’n Kragtige mag is besig om agter die skerms die lotsbestemming van Europa, sowel as die ganse wêreld, te vorm. Dit sal ons lewens grootskaals raak op maniere wat die meeste mense hulself nie tans kan indink nie!


Die verwelkte figuur van ’n ou en baie siek pous verskyn van tyd tot tyd op ons televisieskerms en in ons koerante. Karol Wojtyla is nou 84, ly aan Parkinson se siekte en blyk die einde van sy dae te nader. As mees berese pous in die geskiedenis, beeld hy ’n opregte en vriendelike bejaarde omie uit wat die wêreld help om die weë van God te verstaan.

Tog, ’n paar minute later, sien ons moontlik die televisiebeelde van Rooms-Katolieke biskoppe met hoë range of priesters wat beskuldig word van gruwelike misdade en sondes. Hul onlangse geskiedenis van seksuele molestering van honderde jong manne herhaal net hierdie soort priesterlike gedrag wat oor die eeue heen plaasgevind het. Selfs Katolieke geskiedkundiges erken dat baie van hul pouse en biskoppe minnaresse en buite-egtelike kinders gehad het, soms die biskopsamp vir geld verkoop het en baie ander oorskrydings begaan het wat ’n opregte Christen sou laat bloos.

Die Rooms-Katolieke Kerk is egter ’n organisasie van geweldige mag en aansien oor die wêreld heen. Met meer as een biljoen aanhangers, beheer dit die Vatikaanstad – ’n afsonderlike stadstaat binne die land Italië. Daarom, selfs al is dit ’n kerk, word hierdie reusagtige organisasie toegelaat om ambassadeurs met geloofsbriewe te hê in die lande van die wêreld, asof dit ’n gewone soewereine land, asook ’n kerk is. Deur die eeue het dit geweldige invloed op die volke van Europa, Sentraal- en Suid-Amerika uitgeoefen. In Europa het talle staatshoofde letterlik hul krone van die pous ontvang – simbolies van hul onderdanigheid aan hom en die kerk wat hy verteenwoordig. Baie nasionale opstande en talle oorloë is deur die Vatikaan aangehits – ’n aardse mag wat geen gewetenswroeging het om in wêreldpolitiek in te meng nie.

Tans – reg voor ons oë – vind ’n laaste herlewing van die sogenaamde “Heilige Romeinse Ryk” in Europa plaas. Tog herken die meeste mense nie wat aan die gebeur is nie. Die meeste sien dit óf nie raak nie, óf hulle weier om die dramatiese uitwerking te erken wat hierdie herlewing op hul lewens en dié van hul kinders en geliefdes gaan hê.

In Brittanje maak die bekende London Daily Telegraph van 21 Julie 1991 die stelling: “Karol Wojtyla berei kalm voor om die mantel op te neem wat hy so plegtig glo sy Goddelike Reg te wees, dié van die nuwe Heilige Romeinse Keiser, wat heers van die Oeralgebergte tot aan die Atlantiese Oseaan”. Die “stigtersvaders” van die Europese Unie word opgegee vir heiligheid deur getroue Europese Katolieke; Alcide De Gasperi en Robert Schuman is goed op pad om hierdie uiterste vorm van goedkeuring van die Rooms-Katolieke Kerk te verkry. Soos een ondersteuner van hul heiligverklaring dit stel: “Ek dink dat die Europese Unie nie net ’n ontwerp van mense is nie, maar van God”. Die einste handeling van heiligverklaring van politici is ’n manier waarop ondersteuners voorstel dat Europese eenwording God se wil is en dat diegene wat dit lei, deur “goddelike reg regeer”.

Soos die bekende skrywer Adrian Hilton onlangs sê: “Die aangeleentheid van Europa se godsdienstige eenwording is selfs dieper verswyg as die planne vir politieke eenwording, maar die slagrat na ’n Katolieke Europa is ewe werklik. Die pous se onlangse eis dat ‘God’ ’n rol speel in die opkomende Europese grondwet is beaam deur baie leidende Katolieke politici en biskoppe. Hoewel so ’n aanmerking op die keper beskou slegs Europa se ateïste en humanitêrgesindes kan aanstoot gee, moet ons let daarop dat wanneer die Vatikaan na God verwys, sy haarself sien as God se onfeilbare onderheerser op aarde, die leidende orgaan van goddelike uitdrukking; inderdaad, volgens sy publikasie, Dominus Iesus (5 September 2000), as die enigste tussenganger in die saligmaking van God se uitverkorenes, wat daarop aandring dat alle ander Kerke, insluitend die Kerk van Engeland, ‘nie Kerke in die ware sin is nie’. Die Roomse Kerk is gegrond op ’n politieke dogma wat daarop aanspraak maak dat die pous ‘die opperheerser van die wêreld’ is; meerwaardig as alle konings, eerste ministers en presidente. Hierdie geestelike en wêreldlike aansprake bly sterk fundamentele dogmas van die Katolieke leringe wat die pous toelaat om deur kardinaal Ratzinger, die Prefek vir die Gemeente van die Leerstelling van die Geloof, duidelike amptelike opdragte aan Katolieke politici uit te vaardig oor hoe hulle moet stem. Aangesien hul gehoorsaamheid beskou word as ’n ‘morele verpligting’, wentel alles af na die oorweldigende Katolieke Europese Ministersraad, Kommissie en Parlement, met die pous as uiteindelike Keiser” (The Spectator, 30 Augustus 2003).

Die hoer van Openbaring

Die grote God wat die opkoms en val van volke stuur, waarsku ons oor wat binnekort gaan gebeur; trouens, wat tans begin gebeur terwyl ek hier skryf. Die Skepper het die apostel Johannes geïnspireer om ons te waarsku oor die einste kerk/staat-stelsel wat nou, stadig maar seker, op die Europese vasteland saamgestel word. Die tydsraamwerk van hierdie profesie is duidelik die einde van hierdie huidige tyd – wanneer misleide mense letterlik met Jesus Christus sal oorlog voer met Sy Wederkoms! Die geïnspireerde Apostel skryf: “En een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en vir my gesê: Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit, met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery. En hy het my in die gees weggevoer na ’n woestyn, en ek het ’n vrou sien sit op ’n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings” (Openbaring 17:1-3). Let daarop dat hierdie “vrou” op die Dier “sit” wat hier beskryf word. Hoewel sy minder liggaamlike krag het, is die “vrou” duidelik in beheer!

Wie is hierdie geheimsinnige vrou? Die vertelling lui dat sy op “baie waters” sit (vers 1). Johannes onthul in vers 15: “Die waters wat jy gesien het, waar die hoer op sit, is volke en menigtes en nasies en tale”.

Hierdie “vrou” het dus groot mag en invloed oor tallose miljoene mense in verskillende lande wat verskillende tale praat. Weereens word dit uitgebeeld dat sy “sit” op, of in beheer is van, die Dier wat “sewe koppe en tien horings” het (vers 3).

Die term “vrou” word deur die Nuwe Testament gebruik as ’n simbool vir ’n kerk. In Openbaring 12:12-14 word God se ware Kerk uitgebeeld waar sy vlug “na die woestyn” – ’n plek hier op aarde – om die vervolging en toorn van Satan vry te spring. In 2 Korintiërs 11:1-2 word die ware Kerk uitgebeeld as ’n vrou – die verloofde bruid van Christus. In Efesiërs 5:22-23 beskryf die apostel Paulus duidelik die Kerk as die vrou van Jesus Christus.

Die “vrou” van Openbaring 17 is ook ’n “hoer”. Sy het die inwoners van die aarde “dronk” gemaak met haar vals leerstellings en Babelse praktyke. Haar naam – soos God dit sien – is “Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (vers 5). Sy is dus ’n “moederkerk” en sy het – en sal – ’n groot vervolgsugtige kerk wees “dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus” (vers 6).

Hierdie gevalle vrou van Openbaring 17 sit op ’n “Dier”. Wanneer ’n mens hierdie profesie van Openbaring 17 vergelyk met Openbaring 13 en Daniël 7, word dit duidelik dat hierdie “Dier” die herleefde Romeinse Ryk is. Vir die volle en geskiedkundige bewys hiervoor, skryf of skakel gerus vir u gratis eksemplaar van ons boeiende en insiggewende boekie, Die Dier van Openbaring. Dit sal gratis op versoek aan u gestuur word.

Aan die hoof van hierdie herleefde Europese Ryk – die Dier – sal ’n superdiktator of keiser staan wat ook die “Dier” genoem word. In Daniël en ander Bybelprofesieë word die terme “koning” en “koninkryk” dikwels uitruilbaar gebruik, aangesien daar in antieke tye feitlik geen demokrasieë was soos ons dit vandag verstaan nie. Die koning se wil was die wil van die koninkryk, wat deur die koning verpersoonlik is.

In sy sewende en laaste herlewing, sal die Romeinse Ryk bestaan uit tien konings of heersers. “En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier” (Openbaring 17:12-13).

Waarom sou vleeslike, ambisieuse politieke leiers egter vrywillig saamkom en hul gesag aan een superkoning of keiser gee? Is dit omdat hulle kragtig deur die vrou beïnvloed sal word om dit te doen – deur die groot gevalle kerk wat op “volke en menigtes en nasies en tale” sit?

Die groot vals profeet

In Openbaring 13 beskryf Johannes die “Dier” wat ’n “dodelike wond” gehad het, as die antieke Romeinse Ryk. Hierdie ryk het in 476 n.C. tot ’n val gekom, maar is “genees” toe keiser Justinianus dit in 554 n.C. laat herleef. Toe – so vertel die geskiedenis ons – word dit die “Heilige” Romeinse Ryk. Waarom “heilig”? Omdat dit van toe af grootliks beïnvloed en soms regeer is deur die pousdom, deur die oorheersende kerk van die Middeleeue.

In Openbaring 13:11-14 beskryf Johannes ’n “ander” Dier. Hierdie Dier “het twee horings gehad net soos ’n lam en het gepraat soos ’n draak” (vers 11). Regdeur die ganse Nuwe Testament word Jesus Christus uitgebeeld as die “Lam” van God (Johannes 1:29; Openbaring 19:7). Satan word uitgebeeld as ’n draak: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9).

Daarom is hierdie tweede “Dier” van Openbaring 13 ’n man wat blyk soos Christus te wees – hy kom met groot vertoon van vroomheid, heiligheid en welwillendheid. Maar sy boodskap – wanneer hy “soos ’n draak” praat – sal ’n slinkse en slim misleidende boodskap van Satan die duiwel wees!

Hy is die een wat die tien konings of heersers in die komende Europese Ryk sal beïnvloed om hul mag vir ’n kort tydjie oor te gee, want hierdie tweede “Dier” – hierdie vals profeet – “doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ’n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het” (Openbaring 13:13-14).

Pous Johannes Paulus 2 is baie oud en baie sieklik. Sy lewe mag te enige tyd tot ’n einde kom. Sy gesondheid is so verswak dat hy dalk reeds te sterwe kon kom teen die tyd dat u hierdie artikel lees. Sal sy opvolger die laaste pous wees? Nie noodwendig nie. Ons moet onthou van die baie kort opperpriesterskap van sy voorganger, Johannes Paulus 1, wat volgens sommige vertellings selfs vergiftig kon gewees het in ’n ongewone Vatikaanse sameswering wat ’n magstryd op die hoogste vlak behels het (een vertelling hiervan word gegee deur die bekende Britse skrywer, David Yallop, in sy deeglik aangetekende boek, In God’s Name).

Johannes Paulus 1 het vir slegs 33 dae regeer! Die volgende pous kan dus ook vir ’n baie kort tyd in sy amp staan. Dit is waarom Jesus, toe Hy van profetiese gebeure praat, ons vertel om te “waak en bid” (Lukas 21:36). Ons word nie die presiese tye en plekke gegee vir al die komende profetiese gebeure nie. Die hoofgebeure en die oorhoofse patrone is egter duidelik. Daar lê vir ons baie interessante en selfs verstommende gebeure voor in die volgende vyf tot vyftien jaar of so – gebeure wat niemand kon voorsien behalwe deur die duidelike lig van Bybelprofesie nie!

Hoe dit ookal sy, die laaste groot vals profeet sal ongekende miljoene mense mislei “deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen” (vers 14).

U word GEWAARSKU

Die apostel Paulus is ook geïnspireer om ons te vertel van hierdie vals profeet wat binnekort sal kom. Let op Paulus se uiters sombere waarskuwing in 2 Thessalonicense 2:3-4: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is”. Wie is hierdie man wat die ongelooflike arrogansie het om vir homself titels en heerlikheid op te eis wat slegs aan God behoort?

Paulus beskryf die godsdiensstelsel wat hierdie man voortbring as “die verborgenheid van die ongeregtigheid” (vers 7) – ’n godsdiens wat God se wette verander het, weggedoen het met Sy Sabbatte en opregte gehoorsaamheid aan die Woord van God vervang het met praal, seremonie en heidense rituele! Hierdie komende “ongeregtige” sal bemagtig word “volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie” (verse 9-10).

Dit is noodsaaklik dat elkeen van u geagte lesers die belangrikheid van daardie laaste frase verstaan: “die liefde tot die waarheid”. Dit is die uiteindelike “sleutel” tot die toekomstige welstand van elkeen van u en u geliefdes! Wanneer hierdie aanloklike persoonlikheid dan in Europa op die toneel verskyn en die ontsaglike mag van die “vrou” van Openbaring 17 gebruik om die Dier te oorheers en te stuur, sal dit maklik wees om te berus en te voel om “bloot oor die weg te kom”. Dit sal vir u – en vir baie top godsdiens- en politieke leiers – maklik wees om uself oor te gee aan die leierskap van hierdie komende vals profeet en die Dier wat hy so sterk beïnvloed. Die groot getalle mense daarby betrokke, die mag en die skynvertoon sal alles ’n dramatiese uitwerking op biljoene mense hê! Hierdie man sal op stuk van sake in staat wees om groot tekens en “wonders van die leuen” te doen, dus sal die meeste mense aanneem dat hy God se spesiale verteenwoordiger op aarde is.

Laat ek u nou ’n lewensbelangrike leidraad gee: die soort wonderwerke en tekens wat hierdie vals profeet doen, sal nie dieselfde wees as dié wat deur Jesus en die oorspronklike Apostels gedoen is nie. Hulle het hoofsaaklik genees deur stille, opregte gebede en dikwels deur salwing met olie as simbool van die Heilige Gees (Markus 6:12-13; Jakobus 5:14). Hul wonderwerke het ware bonatuurlike genesings behels wat uitgevoer is in die naam van Jesus Christus – nooit vreemde verskynsels, blink kruise, “bloeiende” beelde wat veronderstel is om Jesus of Maria uit te beeld nie, ens. Soos die laaste oorlewende van die oorspronklike Apostels geskryf het: “Wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom” (1 Johannes 3:22).

Jesus se ware leraars sal nederige mans wees met skoon lewens wat getrou die woord van God onderrig – nie heidense leerstellings en rojale rituele wat in Christendom ingebring is gedurende die Middeleeue nie. Jesus se eie leraars sal getroue navolgers van die nederige skrynwerker van Nasaret wees, wat mense gedurig na die Bybel verwys het en mense ’n leefwyse geleer het wat gegrond is op opregte gehoorsaamheid aan die Tien Gebooie (Mattheus 19:16-19).

Dink daaroor! Soos God beveel: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21). Indien elkeen van ons, individueel, God se Woord werklik bestudeer en vir begrip vra, sal ons nie mislei word nie. Toe Hy praat van die heel einde van die laaste dae, sê Jesus: “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. Maar julle moet op jul hoede wees. Kyk, Ek het alles vir julle vooruit gesê” (Markus 13:22-23). Daarom moet ons na aan die ware God van die Bybel wees, anders sal ons deur daardie vals leraars mislei word!

Hierdie nuwe “Keiser” in Europa, aangemoedig en grootliks beïnvloed deur die vals profeet en sy wonderwerke, sal oor ontsaglike mag beskik. U Bybel sê baie duidelik: “En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie” (Openbaring 13:8). Dit is moeilik vir ons om ons so ’n tyd in te dink.

Baie van ons wat ouer is, sal onthou hoe ons die vurige toesprake wat Adolf Hitler voor duisende mense by Nuremberg saamtrekke en elders gegee het, beleef en dit op film gesien het. Ons onthou die krag, die uitwerking en die massa-histerie wat deur daardie waansinnige man opgesweep is. Hoeveel groter uitwerking sal die laaste “führer” op ’n verwarde wêreld hê – veral wanneer hy gerugsteun en bekragtig word deur ’n belydende man van God wat fantastiese wonderwerke doen?

Die EINDE van hierdie ongeoorloofde stelsel

God roep Sy ware mense om uit hierdie ganse stelsel wat Hy “die Grote Babilon” noem te kom en daaruit te bly. Terwyl Hy in die toekoms kyk, sê God vir ons: “Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ’n woonplek van duiwels en ’n versamelplek van allerhande onreine geeste en ’n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls, omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid. En ek het ’n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openbaring 18:2-4).

Hierdie herleefde Romeinse Ryk sal inderdaad vir ’n kort tyd lank “ryk” word (vers 3). Dit sal ’n groot versoeking wees om daarby in te val, aangesien die korttermyn “winste” baie aanloklik sal wees, maar wat sal in die langtermyn gebeur? “Met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel” (vers 8).

Wat sal die ‘uiteinde’ van hierdie komende Keiser en die vals profeet wat hom ondersteun wees? Jesus vertel ons deur Sy dienskneg Johannes: “En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand” (Openbaring 19:19-20).

Nie ’n baie glorieryke toekoms vir hierdie twee geslepe individue wat hulself aan die duiwel verkoop het nie!

Waar sal u egter wees? Hoe sal u reageer wanneer hierdie geprofeteerde gebeure ontvou?

Sal u die begrip en moed hê om u vertroue in die onsigbare God te stel en te doen wat Hy sê? Sal u die ware Jesus Christus toelaat om Sy gehoorsame lewe binne u te leef deur die Heilige Gees?

Mag God u help om hierdie tydskrif aandagtig te lees en te verstaan. Mag Hy u inspireer om die Bybel waarlik te bestudeer en te vra vir Sy hulp om volgens elke woord van God te leef (Lukas 4:4). Mag Hy ook aan u die moed gee wat u beslis sal benodig in die traumatiese jare wat voorlê.