Waarskuwings van droogtes mag vergesog klink vir welvarende oorvoede nasies in Wes-Europa, Noord Amerika en ander dele van die wêreld waar oorgewig ’n toenemende probleem is! Groot dele van die mensdom beleef egter daagliks voedseltekorte en hongersnood as ’n sielpynigende deel van die lewe. Baie geloofsleiers praat verstommend genoeg van liefde, vrede en verdraagsaamheid, tog ignoreer hulle antieke profesieë oor letterlike gebeure wat vandag bewaarheid word.

Jesus het gewaarsku dat een van die prominente tekens wat Sy Wederkoms sal voorafgaan, eskalerende hongersnood op ’n wêreldskaal sal wees (Mattheus 24:3-8; Markus 13:8; Lukas 21:11). Hy het die simbool van die Derde Ruiter van die Apokalips gebruik – ’n ruiter op ’n swart perd wat ’n skaal dra – om ’n tydperk van hongersnood uit te beeld wat kenmerkend sal wees van die eindtyd (Openbaring 6:5-8). Hierdie profesieë onthul die feit dat oorloë, wydverspreide hongersnood, siekte-epidemies en ’n rits natuurrampe die dood van ’n kwart van die aarde se bewoners sal meebring voor Christus se Wederkoms.

Op hedendaagse ore val dit soos morbiede fiksie of klink dit na die bangmaak-taktiek van ’n doemprofeet. Hierdie is ’n onderwerp wat gewilde “goed voel Christene” nie graag oor praat nie. Werklike wêreldtoestande toon egter dat die wêreld begin verander in iets wat die Bybel lank reeds voorspel het. Volgens die wêreldgesondheidsorganisasie is een derde van die wêreld se bevolking verhonger en nog ’n derde lei aan wanvoeding. Slegs een derde word as voldoende gevoed beskou. Miljoene mense sterf jaarliks weens hongersnood – insluitend 100 miljoen kinders net gedurende die1990’s. Elke minuut sterf 23 kinders weens ondervoeding en voorkombare siektes. Droogtes wat hongersnood veroorsaak, bedreig die lewens van 15 miljoen mense in die horing van Afrika (Etiopië en Eritrië) en in Mauritamië (in Noordwes-Afrika). In die nasies van suidelike Afrika sukkel 14 miljoen mense om genoeg kos in die hande te kry. Hierdie is die realiteite van vandag se lewe!

Die meeste van die wêreld se huidige lyding wat veroorsaak word deur hongersnood, raak ontwikkelende lande in Afrika en Suidoos-Asië, maar Bybelprofesie toon dat ’n soortgelyke situasie ook sal posvat in die meer gegoede Westerse lande. God het die rebelse huis van Israel lank gelede meegedeel: “’n Derde deel van jou sal aan die pes sterwe en deur hongersnood in jou omkom; en ’n derde deel sal deur die swaard [oorlog] rondom jou val; en ’n derde deel sal Ek na al die windstreke verstrooi” (Esegiël 5:12). Die gebrek aan reën en die gevolglike droogte sal ’n groot bydraende rol speel in hierdie benarde situasie (Levitikus 26:19-20; Deuteronomium 28:23-24).

’n Gebrek aan reën en wydverspreide droogte is nie die enigste oorsake van hedendaagse hongersnood nie. Gure of onvoorspelbare weer as gevolg van klimaatskommelings soos El Ninio of La Nina, kan swaar neerslae stortreën, ryp en tornado’s tot gevolg hê wat oeste beskadig en voedseltekorte kan meebring. Oorloë wat boere van hul grond af dwing, verminder voedselproduksie, onderbreek verspreidingsisteme en vernietig opgegaarde voedsel. Politieke teenstanders word dikwels toegang tot voedselbronne geweier. In party Afrika-lande het die onteiening van plase die voedselproduksie lamgelê en werksgeleenthede en inkomste om voedsel mee te koop, uitgewis. Struktuurveranderings wat op skuldende nasies afgedwing word deur die Wêreldbank of die Internasionale Monetêre Fonds, veroorsaak ook hongersnood-toestande in dele van die samelewing. Nasies wat ”aangemoedig word” om kontantgewasse te verbou vir die uitvoermark in plaas daarvan om voedsel te verbou, is dikwels nie in staat om hulself te voed nie. Die ontworteling van landelike bestaansboere deur groot korporasies dompel ook baie mense in armoede en hongersnood.

Die koste van omgewingsagteruitgang- en vernietiging sal uiteindelik betaal moet word, en die rekening is nou betaalbaar! Visbronne in die wêreld se oseane is besig om skerp af te neem, verwoes deur moderne fabrieksvisvangtegnieke. Plae soos malkoeisiekte het Brittanje se vleisnywerheid ernstig geknou en bedreig ook ander lande.

Dwaas regeringsbeleide wat vererger word deur droogte, het in die verlede verwoestende hongersnood veroorsaak en duur vandag steeds voort. Die Britse, Nederlandse en Franse koloniale beleid het bygedra tot die dood van miljoene mense in Ierland, Afrika en Suid Asië. (Sien Floods, Famines, and Emperors, Fagan; en ook Late Victorian Holocausts, Davis). Gedurende die 1920’s en 1930’s het meer as 12 miljoen mense weens hongersnood gesterf tydens Rusland se rampspoedige eksperimente met versameling en gesentraliseerde beplanning – wat die opsetlike weerhouding van voedsel deur Stalin na die Okraine ingesluit het om politieke teenstanders te elimineer (sien Russia under the Bolshevik Rbgime, Pipes; asook The Harvest of Sorrow, Conquest). ’n Geraamde 30 miljoen mense het in die laat 1950’s aan hongersnood omgekom gedurende China se “Groot Sprong Vooruit”, weens dieselfde redes. Vandag streef die Europese Unie na sentrale beheer oor Europa se voedselvoorraad – landbou, visserye, voedselverwerking en -verspreiding – ’n beleid wat ontnugterende nagevolge kan hê.

Toe God die Israeliete uit Egipte gebring het, het Moses geprofeteer dat indien hulle die Wette van God gehoorsaam, hulle geseën sou word en “reëns [sou ontvang] op die regte tyd” en goeie oeste sou hê, maar sou hulle Sy Wette ignoreer “sal julle trotse mag verbreek” word deur “julle hemel … soos yster en julle aarde soos koper” te maak sodat “julle land … sy opbrings nie gee nie” en siekte epidemies sou hulle kuddes teister (Levitikus 26:14-22). God het ook gewaarsku: “Julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet” en dat God “vir julle die staf van die brood verbreek” as gevolg van ongehoorsaamheid (Levitikus 26:16, 26). God het later die Israeliete gewaarsku dat, bo en behalwe skade aan oeste deur droogte en insekte, hulle “altyddeur net verdruk en beroof [sal] wees” en hul kuddes “word voor jou weggeroof” en “word aan jou vyande gegee ... die vrugte van jou land en al jou werk sal ’n volk eet wat jy nie ken nie ... en jy sal kranksinnig wees vanweë die gesig van jou oë wat jy sal sien” (Deuteronomium 28:23-42).

Wat God gesê het, is tans aan die gebeur in Brittanje asook met ander hedendaagse afstammelinge van Israel in Europa en Afrika. In die 1970’s het Brittanje se politieke leiers beheer oor een van die rykste visvang-gebiede in die wêreld, reg aan hulle kus, afgeteken ten einde lid te word van die Gemene Mark. Die afgelope jare het die Britte hulpeloos toegekyk hoe EU regulasies die vissersvloot van Skotland, Engeland en Ierland vernietig terwyl die vlote van ander nasies in die EU die eens volop visvoorraad plunder. Produktiewe plase in lande in Suider-Afrika is met geweld onteien van boere wat óf vermoor is óf landuit gevlug het. Sou Brittanje en ander moderne Israelitiese nasies weier om aan te sluit of besluit om te onttrek aan die opkomende magsblok in Europa, kan huidige regulasies gebruik word om hierdie nasies te wurg en in hongersnood te dompel. Die beheerstelsels is in plek en die geskiedenis toon dat dit al van tevore gedoen is, wat herinner aan Esegiël se profetiese waarskuwing: “As Ek die verderflike pyle van hongersnood teen hulle uitstuur ... en julle staf van die brood sal Ek verbreek” (Esegiël 5:14-17). God het sy rebelse kinders gewaarsku: “Ek sal onheile op hulle ophoop ... as hulle uitgeput is van honger” ( Deuteronomium 32:23-24).

Ons is ooggetuies van die begin van ’n krisistyd. Die hedendaagse Israelitiese nasies het grotendeels die Wette van God verwerp en in morele agteruitgang verval wat ’n swak voorbeeld vir die wêreld stel. Bybelprofesieë dui daarop dat God op die punt staan om ons op ongeëwenaarde wyse tereg te wys deur gebruik te maak van verwoestende weerverwante gebeure en polities-gemotiveerde planne van ander lande. Namate hierdie eindtydprofesieë bewaarheid word, sal dit van die verwoestendste hongersnood tot gevolg hê wat die wêreld nog ooit gesien het!