokkend om te dink dat dit in die vredeliewende, vrydenkende samelewings van die Westerse wêreld kan gebeur.

Is “Big Brother” alreeds hier?

Sommige mense glo dat “Big Brother” alreeds hier is. Waarlik, die wêreldwye coronavirus-krisis het ’n omgewing geskep wat hom leen tot oormatige regeringsbeheer en selfs misbruik. Op 26 Junie 2020 het die tydskrif TIME ’n artikel gepubliseer met die titel “It’s Not Just Maria Ressa’s Arrest, Coronavirus is Accelerating Crackdowns on Press Freedom Across Asia”. Die skrywer, Laignee Barron, verduidelik hoe outoritêre regerings en selfs vrydenkende demokrasieë die pandemie as ’n bedekte geleentheid gebruik om sensuur uit te oefen:

“Hierdie periode is ’n situasie vir enige outoritêre regering om van te droom” sê Daniel Bastard, RSF’s [Reporters Sans Frontiers] Asia-Pacific director. “Hulle kan voorgee dat hulle hul burgers teen ‘fopnuus’ beskerm, terwyl hulle die enigste gesag is wat presies kan besluit wat waar of wat vals is. In hierdie opsig is die coronavirus-krisis ’n gedugte voorwendsel om sensuur toe te pas”.

Sedert die COVID-19-krisis ons getref het, het baie regerings regoor die wêreld vinnig opgetree om die virus onder beheer te bring. Beperkings op reis, werk, ontspanning en vergaderings is uiteengesit. Sommige maatreëls was selfs vreemd en ietwat komies. ’n Maatskappy, met die naam Draganfly, het hommeltuie ontwikkel om siek mense vanuit die lug op te spoor en om selfs nies, hoes, hartklop, asemhalingstempo en koors op te spoor (“Coronavirus News: Pandemic drones to monitor fever, crowds from above,” ABC7NY.com, 15 April 2020).

Wat ’n merkwaardige toestel! Behoort ons ons te kwel oor die sensuur wat verband hou met die pandemie en toestelle wat u gesondheid van ver af kan bepaal? Is “Big Brother” nou reeds hier?

Baie van die veiligheidsmaatreëls wat deur gesondheidsbeamptes vereis word, is nie groot opofferings nie. Christene behoort saam te werk en te doen wat hulle kan om hulle gesinne en hulle naaste te beskerm. Jesus leer ons duidelik: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matthéüs 22:39). Paulus het aan Christene gesê om hulle menslike regerings te gehoorsaam, behalwe wanneer daardie regerings hulle beveel om ongehoorsaam aan God te wees. Hy skryf in Romeine 13:1, “LAAT elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is”.

Gaan dinge nogtans te ver? Sommige mense sê ja. Sommige evangeliegesinde leiers verbind sterk regeringsoptredes aan die Bybelse merk van die dier en beweer dat “inplantbare mikroskyfies ... gebruik sou kon word om die bevolking te beheer onder die dekmantel van die opsporing van COVID-19-infeksies en immuniteit” (“Some evangelicals fear the ‘mark of the beast’ from a coronavirus vaccine,Yahoo News, 14 Mei 2020). Gelukkig is daar geen betroubare bewyse hiervoor nie. Sou dit egter met moderne tegnologie dalk binnekort moontlik wees?

Word die merk van die dier nou voorgestel onder die dekmantel van COVID-19 monitering? Het “Big Brother” gearriveer? Om dit duidelik te maak: Hierdie wêreld sal altyd bose diktators hê wat probeer om op enige manier mag in die hande te kry, asook mense wat probeer om ander mense vir hulle eie persoonlike voordeel te beheer. Die beskrywing van die merk van die dier in Openbaring 13 is op ’n totaal ander vlak as COVID-19-verwante regulasies of beleide. Hierdie dinge is nie die merk van die dier nie.

Ten spyte hiervan, boesem dit vrees by mense in om al hoe meer te sien hoe daar van tegnologie gebruik gemaak word wat inbreuk maak op privaatheid en dit skend, om hierdie pandemie te beveg. ’n Uiters belangrike element byvoorbeeld om ’n aansteeklike siekte te beveg, is “kontak-opsporing”. Wanneer iemand ’n ernstige en aansteeklike siekte opdoen, voer gesondheidsbeamptes ’n onderhoud met die persoon om die persone te identifiseer met wie hulle in kontak was. Deur hierdie inligting te gebruik, kan hulle ander persone opspoor wat besmet mag wees. Dan kan kwarantyn en ander pogings help om die verspreiding van die siekte verder te bekamp.

“Kwarantyn” is nie ’n slegte woord nie – dit is ’n Bybelse beginsel wat al millennia lank gebruik word om aansteeklike siektes te bekamp. Nuwe tegnologie wat op slimfone beskikbaar is, neem die kontakopsporingsproses egter tot ’n ingrypende nuwe vlak – iets wat George Orwell dalk in gedagte gehad het in sy roman. Let op hierdie verslag:

Mediaberigte gee te kenne dat die regering van Ecuador GPS-opsporing gemagtig om die nakoming van kwarantyn af te dwing. Die poging van die Israeliese owerhede om die veiligheidsdiens toe te laat om selfoondata van besmette persone te gebruik, het reeds kommer oor die skending van privaatheid veroorsaak ... In Suid-Korea het die owerhede teksboodskappe oor gesondheidsadvies uitgestuur tesame met persoonlike besonderhede van besmette pasiënte (“COVID-19, surveilance and the threat to your rights,” Amnesty International, 3 April 2020).

Privaatheidskundiges besef dat sodra regerings buitengewone noodmagtiging verkry, hulle dit selde prysgee. In ’n artikel van 18 Junie 2020 in The Guardian word berig:

Uitgebreide toesigmaatreëls wat wêreldwyd tydens die uitbreek van die coronavirus ingestel is, word meer omvattend toegepas en het verskans geraak ... Die maatreëls is dikwels uitgevaardig as tydelike noodsaaklikhede wat inderhaas ingestel is om infeksies op te spoor, maar regerings is daarvan beskuldig dat hulle burgerregte skend deur die wydverspreide gebruik van tegnieke soos telefoonmonitering, kontakopsporing-toepassings en fisiese doen en late deur middel van CCTV [geslote- kringtelevisie] met gesigsuitkenning (“Coronavirus mass surveillance could be here to stay, experts say,” klem bygevoeg).

Nee, COVID-19-opsporingspogings is nie die merk van die dier nie. Persoonlike sekerheidsnommers of ingeplante skyfies is ook nie die merk van die dier nie. Dit is egter nie moeilik om ’n mens voor te stel hoe die diermoondheid tegnologie kan gebruik, soortgelyk aan dit wat nou in gebruik is nie. Dit word tans verwelkom as ’n maatreël om lewens te red. Sou dit môre gebruik kon word om lewens te beheer en selfs lewens te neem?

Doen ons dit aan onsself?

Voordat ons egter alarm maak, is dit belangrik om ’n tree terug te staan en te vra hoe die tegnologie voor die coronavirus gelyk het. Het dit nie toe reeds privaatheid geskend nie? Het ons dit nie oor onsself gebring nie?

’n Hoofartikel van die New York Times met die titel, “Total Surveillance Is Not What America Signed Up For”, bevat die volgende:

U slimfoon kan u presiese ligging duisende kere per dag, deur middel van honderde toepassings, onmiddellik na dosyne verskillende ondernemings versend. Elkeen van hierdie ondernemings beskik oor die vermoë om individuele selfone te volg oral waar dit gaan – naastenby op die regte tyd. Dit is nie ’n fout in die stelsel nie. Dit is die stelsel. Indien die regering Amerikaners sou beveel om voortdurend sulke presiese tye en inligting oor hulleself te verskaf, sou daar ’n opstand wees ... Indien ’n samelewing, wat tot nou toe nog nooit op hierdie uiters belangrike keuse gefokus het nie, het ons ’n stilswyende konsensus bereik om hierdie gegewens vrywillig te oorhandig, al weet ons nie regtig wie hierdie inligting kry of wat hulle daarmee doen nie. Terwyl die einde van 2019 nader kom, soek almal na die betekenis van hierdie dekade. Hier is ’n gedagte: Hierdie is die dekade – die tydperk sedert die stigting van die App Store in 2008 – waarin ons gebreinspoel is om onsself dop te hou (22 Desember 2019, klem bygevoeg.)

Dink daaraan! Indien u ’n slimfoon het, stuur dit voortdurend gedetailleerde inligting oor u asook waar u u bevind aan mense wat u nie eers ken nie. Dit stuur inligting aangaande u private e-pos, aankope, foto’s van u en u familielede – selfs u mediese inligting indien dit deur u toestel opgevang kan word. Sou ons ooit toestem om soveel private inligting oor onsself en ons geliefdes te deel as dit nie daarvoor was dat ons al hoe meer gerief wil hê nie? In een van die groot ironieë van ons tyd het ons miskien alreeds “Big Brother” in ons huise en in ons lewens verwelkom en deel ons elke beweging wat ons maak in ruil vir die leefstyl van tegnologie.

Hou ander voorbeelde van vandag se arbeidsbesparende slimtoestelle in gedagte:

Die Amazon-toepassing, Alexa, kan alles afluister wat u sê, selfs al word Alexa nie ’n vraag gevra nie: Sy luister altyd. Google bedryf Gmail se e-posdiens wat baie algemeen gebruik word. Google lees daardie e-posse ... Apple se FaceTime het ’n “luistervink” wat mense in staat stel om af te luister. Facebook weet alles van almal. Hulle volg u. Ek wens ek kon sê dat daar ’n uitweg uit al hierdie dinge is, maar ek dink nie daar is nie. Ons het die opsporingsboks oopgemaak en ons kan dit nie weer toemaak nie (“Big Brother is already watching us: Varney,” FoxBusiness.com, 30 Januarie 2019, klem bygevoeg).

Nee, Google is nie die dier nie! Die App Store is nie die plek waar u die merk kan kry nie! Dink egter daaraan: Kan die tegnologie waarvan ons vandag al hoe meer afhanklik is, ons voorberei om môre gemanipuleer te word? Wat as die sensuurraad eerder as Google se bemarkings-algoritmes u e-posse sou lees, opneem wat u sê, op hoogte bly van mense met wie u assosieer en kennis neem van hoe u u oortuigings uitdruk? Sou so-iets kon gebeur?

Slawe van tegnologie of slawe van Christus?

God het die profeet Daniël ’n vlugtige oomblik gegee om na die wêreld in die eindtyd te kyk en dít opgeteken: “En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder” (Daniël 12:4). Data is die groot gewilde gonswoord in vandag se “kennis-ekonomie”. Besighede is in ’n wedloop om maniere te vind om data te ontgin en te gebruik om verbruikers te voorsien van wat hulle wil hê voordat hulle mededingers dit doen. Ons as verbruikers is tóg te gewillig om al hoe meer inligting te verskaf. Kennis neem toe en dit is alles in die naam van tegnologie – meer opsies, beter funksies, makliker prosesse. Hoe vinniger, hoe beter.

Is tegnologie op sigself sleg? Nee. Gevorderde tegnologie het baie voordele vir ons beskawing meegebring. Dit maak ook die verkondiging van die Evangelie van die Koninkryk van God regoor die wêreld moontlik. Dit is presies wat hierdie tydskrif en ons televisieprogram Tomorrow’s World asook ons webtuistes doen. Indien ons in hierdie wêreld leef, word ons in ’n sekere mate gedwing om tegnologie te gebruik. Let op wat Jesus gesê het toe Hy voor Sy kruisiging vir Sy dissipels gebid het: “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar” (Johannes 17:15).

Christene leef en funksioneer in hierdie wêreld, maar ons behoort nie slawe van ons toestelle te wees nie. Ons behoort dienaars – slawe – van God te wees (Romeine 1:1)! Terwyl ons tegnologie gebruik, behoort ons versigtig te wees om ons persoonlike inligting te beskerm en te leer oor hoe om dit te doen. Ons behoort op ons hoede te wees vir bedrieërs. Dit is nodig om ons wagwoorde te beskerm en ons keuses noukeurig te oorweeg. Ons behoort te onthou dat vir elke nuwe funksie wat meer gemak bied, ons gewoonlik persoonlike inligting weggee. Indien ons toenemend indringende tegnologie in ons privaat lewens toelaat, is dit dalk nodig dat ons daaroor dink, waarheen sal dit ons in die toekoms lei?

Nee, die dier is nog nie geopenbaar nie. Dit is egter aan die kom en die samelewing word vandag gekondisioneer dat ons van ons persoonlike vryhede en voorregte beroof word wanneer die merk van die dier afgedwing word.

Berei voor met die regte teken

Wat behoort Christene te doen? Aan die begin van hierdie artikel het ons gesien dat twee profetiese diere van Openbaring sal veroorsaak dat die massas mense die merk van die dier sal ontvang. Daardie merk sal ’n persoon identifiseer wat aan die dier se stelsel behoort. Die profeet Eségiël gee egter nuttige leidrade oor hoe om eerder met God se teken geïdentifiseer te word. Dit is noodsaaklik om dit te weet! Wanneer donker dae aanbreek, hoe behoort Christene hulleself as ware volgelinge van God te identifiseer?

God het aan die profeet Eségiël ’n sorgwekkende toekomsblik gegee van die vernietiging van Jerusalem wat in sy tyd sou aanbreek: “En die HERE sê vir hom: Trek dwarsdeur die stad, dwarsdeur Jerusalem, en maak ’n teken op die voorhoofde van die manne wat sug en steun oor al die gruwels wat daarin gedoen word. Maar aan die ander sê Hy voor my ore: Trek agter hom aan deur die stad, en slaan ... slaan dood ... maar raak aan niemand op wie die teken is nie” (Eségiël 9:4-6).

Namate die samelewing in toenemende onsedelikheid en korrupsie verval, behoort Eségiël se visioen ook as ’n waarskuwing vir vandag te dien. Dit is as gevolg van sonde dat God sal toelaat dat ons lande gestraf word. Dit is as gevolg van sonde dat Hy sal toelaat dat rampspoed kom. Ware en toegewyde Christene behoort sonde ernstig op te neem. Hulle behoort te “sug en steun” oor die sondes wat in die land gedoen word. Hulle behoort hulle sondes te bely en God om vergifnis te vra. Hulle behoort daarna te streef om “rein van hande en suiwer van hart [te wees]” en te weet dat dit slegs deur die bloed van Christus bewerkstellig kan word (1 Johannes 1:7).

In ’n tyd van toenemende sedelike chaos en verdorwenheid, moet ons God liefhê en ook ons naaste (Matthéüs 22:37-39). Dit is nodig dat ons God vra om in te gryp en ons leiers te lei (1 Timótheüs 2:1-2). Dit is nodig dat ons oor die sondes van ons lande treur en ons bekeer van die sondes wat ons gedoen het, want niemand is sonder sonde nie (Romeine 3:23). Dit is noodsaaklik dat ons vir God vra vir onderskeidingsvermoë met betrekking tot hierdie gebeure wat besig is om te ontvou en om vir hulp te vra sodat ons nie mislei word nie (Matthéüs 24:4), want hierdie komende bose diktators sal baie mense mislei.

Die “Dier van Openbaring” het sy bekende merk, maar het u geweet dat God ook ’n teken het wat Sy volk sal “merk”? Wanneer ons die gestorte bloed van Christus as vergifnis vir ons sondes aanvaar, as ons deur Sy Gees gelei word en indien ons Sy ewige Gebooie nougeset nakom, kan ons daardie teken hê! Wat is dit?

Ons kan dit kry indien ons uit die lesse van oordeel leer wat oor antieke Israel gekom het. God het die antieke Israeliete aangekla weens hulle opstand teen Hom en gesê: “So het Ek dan ook my hand vir hulle opgehef in die woestyn, dat Ek hulle nie sou bring in die land wat Ek aan hulle gegee het nie, wat oorloop van melk en heuning – ’n sieraad is dit van al die lande; omdat hulle my verordeninge verwerp het en in my insettinge nie gewandel het nie en my sabbatte ontheilig het; want hulle hart het agter hul drekgode aan geloop” (Eségiël 20:15-16).

Is daar enige les vir ons? Het ons vandag ook by die punt gekom waar baie mense die Wette, insettinge en verordeninge versmaai wat in die Bybel uiteengesit word? Wees eerlik. Wat word in baie van ons universiteite geleer en wat word deur baie van ons media en vermaak bevorder, gretig aanvaar deur die meerderheid van ons leiers en ook aangeprys deur baie gewone mense in die samelewing? Eer en respek vir God en Sy Wette wat geluk, seëninge en tevredenheid meebring of openlike minagting en geringskatting van enigiets wat met die God van die Bybel en Sy lewenswyse te doen het?

Let op wat Eségiël verder opgeteken het: God het gesê: “Maar Ek het aan hulle kinders in die woestyn gesê: Wandel nie in die insettinge van julle vaders nie en onderhou nie hulle verordeninge nie en verontreinig julle nie met hulle drekgode nie. Ek is die HERE julle God; wandel in my insettinge en onderhou my verordeninge en doen dit. En heilig my sabbatte; en hulle sal ’n teken wees tussen My en julle, dat julle kan weet dat Ek die HERE julle God is” (Eségiël 20:18-20).

God wil hê dat Sy mense Hom sal liefhê, hulle naaste liefhê en Sy Gebooie gehoorsaam. Dit sluit die onderhouding van Sy Sabbatte in. God het gesê dat Sy Sabbatte – die sewendedag Sabbat en die jaarlikse Heilige Dae – ’n “teken” tussen Hom en Sy mense sal wees. Hierdie Heilige dae van God sal ’n identifikasie kenmerk wees wat aangeneem sal word deur Sy lojale en getroue diensknegte! Aan diegene wat gewillig is om hulle te bekeer, om hulle sondes te laat bedek deur die bloed van Christus en om die Wette van God te gehoorsaam, gee Hy die kosbare gawe van Sy ewige Gees (Handelinge 5:32). Deur dit te doen, verwek Hy ons deur daardie Gees as letterlike seuns en dogters van God (Romeine 8:14).

Wat is die boodskap vir ons? Hoe neem ons die teken van God aan? Deur ons te bekeer van die oortreding van God se Wette – met inbegrip van Sy heilige Sabbatte – deur Jesus Christus se offer namens ons te aanvaar en deur Sy kosbare, ewige Gees te ontvang.

Die wanordelike polisiestaat van George Orwell is nie hier nie – selfs nie te midde van hierdie pandemie nie. Daar is egter tekens dat ’n bedrieglike en outokratiese mag aan die kom is. Nog belangriker as dit, daar is tekens wat ons verseker dat ons Ouer Broer, Jesus Christus, binnekort gaan terugkeer. Hy is ons Rots, ons vesting en ons redding (Psalm 18:2). Hy is die Een wat ons met ons hele hart moet soek (Jesaja 55:6-7). Hy is die Een aan wie ons lojaal moet wees, selfs in die moeilike dae wat gaan kom (2 Kronieke 16:9). “Big Brother” is aan die kom – maar ons kan gereed wees!