Groeiende wedywering om kwynende hulpbronne, blaas konflikte regoor die wêreld aan. Bybelprofesieë openbaar waartoe hierdie wedloop om hulpbronne aanleiding sal gee!


Jesus het voorspel dat Sy Wederkoms en die einde van hierdie wêreld voorafgegaan sal word deur toenemende gerugte van etniese struweling, internasionale konflik en oorloë. Hy sê “julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë... Want die een nasie [ethnos – “volk” of “stam”] sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander... Maar al hierdie dinge is 'n begin van die smarte” (Mattheus 24:3-8).

Hoewel etniese struwelinge en konflik tussen nasies regdeur die geskiedenis gewoed het, het ons duidelik nou 'n nuwe en onheilspellender fase in die drama van die menslike beskawing betree.

Met 'n wêreldbevolking van bykans 6,5 miljard, word die natuurlike hulpbronne wat deesdae nodig is om die menslike lewe en kultuur in stand te hou – vars water, voedselvoorrade en energiebronne – tot die heel uiterste gerek. Namate ons die omgewingslimiete van die aarde se ontginbare hulpbronne bereik en oorskry, word die nasies van die wêreld in 'n al hoe ernstiger geopolitieke spel betrek waarby daar wêreldwyd baie op die spel is – wêreldoorheersing en nasionale oorlewing! Hierdie wêreldwye wedywering om die aarde se oorblywende hulpbronne, wakker al meer konflikte regoor die wêreld aan. Wetenskaplikes, geopolitieke ontleders en wêreldleiers besef dat hierdie gevaarlike en potensieel dodelike spel in die jare wat voorlê in intensiteit sal toeneem!

Deesdae besef baie min mense dat hierdie sombere verwikkelinge in die Bybel voorspel is. God het Sy profete lank gelede geïnspireer om hierdie einste toestande wat vandag hoofopskrifte haal, te beskryf – om te wys dat slegs God in staat is om die toekoms te voorspel en dit te laat gebeur. Die profeet Jesaja skryf “Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie” (Jesaja 46:9-10). U moet verstaan hoe die komende konflikte oor die kwynende hulpbronne u toekoms gaan raak.

Bron van konflikte

’n Verslag van die Worldwatch Institute in 2003 het bereken dat “sowat een kwart van die 50 onlangse oorloë en gewapende konflikte 'n stryd om natuurlike hulpbronne behels het” (Vital Signs 2003). Hierdie konflikte sluit in: Toegang tot olie in Irak, Nigerië en Colombia, pyplynroetes vir olie en gas in Afganistan, Aserbeidjan, Tsjetsjnië en Georgië, beheer oor die winsgewende diamantmyne in Sierra Leone en Angola (en goud in Rwanda), asook winste uit hout en edelgesteentes in Kambodja. Plaaslike en streekskonflikte oor die beheer oor natuurlike hulpbronne, word dikwels deur die media as “burgeroorloë” beskryf, hoewel dit in werklikheid hoogs winsgewende operasies is wat deur opperste krygshere bedryf word om hul volgelinge te bewapen en hul eie sakke te vul. Hierdie hulpbron-oorloë, wat weens hebsug eerder as behoefte gevoer word, het menslike tragedie meegebring – “meer as 5 miljoen mense is gedurende die 1990's gedood en tot 20 miljoen is uit hul huise verdryf” (The Anatomy of Resource Wars, Worldwatch Paper 162, 2002).

In die jare wat net voor ons lê, sal hulpbron-oorloë 'n onheilspellender fase betree. Voormalige Amerikaanse nasionale veiligheidsadviseur, Zbigniew Brzezinski, maak die opmerking dat met die wêreld se energiebehoeftes wat die hoogte inskiet, die wedloop om hulpbronne “historiese eise sal laat opvlam, imperiale aspirasies laat herleef en internasionale wedywering aanwakker” – veral in die bronryke, maar hoogs onstabiele gebiede van die Persiese Golf en rondom die Kaspiese See (The Grand Chessboard, bl.125).

Harvard se Samuel Huntington bied 'n soortgelyke siening: “Die Golfoorlog [1991] was, na die Koue Oorlog, die eerste hulpbron-oorlog tussen beskawings. Beheer van die grootste deel van die wêreld se oliereserwes deur hetsy Saoedi-Arabië en die regerings van die emirate, wat op Westerse wapens staatgemaak het vir veiligheid, of deur onafhanklike anti-Westerse regimes wat in staat en gewillig sou wees om olie as wapen teen die Weste te gebruik, was op die spel” (The Clash of Civilizations and the Remaking of World Order, bl. 251-252). Huntington omskryf verskeie scenario's rakende konflikte oor energiebronne wat die wêreld se militêre magte in 'n wêreldwye oorlog kan betrek. Namate die wêreldbevolking toeneem, sal die wedloop om hulpbronne vererger en die risiko van konflik sal in verskeie lewensbelangrike areas wat u lewe sal raak, toeneem!

Die waterkrisis

Met die eerste oogopslag lyk dit of die wêreld baie water het, aangesien 70 persent van die aarde se oppervlak met water bedek is. Minder as 3 persent hiervan is egter vars water en die meeste daarvan is opgesluit in gletsers of permanente sneeubanke, of is andersins so diep ondergrond dat dit onbereikbaar is, wat beteken dat minder as 1 persent van die aarde se beskikbare water vir noodsaaklike menslike behoeftes soos drinkwater, voedselbereiding en besproeiing van gewasse beskikbaar is. Ongelukkig is baie van vandag se beskikbare vars water óf besoedel, óf nie geleë waar dit benodig word nie. Suid-Amerika het 26 persent van die wêreld se vars water, maar slegs 6 persent van die wêreld se bevolking, terwyl Asië 60 persent van die wêreld se mense maar slegs 36 persent van die wêreld se vars water het.

Groeiende bevolkings plaas onvolhoubare eise aan die bestaande watervoorraad. Oor die afgelope 75 jaar, het die wêreldbevolking met 300 persent toegeneem, terwyl waterverbruik met 600 persent toegeneem het (sien New Scientist, 7 November 2001). Vandag woon meer as 500 miljoen mense in 31 lande wat 'n gebrek het aan voldoende watervoorrade en meer as een miljard mense het nie toegang tot skoon drinkwater nie, wat ’n hoofoorsaak vir die verspreiding van siektes is. In baie lande word die water in waterdraende klip so vinnig uitgepomp dat hierdie waardevolle waterbronne waarop minstens 2 miljard mense staatmaak, binne die volgende paar dekades uitgeput kan wees. Teen 2025, sal nagenoeg 5 miljard mense dit moeilik of onmoontlik vind om aan hul varswaterbehoeftes te voldoen. Voeg hierby die stygende temperature en rekorddroogtes regoor die wêreld as gevolg van klimaatveranderings, en ons begin die ontsaglike omvang van die waterverwante krisis wat ons moderne wêreld bedreig, besef.

Die World Water Development Report wat deur die Verenigde Nasies opgestel is, meld dat die wêreld “'n ernstige waterkrisis in die gesig staar. Alle tekens dui daarop dat dit vererger en dat dit so sal voortgaan ... die toekoms vir baie dele van die wêreld lyk droewig.” Koichiro Matsuura, direkteur-generaal van UNESCO, die Verenigde Nasies se agentskap verantwoordelik vir water, stel dit so: “Van al die maatskaplike en natuurrampe wat ons in die gesig staar, is die waterkrisis die een wat ons die naaste aan die hart lê vir ons eie oorlewing sowel as dié van ons planeet. Geen streek sal gevrywaar wees teen die aanslag van hierdie krisis nie” (The Times, 31 Julie 2003). Kofi Annan, die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, het gewaarsku dat “felle nasionale wedywering oor waterbronne vrese laat ontstaan het dat waterkwessies die potensiaal vir gewelddadige konflik inhou.”

’n Groot faktor wat bydra tot die waterkonflik, is dat 40 persent van die wêreldbevolking in die opvangsgebiede van 263 riviere woon waarvan die water tussen twee of meer lande gedeel moet word. Wanneer een land meer as sy regmatige deel van die water neem en ander lande van noodsaaklike water ontneem, ontstaan geskille. Planne deur Indië om water uit die grootste riviere af te keer vir besproeiing, sal die oorlewing van 100 000 mense stroomaf in Bangladesj bedreig. In Amerika se droë suidweste, word so baie water uit die Coloradorivier onttrek dat teen die tyd dat dit Mexiko bereik, die rivier bykans droog is – wat wrywing tussen die VSA en Mexiko veroorsaak het. In die onbestendige Midde-Ooste, het Turkye groot damme in die bo-lope van die Tigris- en Eufraatriviere, wat ook lewensbelangrike water aan Sirië en Irak voorsien, gebou. Sedert 1950 was daar al meer as 500 konflikte tussen lande oor water, waarvan 37 gewelddadig was en 21 militêre optrede behels het (The Times, 31 Julie 2003). Een konsultant het opgemerk dat “as nasionale oorlewing op die spel is, kan sodanige botsings in volskaalse oorlog ontaard” (ibid.).

As ons die omvang van hierdie dreigende waterkrisis in oënskou neem, is dit merkwaardig hoe min mense besef dat die Bybel lankal reeds teen hierdie einste situasie gewaarsku het. Meer as 2 000 jaar gelede, het die profeet Joël voorspel dat die einde van hierdie tydperk gekenmerk sal wees deur verwoestende droogtes, op 'n ongeëwenaarde skaal in die geskiedenis van die mensdom: “Het so iets ooit in julle dae of die dae van julle vaders plaasgevind?... Die veld is verwoes, die akkerland treur; want die koring is verwoes, ... naby is die dag van die Here ... die diere van die veld smag ... die waterstrome het opgedroog” (Joël 1:1-20). God het Sy uitverkore volk ook gewaarsku dat as hulle Sy voorskrifte verwerp en aan Sy Wette ongehoorsaam is: “Ek sal julle trotse mag verbreek en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper ... die Here sal die reën van jou land poeier en stof maak ... totdat jy verdelg is” (Levitikus 26:14-20; Deuteronomium 28:15, 23-24, 45). Die Bybel verduidelik waarom ons rekordtemperature en droogtes in Amerika, Kanada, Australië, Suid-Afrika en Noordwes- Europa beleef.

Die profeet Jesaja verklaar ook dat hierdie eindtydse waterkrisis die hele wêreld sal raak: “Die aarde treur, dit verwelk ... die aarde is ontheilig [besoedel] onder sy bewoners; want hulle het die wette oortree, die insetting geskend, die ewige verbond verbreek. Daarom verteer die vloek die aarde” (Jesaja 24:4-6). Mense is besig om die vrugte te pluk van hebsugtige, kortsigtige handelswyses wat die ekologiese balans van die planeet versteur het. Ons stuur af op 'n globale ramp, want ons het een van die fundamentele elemente wat noodsaaklik is om lewe op die planeet te onderhou, – die beperkte voorraad vars water – verkwistend uitgebuit. Namate varswatervoorraad kwyn, sal konflikte oor hierdie waardevolle hulpbron toeneem en in geweld losbars.

Voedseltekorte

Die wêreldwye waterkrisis het 'n ander verontrustende dimensie. Verslegtende watertekorte begin om voedselproduksie regoor die wêreld te ondermyn. 'n Onlangse verslag lui: “Vir verskeie dekades het die toename in voedselproduksie die groei van die bevolking oortref. Nou het 'n groot deel van die wêreld eenvoudig nie genoeg water om meer voedsel te produseer nie” (Water: More Nutrition Per Drop, 2004). In vier uit die laaste vyf jaar, het die wêreld se graanverbruik die produksie daarvan met honderde ton oortref. Dit het graanreserwes uitgeput en het die wêreld se graanvoorraad tot die laagste vlak in 30 jaar laat daal. Die afname in graanproduksie kan grotendeels toegeskryf word aan die afname in grondwater wat vir besproeiing gebruik word en die styging van temperature as gevolg van wêreldverwarming, wat 'n beperking plaas op hoeveel die boere kan verbou. Hierdie produksieafname kom op 'n tydstip dat die aanvraag na graan as voedsel die hoogte inskiet weens bevolkingstoenames en groeiende vooruitstrewendheid in digbevolkte lande.

China is 'n sprekende voorbeeld van voedselverwante probleme wat op die horison dreig. Tussen 1950 en 1998, het China koringproduksie verhoog van 90 miljoen ton tot 392 miljoen ton. In vier uit die laaste vyf jaar, was die koringoes in China egter 70 miljoen ton laer as die verbruikersvlakke – 'n tekort wat die ganse graanoes in Kanada oortref! In baie van die graanproduserende dele van China is die putte besig om op te droog, as gevolg van 'n ooronttrekking van grondwater. Stygende temperature verskroei die gewasse en omskep voormalige besproeiingslanderye in woestyne en verminder sodoende graanproduksie. Die Chinese het hierdie tekort teengewerk deur hul eens enorme reserwes op te gebruik. Hulle begin nou om groot hoeveelhede graan in te voer om hul groeiende en vooruitstrewender bevolking te voed, wat graan- en voedselpryse wêreldwyd laat styg. Dit sal veral moeilik wees vir die armes in ontwikkelende lande, wat op minder as 'n dollar per dag leef en tot 70 persent van hul inkomste aan voedsel moet bestee, hulle sal stadig verhonger!

Die groeiende vraag na graankos kom op 'n tyd dat die wêreld se voedselproduksie besig is om af te plat as gevolg van 'n tekort aan water vir besproeiing en stygende wêreldtemperature. Die wêreld se visserye is ook besig om in duie te stort as gevolg van oorbevissing. Dit alles dui op 'n toekomstige tyd van voedselskaarste en toenemende wedywering om kwynende voedselvoorrade. Terwyl baie mense vandag terrorisme as een van die grootste bedreigings van veiligheid beskou, glo Lester Brown, hoof van die Earth Policy Institute, dat “die uitwerking van watertekorte en stygende temperature op voedselversekerdheid vir die meeste mense baie belangriker geskilpunte is. (Outgrowing the Earth, 2005). Hy sê ook dat stygende voedselpryse [en stygende waterpryse] “lewensbedreigend” vir die armes van die wêreld kan wees en “ekonomiese en politieke druk van 'n ongekende skaal kan veroorsaak ... mense wat nie in staat is om voldoende voedsel te koop om hul gesinne aan die lewe te hou nie, sal hul regerings verantwoordelik hou. Hulle sal waarskynlik die strate invaar en ongeëwenaarde politieke onstabiliteit in stede van die Derde Wêreld veroorsaak... Die wêreld betree ongekende gebiede op die voedselfront en staar probleme van so 'n enorme omvang in die gesig, dat dit alle probleme van die verlede sal verdwerg” (State of the World 1998, bl. 17).

Hierdie verontrustende voedselsituasie is ook reeds lank gelede in Bybelprofesieë vermeld. Jesus Christus het voorspel dat wydverspreide “hongersnode” en “pessiektes” [siekte-epidemies], 'n teken sal wees dat Sy Wederkoms naby is (Mattheus 24:7; Markus 13:8; Lukas 21:11). Die apostel Johannes het een van die befaamde Vier Perderuiters van Openbaring gebruik om skaarsheid en wydverspreide voedseltekorte te simboliseer, wat die einde van hierdie tydperk sal kenmerk (Openbaring 6:5-6). God het ook Sy uitverkore volk gewaarsku dat as hulle aan hul Skepper ongehoorsaam is, hul voedselbron ontwrig sou word en deur hul vyande geëet sal word – “julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet... As Ek vir julle die staf van die brood verbreek ... julle sal eet, maar nie versadig word nie” (Levitikus 26:16, 26; sien ook Deuteronomium 28:30-33, 50-52). Dit begin reeds vandag gebeur!

Die energiekrisis

’n Derde noodsaaklike hulpbron wat strawwe wedywering en gewelddadige konflik veroorsaak, is olie. Olie is die lewensaar van ons moderne industriële wêreld. Dit voorsien brandstof aan meer as 90 persent van alle motors, busse, trokke, treine en vliegtuie op aarde. Dit verhit ons huise en besighede. Dit word gebruik om elektrisiteit op te wek, fabrieke aan te dryf en om plastiek, verf, kunsmis, insekdoders en dosyne ander produkte te vervaardig. Moderne militêre magte funksioneer op olie. Enige gebeurlikheid wat die vloei van olie na die geïndustrialiseerde nasies ontwrig, sal onmiddellike en katastrofiese gevolge hê. Sonder olie sal ons geïndustrialiseerde wêreld tot stilstand gedwing word. Omdat ons wêreld so afhanklik is van olie, het professor Michael Klare tot die gevolgtrekking gekom dat “petroleum uniek is onder die wêreld se hulpbronne ... dit het meer potensiaal as enige ander hulpbron om in die jare vorentoe grootskaalse krisisse en konflik te ontlok (Blood and Oil, Klare, bl. xi). Dit word duidelik as ons die onheilspellende neigings waarneem wat deesdae in die wêreld opbou.

Amerika was vir baie jare geseënd met voldoende olieneerslae. Voor die Tweede Wêreldoorlog, was Amerika die wêreld se voorste olieprodusent. Amerika se selfvoorsiende olie het ekonomiese groei en groter militêre oorheersing aangevuur. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog, het “Amerikaanse bronne ses uit elke sewe vate olie voorsien wat deur die geallieerde magte tydens die duur van die oorlog verbruik is” (Klare, bl. 10). Binnelandse produksie het egter in die sewentigerjare begin afneem en Amerika voer nou meer as 50 persent van sy olie vanuit die buiteland in.

Vandag is die wêreld se grootste bekende olieneerslae – wat meer as 60 persent van die wêreld se olie bevat – in slegs vyf nasies rondom die Persiese Golf geleë: Iran, Irak, Koeweit, Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate. Ander groot neerslae olie en gas kom voor in die sentrale Asiatiese nasies rondom die Kaspiese See, wie se lande deur land omring is. Pypleidings word benodig om die Kaspiese olie en gas aan die wêreldmarkte te lewer. Die ligging van die pyplyne – “naelstringe” van die geïndustrialiseerde wêreld – beteken miljoene dollars wins aan diegene wat daardie pypleidings bedryf. Een van die redes waarom Amerikaanse soldate in Afganistan is, is omdat die oliemaatskappye 'n pyplyn deur Afganistan na die Indiese Oseaan wil bou. Russiese troepe veg in Tsjegnië om beheer te behou oor die olieraffinaderye en bestaande pypleidings wat Kaspiese olie na hawens aan die Swartsee vervoer. Een van die redes waarom Amerikaanse troepe in Irak is, is omdat Irak groot hoeveelhede olie besit wat Amerika benodig. 'n Koalisie onder leiding van Amerika, het Saddam Hoessein uit Koeweit verdryf om die ononderbroke vloei van die Midde-Oosterse olie na die Weste te verseker. Amerika het militêre basisse rondom die Persiese Golf gevestig om die vloei van olie deur die Straat van Hormoes – die “Achilleshiel” van die globale ekonomie – te beskerm, want een vyfde van die wêreld se olie vloei daagliks daardeur. Amerika, Rusland en China vestig troepe en voer maneuvers uit in die sentraal-Asiatiese lande wat aan die Kaspiese See grens, om toegang tot die uitgebreide olie en gasneerslae in daardie streek te verkry.

Die profeet Joël het voorspel dat net voor Jesus Christus se Wederkoms, daar 'n tyd van groot skaarste sal wees. Net soos olie – olyfolie – noodsaaklik was vir die ekonomie van antieke Israel, so is vandag se olie – petroleum – noodsaaklik vir ons moderne ekonomie. Net soos antieke Israel 'n tyd van groot skaarste ondervind het – 'n tyd toe “die olie verdwyn [het]” (Joël 1:10), so sal ons moderne nasies ook 'n vervulling van hierdie tweeledige profesie beleef. Die profeet Hosea waarsku ook dat die Israelitiese nasies sal afwyk van die Here en die God sal vergeet wat die hulpbronne vir hulle gegee het (Hosea 1:2; 2:8). Hulle sal afhanklik word van uitlanders wat hulle uiteindelik in die steek sal laat en teen hulle sal draai (Hosea 2:5-6; Jeremia 4:30; 30:14). Moses het ook gewaarsku dat, sou die Israeliete God ongehoorsaam wees, 'n buitelandse mag hul hulpbronne sal verteer en “vir jou geen koring, mos of olie ... sal laat oorbly” nie (Deuteronomium 28:50-51). God waarsku dat as gevolg van die Israeliete se ongehoorsaamheid, Hy hulle trotse mag sal verbreek en dat “julle haters oor julle sal heers”, met die gevolg dat “julle paaie verlate sal wees” en “julle sal voor julle vyande nie kan standhou nie” (Levitikus 26:16-19, 22, 37). Omdat Amerika, Brittanje en die ander Israelitiese nasies so afhanklik geword het van ingevoerde buitelandse olie, sal ons hoofweë verlate en ons vermoë om wêreldwyd militêre operasies uit te voer, geweldig gekortwiek word wanneer olieuitvoerders pryse drasties verhoog of die vloei van olie verminder of afsny.

Bybelprofesieë skets 'n eindtydse scenario wat in werklikheid vandag reeds ontplooi! Die profeet Daniël onthul dat die koning van die suide ['n Moslemse federasie] in die “in die tyd van die einde” die koning van die noorde ['n Europese moondheid] sal aanval (Hebreeus nagah – “stamp of stoot teen”). Hierdie koning van die noorde sal 'n teenaanval loods en sal baie lande in die suide oorrompel. “En hy [die koning van die noorde] sal mag hê oor die skatte van goud en silwer en oor al die kosbaarhede van Egipte, terwyl die Libiërs en die Kusiete sy voetstappe volg” (Daniël 11:40-43). Die kosbaarhede van Egipte en Libië sluit noemenswaardige neerslae olie en natuurlike gas in.

Bybelprofesieë toon duidelik dat dodelike konflikte oor noodsaaklike hulpbronne 'n beduidende faktor in internasionale betrekkinge sal word, namate ons die einde van die tyd nader. Konflik oor olie kan uitbars in die onbestendige en hoogs-onstabiele oliestreke van die Persiese Golf en die Kaspiese See, of in die Suid-Chinese See. Konflikte oor water of voedsel kan uitbars waar tekorte ook al opduik. Hierdie gebeure sal u lewe raak in die jare wat voorlê. Die Bybel onthul dat slegs die goddelike ingryping van Jesus Christus 'n einde kan maak aan die toenemende oorloë oor kwynende hulpbronne (Mattheus 24:21-22). Sal u gereed wees vir daardie gebeurlikheid wat binnekort voorlê?