Die Lewende Kerk van God volg die leerstellings van Jesus Christus en verkondig die Evangelie sonder om toegewings te maak
Baie lesers wonder: Wie sit agter hierdie Wêreld van Môre-tydskrif? Wie sit agter die weeklikse episodes van die Tomorrow’s World TV-programme, asook die gratis studiegidse wat ons aanbied, met inbegrip van ons Bybelstudiekursus wat uit 24-lesse bestaan? Wie sit agter die regstreekse Tomorrow’s World aanbiedings wat vir ons intekenare aangebied word?
Die mees voor die hand liggende antwoord word gevind in dit wat ons aan die einde van elke episode van ons televisie-uitsending sê: Ons word geborg deur die Lewende Kerk van God. Dit bring egter ’n ander vraag na vore: Wie of wat is die Lewende Kerk van God?
In hierdie artikel sal ons ’n definitiewe antwoord op hierdie vraag gee en verduidelik wie ons is, wat ons doelwit is en wat ons glo.
Ware Christelikheid en die Lewende Kerk van God
Eenvoudig gestel: Ons in die Lewende Kerk van God is ’n oorblyfsel van die eerste-eeuse Christelikheid. Wat beteken dit egter? Jesus het nie net gesê dat Hy Sy Kerk sou bou nie, maar ook dat die poorte van die doderyk dit nie sou oorweldig nie (Matthéüs 16:18). Volgens die aantekeninge van u Bybel se Nuwe Testament, asook aantekeninge van die wêreld se geskiedenis, word getoon dat die hoofstroom “Christelike” kerk in ’n radikaal ander rigting beweeg het as die Kerk wat deur Jesus Christus, Sy Apostels en eerste-eeuse gelowiges gestig is.
Jesus het die eindtydse Bybelprofesieë gebruik om ons te waarsku teen valse Christendom. Hy het dit duidelik in die Olyfbergprofesie gestel dat valse Christendom in werklikheid die eerste teken is om voor op te let met betrekking tot Sy Wederkoms en die eindtyd van die wêreld. Ons moet hierdie waarskuwing nie ligtelik opneem nie: “En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld? En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pasop dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom [beweer dat hulle Hom verteenwoordig] en sê: Ek is [dit is Jesus] die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Matthéüs 24:3-5).
Ja, daar sou baie mense wees wat sou erken dat Jesus die Christus is en Sy gesag vir hulleself opeis maar wie sou dit kon doen om nie net ’n paar mense te verlei nie, maar ’n ménigte mense te mislei. Bevestig die geskiedenis dit? Dit word beslis bewys.
Die hoogs-aangeskrewe geskiedskrywer - Jesse Lyman Hurlbut, het in The Story of the Christian Church aangetoon hoe dramaties die kerk oor ’n relatief kort tydperk verander het.
Ons noem die laaste generasie van die eerste eeu, vanaf 68 tot 100 n.C., “Die era van skaduwees”, deels omdat die somberheid van vervolging oor die Kerk gehang het, maar verál omdat dit, van alle periodes in die geskiedenis, die één is waarvan ons die minste weet. Ons het nie meer die helder lig van die Boek Handelinge om ons te lei nie en geen skrywer van daardie era het die leemte in die geskiedenis gevul nie ... Vir vyftig jaar na die apostel Paulus se lewe hang daar ’n sluier oor die kerk, waardeur ons tevergeefs probeer kyk en [let hierop] wanneer die sluier uiteindelik gelig word, ongeveer 120 n.C. deur die geskrifte van die vroegste kerkvaders, vind ons ’n kerk wat in baie opsigte heeltemal verskil van die kerk in die dae van die apostels Petrus en Paulus (Hurlbut, The Story of the Christian Church, 1970. bl. 33).
Let daarop dat Hurlbut noem dat hierdie veranderings plaasgevind het ná die dood van die apostel Paulus. Die heidendom het ware aanbidding effektief versmoor! Is dit nie waarteen Paulus sélf gewaarsku het sou gebeur nie? Die Skrif teken hierdie waarskuwing aan vir die ouderlinge in Éfese: “Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julleself sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie” (Handelinge 20:29-31).
Hurlbut maak melding van sommige van die veranderings wat ingesluip het in wat ’n kerk geword het wat toenemend verskil het van dié van Christus en Sy Apostels. “Die maniere en seremonies van die heidendom het geleidelik in die aanbidding ingesluip. Sommige van die ou heidense feeste het kerkfeeste geword met veranderings van die name en aanbidding. In omstreeks 405 n.C. het beelde van heiliges en martelaars in die kerke begin verskyn – eers as gedenktekens en daarna is dit aanbid en vereer. Die aanbidding van die maagd Maria is vervang met die aanbidding van Venus en Diana” (Hurlbut, bl. 79).
Baie geskiedskrywers stem saam dat deesdae se hoofstroom “Christendom” min ooreenkoms toon met die oorspronklike Kerk van God wat deur Jesus Christus gestig is. Die produktiewe en hoogs aangeskrewe geskiedskrywer Will Durant, het hierdie insiggewende opmerking gemaak vir enigiemand wat bereid is om ag te slaan op dit wat gesien en gehoor kan word:
Die Christendom het nie die heidendom vernietig nie; dit het dit aangeneem. Die sterwende Griekse denke het gekom tot ’n veranderende tydperk in die teologie en liturgie van die Kerk; die Griekse taal, wat eeue lank die filosofie oorheers het, het die dryfveer van Christelike literatuur en ritueel geword; die Griekse geheimenisse het oorgegaan in die indrukwekkende geheimenis van die Mis. Ander heidense kulture het bygedra tot die gemengde gevolg ... Christendom was die laaste groot skepping van die antieke heidense wêreld ... [en] het die laaste en grootste van die misterieuse godsdienste geword (The Story of Civilization, vol. 3, 1944, bl. 595, 600).
Die geskiedenis teken twee rigtings aan vir diegene wat hulleself Christene genoem het. Die eerste weg het gelei tot die gewilde en diverse vorms van hoofstroom “Christendom” – Rooms-Katoliek, Oosters-Ortodoks en Protestants. Daar is inderdaad groot verskille tussen hierdie groepe. Die tweede weg het egter gelei tot iets kleins vergeleke hiermee: die klein, vervolgde Kerk wat nie sou uitsterf nie.
Aanbidding in gees en waarheid
Die Christelikheid van Christus en Sy Apostels is heeltemal verskillend van wat die meeste mense dink. Hoofstroom-Christendom is gevul met onbybelse Griekse filosofie en heidense leerstellings. Die Kerk wat Jesus gebou het is nié en was vervolg omdat dit onbybelse leerstellings verwerp het en gevolg het wat Christus werklik onderrig het, eerder as wat mense verkeerdelik dínk Hy onderrig het. Die hoofstroomkerke het egter op die massas gefokus en gewilde heidense maniere van aanbidding aangeneem.
Vanuit sonaanbidding het ’n verwerping plaasgevind van die sewendedag-Sabbat – wat deur God met die skepping ingestel is. Die sonaanbiddende Romeinse keiser Konstantyn, het in 321 n.C. ’n ánder rusdag beveel, soos dit aangetoon word in Eerdmans’ Handbook to the History of Christianity: “Wanneer Konstantyn in 321 die eerste dag van die week ’n vakansiedag gemaak het, het hy dit die ‘eerbiedwaardige dag van die son’ (Sondag) genoem” (1987, bladsy 131). Enigiemand wat nie met hierdie wet en ander onbybelse leerstellings saamgestem het nie, is van hulle voorregte gestroop en vervolg. In Matthéüs 16:18 het Jesus egter verklaar: “Ek [sal] my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.”
Nee, die Kerk wat Christus gebou het, het nooit uitgesterf nie. Ons lees daarvan in die geskrifte van diegene wat dit gehaat en probeer het om dit uit te wis. Daardie Kerk – wat geweier het om toegewings te maak en om heidense leerstellings as plaasvervangers vir die leerstellings van Christus in te stel – was as ketters beskou. Dit is noodsaaklik dat ons moet verstaan wat Jesus en Sy Apostels onderrig het sodat ons die ware ketters kan identifiseer.
’n Klein kuddetjie wat ’n groot werk doen
Die moderne oorsprong van die Wêreld van Môre en die Lewende Kerk van God word gevind in die Wêreldwye Kerk van God / Worldwide Church of God (WCG), onder die leierskap van wyle Herbert W. Armstrong. Sy vrou Loma, het in aanraking gekom met ’n lid van die Kerk van God (Sewende Dag) – wat terloops nie met die Sewendedag-Adventiste geassosieer is nie. Dit was gedurende die middel van 1920. Sy het oortuig geraak dat die Bybelse Sabbat Saterdag is en nié Sondag nie.
Dit het haar man nie aangestaan nie. Hy het dit aanvanklik as fanatisme beskou. Sy wou egter nie toegee nie, tensy hy haar uit die Bybel kon bewys dat sy verkeerd was. Mnr. Armstrong het dus ’n diepgaande ondersoek van die Skrif begin om haar verkeerd te bewys – hy het destyds gedink dat dit maklik sou wees. Soveel Sondag-onderhoudende kerke kon immers nie verkeerd wees nie, kon hulle? Die resultaat van sy studie was egter dat, soos ek hom persoonlik hoor sê het, dit ’n nederige ding is om te erken dat jou vrou reg en jy verkeerd is – veral as dit oor die belangrikste argument gaan wat jy ooit gehad het”.
In 1933 is mnr. Armstrong ’n tydgleuf op die klein 100-watt KORE-radiostasie in Eugene, Oregon, aangebied. Sy luisteraarsgetalle het toegeneem en hy het begin om ’n tydskrif – indien mens dit so kan noem – The Plain Truth te publiseer deur middel van mimeografie. Van daardie nederige begin het dit ontwikkel tot die hedendaagse, volkleur-tydskrif – The Tomorrow’s World – met ’n maandelikse sirkulasie van 8.4 miljoen eksemplare wat feitlik elke land op aarde bereik, waaruit hierdie artikels van die Wêreld van Môre vertaal word. Dit word gratis aangebied. Vandag gaan die Lewende Kerk van God voort om Christus se opdrag aan Sy dissipels in Matthéüs 10:8 te volg: “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.”
In 1952 het mnr. Armstrong vyf mans in die amp van Evangelis georden en onder hulle was ’n jong man van Joplin, Missouri – Roderick C. Meredith. Dr. Meredith het byna 35 jaar as evangelis gedien toe mnr. Armstrong in Januarie 1986 oorlede is. Minder as vyf jaar na mnr. Armstrong se dood kon dr. Meredith sien dat WCG se nuwe leier die Kerk in ’n radikaal onbybelse rigting geneem het. Teen Desember 1992 het dit baie duidelik geword dat die WCG al die belangrike leerstellings wat Herbert W. Armstrong onder die leierskap van Jesus Christus herstel het, onomkeerbaar verander of verwerp het.
Op die ouderdom van 62 moes dr. Meredith dus ’n keuse maak: Hy kon gemaklik aftree óf die Werk laat herleef en die Bybelse leerstellings van die oorspronklike Christelikheid herstel. Hy het laasgenoemde gekies en die Global Church of God en later die Living Church of God begin. Dr. Meredith het onmiddellik Christus se opdrag gevolg: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom” (Markus 16:15). Hy het begin om die Evangelie te verkondig deur weekliks in ’n radioprogram te preek, boekies te skryf en hy het ook begin om ’n tweemaandelikse tydskrif uit te gee. Die herleefde Kerk het in Desember 1992 begin met ’n informele vergadering by sy huis met slegs 19 lede, maar duisende lidmate van die Kerk van God het gou by hom aangesluit deur die afvalligheid te verwerp en die Werk te doen.
Die Kerk se lidmate het toegeneem en sluit lidmate regoor die wêreld in. Vir ’n groot persentasie van hierdie lidmate is die waarhede van die oorspronklike Christelikheid splinternuut, nadat hulle die ware Evangelie vir die eerste keer deur die Wêreld van Môre gehoor het.
Die Werk van Jesus Christus is nie afgehandel nie. Op ons “Omtrent ons”-bladsy by Wêreld van Môre lees ons die volgende: “Die Wêreld van Môre-tydskrif word geborg deur die Lewende Kerk van God, met aktiewe gemeentes in Noord- en Suid-Amerika, die Karibiese Eilande, Europa, Asië, Australasië en Afrika”. Ons het tans talle leraars wat gemeentes in meer as 55 lande regoor die wêreld dien. Op hierdie oomblik lees u ons belangrike tydskrif wat uit Engels in Frans, Spaans en Afrikaans vertaal word. Ons vertaal ook ons boekies vir verspreiding in Duits, Nederlands, Afrikaans, Chinees, Hindi, Portugees en Urdu, sowel as ’n paar ander tale.
Dr. Meredith het ’n Raad wat bestaan uit ervare leraars saamgestel om hom te adviseer. Voor sy dood in Mei 2017, na oorlegpleging met die Raad, het hy my, [Gerald Weston] aangestel as sy opvolger in die amp van Voorsittende Evangelis van die Lewende Kerk van God.
Indien dit dalk klink asof ons ’n megakerk is, is dit glad nie die geval nie. Die meeste van ons gemeentes is klein en daar word hegte bande gesmee. Ons is ’n klein kuddetjie, soos Jesus aangedui het: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee” (Lukas 12:32).
Hierdie Werk is egter veel groter as wat ons getalle weerspieël. Baie lesers wonder seker hoe dit moontlik is. Die antwoord is dat God lojale, toegewyde lidmate, medewerkers en skenkers motiveer wat dit moontlik maak. Ons bou ook nie kerkgeboue as ’n algemene praktyk nie. In plaas daarvan huur ons sale waar ons dienste hou en verkies eerder om ons hulpbronne te gebruik om die Evangelie op televisie, Internet en in gedrukte uitgawes te versprei.
Die Christelike leerstellings en lewenswyse
Liewe Vriende, besef u dat dit moontlik is om Jesus tevergeefs te aanbid? Hy sê dit vir ons: “Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Matthéüs 15:7-9). Hy het die mense berispe omdat hulle Hom Here genoem het – wat Meester beteken – maar hulle het geïgnoreer wat Hy gesê het: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46).
Die oorspronklike Christelikheid – dié van Christus en Sy Apostels – is waaroor die Wêreld van Môre en die Lewende Kerk van God gaan. Die Lewende Kerk van God glo dat Jesus van Násaret as God in die vlees gekom het en dat Hy Sy lewe gegee het in ruil vir ons lewe. Ons glo dat Hy ons Here, ons Meester en ons Verlosser is en dat ons verlos word deur geloof in Sy gestorte bloed en gered word deur Sy lewe. Ons verander egter nie God se genade in toestemming om ongehoorsaam aan Sy Wet te wees nie. Judas, een van die halfbroers van Jesus, waarsku ons teen daardie dwaling in sy kort brief:
“Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën” (Judas 3-4).
Dit is waarom die Lewende Kerk van God die Sewendedag-Sabbat van sonsondergang op Vrydag tot sonsondergang op Saterdag onderhou – net soos Jesus, Sy oorspronklike Apostels, die apostel Paulus en eerste-eeuse Christene gedoen het. Ons onderhou ook die sewe Bybels-ingestelde jaarlikse Heilige Dae, in plaas van heidense vierings wat die naam van Christus godslasterlik daaraan gekoppel het.
Liewe Leser, dink asseblief hieroor na: Waarom word die dae wat Jesus en Sy Apostels gehou het deur die hoofstroom-Christendom verwerp? Waarom word die heiligste dag van die hoofstroom-Christendom na ’n vrugbaarheidsgodin vernoem en gevier met vrugbaarheidsimbole soos eiers en konyne? Maak dit regtig sin?
Die Kerk se roeping
Ons doel is deur Jesus Christus aan ons opgedra en dit word uiteengesit op ons “Omtrent ons”-bladsy by die Wêreld van Môre: “Die Wêreld van Môre verkondig die goeie nuus van Jesus Christus se komende Koninkryk aan die wêreld (Matthéüs 24:14; Markus 16:15) en verkondig met vrymoedigheid ’n waarskuwingsboodskap van God se naderende oordeel, wat ’n oproep doen vir bekering en geestelike verandering (Matthéüs 24:21; Jesaja 58:1; Eségiël 33)”.
U mag dalk wonder wat ongewoon is aan ons verkondiging van die goeie nuus van Jesus Christus se komende Koninkryk. U dink dalk: Doen alle kerke dit dan nie? Ongelukkig doen hulle dit nie.
Die woord “Evangelie” beteken “goeie nuus”, maar besef u dat Paulus die broeders in Korinthe daarteen gewaarsku het om leraars te verdra wie ’n ander Evangelie verkondig en ja, selfs ’n valse Jesus? “Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Korinthiërs 11:4).
’n Paar verse later verwys Paulus na hierdie valse leraars as dienaars van Satan: “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy [dit wil sê, Satan se] dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (verse 13-15).
Die Lewende Kerk van God onderrig presies dieselfde boodskap as wat Jesus verkondig het tydens Sy drie-en-’n-half jaar lange bediening – ’n komende Koninkryk of regering, sal oor hierdie planeet vol probleme heers. Terwyl u deur Matthéüs, Markus, Lukas en Johannes lees, let op hoeveel keer Jesus na die Koninkryk van God verwys. U sal oplet dat Matthéüs die term “koninkryk van die hemele” gebruik, terwyl die ander skrywers “koninkryk van God” gebruik. Moenie verward wees nie. Die hemel is waar God woon, dus is die Koninkryk van God die hemel se Koninkryk. Dit wil sê dit is God se Koninkryk. Dit is nie ’n Koninkryk in God of in die hemel nie. “Van” dui op eienaarskap, nie die ligging nie.
Die Lewende Kerk van God verwaarloos nie Bybelprofesieë nie. Jesus het aan Sy dissipels verduidelik dat tensy Hy terugkeer om die mensdom se waansinnigheid te beëindig, menslike uitwissing sal plaasvind: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Matthéüs 24:21-22).
God verklaar dat Hy ons verantwoordelik sal hou indien ons versuim om ons medemens te waarsku. Lees dit self: “Red die wat na die dood gesleep word, en die wat na die slagbank wankel, hou hulle tog terug! As jy sê: Kyk, ons het dit nie geweet nie! – sal Hy wat die harte toets, dit nie merk nie? En Hy wat let op jou siel Hy kom dit te wete. En Hy vergeld die mens na sy werk” (Spreuke 24:11-12).
Toegewy aan die voeding van die kudde
Die Lewende Kerk van God verwerp die heidense “Christendom” en volg die voorbeeld wat ons Verlosser gestel het toe Hy op die aarde gewandel het. Die missie van die Lewende Kerk van God is om die ware Evangelie van Jesus Christus te verkondig en die wêreld te waarsku oor wat sekerlik sal gebeur tensy ons van koers verander. ’n Ander deel van ons missie is om die klein kuddetjie te voed wat deur God geroep word. Ons het honderde gemeentes regoor die wêreld om dit te doen, met bywoningsgetalle wat wissel van minder as 10 tot meer as 300. Baie gemeentes is matig in grootte, tussen 50 en 125 lidmate.
Benewens die byeenkoms elke Sabbat – dit wil sê, Saterdag – kom ons byeen op die jaarlikse Feeste soos dit uiteengesit is in beide die Ou en die Nuwe Testamente. Ons onderhou die Pasga soos Jesus dit saam met Sy dissipels gedoen het in die nag waarin Hy verraai is. “En Hy sê vir hulle: Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly” (Lukas 22:15). Tydens ons Sabbatdienste en Feesbyeenkomste bring lidmate hulle Bybels en baie van hulle maak notas. Ons dienste behels gewoonlik die sing van liedere, ’n kort boodskap, gevolg deur aankondigings en daarna die hoofboodskap.
Om ons jeug te dien, hou die Lewende Kerk van God somerkampe in Noord- en Suid-Amerika, Australasië, Afrika, Europa en die Filippyne. Verlede jaar (2024) het ’n groep van ons tieners, ons jong volwassenes en hulle groepleiers, die geleentheid gehad om ’n avontuur van ’n leeftyd te geniet tydens ’n weeklange staptog in die skouspelagtige Eagle Cap Wilderness in Oregon. Ons beplan om vanjaar ’n kano-ekspedisie in Voyageurs National Park, Minnesota, te hou. Ons beplan onder andere vir jonger tieners in Missouri, Texas en Wes-Virginië; ’n twee weke lange tienerkamp in Texas en ’n tienerkamp in België.
Ander programme waarmee ons “die kudde voed”, is naweek-uitstappies vir jong volwassenes, sprekersklubs vir ons manne en ’n nege maande lange Living Education opvoedingkundige program op die kampus vir jong volwasse lidmate wat belangstel in opleiding op universiteitsvlak in Bybelse onderwerpe. ’n Paar jong volwassenes van Living Education word elke jaar genooi om gedurende die somer in Thailand te werk, Engels aan Thaise kinders te onderrig, ons lidmate daar te leer ken en deur dele van die land te toer.
Kies God se lewenswyse
Of ons nou Sabbatdienste, somerkampe, naweek-uitstappies, Living Education programme of aanbiedings vir ons intekenaars of internasionale projekte aanbied, ons fokus is altyd op die terugbring van die lewenswyse wat deur Jesus Christus en Sy eerste-eeuse volgelinge onderrig is.
Ons vind dat baie mense navraag doen oor ons dienste, maar ons vind ook dat baie van hulle nie volhou daarmee nie uit vrees vir die onbekende. Laat ek u dus uitdruklik verseker: Niks wat hierdie wêreld aanbied, kan vergelyk word met die vreugdes van hierdie lewenswyse nie. Ons lidmate is vriendelik en ons is werklik een groot familie. Ons is nie geïsoleerde lidmate wat slegs diegene in ons eie plaaslike gemeentes ken nie. Ons kombineer dikwels gemeentes op Feesdae, hou familie-georiënteerde naweekbyeenkomste en besoek ander Lewende Kerk van God-gemeentes wanneer ons op sakereise of met vakansie gaan. Elke jaar reis baie lidmate na ander lande om die agt dae van die Huttefees en Laaste Groot Dag te onderhou.
Indien u meer wil leer oor die onderhouding van die Sewendedag-Sabbat, God se jaarlikse Feeste, doop of die bywoning van dienste met die Lewende Kerk van God-gemeente, laat weet ons gerus deur ons te skakel of te skryf deur die kontakinligting op bladsy 2 van hierdie tydskrif te gebruik. U kan ons aanlyn ook besoek by wvm.co.za. Ons sien uit daarna om van u te hoor!


