Ons het al almal tekenprente gesien van 'n koddige ou man in 'n wit kleed wat 'n plakkaat dra wat lui, “Die einde is naby!” Dit laat ons glimlag, en help ons om te besef hoeveel misleide godsdienstige mense voorspellings oor die einde van die wêreld gemaak het – voorspellings wat geheel en al verkeerd was!

Ons moet almal hieruit leer!
Beteken dit egter dat die Skeppergod nie bonatuurlik sal ingryp in mensesake nie, of dat Jesus Christus nie as Koning van konings na die aarde sal terugkeer soos wat baie Bybelprofesieë duidelik sê nie? Beteken dit dat ons moet ophou om eindtydse profetiese gebeure “dop te hou” terwyl dit reg voor ons oë ontvou?

Natuurlik nie!
God se Woord waarsku ons in die besonder teen hierdie dwase benadering: “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af” (2 Petrus 3:3-4).

Namate die hele patroon van profetiese gebeure, wat ons reeds vir dekades voorspel het, nou duidelik in die prentjie kom, durf ons nie te aanvaar dat “dinge maar net sal voortgaan soos dit altyd was nie!” Hierdie keer is dit werklik anders! Die “verbreking” van die trots van die mense van Britse afkoms en die Amerikaanse nasie is reeds goed onderweg. Al hoe meer nasies en situasies regoor die wêreld draai teen ons mense en ons planne. Die skrikwekkende stand van sake in die Midde-Ooste word nou byna elke jaar slegter. China en Indië gee die Anglo-Amerikaanse nasies nou al hoe meer kompetisie in wêreldhandel en wêreldoorheersing. Die waarde van die dollar verswak tans stadig maar seker in verhouding tot ander geldeenhede, en 'n uiters magtige Europese Ryk doem reg op die horison, soos ons vir jare voorspel het.

Daarbenewens word weerverwante rampe al hoe erger en sal voortgaan om te vererger! Boonop is die Bybelgeprofeteerde “peste” (Mattheus 24:7) of siekte-epidemies op die punt om hul verskyning te maak. Wat baie mense sal verbaas, is dat die komende verwoesting van afwisselende droogte, brande, storms, oorstromings en aardbewings, tesame met verwoestende siekte-epidemies, nie hoofsaaklik in Bangladesh, Ethiopië en ander “verafgeleë” plekke sal plaasvind nie! Hierdie komende rampe sal eerder die Anglo-Amerikaanse nasies baie meer tref as ooit tevore in die geskiedenis! Baie gebeure wat reeds op die wêreldtoneel plaasvind, bevestig hierdie profetiese insig ten volle.

Die Bybel openbaar duidelik 'n 6 000 jaar-tydperk waarin die mens sy eie idees volg, sonder die Skepper. Dit sal gevolg word deur die duisendjaar heerskappy van Jesus Christus op aarde, waartydens Hy en die herrese heiliges letterlik die hele wêreld van God se ware weë sal leer. Let op: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:6).

Net nadat God die mens op die aarde geskape het, het Hy die sewende dag van die week geseën en geheilig as 'n dag van rus (Genesis 2:1-3). Dit het 'n weeklikse siklus begin waarin die mens vir ses dae moes werk en elke Sabbat moes rus (Eksodus 20:9-10). Die apostel Paulus verduidelik in Hebreërs hoe die Sabbat 'n wonderlike tydperk van vrede voorstel wat sal volg na die huidige tydperk van menslike samelewing op hierdie aarde (Hebreërs 4:3-11).

Die Jode van Jesus se tyd het hierdie beginsel dat elke dag van die week 'n duisend jaar in God se Plan verteenwoordig, goed verstaan. Petrus het hierdie beginsel verduidelik: “Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag” (2 Petrus 3:8). Die sewedag week verteenwoordig dus God se
7 000 jaar plan. Ses dae van die week verteenwoordig ons huidige menslike samelewing wat gevolg word deur die duisend jaar van Christus se heerskappy as Koning van konings (Openbaring 11:15). Edward Gibbon skryf in sy wêreldbekende geskiedskrif The Decline and Fall of the Roman Empire: “Die antieke en gewilde leerstelling van die Millennium was ten nouste verbind met die Wederkoms van Christus. Soos die werk van die skepping in ses dae voltooi is, is hul voortbestaan in hul huidige staat vasgestel op sesduisend jaar, volgens 'n tradisie wat aan die profeet Elia toegeskryf word. Deur dieselfde analogie word afgelei dat hierdie lang tydperk van arbeid en stryd, wat nou byna verstryk het, opgevolg sal word deur 'n vreugdevolle Sabbat van duisend jaar, en dat Christus saam met die triomfantlike groep heiliges en uitverkorenes wat die dood vrygespring het of wat wonderbaarlik opgewek is, op die aarde sal heers tot die tyd wat bepaal is vir die laaste en algemene opstanding” (Vol.1, bl. 403).

Gibbon verduidelik voorts hoe hierdie leerstelling wat deur die vroeë Kerk van God onderrig is, geleidelik “opsy geskuif” en uiteindelik mee weggedoen is deur die leiers van die veranderende Rooms-Katolieke kerk. Namate hulle baie van God se wette en leringe verwerp het, het hulle ook hierdie grondliggende leerstelling verwerp, wat hulle sou help verstaan waarom dit voorkom asof die mensdom vir die afgelope 6 000 jaar van God afgesny was, maar uiteindelik deur die Skepper gered en vir 'n duisend jaar Sy weë geleer sal word! Dit is 'n wesenlike deel van die ware “Evangelie” – wat “Goeie Nuus” beteken! Watter wonderlike goeie nuus is dit nie! En wat 'n tragedie, menslik gesproke, dat dit vergruis is deur die ydelheid en verstandelike arrogansie van misleide belydende “Christenleiers” net voor die aanvang van die “Middeleeue.”

Daarbenewens weet bykans alle geskiedskrywers en diegene wat Bybeltydberekening bestudeer, dat Christus ongeveer 4 000 jaar na die skepping van Adam gebore is, en dat ongeveer 2 000 jaar verbygegaan het sedert Christus se tyd. Dit kom neer op 'n totaal van bykans 6 000 jaar – of ses duisendjarige dae – van Adam se tyd af.

Die meeste Bybeltydberekenaars besef dat die einde van die 6 000 jaar sedert Adam om en by die jare 2015-2025 sal wees. Onthou ook: Daar is 'n Groot Verdrukking van 3½ jaar voorspel om plaas te vind net voor Christus se Wederkoms! Bogenoemde datums dui dus op 'n benaderde aanvangstyd van die Verdrukking so vroeg soos die lente van 2015 in die Noordelike Halfrond. Dit is nege jaar van nou af waar ek nou hier skryf. En selfs hierdie tydperk kan “verkort” word. Dit is dus nodig dat ons almal werklik na aan God kom en volgens hierdie Waarheid handel!

Die doel is egter nie om 'n presiese datum daar te stel nie. Hierdie feite en syfers moet ons eerder help om te besef dat ons uiteindelik 'n besliste einde nader van die tyd dat die wêreldse samelewing net bly voortgaan op die pad waarop dit altyd was. Trouens, die meeste van ons wat vas in die Bybel glo, besef dat die menslike samelewing al slegter en slegter word namate meer afskuwelike en ontaarde sekspraktyke na vore tree, namate meer geweld en brutaliteit regoor die wêreld plaasvind en die mens toenemend afgryslike wapens van massavernietiging ontwerp – en binnekort gaan gebruik.

Alle ware, Bybelgelowige Christene moet dus ten volle besef dat, ja die “einde is in sig!” Ons kan dit doen sonder om 'n presiese datum daar te stel. Ons kan dit doen sonder om histeries of vreesbevange te wees, want toe Jesus Christus 'n aantal eindtydse gebeure beskryf het, het Hy aan Sy dissipels gesê, “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Lukas 21:28).

Ons moet werklik dankbaar en erkentlik wees dat Christus se Wederkoms eersdaags gaan plaasvind! God se Woord maak dit egter baie duidelik dat Hy nie Sy Heilige Gees – of geestelike insig – gee aan diegene wat aan Sy gebooie ongehoorsaam is en Hom volgens hul eie idees en teorieë wil aanbid nie. Aan die einde van die Apostoliese tyd was die apostel Johannes deur God geïnspireer om te skryf, “Hy wat sê: Ek ken Hom – en sy gebooie nie bewaar nie – is 'n leuenaar en in hom is die waarheid nie” (1 Johannes 2:4). Iemand “ken” of verstaan God en Sy weë nie werklik nie, tensy hy of sy bereid is om God se Tien Gebooie uitdruklik as leefwyse te gehoorsaam nie! Alhoewel baie geestelikes net oor “liefde” wil praat, verstaan hulle gewoonlik totaal mis waaroor ware geestelike liefde werklik gaan. God se Woord sê trouens vir ons, “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:3).

Mense het Christus se Wederkoms reeds vantevore voorspel, maar hierdie keer – aan die einde van 6 000 jaar van menslike onrus – is dit werklik anders! Christus se Wederkoms sal binne hierdie geslag plaasvind! God wil werklik hê dat u hierdie kosbare kennis moet verstaan en dat u dienooreenkomstig moet optree deur u verstande en harte en lewens in geheel tot Hom te keer. God wil hê dat u bereid sal word om Sy leefwyse te gehoorsaam, betrokke te raak by diegene wat Hom waarlik dien en aktief sal voorberei om 'n koning en priester te word in die manjifieke regering van God wat binnekort op hierdie aarde gevestig gaan word!